Nongqai Vol 17 No 9 – (29) Kriminele dade deur offisiere van SAPD

Excerpt

“A police force’s greatest danger is not the criminal outside the gate, but the policeman who opens it from within.”

Abstract

Brigadier Fanie Bouwer’s article examines systemic accountability within the South African Police Service (SAPS), questioning how alleged criminal involvement by certain officers—including senior ranks—escaped detection by internal command, intelligence, and oversight structures. He contrasts the decisive discipline of the former SAP era with current failures of supervision, emphasizing that leadership responsibility extends beyond personal conduct to proactive monitoring and response to credible warnings. The piece calls for the Madlanga Commission to scrutinize command responsibility and the effectiveness of internal control mechanisms.

Keywords

SAPS, corruption, police accountability, command responsibility, internal oversight, Madlanga Commission, criminal misconduct, intelligence failure, leadership ethics, institutional integrity

Kort opsomming

Die artikel van brigadier Fanie Bouwer vra waarom beweerde kriminele betrokkenheid van sommige SAPD-lede, insluitend senior offisiere, nie vroeër deur die polisie se eie bevel-, intelligensie- en toesigstelsels opgespoor is nie. Die kernvraag is nie slegs “wie die misdaad gepleeg het nie, maar ook wie dit moes raakgesien het en waarom daar nie betyds op waarskuwingstekens opgetree is nie”. Die skrywer beklemtoon dat bevelverantwoordelikheid nie beteken dat bevelvoerders outomaties aanspreeklik is vir elke ondergeskikte se optrede nie, maar wel dat hulle verantwoordelik is om behoorlike toesig, beheer en opvolg van geloofwaardige waarskuwings te verseker. Die verlenging van die Madlanga-kommissie se mandaat bied volgens die skrywer ’n geleentheid om hierdie kwessie deeglik te ondersoek.

KRIMINELE DADE DEUR OFFISIERE VAN SAPD

Deur brigadier Fanie Bouwer (afgetree)

Brig Fanie Bouwer

My gedagtes gaan dikwels terug na ons dienstydperk in die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP).

Daar was natuurlik ook destyds gevalle waar individuele polisielede die wet oortree het. Maar wat my bybly, is hoe vinnig en beslissend daar teen so ’n lid/offisier opgetree is.

Bevelvoerders het nie gehuiwer om op ’n lid wat hom aan kriminele gedrag skuldig gemaak het, daadwerklik te ondersoek nie.

Dit was eenvoudig nie aanvaarbaar dat ’n polisieman self ’n misdadiger word nie.

Twee dinge onthou ek goed

Daar was ware geen geheime binne die SAP-geledere van destyds nie. En, tweedens, was ‘n lid of offisier wat ‘n prima facie-saak van ernstige misdaad in die gesig staar – veral wat integriteit betref – in destydse polisie-spreektaal summier met die ‘nagtrein’ of ‘melktrein’ verplaas. Dit was ‘n aanduiding van hoe misdaad in eie geledere bejeën en hanteer was.

SAPS lid summiere verplasing Nagtrein simbolies

“… summier met die ‘nagtrein’ of ‘melktrein’ verplaas.”

Dit beteken nie dat die ou SAP sonder probleme was nie. Geen organisasie is sonder foute of individue wat die reëls oortree nie. Maar daar was ’n sterk beginsel dat ’n polisiebeampte wat die wet oortree, nie deur sy uniform beskerm word nie.

Die getuienis wat die afgelope jaar voor die Madlanga-kommissie gelewer is, laat egter ’n veel groter en ongemakliker vraag ontstaan.

Hoe kon sommige polisielede – en volgens getuienis senior offisiere en selfs generaals – vir lang tydperke met beweerde kriminele aktiwiteite verbind wees sonder dat die bevelstruktuur dit betyds raakgesien het?

Die opvallendste aspek is dalk nie eens dat individuele offisiere daarvan beskuldig word dat hulle by misdaad betrokke was nie. Dit is die vlak waarop sommige van die bewerings betrekking het.

Wanneer senior offisiere en generaals in sulke bewerings ter sprake kom, gaan die probleem nie meer bloot oor die gedrag van ’n individu nie. Dan moet ’n mens begin vra oor die stelsel van toesig, beheer en aanspreeklikheid.

Dit is ’n fundamentele bestuursbeginsel in enige polisiemag.

’n Bevelvoerder behoort nie noodwendig elke beweging van elke ondergeskikte te ken nie. Maar hy behoort wel te weet wat binne sy bevelsgebied aangaan, watter risiko’s bestaan, watter waarskuwingstekens opduik en of daar patrone is wat verdere ondersoek vereis.

