16 Junie 1976 – Mamelodi – Nongqai Vol 17 No 6
ABSTRAK:
Die skrywer bied ’n persoonlike, eerstehandse getuienis van die gebeure van 16 Junie 1976 in Mamelodi, soos ervaar deur ’n luitenant in die Suid-Afrikaanse Polisie. Hy beskryf die oggend se roetine, die skielike opdrag om na Mamelodi te gaan, en die chaotiese tonele van oproer, geweld, plundering en brandstigting wat hom en sy kollegas begroet het. Die vertelling beklemtoon die intense gevaar, die gevoel van magteloosheid, die uiterste koue en die uitputting van ’n dag en nag sonder aflos of kos. Die skrywer herinner aan die rol van die media, die taxi’s wat die skares aangevuur het, en die uiteindelike organisering van polisiemagte en ondersteuning uit die gemeenskap. Hy reflekteer oor die vormende invloed van hierdie tydperk op sy loopbaan en persoonlike ontwikkeling, en beklemtoon die kameraadskap en solidariteit wat tussen kollegas gesmee is. Vyftig jaar later bly die gebeure vir hom lewend en onvergeetlik.
Abstract
The author provides a vivid first‑person account of the events of 16 June 1976 as experienced by a lieutenant in the South African Police stationed at Silverton. What began as a routine winter morning quickly escalated when he and a small team were deployed to Mamelodi, where large‑scale unrest had erupted. He describes scenes of chaos: crowds throwing stones and petrol bombs, burning barricades, looted shops, and the destruction of administrative buildings. The narrative highlights the fear, exhaustion, and sense of helplessness felt by the small police contingent, as well as the extreme cold and the absence of food or relief for many hours. The arrival of riot units, the presence of international media, and the role of taxis in driving the unrest are recalled in detail. The following days brought more organisation, community support, and structured police deployment. Reflecting fifty years later, the author emphasises how these events shaped him personally and professionally, and how the camaraderie and solidarity forged during that period remain among his strongest memories.
Keywords
16 June 1976,
Soweto Uprising / Mamelodi unrest,
South African Police,
Riot control,
Violence and looting,
Petrol bombs and barricades,
Teargas and warning shots,
First‑person testimony,
Police operations,
Camaraderie and solidarity,
Historical memory,
16 Junie 1976
Die datum 16 Junie bring verskillende herinneringe vir verskillende mense in ons land mee.

Vir sommige word Jeugdag herdenk, andere onthou weer die datum toe Lord Roberts opdrag gegee het dat boervrouens en kinders in konsentrasiekampe aangehou en dat die boere se plase en alles wat daarop is, tot die grond toe afgebrand word.
Vir enige polisiebeampte wat daardie tyd in die Suid-Afrikaanse Polisie was, sal daardie koue winterdag van 16 Junie 1976 onthou word as die dag toe die grootste onrus ooit in Suid-Afrika losgebars het.
Op 16 Junie 1976 het ek, soos elke werksdag, om 05:30 by die polisiestasie op Silverton aangekom. My taak was om die selle te besoek, die registers na te sien en toe te sien dat alles reg was vir die nuwe dag se werksaamhede. Op daardie tydstip was ek al vier jaar ‘n luitenant.
Op pad na die polisiestasie toe het ek gevoel dat die ergste winter aangebreek het.
Later daardie oggend, het Kaptein Buks Loots, die stasiebevelvoerder, opdrag van die distrikskommandant in Pretoria-Noord, Kolonel Moss, ontvang om ʼn voertuig na Mamelodi te stuur. Die stasiebevelvoerder van Mamelodi, luitenant Mokgosi, het vir ondersteuning gevra omdat die inwoners in Mamelodi oproerig was en op plekke saamgedrom het.
Die bemanning van die voertuig het per radio terug gerapporteer dat pandemonium in Mamelodi losgebars het. Groepe mense het alles met klippe bestook, petrolbomme gegooi en verskeie winkels, skole en munisipale kantore was in ligte laaie.
