VRYSTAATSTORIES, UITGEGEE DEUR NALEDI-UITGEWERS: https://naledi.co.za
Die Donkie-hofsaak
‘‘Ek is gedagvaar om in die Vrystaatse rondgaandehof te verskyn, Mossieman’ kla Geronkie die Donkie al kouende aan ‘n Vrystaatse mieliestronk . ‘As getuie. Een of ander skelm prokureur het my gedagvaar, kan jy jou dit nou indink. Ek is sommer vies oor sulke nonsens; ek dink hulle wil my muilband en my van my menseregte ontneem.’
‘Wat se soort nonsens, Geronkie my ou mater?’ vra Mossieman terwyl hy doodluiters agteroor op ‘n boomtak sit en die Volksblad lees. In daardie jare was dit Volksbald die gewildse Afrikaanse dagblad in die hele Vrystaat – beide belese en onbelese Vrystaters het die Volkslad getrou en elke dag met groot belangstelling en empatie gelees. Die merkwaardige ding van die Volksblad was die innoverende idiomatiese gebruik van die Afrikaanse taal sodat ongeletterde donkies ook elke dag die nuus en sportgebeure met gemak kon lees.
“Ek weet nie eers mooi wat ‘n staatsgetuie moet doen nie, Mossieman. Is ek ‘n ooggetuie vir die staat? ‘Moet ek onder eed getuig oor donkiesake?
‘Dit hang af, Geronkie. Is jy ‘n staatsgetuie, of ‘n spesialisgetuie?’
‘Ek is self ‘n donkie, Mossieman en ek het baie ondervinding van donkie-wees. Ek is eintlik al drie: ‘n spesialisgetuie, ‘n ekspert oor donkiesake en ‘n staatgetuie oor vertroulike staatsake want ek praat die donkies se geheime taal.’
‘Waaroor gaan die hofsaak nou eintlik, Geronkie? Wat het jy aangevang?’
‘Ek het my buurvrou ‘n donkie genoem, Mossieman en sy was baie kwaad daaroor. Sy het haar letterlik en figuurlik vervies vir my. Veral haar korpulente figuurtjie was baie kwaad vir my.’
‘Letterlik en figuurlik?’ lag Mossieman papierig. ‘Waar woon jou buurvrou?
‘In die stroois langs myne, Mossieman. Sy het baie polilettergrepe en onsmaaklike grammatika gebruik. Woorde wat ek nog nooit uit die mond van ‘n voorstedelike huisvrou verwag het nie. Sy was smoorkwaad en haar hele figuur het gebewe van woede. Toe dagvaar sy my by die polisiestasie vir laster en naamskending.’
‘Maar dan is jy mos ‘n beskuldigde Geronkie, nie ‘n staatsgetuie nie! Jy moet onder eed getuig.’
‘n Beskuldigde! Wat moet ek alles eet om ‘n beskuldigde te wees? vra Geronkie bekommerd. ‘Ek eet net Vrystaatse mielies en vrugte en nou moet ek vreemde goed eet om in die hof onder eed te getuig. Jy sal my moet help eet, Mossieman!’
‘Nee-man, Geronkie. Ek is ‘n mossie wat soos ‘n tintinkie eet.’
‘Ons sal onder eed moet eet lyk dit my.’
‘Eed, Geronkie. Onder eed. Jy hoef niks te eet nie, jy gaan in elk geval versadig wees van al die nonsens wat mense in ‘n hofsaak praat. Waarvan beskuldig hulle jou, Geronkie?’
‘Ek het my buurvrou ‘n donkie genoem, Mossieman. Ek dink ek het haar beledig.’
‘Jy is dan self ‘n donkie. Hoe kan jy jou buurvrou beledig deur haar ‘n donkie te noem? Grinnik Mossieman. ’Die pot kan mos nie ketel swart noem nie, tensy hy die pot mis sit.’
‘Wat beteken die pos mis sit, Mossieman?’
‘Jy blaf vir die verkeerde boom. Dit beteken jy weet nie waarvan jy praat nie, soos prokureurs en politici. Jy kan nie die ketel aan die kook hou as jy die pot mis sit nie.’