Die vraag is dus nie bloot: Wie het die misdaad gepleeg?

Die volgende vraag behoort te wees: Wie moes dit gesien het?

En daarna: Waarom is dit nie betyds gesien of opgetree nie?

Neem byvoorbeeld die getuienis rondom sersant Fannie Nkosi. Die Madlanga-kommissie het hom ondervra oor sy beweerde rol as tussenganger tussen kriminele figure en mense binne die polisie- en politieke omgewing.

Die Kommissie het ook getuienis aangehoor oor die oordrag van vertroulike polisielede-inligting.

Dit is natuurlik bewerings wat binne die Kommissie ondersoek word en moet nie vooruit as hofbevindings aanvaar word nie.

Maar juis daarom ontstaan ’n belangrike bestuursvraag:

As ’n relatief junior lid oor ’n lang tydperk in kontak met mense uit die georganiseerde misdaad was, indien hy toegang tot sensitiewe polisielede-inligting gehad het en indien sy optrede later genoeg kommer wek om voor ’n kommissie ondersoek te word – waar was sy onmiddellike bevelvoerders?

Het niemand iets opgemerk nie?

Het niemand vrae gevra oor sy kontakte, sy optrede of die inligting waaroor hy beskik het nie?

Het sy dossiere, ondersoeke en werksmetodes ooit deur ’n senior speurder of bevelvoerder behoorlik nagegaan?

En indien daar wel waarskuwingstekens was – wat het daarmee gebeur?

Hierdie vrae behoort nie slegs oor Nkosi te gaan nie. Dit behoort oor die hele bevelstruktuur te gaan.

Dieselfde vraag geld op die hoogste vlak.

As senior offisiere inderdaad vir lang tydperke met kriminele figure verbind was, soos wat in getuienis voor die kommissie beweer is, hoe het dit gebeur dat dit nie vroeër deur die polisie se eie intelligensie- en toesigstelsels opgespoor is nie?

Het die nasionale kommissaris en sy senior generaals geen waarskuwings ontvang nie?

Het die misdaadintelligensie-afdeling byvoorbeeld geen inligting ontvang nie? En indien wel, is dit opgevolg?

Hier raak ons aan die hart van die probleem. ’n Polisiemag kan nie effektief funksioneer as bevelvoerders slegs verantwoordelik gehou word vir wat hulle persoonlik doen nie. Hulle moet ook verantwoordelik wees vir wat binne hul bevelstruktuur gebeur – veral wanneer daar herhaalde waarskuwingstekens is.

Dit beteken nie dat ’n bevelvoerder outomaties skuldig is aan ’n ondergeskikte se misdaad nie. Dit sou onregverdig wees. ’n Bevelvoerder kan nie elke individuele polisieman se private optrede vooraf ken of voorkom nie.

Maar daar is ’n groot verskil tussen nie geweet het nie en nie probeer weet het nie.

Dit is presies waar behoorlike toesig en beheer inkom.

Die Madlanga-kommissie se mandaat sluit uitdruklik die ondersoek in na die doeltreffendheid van toesigmeganismes en na die vraag of senior amptenare versuim het om op geloofwaardige intelligensie of interne waarskuwings te reageer.

Dit is daarom ’n vraag wat die Kommissie, na my mening, ernstig behoort te oorweeg:

Hoe kon kriminele netwerke so diep in die polisie se strukture indring sonder dat die bestaande bevel-, intelligensie-, dissiplinêre en toesigstelsels dit betyds opgespoor en gestuit het?

Want uiteindelik gaan dit oor meer as Fannie Nkosi of enige ander individuele polisieman.

Die kardinale kwessie is dat dit gaan oor die vraag of die SAPD se bevelstruktuur nog in staat is om sy eie mense behoorlik te monitor, te beheer en aanspreeklik te hou.

’n Polisiemag se grootste gevaar

’n Polisiemag se grootste gevaar is nie noodwendig die misdadiger wat buite die hek staan nie. Dit is die polisieman wat die hek van binne af oopmaak.

En wanneer dit gebeur, behoort die vraag nie te eindig by die persoon wat die hek oopgemaak het nie.

Ons behoort ook te vra: Wie het hom die sleutels gegee – en wie moes gesien het dat hy dit gebruik?

Ter afsluiting

Die Presidensie het vandag, 19 September 2026, aangekondig dat die finale Madlanga-verslag se sperdatum tot 25 Januarie 2027 verleng is, juis om verdere getuienis en deskundige aanbevelings te verwerk.

Dalk kan die Kommissie spesifiek ook nou kyk na bevelverantwoordelikheid, interne waarskuwingstelsels en toesig.