Die Appelliefiediefie
Die Koning van die Vrystaat het die mooiste appelliefie-boord in die hele wêreld gehad. Die groot geel appelliefies wat in die appelliefiebos in die Koning se vrugteboord gegroei het, was die soetste en sappigste en geelste appelliefies in die hele Vrystaat oorkant die Oranjerivier. Nie een ander appelliefie was mooier, groter, sonniger en sappiger as die ou Koning se appelliefies nie – hulle was die beste in die Weste.
Die Koning se onderdane het goed van die appelliefie-bos geweet – hulle oupagrooitjies het die storie van die lekker appelliefies vir hul oumas en oupas oorvertel, en so het die kleinkinders daarvan tehore gekom. Wat die Koning se onderdane nie geweet het nie, was dat hy ʼn beeldskone dogter gehad het. Sy kon pragtig klavier speel, mooi dans en lekker wegkruipertjie speel. Die Koning het vir niemand vertel hoe mooi die prinses was nie, omdat hy baie bang was dat elke Jan-Rap en sy Maat met sy dogter sou wou trou, net omdat sy so mooi en die al die Jan Rappe geldgierig was. Die Koning het hom voorgeneem dat net die slimste onderdaan in die hele koningkryk met sy pragtige dogter sou kon trou, en dan moes die onderdaan ʼn baie groot uitdaging ook oorkom.
Niemand het geweet nie, maar die ou Koning het ʼn ernstige probleem gehad waarvoor hy ʼn oplossing moes kry. Iemand, miskien een of ander skelm, was besig om van sy geliefde appelliefies uit sy boord in die kasteel se tuin te steel. Die Koning was baie kwaad daaroor en hy het hom voorgeneem om die skuldige appelliefie-diefie vas te trek. ‘Niemand het die reg om my appelliefies te steel nie,’ brom die ou Koning ontevrede. ‘Ek gaan die maaifoedie sommer gou-gou vang, en hom laat boet vir sy sondes.’
Die Koning het lank en hard probeer om die appelliefie-dief te vang, maar sonder enige sukses. Elke oggend het die Koning vroeg opgestaan en soos ‘n bliksoldaatjie in sy appelliefie-boord gaan waghou, om te kyk of hy dief kon vang en arresteer. Terwyl die Koning daar gesit het, het niemand van sy appelliefies gesteel nie, maar sodra die Koning moeg geword het en teruggegaan het na sy kasteel toe, het daar maar weer van die appelliefies verdwyn. Partykeer sommer mandjies-vol.
Die Koning besef toe dat die appelliefie-diefie die appelliefies in die aand steel, wanneer almal slaap en niemand kyk nie. Toe besluit die gefrusreerde ou Koning om elke aand met ʼn kers in die appelliefie-boord gaan sit, in die hoop om die dief te vang. Maar elke keer as die Koning aan die slaap raak en heerlik snork, verdwyn daar weer van die appelliefies. ‘Ek het hier met ʼn baie slim dief te doen,’ dink die Koning vies. ‘Ek sal ʼn baie slim en vernuftige plan moet uitdink om die dief te vang.’
Die Koning besluit toe om ʼn beloning uit te loof vir enige onderdaan of dienskneg wat die appelliefie-diefie op heter daad betrap. Die Koning het ʼn groot samekoms gereël en almal wat in die koningkryk woon, toegespreek. ‘Ek gee nie om wie die appelliefie-dief vang nie,’ het die Koning kwaai aan sy onderdane gesê. “Solank iemand hom net vang, sodat ek die dief in die tronk kan sit!” As beloning, belowe die Koning, sal hy toelaat dat die onderdaan of dienskneg wat die appelliefie-diefie vang, met sy dogter trou.
Om al sy onderdane en diensknegte om die bos te lui, het die Koning vir almal vertel dat sy dogter besonder lelik was en ook nie baie slim nie, hoofsaaklik omdat sy nogal lui was. Die Prinses, aldus die slinkse ou Koning, het ʼn kort humeurtjie gehad en sy het gereeld op die diere en diensknegte en onderdane in die kasteel geskree. Niks daarvan was waar nie, en die Koning het gedink dat kansvatters gou-gou moed sou opgee as hulle onder die indruk verkeer dat die prinses nogal lelik en onbeskof is.
Maar een van die Koning se onderdane het nie moed opgegee nie. Sy naam was Tiro en hy het gehoor dat die Koning baie graag wil uitvind wie elke dag sy appelliefies steel, en dat hy enige iemand wat die skelm dief kon vang, ryklik sal beloon deur hom met sy dogter te laat trou. Tiro het nie omgegee dat die prinses lelik was nie, hy het lankal reeds by die diensknegte uitgevind dat sy pragting kon sing en baie mooi klavier kon speel. En dat sy van wegkruipertjie, wipplank en blikaspaai hou. Solank die Koning se aanvallige dogter edel van imbors was, met ʼn mooi karakter, en lief is vir diere en hulle nie seermaak nie, was dit goed genoeg vir Tiro. Elke meisie is op haar eie manier beeldskoon, het Tiro vir homself gesê. Die Prinses sou vir hom mooi wees en hy sou haar op sy hande dra, omdat sy ʼn prinses was.