Kaptein Loots het gelas dat ek (gewapen met my ou Webley rewolwer en ses rondes ammunisie) en ‘n paar manne soontoe gaan om vas te stel wat daar aangaan. Intussen was die onluseenheid in Pretoria-Noord besig om te mobiliseer.
In my dertien jaar as polisieman het ek nog nooit so-iets gesien nie. Duisende oproerige mense het oral saamgedrom, klippe en petrolbomme gegooi, die paaie met brandende motorbande versper, winkels geplunder en veral die Bantoesake-administrasie se persele verwoes.
Ek onthou dat oproerige en besope jeugdiges met kartonne drank op hul koppe, soos miere uit die drankwinkel gestrompel het. Ek onthou ook die vernielsug en die uitdrukkings van verset in die plunderaars se oë – en ook die angs wat ek en die enkele lede onder my bevel ervaar het, maar ook die magteloosheid om enigiets te doen om die hordes plunderaars tot orde te bring. En ook hoe dreigend hulle met allerhande wapens na ons gewys het.
Vandag, na vyftig jaar, is ek steeds verstom dat ons daardie oggend lewendig uit Mamelodi gekom het.
Na wat soos ‘n ewigheid gevoel het, het die onluseenheid uiteindelik gekom om my en my spannetjie af te los. Ons was aangesê om huistoe te gaan en ons kamoefleeruniforms te gaan aantrek en weer by die Mamelodi polisiestasie aan te meld.
Daar het ons van die een oproer-toneel na die ander gehaas, terwyl die skares en die geweld al hoe feller geword het.
Die media en televisiespanne, van oral oor die wêreld, het ook vinnig bygekom.
Wat opmerklik was, was die taxis wat op die voorpunt van al die oproer was en die skares aangepor het. Ek onthou ook die traanrook, die aanvanklike waarskuwing-skote van die polisie – en die geweld wat later plaasgevind het.
Wat ek ook kan onthou asof hierdie gebeure gister plaasgevind het, is dat ons die hele dag en nag voortgegaan het sonder om afgelos te word en dat ons sonder kos moes klaarkom.
Dit was ook snerpend koud. Toe die son op 17 Junie 1976 opgekom het, was daar ʼn boom by Waltloo-spoorwegstasie vol yskristalle. Die yskristalle het teen die opkomende son geskitter soos diamante. Die ys het gevorm van ʼn nabygeleë watertenk wat oorgeloop het en van die koue wind wat die watersproei op die boom gewaai het.
Die volgende dag het dinge meer georganiseerd geraak. Die vroueverenigings van die omliggende kerke en later ook die plaaslike tak van die Suiderkruisfonds het spontaan toebroodjies en groot skottels sop vir ons verkluimde polisiemanne gebring. In die pakkies toebroodjies was ook kort bemoedigende boodskappies en teksverse om die manne te bedank vir hul opoffering.
Die polisiemanne is toe ook in pelotonne ingedeel, sodat ons taak op ‘n meer geordende wyse voortgegaan het. ‘n Baie jong kaptein Gustav Dey was in bevel van die operasie aangestel, en hy het die leiding met groot selfvertroue en geloof op sy skouers geneem. Die omliggende polisiestasies se reserviste het ook spontaan by die permanente lede aangesluit.
So het ek in Junie 1976 my werklike vuurdoop in die polisie ontvang. Hoewel ek toe al dertien jaar diens gehad het en ook al grensdiens in Rhodesië gedoen het, kan ek ruiterlik verklaar dat ek in daardie paar maande “groot” geword het.
Die ervarings en ontberinge wat ons, en seker al die ander kollegas oral in die land beleef het, sal vir altyd in my geheue bly.
In daardie paar maande het ons talle goeie, maar ook ontstellende ervarings beleef, maar wat my die meeste sal bybly, is die kameraadskap, solidariteit en vriendskappe wat ons daar gesmee het.
Johan Ferreira
50 jaar later – Junie 2026
–ooOOoo-
