Nongqai Vol 17 No 9 – (37) SAP King’s Rest
DIE POLISIE EN DIE BLUFF IN DURBAN
Hennie Heymans
Excerpt
A personal and historical reflection on policing at King’s Rest and the Bluff, spanning from colonial Natal Police days to the modern SAP era.
Abstract
This article traces the intertwined history of the Bluff in Durban and the police who served there, beginning with the author’s childhood memories from the late 1940s and continuing through his own service at SAP King’s Rest in the 1960s. It incorporates archival insights, personal anecdotes, and a translated 1906 account by A. H. Freer, illustrating the evolution of policing, community life, and infrastructure from the colonial Natal Police through successive formations. The narrative highlights the isolation of early police posts, mounted patrols, maritime duties, and the gradual development of the Bluff over more than a century.
Keywords
Bluff Durban, King’s Rest Police Station, Natal Police, South African Police history, colonial policing, Bambatha Rebellion, Griffiths Mxenge, Durban policing heritage, mounted patrols, maritime patrols, police archives, personal memoir, A. H. Freer

Foto van ou SAP King’s Rest (Foto – Hennie Heymans)
Ek is in 1946 gebore, en my vader was ’n polisieman in Durban en omliggende gebiede. Ek weet dat hy op verskeie plekke gestasioneer was: Mount Edgecombe, Bellair, Jacobs, Wentworth, King’s Rest, Durban‑Sentraal, Somtseuweg en Rossburgh. In 1949 het ons na die Bluff verhuis en in die voorstad Grosvenor gewoon.
Ek was baie geheg aan my vader en het hom orals vergesel wanneer hy van diens was. Een middag moes ons van ons huis af na SAP King’s Rest stap sodat hy die stasie kon besoek. Onder-offisiere moes destyds ook na ure die stasie besoek. Ek het dikwels daar rondgehang; my ouers was bevriend met sersant (later brigadier) G. G. K. Schmidt en sy eggenote. Ek het as kind sommer by die stasie gespeel.
Op ’n dag het ek in die bos ingestap en 44 pennies opgetel. Ek het dit by die polisie ingehandig, en ’n ruk later het hulle my laat weet dat ek die geld kon kom haal. Vier-en-veertig pennies is drie sjielings en agt pennies — destyds ’n hele fortuin vir ’n skoolseun.
Ek het later self ’n polisieman geword en het vas besluit dat ek by King’s Rest wou dien. Dit het my ’n jaar geneem, maar in 1965 het ek uiteindelik daar diens aanvaar. Die stasie was toe reeds uitgebrei; die stalle was nog daar, en ons het ’n groot kamp gehad. My beste jare in die polisie was by King’s Rest, waar ek as konstabel en later as sersant gedien het.
Griffiths Mxenge
Dit was ook hier te SAP King’s Rest waar ek vir Griffiths Mxenge raakgeloop het. Die Veiligheidspolisie het hom aangehou, en hy was vir 180 dae by ons in eensame opsluiting. In 1969 sou ons paaie weer kruis… Die nasionale vervolgingsgesag se kantoor in Pretoria is na Victoria en Griffiths Mxenge vernoem. (Victoria & Griffiths Mxenge Building, cnr Westlake and Hartley, 123 Westlake Avenue, Weavind Park, Silverton, PRETORIA.)
Geskiedenis — veral waar die polisie betrokke was — het my van jongs af geboei. Sommige polisiemanne en speurders het my geweldig beïndruk. Dit was vir my altyd ’n raaisel hoe ek ’n klagte kon bywoon, ’n dossier open, en dan later hoor dat die speurders die booswig vasgetrek het. Die teetafel was ook ’n interessante plek: daar het ek menige polisiestorie gehoor, onder andere oor mense soos sersant During (vader van generaal Roy During). Gereeld het ou inwoners gevra: “What happened to Sergeant Kidd and Sergeant Cunningham?” Dan het ek gewonder wie hierdie befaamde manne was.
Later, toe ek by Hoofkantoor beland het, het ek die geskiedenis van King’s Rest, Wentworth en Rossburgh in die argief bestudeer. Ons polisiemag het ’n merkwaardige geskiedenis. King’s Rest is agtereenvolgens beman deur die Natal Police; (ek is onseker of die Natal Mounted Police ooit daar gestasioneer was); daarna die SA Berede Skutters, die SA Polisie, die SA Vlootpolisie, en uiteindelik — deur ’n bietjie gekonkel van my kant — weer terug na die SA Polisie en later die SA Polisiediens.
Ek wens vandag dat ek meer na die “ou manne” se stories geluister het. Ek het byna elke paadjie, pad en wegkruipplek op die Bluff geken.
Die Bluff was wild en onbewoon in die 1950’s – ek kan onthou hoe die polisie nog te perd by ons huis aangekom het en hoe bang ek was sodat ek onder my bed weggekruip het vir die polisieman op ‘n perd.
As kind het ek gesien hoe stoomrollers die paaie help teer. Ek het die ontwikkeling van die Bluff beleef.
Dan was daar ook DOW se deurmekaarspul oor Kingsley en King’s Rest – maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag. Ook het ek al vertel hoe die SAW ons stasie verkeerdelik aangeval het in plaas van die spoorwegstasie wat die SA Spoorwegpolisie sou bewaak en net hier het die SAW identiteitskaarte bekom.
Om die stasie te vind moet jy eers verdwaal – dan vind jy die stasie op kronkelpaadjies naby die spoorweghalte tussen die digte bosse en woonerwe.
DIE BLUFF — 120 jaar gelede van 1906 tot 2026


