NONGQAISouth Africa’s National Security MagazineEstablished in 1907
DONATE
Photo of the late Lt Genl Johan Deyzel
In Memoriam · Ter nagedagtenisLaai aandenking af (PDF)

In Memoriam: Die lewe en loopbaan van lt.genl. Johan Deyzel

Van 'n Karoo-seun tot Provinsiale Kommissaris: 'n Lewe van Diens in die Suid-Afrikaanse Polisie

November 18, 2026November 2026 uitgaweVol. 17 No. 118 minute om te lees

Met die heengaan van Lt Genl Johan Deyzel op 17 November 2026, plaas NONGQAI graag hiermee 'n biografiese artikel wat generaal Deyzel in 2019 self bygedra het vir die SAP Generaalsklub se Nuusbrief - met waardering vir hom, en meelewing met sy geliefdes.

Lt Genl Deyzel het in 2019 geskryf: Ek is die jongste van vier kinders, waarvan nog net ek en my suster leef. Ek is op Noupoort in die Noord-Kaap gebore, het daar grootgeword en aan die Hoërskool D.M. Pretorius op die dorp skoolgegaan. Ek het in 1965 by die polisie aan­gesluit.

My oorlede pa was 'n laaimeester op die spoorweë en my oorlede ma 'n huisvrou. Ek het baie arm groot­geword, maar was skatryk in ons liefde vir mekaar en in ons gesin se liefde vir Christus.

Die wêreld het in st. 9 (gr. 11) vir my so 'n bietjie skeefgeloop. 'n Onderwyser het my met 'n staalvyl op my rug geslaan, nie baie hard nie, maar genoeg om my enigste wit hemp vuil te smeer. Ek het toe 'n hamer gevat en gesê as hy dit weer doen, dan moker ek hom. As gevolg van hierdie dreigement is ek uit die klas gejaag. Die skoolhoof was gereed met sy rottang en het my toe ses van die bestes gegee.

Photo of the late Lt Genl Johan Deyzel

Dieselfde middag, op pad huis toe, het ek by die polisiestasie inge­stap en vir sers. Schoeman gesê ek wil 'n polisieman word. By die huis verduidelik ek my storie en sê vir my ouers ek wil 'n polisieman word. Ek maak toe aan hulle die belofte dat ek matriek buitemuurs sal skryf en voeg by ek hulle nooit teleur sal stel nie. Hulle het toestemming gegee en daar het my loopbaan as polisieman begin.

My ma het later die aap uit die mou gelaat en vir my gesê my pa het daardie aand aan haar gesê hy is baie trots op my omdat ek my man gestaan het. By die skool vertel ek toe met so 'n bietjie vermakerigheid vir die onderwyser dat ek 'n polisieman gaan word. Sê hy vir my: “O, jy gaan nou 'n “meidevanger” word.” Baie braaf kap ek terug, “Meneer gaan die eerste een wees.” En daar het my sitvlak toe weer gebrand.

Na my opleiding en regsmatriek, is ek na Calvinia gepos. Ek was nog nie 18 nie en kon dus volgens wet nie 'n vuurwapen dra nie. Dit terwyl ek as die beste rewolwerskut in my troep aangewys is.

Hiervandaan is ek na Port Nolloth/Alexanderbaai verplaas waar ek die onge­looflike voorreg gehad het om die Grootwiel te stap.

Toe ons ná 'n jaar stasies kon kies waarheen ons wou gaan, het ek op Natal besluit, want ek het geweet daar sou ek Engels bemeester, dit was vir my nood­saaklik om goed te kon Engels praat. Saans, terwyl ek die Wiel gestap het, het ek hardop denkbeeldige Engelse verklarings afge­neem. Die geleidehond het seker gedink ek is mal.

In daardie tyd het ek vir die Namakwaland-subunie en vir Noordwes-Kaap se o.21-span rugby gespeel.

Vandaar is ek na Pietermaritzburg verplaas, waar ek as 20-jarige die sersant­eksamen geskryf en geslaag het. Ek word tot die rang bevorder, en word na Richmond(N) verplaas. Die polisieregulasies is in daardie tyd gewysig wat die ouderdom vir sersante van 21 na 20 verlaag het. Ná slegs ses maande is ek aangestel as stasiebevelvoerder.

