MY VERHAAL OOR DIE SOWETO-ONLUSTE VAN 1976
Lt-kol Frans Kloppers
Dit is 11:30 op 16 Junie 1976 toe daar aan ons woonstel by Westonaria Polisiestasie se deur geklop word. Ek en my vrou is besig om ‘n feesmaal voor te berei want my oudste Suster en swaer kom by ons kuier van Mafeking af. Voor die deur staan Sersant Meyer uitasem en deel my mee dat ons moet mobiliseer en dat ek 10 minute het om in volle uniform (daardie tyd die winter uniform bestaande uit die grys langbroek, grys hemp en das, paar “Parabellum”-skoene en die tuniek baadjie saam met die holster-belde) en gewapen by die stasie moet aanmeld.
Dikbek oor die ete waarop ek gaan uit mis trek ek in rekord tyd aan, gryp my 9mm Walter Pistool en my R1-geweer en polisie reënjas en hardloop stasie toe.
Daar gekom lig die Stasiebevelvoerder Kaptein Human ons in dat ons na Soweto gemobiliseer word want daar is groot onluste. Luitenant Hercules du Preez is ons Bevelvoerder. Hy gooi vir my die Chevrolet El Toro vangwa se sleutel en deel my mee dat ek die bestuurder gaan wees. Hy en ander lede neem die Landrover en die opruktrok. Ek moet my R1 los en kry HMK om saam te neem as vuurwapen. Ons opdrag is om op die pad tussen die Wes Rand en Soweto by die ander Wesrand voertuie aan te sluit.
Die tweerigting radio in my voertuig kan inskakel op die Soweto radiobeheer se kanaal en toe ons by die konvooi aansluit skakel ek oor na hulle kanaal om meer inligting te kry. Dit is chaos op die lug en dit gaan rof daar in Soweto. Ons word toe met sulke agterpaaie begelei tot by Meadowlands Polisiestasie.
Daar aangekom word ons deur die stasiebevelvoerder Majoor May voorgelig oor die situasie en kry ons opdrag om die heining te gaan beveilig aangesien daar alreeds groot skare gillende en skreeuende gepeupel die polisiestasie omsingel het. (Orlando Polisiestasie was vroeër aangeval.) Ek neem stelling in aan die westelike heining regoor ‘n groot groep jillende mense. Voor in die groep staan vroue en kinders wat vir my voorgekom het asof hulle as skilde gebruik word. Ons word so 10 meter uitmekaar gespasieer. Majoor May staan ongeveer 20 tot 30 meter van my af met megafoon en beveel die skare om uit een te gaan maar hulle ignoreer hom en kom al dreigend nader.
Die volgende oomblik toe begin dit klippe reën uit die skare en toe klap die eerste skote uit die haelgewere en ander vuurwapens. Ek sit die HMK op enkelskote en skiet na klipgooiers wat ek kon sien. Vir oomblik het dit gelyk of die geweervuur geen uitwerking het nie maar na ongeveer 5 minute toe begin die skare retireer.
Daar het versterkings met opruktrokke vol lede opgedaag en al skietende die skare verdryf. Die son het begin ondergaan en ons kon oral sien hoe brand geboue en kon skote hoor klap. Meadowlands Polisiestasie word stil en ons word in groepe verdeel om deur die nag die heining te bewaak. Ander lede word saam met Meadowlands se lede gepos om patrollies in die omgewing te ry.
Ongeveer 23:30 die aand, terwyl besig met patrollie langs die heining, hoor ek ‘n gekap en stel vas dat dit uit ‘n gebou ongeveer 100 meter van die heining kom. Ek roep toe versterkings en ons bekruip die gebou. Een van Meadowlands se lede deel ons mee dat die gebou ‘n drankwinkel is en dat hy oortuig is dat hulle besig is om dit te stroop, vandaar die gekap.
Die vier van ons bekruip die gebou en die volgende oomblik toe sien ons hoe ‘n klomp jonges met kaste bier uit die gebou vlug. Ek skreeu toe hulle moet staan maar hulle bly hardloop. Ek skiet toe ‘n skoot met my pistool en hoor hoe gil een van die klomp en sien hoe hy neerslaan met die kas bier. Die drie ander lede skiet toe ook in die rigting van die vlugtendes.
