SAPD-SPEURDERSGEBOU ONTAARD IN PLUNDERTONEEL
Fanie Bouwer
Abstract: SOUTH AFRICAN POLICE SERVICE
’n Verlate voormalige SAPD-speurdersgebou in Boksburg-Suid het in ’n plundertoneel ontaard. Toerusting is verwyder, staatsbates is beskadig en – die kommerwekkendste van alles – ou polisiedossiere en dokumente lê tussen die rommel versprei. Die voorval laat ernstige vrae oor die beveiliging van staatsbates, die hantering van polisiedokumente, rekordbestuur en verantwoordbaarheid ontstaan. Die vraag is uiteindelik nie net wie die gebou geplunder het nie, maar wie opgehou het om daarvoor verantwoordelikheid te aanvaar.
VAN SPEURDERSKANTORE TOT PLUNDERTONEEL: WAT HET IN BOKSBURG-SUID GEBEUR?
Deur Brigadier Fanie Bouwer (afgetree)
Daar is soms tonele wat ’n mens nie maklik vergeet nie.
Een so ’n toneel het ‘n prokureur op 16 September 2026 by ’n voormalige speurdersgebou in die Boksburg-Suid-omgewing gesien.
Die gebou, wat voorheen deur die speurdiens van die Boksburg-polisiestasie gebruik is, staan klaarblyklik reeds geruime tyd ongebruik. Wat hy daar aangetref het, was egter veel meer as net ’n verwaarloosde ou staatsgebou. Die gebou is gevandaliseer en geplunder. Verskeie items wat blykbaar nog elders gebruik kon word, is verwyder. Stukkende toerusting en ander rommel lê oral versprei. Maar dit is nie die gesteelde of beskadigde eiendom wat mens die meeste bekommer nie. Dit is die dokumente. Ou polisielêers en dokumente lê verstrooid in die gebou.

Vir ons wat jare lank in die polisie gewerk het, is dit ’n besonder ontstellende gesig. ’n Polisiedossier is immers nie sommer net ’n ou stuk papier nie. Dit kan die geskiedenis van ’n strafsaak, verklarings, persoonlike besonderhede, ondersoekinligting en ander inligting bevat wat met groot verantwoordelikheid hanteer behoort te word. Die feit dat ’n lêer oud is, beteken ook nie outomaties dat dit waardeloos is of sommer vernietig of weggegooi kan word nie.
Suid-Afrika het spesifieke wetlike voorskrifte vir die bestuur en bewaring van staatsrekords. Die nuwe Suid-Afrika se National Archives and Records Service of South Africa, Act 43 of 1996, skep die raamwerk vir die behoorlike bestuur en versorging van staatsrekords.
Die Nasionale Argiefdiens sê uitdruklik dat regeringsliggame rekordbestuurstelsels moet hê en dat rekords nie bloot na goeddunke vernietig kan word nie. Daar is voorsiening vir formele vernietigingsmagtigings en registers van rekords wat vir vernietiging goedgekeur is.

Dit bring belangrike vrae na vore:
* Wat het met hierdie polisiedossiere gebeur voordat hulle hier beland het?
* Was die lêers behoorlik geïdentifiseer en volgens ’n goedgekeurde rekordbestuursproses uitgesorteer?
* Was daar ’n formele magtiging vir die vernietiging van enige van die dokumente?
Indien sekere dokumente wel vernietig moes word, waarom is hulle dan in ’n verlate en gevandaliseerde gebou agtergelaat?
En, miskien die belangrikste vraag van almal: Wie was verantwoordelik vir die beveiliging en behoorlike bewaring van hierdie rekords? Die sg. POPIA-wet maak die saak nog ernstige. Daar is ook ’n tweede dimensie: Polisiedossiere kan persoonlike inligting bevat. Die Protection of Personal Information, Act 4 of 2013 — algemeen bekend as POPIA — het juis ten doel om persoonlike inligting te beskerm en die manier waarop dit verwerk, beveilig en bewaar word, te reguleer. Die wet plaas onder meer ’n verantwoordelikheids- en veiligheidsverpligting op diegene wat persoonlike inligting beheer. Dit beteken nie dat elke ou polisiedossier outomaties onder presies dieselfde POPIA-bepalings val nie. Maar waar persoonlike inligting nog in staatsrekords voorkom, kan dit beslis nie bloot as waardelose rommel behandel word nie.
