Die Buro - Henning van Aswegen

 BOEKRESENSIE – DIE BURO, Media 24

Abstrak: Nie-fiksie, Afrikaans, Politieke Wetenskap, Henning van Aswegen, DIE BURO, Imprimatur Uitgewers, Pretoria, Media 24.

Intelligensie onder die loep

Hoe feller die stryd teen die wit minderheidsregering toenmaals geword het, des te meer moes elke haas uit die hoed gepluk word om Suid-Afrika se veiligheid te verseker.

Die Buro vir Staatsveiligheid [BSV]  het onder groot geheimsinnigheid te werk gegaan om vyandelikhede teen Suid-Afrika te neutraliseer. Henning van Aswegen se DIE BURO bied ‘n blik op hoe hierdie geheime staatsorgaan ontstaan het, en wat hul werksaamhede behels het. Intelligensie-agentskappe regoor die wêreld se doen en late gee uiteraard aanleiding tot verbeeldingryke spekulasie oor hul bedrywighede. 

Genl. Lang Hendrik van den Bergh

Wanneer genl. Lang Hendrik van den Bergh se loopbaan in oënskou geneem word en hoe dit gebeur het dat hy die eerste hoof van die BSV geword het, kry die leser ‘n realistiese idee oor hierdie veelbesproke organisasie. Wat onder die loep kom, is die lang aanloop van intelligensiewerk in Suid-Afrika en hoe die BSV se voorloper, die Republikeinse Intelligensiediens [RI] belangrike voorbereidingswerk gedoen het. Die daarstelling van die BSV het verband gehou met die verfyning van die insameling en verwerking van inligting om die staat ‘n strategiese voorsprong te gee teenoor vyandelike elemente.

Die BSV, MI6 [SIS] en die CIA

‘n Belangrike keerpunt was toe die goeie samewerking tussen Suid-Afrika en die Britse MI6 in 1961 grootliks tot ‘n einde gekom het met Republiekwording. Die Buro moes daarna toenemend op eie beentjie te werk gaan om intelligensie-inligting in te samel. Interessant egter was Van den Bergh se goeie skakelverhouding met die CIA ten spyte van onstuimige tye. Daar is ook liplekker spioenstories wat vertel word, dikwels met ‘n skeut humor. 

Hoe dit gebeur het dat een van Bram Fischer se vertrouelinge teen hom getuig het in die hof, is soos hulle in Engels sê, you can not make this stuff up.

Kommodoor Dieter Felix Gerhardt

Interessant is die vermelding van skadelike spioene wat die land opgelewer het. ‘n Baie ongelukkige episode is die storie van ‘n senior vlootoffisier van Simonstad wat uiters sensitiewe geheime aan die Russe verkwansel het.

Die bedoeling van hierdie boek is nie om ‘n waarde-oordeel oor die legimiteit van die apartheidsregering aan te bied nie. Waat aan die bod kom, is ‘n vers-en kapitel-verslag oor die Buro vir Staatsveiligheid se bydrae tot intelligensiewerk. Vir ‘n meer volledige dokumentering kan die leser nie vra nie.

Media 24. 23 Junie 2025.

*