Tiro het elke aand, nadat al die diensknegte en onderdane gaan slaap het, stilletjies stelling in die Koning se appelliefieboord ingeneem. Aand na aand het Tiro in die boord gesit en wag vir die dief om toe te slaan. Hy het baie vaak geword, maar nooit geslaap nie. Somtyds het Tiro natgereën, en in die koue windjie gesit en wag en wag… vyf nagte lank. Tiro was ʼn slimkop, met groot breë skouers – hy sou nie dat ʼn ou koue windjie hom van stryk af bring nie. Nag nà nag het Tiro geduldig in die boord geskuil, en geduldig op die appelliefie-dief gewag.
Op die oggend van die sesde dag, toe Tiro al baie moeg en amper moedeloos was, hoor hy ewe skielik ʼn gefladder van vlerke in die appelliefie-bos. Dit was baie vroeg in die oggend, net voor dagbreek, en die dou het nog op die appelliefie-bos se blare lê en blink. Soetjies het Tiro opgestaan en nadergekruip, totdat hy duidelik kon sien hoe ʼn pragtige leliewit tortelduif op een van die appelliefiebome sit, en die appelliefies een vir een bymekaarmaak.
“Nou het ek jou,” het Tiro gefluister en agter die boom uitgekom om die wit tortelduifie aan haar vlerk te gryp. Die Tortelduifie het ʼn klomp appelliefies in haar kieste gebêre en probeer wegvlieg, maar Tiro het haar stewig in sy greep gehad en vasgehou.
‘Los my, asseblief,’ soebat die Tortelduifie benoud. “Ek maak net kos vir my kinders bymekaar.” Maar Tiro wou nie los nie en het haar stewig vasgehou.
‘Jy weet mos jy mag nie in die Koning se tuin kom vrugte pluk nie,’ sê Tiro streng. ‘Jy moet eers toestemming kry om dit te doen.’
‘Ek is jammer,’ pleit die Tortelduifie. ‘Ek maak maar net kos vir my honger kinders bymekaar.’
Tiro het die tortelduifie jammer gekry en stadig sy greep gelos. “Hoeveel kinders het jy, Totelduifie? vra Tiro.
‘Net twee,’ antwoord Tortelduifie bedees. ‘Twee klein baba-tortelduifies. Ek moet elke dag vir hulle kos vat, anders word hulle honger.’
‘Hhierdie vrugteboorde behoort aan die Koning,’ antwoord Tiro gemaak-streng. ‘Enige-een wat van die koning steel, moet tronk toe gaan.’
‘Ek is jammer,’ soebat Tortortelduifie nederig. ‘Ek sal dit nooit weer doen nie. Ek belowe ek sal nooit weer na die koning se vrugteboorde toe kom nie. Ek sal in my lewe nooit weer ietsie steel nie.’
‘Goed, sê Tiro, ‘ek glo jou. Ek sal jou laat gaan, maar jy moet by jou belofte hou om nooit weer iets te steel nie. Belowe jy, op jou erewoord?’
‘Ek belowe,’ sê die duifie plegtig en toe Tiro laat haar gaan. ‘Baie dankie, baie dankie, sê Tortelduifie, en toe vlieg sy ʼn laaste keer uit die koning se vrugteboord uit.
Die volgende dag het Tiro na die kasteel toe gegaan, waar hy deur die Koning te woord gestaan is. Tiro het vir die Koning die hele storie vertel, ook van die tortelduifie se belofte om nooit weer sy appelliefies te steel nie. Die Koning het geduldig na Tiro se storie geluister en hy kon dadelik sien dat Tiro ʼn goeie en goedhartige jong man was. Tiro het die probleem opgelos en daarmee was die Koning baie in sy noppies. Hy het toe die prinses laat roep en aan haar vertel hoe bedagsaam Tiro met die tortelduifie was. Toe hy die pragtige Prinses sien, was Tiro se asem skoon weggeslaan. Hy kon nie glo hoe aanvallig die prinses was nie. Boonop baie mooi sing en dans, en lekker wegkruipertjie en blikaspaai speel, om nie eers van vroteier te praat nie.
Die ou Koning het sy seën gegee sodat Tiro en die pragtige Pinses kon trou. Tiro het ʼn Prins geword en op die dag van die troue het sy Prinses vir hom ʼn pragtige liedjie gesing. Toe gebeur iets wonderlik, iets wat niemand in die Koning se kasteel nog ooit gesien het nie. Terwyl die Prinses nog so op haar klavier vir al die gaste by die troue speel en sing, hoor sy en Tiro ewe skielik ʼn pragtige klokhelder koer-koer bo in die kerktoring.
Toe Tiro en sy Prinses opkyk, sien hulle ʼn pragtige wit tortelduif, en twee jong duifies wat na hulle afkyk, en liggies met hul vlerke fladder.
Net om dankie te sê.
*
Henning van Aswegen, Vrystaatstories, Naledi-uitgewers, en Naledi-aanlyn.

Die skrywer en historikus Henning van Aswegen woon en skryf in die Strand, langs die magtige Valsbaai. Sy kinderboeke sluit die volgende in: Die Avonture van Mossieman en Geronkie die Donkie, die Mason in the Jungle-reeks, Vrystaatstories en die Donkie is ‘n Wonderlike Ding. Die boek Vrystaatstories is van Naledi-uitgewers beskikbaar.
*