Dit is dus nie net ’n kwessie van ’n ou gebou wat verval het nie. Dit raak rekordbestuur, staatsbates, persoonlike inligting, moontlike bewysmateriaal en verantwoordbaarheid. Die SAPD het nou ’n ondersoek aangekondig. So het die SAPD in Gauteng ook intussen bevestig dat hulle bewus is van die video wat op sosiale media versprei word oor dokumente wat binne die vervalle gebou aangetref is.
Volgens SAPD is die gebou voorheen deur die speurdiens van Boksburg-polisiestasie gebruik. Die aangeleentheid is na die Inspektoraat se Klagediens by Nasionale Hoofkantoor verwys, wat die Provinsiale Inspektoraat opdrag gegee het om die klagte te ondersoek en die omstandighede rondom die dokumente wat op die perseel agtergelaat is, vas te stel.
Dié ondersoek se uitslag sal bepaal watter interne optrede nodig is.
Dit is die regte plek om te begin.
Maar die ondersoek behoort nie bloot te vra waarom dokumente daar gelê het nie.
Dit behoort verder te vra:
* Wie was verantwoordelik vir die gebou nadat die speurders daaruit getrek het?
* Wanneer is die gebou formeel ontruim?
* Wie het beheer oor die inhoud daarvan gehad?
* Watter staatsbates was daar?
* Watter items is verwyder?
* Wie het toestemming gegee dat enige items verwyder word?
* Watter polisiedossiere was daar?
* Watter daarvan moes nog bewaar word?
* Watter daarvan was volgens die voorgeskrewe prosedure vir vernietiging goedgekeur?
* Is daar ’n rekord van enige vernietiging of verwydering?
En, ten laaste, wanneer het diw SAPD vir die eerste keer kennis geneem dat die gebou geplunder en die dokumente blootgelê is? Die plaaslike polisiebevelvoerder moet muskien ook tot verantwoording geroep word.
Dit is belangrike vrae omdat verantwoordbaarheid nie eers moet begin wanneer ’n video op sosiale media viraal gaan nie. Dit gaan oor meer as Boksburg Dit sou maklik wees om hierdie voorval as nog ’n voorbeeld van plaaslike verwaarlosing af te maak.Ek dink dit sou ’n fout wees. Die groter probleem is die kultuur wat ontstaan wanneer staatsbates gesien word asof dit niemand se eiendom is nie, en dan só behandel word.
Dit is inderdaad iemand se eiendom. Dit behoort aan die staat en dus uiteindelik aan die belastingbetalers. Wanneer ’n staatsgebou leegstaan, beteken dit nie dat verantwoordelikheid daar eindig nie. Inteendeel. Wanneer ’n gebou nie meer normaal gebruik word nie, behoort daar juis ’n duidelike proses te wees vir die beveiliging daarvan, die verwydering of oordrag van toerusting en die behoorlike hantering van alle dokumente en rekords.
Die Nasionale Argiefdiens beklemtoon self dat goeie rekordbestuur onder meer veilige bewaring, identifikasie, beskerming, vernietiging en terugvindbaarheid van staatsrekords behels. Daarom is die toneel by Boksburg-Suid nie bloot onooglik nie. Dit behoort ons ongemaklik te maak.
Want ’n staat wat nie sy eie rekords, geboue en eiendom behoorlik kan beskerm nie, skep ruimte vir iets veel gevaarliker as gewone verwaarlosing: die geleidelike normalisering van onverantwoordelikheid – ‘n nuwe kultuur waar instandhouding nie meer plek het nie. Iemand moet verantwoordelikheid aanvaar. Ek glo nie dat ’n mens vooraf skuld aan spesifieke individue behoort toe te skryf voordat die SAPS-ondersoek afgehandel is nie.