‘Ek weet ek is net ‘n donkie, Mossieman, maar ek is ‘n Vrystaatse donkie en ek is ‘n wonderlike ding.’
Tyd op die Vrystaatse platteland gaan vinniger verby as in ander provinsies omdat die lewe in die stad baie verveliger is, en donkies raak gou moeg daarvoor. So ‘n paar weke later vlieg Mossieman al langs die wilgebome van die magtige Sandrivier af tot by die voetbrug tussen Virginia en Harmonie. Op sy radarsisteem met sy oorvlug sien Mossieman vir Geronkie onder die brug waar hy sit en visvang sonder ‘n visstok of aas aan sy vislyn. Van ver af kon Mossieman sien dat Geronkie ‘n vrolike hengelaar is en hy besluit om nader te staan om uit te vind hoe Geronkie se hoofsaak verloop het.
“Dagsê, Geronkie my ou mater! Vertel my nou eers ‘n wolhaarstorie oor hoe die hofverrigtinge in die Vrystaatse Hooggeregshof verloop het. Het jy toe die hofsaak gewen?’
‘Natuurlik, Mossieman. Ons Vrystaatse donkies is in ‘n klas van ons eie met slim sê-goed, kwiksilwer-kwinkslae en slim poetsbakkery.’
‘Hoe slim was jy, Geronkie?’
‘Die landdros wou my skuldig bevind aan growwe belediging van die my buurvrou wat in die stroois langs my woon. Maar toe vra ek hom ‘n strikvraag wat nie eers ‘n oneerlike prokureur kan antwoord nie.’
‘Nou is ek nuuskierig. Vertel verder.’
‘Ek het dit onder die landros se aandag gebring dat ek as ‘n donkie is – dit is nie my skuld dat ek self een is nie; dit is my kultuurhistoriese erfenis. Daar is niks wat ek of hy aan die saak kan doen nie. Ek wou by die landdros weet hoe ek dan nou my strooisbuurvrou beledig deur haar ‘n donkie te noem? Sy is ‘n muil en ek ‘n donkie en nou is sy kwaad as ek haar ‘n donkie noem.’
‘Wat sê die landros toe vir jou?’
‘Hy wou weet,’ vertel Geronkie nonchalant,’ hoe ek sou voel as my buurvrou my ‘n muil sou noem? Siende dat ek ‘n donkie is en nie ‘n muil nie. Toe besluit ek om my buurvrou met ‘n paar gevatte komplimente te oorweldig. Haar as’t ware aan my kant te kry deur heuning om haar muilbekkie te smeer.’
‘Ag vadertjie tog,’ mompel Mossieman.
‘Toe noem ek haar ‘n ou muil omdat sy soos ‘n muil loop, en soos ‘n muil ruik. As sy haar haar hare mooi kam. sal sy minder soos ‘n muil en meer soos ‘n donkie lyk.’
‘Ai-jai-jai, Geronkie.’
‘Vir een of ander rede was sy smoorkwaad, Mossieman. Sy het my ‘n kerjakker genoem! Die rook het by haar twee lang muil-ore uitkekom en sy het my rondgejaag! Ek vermoed sy wou my om die lewe bring.’
‘Wat doen jy toe?’
‘Niks nie! Ek het net so in die verbygaan geskree dat sy my maar kan jaag, maar sy moet my net nie skop nie.’
‘Waarom skree jy dit vir haar? Jy soek mos verder moeilikheid.’
‘Want ek het gehoor dat sy soos ‘n muil kan skop, Mossieman. Toe besluit ek om haar te komplimenteer deur haar nie ‘n donkie te noem nie. Net ‘n ou muil.’
‘Wat het die landros oor dié petalje gesê, Geronkie?’
‘Nie veel nie, Mossieman. Hy het die saak uit die hof gegooi!’
‘En jou smoorkwaade buurvrou? Wat het van haar geword?’
‘Toe ek laas sien het sy die landros en haar prokerower met ‘n knopkierie in die straat afgejaag, Mossieman. Die dorpsmense van Virginia het nie een van die drie weer gesien nie.’
*
Boekbestellings, Vrystaatstories – stuur ‘n e-pos met jou bestelling na henningvanaswegen55@gmail.com