Ek het intussen die liefde van my lewe ontmoet en my Renault motortjie vodde gery om in Pietermaritzburg te gaan kuier. Ek was 22 jaar oud toe ek die eksamen tot die rang van adjudant-offisier geslaag en terselfdertyd na Camperdown verplaas is. Ek besluit toe sommer net daar om met my geliefde, Ans Olivier te trou, al was ek maar net 22 jaar oud. As pasgetroude man was ek nie lus om dadelik weer te begin studeer nie, en het toe maar 'n jaar gerus.

Ek was 24 jaar oud toe ek die offisierseksamen aanpak en dit slaag. Daar die jare is die uitslae nog per teleks landwyd versend.

Om tot die rang van offisier bevorder te kon word, moes jy daardie tyd eers voor die keurraad verskyn. Kapt. Bokkie Breedt het ons in marsjeer na die keurraad. Hy het ons behoorlik gedril en dit het gelyk asof hy hom gate uit geniet het om ons senuwees op hol te jaag.

Die dag was slegs die tweede keer in my lewe dat ek 'n generaal in lewende lywe gesien het. Ná makoukursus (offisierskursus) word ek na die kollege verplaas, maar later dieselfde middag word die verplasing omge­keer en word ek na Weenen in Natal (KwaZulu-Natal) verplaas. 'n Jaar later is ek as stafoffisier na die kantoor van die distrikskommandant in Pietermaritzburg verplaas.

In Junie 1976 breek gewelddadige onluste landwyd uit en ek word na die veiligheidstak oorgeplaas om te help met die ondersoeke. Dit is hier waar ek die legendariese genl. Sterk Hans Dreyer ontmoet en onder sy bevel gewerk het.

Van 1969 tot 1984 (behalwe in 1975) het ek ononderbroke vir Pieter­maritzburg polisie se eerste rugbyspan gespeel, behalwe natuurlik die tye wanneer ek beseer was. Dit was nie omdat ek so goed gespeel het nie, maar omdat ek die enigste persoon beskikbaar in my posisie was.

In 1984 word ek na die veiligheidstak op Oudtshoorn verplaas en vier jaar later na die Krugersdorp-tak. In dié tyd verwerf ek ook die graad BA. (Pol.) aan die Universiteit van Suid Afrika.

Ná slegs 'n jaar word ek uit die bloute na Radiobeheer in Soweto verplaas. Ek weet ek het nie drooggemaak nie. Sal altyd wonder hoekom. Dit was daardie tyd allerweë beskou as 'n skande om van veiligheidstak af verplaas te word na die uniformtak. Ek het twee keuses gehad - óf ek raak verbitterd en gaan sit in sak en as of ek aanvaar die uitdaging. Ek het besluit om die uitdaging te aanvaar en vandag kan ek sê dit was my eie persoonlike Rubicon.

In Soweto het ek Radiobeheer omskep in 'n Blitspatrollie-eenheid wat as gerekend beskou was. 'n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan. In 1992 is ek tot die rang van Kolonel bevorder en na die kantoor van die Distrikskommandant in Soweto-Oos verplaas.

In Desember 1992, terwyl ek by Port Edward met vakansie was, is ek sommer telefonies na die afdeling vir binnelandse stabiliteit (ABS) in die Vaaldriehoek verplaas. Dit was net ná die Boipatong-slagting. My opdrag: "Gaan stabiliseer die gebied."

In 1994 het ek die laaste senior-bestuurskursus wat die polisiemag aangebied het bygewoon en is ek op 1 Desember 1994 na die rang van Brigadier bevorder. Op 1 Januarie 1995 is ek na ABS in Soweto verplaas waarvandaan ek 'n maand later na die afdeling Witwatersrand as die ABS-streekbevelvoerder verplaas is.