Die Koloniale Natal-vlag wat by die polisiestasie gewapper het

‘n Vertaalde weergawe van meneer A. H. Freer se herinneringe in die Bluff Newsletter van Januarie 1954.
In Maart 1906, toe ek nog as manskap (trooper) van die (koloniale) Natal Police by die Inanda‑polisiepos gestasioneer was, is ek oorgeplaas na die King’s Rest‑polisiepos op die Bluff.
Ek het Inanda te perd verlaat, volledig in marsorde, en ná ’n lang rit uiteindelik by die Rooms‑Katolieke Sendingstasie aangekom. Daar het ek ’n welverdiende rus geniet, en met die hulp van ’n gids is ons verder — via ‘n inboorling-paadjie — na die polisiepos agter die King’s Rest‑spoorwegstasie. Selfs vandag is dit ’n plek wat moeilik opgespoor kan word.
Die ligging van die polisiepos was vir ons ideaal: ons akkommodasie was gerieflik, die gemeenskap klein, en klagtes min — dus was ons werkslas lig.
Ek was wel al voorheen op die Bluff, tydens die Russies‑Japannese Oorlog. Die Russiese vloot het ’n paar vissersbote naby Skotland laat sink, en daar is vermoed dat hulle via die Kaap na Vladivostok sou terugkeer. ’n Troep van vyftig man is van Pietermaritzburg af gestuur om die vuurtoring op die Bluff te bewaak. Ons het natuurlik nooit die Russiese vloot gesien nie, en geen medaljes ontvang nie.

Ons daaglikse pligte was uiteenlopend. Ons moes van die vuurtoring tot by die Isipingo‑rivier patrolleer. Daar was slegs ’n handjievol inwoners tussen hierdie twee punte, so die patrollies was in werklikheid vriendelike besoeke om te hoor of alles in orde was en of iemand probleme gehad het.
Water-polisie
Ons het ook ’n polisieboot op die baai gehad waarmee ons die Bluff‑kant gepatrolleer het en stropery teëgewerk het — veral die vissers van die Mohammedaanse Trust wat nette in die baai gespan het. Hierdie taak het ons dikwels van kos voorsien, want vleis was skaars.
Die boot was oud en vervalle, en ’n Indiër het ons £5 daarvoor aangebied. Die aanbod is aan die owerhede voorgelê, maar geweier. Ons is beveel om die boot per spoor na Durban te stuur vir ’n veiling. Die Indiër het dit toe vir 35 sjielings gekoop — te min om die spoorvrag te dek — en so was hy en die boot daardie selfde middag terug by King’s Rest.
Die pad na die Bluff het destyds by Wentworth‑stasie geëindig. Padbouwerk was wel aan die gang, met die hulp van twee‑ tot driehonderd gevangenes wat tydens die 1906 Bambatha‑rebellie gevange geneem is. Bluffweg is toe gebou tot waar Beacon‑weg vandag is, en van daar tot by Fynnlands was dit niks meer as ‘n wa‑pad nie.


Daar was drie treine per dag tussen Durban en die Bluff. Die eerste het Durban om 17:30 verlaat, maar die Benjamin’s — wat die Point‑veerboot besit het — het ons gewoonlik om middernag oorgevat Bluff toe nadat ons ’n baie aangename aand in Durban deurgebring het. Daarna moes ons langs die spoorlyn terugstap na die polisie‑kamp, waar ons in die vroeë oggendure aangekom het.
(Word voortgesit)(Ongelukkig kon ek nie die opvolgende uitgawe opspoor nie)
Die kentekens van die Natal Police

Die uniform van die Natal Police