Maar ’n behoorlike ondersoek moet beslis vasstel of verantwoordelikheid by die stasie-, distrik- of provinsiale vlak versuim is. Indien daar bevind word dat bestuurders of ander verantwoordelike amptenare versuim het om staatsbates en rekords behoorlik te beveilig, behoort daar gevolge te wees. Nie omdat daar ’n begeerte is om iemand te straf nie, maar omdat verantwoordbaarheid die enigste manier is om te keer dat dieselfde ding weer gebeur.
Video’s is geneem wat die toestand van die gebou en die verspreide dokumente toon. Dit is nie vir my bloot materiaal vir ’n artikel nie. Dit is ’n momentopname van ’n groter probleem wat ons in SA nie mag ignoreer nie. Ons moet iewers ’n streep trek. Die pad van agteruitgang begin dikwels nie met een groot ramp nie. Dit begin wanneer mense ophou om om te gee oor die klein dinge waarvoor hulle verantwoordelik is. ’n Ou polisiedossier wat op ’n vloer lê, mag vir sommige mense net papier wees. Vir die persoon wie se naam, verklaring, klagte of persoonlike besonderhede daarin staan, kan dit iets heel anders beteken.
Vir die staat behoort dit ’n rekord te wees waarvoor iemand verantwoordelik is. Daarom behoort die Boksburg-Suid-voorval nie bloot van kennis geneem en vergeet te word nie. Die gebou kan herstel of gesloop word. Die meubels kan vervang word. Maar wanneer staatsrekords verlore raak of in onbevoegde hande beland, kan die skade onomkeerbaar wees.
Die vraag is dus nie net: Wie het die gebou geplunder nie?
Die belangriker vraag is: Wie het opgehou om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar?
- Brigadier Fanie Bouwer [afgetree]

Die toestand van die voormalige SAPD-speurdersgebou in Boksburg-Suid is skokkend. Volgens die gepubliseerde berig is die gebou geplunder en gevandaliseer en is selfs ou polisielêers en dokumente tussen die rommel aangetref.
Maar dit gaan oor veel meer as Boksburg.
Ons het Maleoskop, eens ’n belangrike polisie-opleidingsfasiliteit, sien verander in ’n verlate en verwaarloosde terrein. Ons het ook oor jare die verval van spoorweg- en ander openbare infrastruktuur aanskou.
Hierdie is nie bloot ’n instandhoudingsprobleem nie. Dit is ’n verantwoordbaarheidsprobleem.
Wie neem verantwoordelikheid vir ’n staatsgebou wanneer dit ontruim word? Wie beveilig die bates? Wie beskerm dokumentasie? Wie inspekteer die eiendom? En wie word aanspreeklik gehou wanneer die gebou uiteindelik gestroop en vernietig word?
Hierdie geboue is ook deel van ons geskiedenis. Om geskiedenis te bewaar beteken nie noodwendig dat ’n mens alles wat in daardie geskiedenis gebeur het, onderskryf nie. Dit beteken eenvoudig dat ’n beskaafde samelewing sy institusionele erfenis met verantwoordelikheid hanteer.
Wat met Boksburg, Maleoskop en talle ander staatsbates gebeur, is daarom nie net fisiese verval nie. Dit weerspieël ’n verlies aan respek vir openbare eiendom, institusionele geskiedenis en die beginsel dat iemand uiteindelik verantwoordelik en aanspreeklik moet wees.
Ek wil graag vir kol Hein Kilian bedank wat die saak onder aandag gebring het en brig Bouwer wat die artikel geskryf het en die vrae beklemtoon wat by ons as publiek ontstaan het!
Tragies en inderdaad skokkend. ‘n Eens trotse polisiemag getransformeer in ‘n polisiediens wat die land onberekenbare skade aangedoen het.