In 1994 het die Suid Afrikaanse Polisiediens tot stand gekom, en was die poste vir Provinsiale Kommissarisse geadverteer. Ek het op die ingewing van die oomblik aansoek gedoen vir die Provinsiale Kommis­saris pos in Gauteng. Groot was my verbasing toe ek op die kortlys geplaas word en genooi word vir ʼn onderhoud. Die paneel het bestaan uit die nuut aangestelde LUR’e vir Veiligheid en Sekuriteit van al 9 provinsies, onder voorsitterskap van nou appèlregter Azaar Chacalia en wyle lt.genl. Morgan Chetty. Het die LUR’e dit nou geniet om my, en seker die ander kandidate ook, te kasty. Ek kon met ʼn veer omgeslaan word toe ek ʼn paar dae later ingelig word dat ek die aangestel word as die provinsiale kommissaris in die Noord-Kaap met die rang van luitenant-generaal. Die Karooseun gaan huistoe! Daar was heelwat brigadiers wat as provinsiale kommissarisse met die rang van luitenant-generaal aangestel is. Daar was maar ʼn paar skinderstories. Dit het my aanvanklik ontstel, maar het gou vrede gemaak met die wete dat wat ook geskinder was, nie die waarheid is nie. Wat ʼn wipplank was die 5 jaar as P.K nie. My geloof het my egter deurgedra en kan ek vandag met trots terugkyk na daardie 5 jaar. Aan die einde van die 5 jaar was daar ʼn keuse, óf gaan op pensioen, óf neem ‘n pakket of word heraangestel vir ʼn verdere 5 jaar. ‘n Heraanstelling was my verskeie redes nie beskore nie. Nie een van die ander twee was vir my ʼn opsie nie omdat ek net 50 jaar oud was en nog ‘n passie vir die polisie gehad het.

Op ʼn dag of twee voor my kontrak verstryk het ontvang ek ʼn skrywe van Hoofkantoor wat my inlig dat ek na die verstryking van die termyn as Provinsiale Kommissaris herontplooi word na Pretoria hoof­kan­toor as Afdelingskommissaris van Operasionele Reaksiedienste. Ek was toegelaat om met pensioen te gaan en die voordeel van die ekstra 5 pensioendraende jare te ontvang en is op ‘n kontrak vir 3 jaar aangestel. Die 3 jaar by Operasionele Reaksie dienste was van die lekkerste tye in my polisie loopbaan en het ek op 31 Julie 2003 vir die laaste keer die polisiedeur agter my toegetrek.

Daar is twee kinders uit ons huwelik gebore. Johann en Marisa is albei getroud en ons het twee pragtige kleinseuns wat ons lewe volmaak maak.

Terug in Kimberley het wyle Regter-President Steenkamp van die Noord-Kaap my onmiddellik aangestel as projekbestuurder by die Misdaad­­komitee.

Wyle regter Steenkamp het my in 2011 genader om die uitvoerende hoof van ‘n Utiliteitsmaatskappy, waarvan hy die voorsitter was, te word. Ek het hierdie nuwe uitdaging aanvaar. Ek geniet die werk en kan werk teen my eie tempo.

Ek het in 2003 begin fietsry en het aan heelwat wedrenne deel­geneem, waarvan die twee Parys (Vrystaat) 24-uur bergfiets uithou wedrenne en tien Cape Argus wedrenne die hoogtepunte was.

Ek het in 2015, na my tiende Cape Argus, besluit om op te hou fietsry na ʼn knie- en skouer vervanging.

Johan Deyzel

Julie 2019

Naskrif:

Die dokument hierbo is onttrek uit die Augustus 2019 uitgawe van die SA Polisie Generaalsklub nuusbrief, saamgestel deur lt genl Johan Ferreira.

Lt genl Johan Deyzel is na 23 jaar se aftrede op 17 November 2026, na ‘n kort siekbed in die ouderdom van 77 jaar in Kimberley oorlede.


Deel hierdie artikel:

Skryf aan ons oor hierdie artikel

Onthou jy dit, of weet jy meer? Jou kommentaar verskyn hier sodra 'n redakteur dit gelees het.

Die redakteurs kan u kommentaar, met u naam, in die maandelikse uitgawe plaas.