Die lid van Meadowlands roep toe versterkings met voertuie en ligte in en ons gaan beveilig toe eers die drankwinkel voor ons na die gewonde en ander moontlike gewondes gaan soek. Toe ons op die plek kom waar ek gesien het myne geval het kry ons hom daar met sy bobeen afgeskiet en vol glasstukke soos hy in sy kas bier geval het. Ons kon geen ander gewondes opspoor nie en het ‘n ambulans laat kom om hierdie gewonde een weg te neem na Baragwanath hospitaal.
Ek het vir die res van die nag maar die drankwinkel onder observasie gehou om verdere plundering te voorkom totdat mense van die destydse Bantoe Administrasie raad opgedaag het om die res van die drank te verwyder.
Ses uur die 17de Junie kry ons opdrag om ook patrollie te gaan ry in die omgewing van Meadowlands en Klipspruit. Ons groep van Westonaria ry toe konvooi onder aanvoering van Luitenant du Preez. Hy het ‘n lid van Meadowlands saam met hom wat die area ken en so ry hy voor met die Landrover, ek agter hom en ons Bedford opruktrok agter hom. Ons kry toe berig dat die winkels by Klipspruit geplunder word en aan die brand gesteek is. Ons jaag daarheen en verdryf die groep wat daar besig was en soos wafferse brandweermanne blus ons die vure. Luitenant du Preez gee toe opdrag dat ons soveel as moontlik van die goedere wat in die winkels oor gebly het en nie beskadig was in my voertuig en die opruktrok moes laai om dit te beveilig en verdere plunder te voorkom.
Nadat ons die goedere by Meadowlands Polisiestasie ingehandig het kry ons darem kans om te rus en het die menasie vir ons potte pap gemaak om die honger te stil. Nou kan julle julle indink dit is net mieliepap met niks by nie. Luit du Preez en nog een van die offisiere het met Majoor May gaan praat om te hoor of ons nie van die goedere wat ons ingehandig het kan gebruik om te eet nie en hy gee toestemming. Daar ontdek ons dat al wat ons saam met die pap kon gebruik was van daardie plat blikkies sardientjies in olie en klein blikkies kondensmelk. Mense was dit nou ‘n “feesmaal” vir ‘n honger maag. Hou ingedagte dat meeste van ons die vorige dag laas iets te ete gehad het.
Ons word daardie aand weer in skofte gedeel, slaap plek word in een van die groot lokale ingerig met matrasse wat sommer op die vloer gegooi word. Ek word op die 00:00 tot 02:00 skof ingedeel en kon darem rukkie gaan slaap. Middernag gaan ek aan diens en patrolleer met die El Toro die strate rondom Meadowlands. Aan die einde van my skof oorhandig ek die voertuig aan Faan Bekker en die Soutie. Toe ek in die slaap lokaal kom toe is daar nie meer vir my slaapplek nie.
Ek gaan soek toe maar slaapplek op ander plek maar al die kantore is vol lede wat slaap en al uitweg wat ek het is om dalk in die opruktrok te gaan slaap maar helaas daar slaap toe reeds twee van ons lede voor in die kajuit. Ek loop toe soek-soek tussen die karre wat daar parkeer is en almal is gesluit behalwe ‘n swart Ford Fairlane 500 en ek besef hier is my slaap plek. Nou moet julle onthou ek het net my reënjas gegryp toe ek weg is by die huis en dit word vrek koud. Ek het maar agter op die agtersitplek na lang gesukkel aan die slaap geraak en het amper verkluim.
Ses uur die oggend van 18 Junie 1976 moes ons weer patrollie gaan ry soos die vorige dag. Soweto was toe redelik rustig en ons het nou die plek begin ken.
Terwyl ons so ry begin die klippe op en reën en word daar ‘n gat in die El Toro se kappie op die bak gegooi en die opruktrok kry ‘n paar duike. ‘n Skietery ontstaan en ons is gelukkig om vier jongelinge te arresteer. Al die papierwerk gedoen ry ons verder patrollie toe ons berig ontvang ons berig dat ons moet onttrek en terugkeer na Krugersdorp aangesien daar onluste in Kagiso en Mohlakeng uitgebreek het.
In Krugersdorp aangekom kry ons van Westonaria toe opdrag om terug te keer na ons stasie en dan Bekkersdal gaan patrolleer.
Ek het die aand van die 18de Junie eers weer by my huis gekom. Vrek van die honger en daardie uniform van my vreeslik vuil na drie dae se dra.
Dit is hoe ek 16 Junie altyd sal onthou.
Well done