POTTEBAKKERY AS ‘N STOKPERDJIE

Pottebakkery is ‘n wonderlike stokperdjie en afhangende van jou belangstelling en vaardigheid kan dit wonderlike ure van genot en satisfaksie meebring. Dit kan ook baie van jou tyd in beslag neem en dit kan ‘n bron wees van diepe bevrediging. Dit is van die oudste tegnieke wat van die vroegste tye aangewend is om gebruiksartikels soos kookware en bouartikels te maak en dit is vandag nog populêr en sal waarskynlik nog vir eeue so wees.

Philip de Kock voor sy moderne pottebakkery-oond in Kempton Park

As jy ‘n stokperdjie wil maak van pottebakkery sal jy ‘n goeie keuse maak. Dit is ‘n baie bevredigende tydverdryf maar daar is sekere primere punte wat jy in ag moet neem voor jy te betrokke raak. Jy sal heelwat tyd moet spandeer om die basiese beginsels van kleivorming aan te leer. So kan jy klei met die hand vorm of simmetriese vorms op die wiel skep.

De artikels word gevorm uit nat klei. Dan word dit gelaat om winddroog te word. Die volgende stap is om dit af te werk en dan heeltemal droog te laat word. Dan word dit vir die eerste keer gebak en daarna geglasuur. Laastens word dit teen die smeltpunt van die glasuur gebak en stadig in die oond afgekoel voordat dit uitgepak word. As die oond nog warm is wanneer dit uitgepak word is die kanse baie hoog dat die artikels sal kraak, dus moet dit eers heeltemal afkoel.

‘n Bak wat pas op die wiel gevorm is – nog onafgewerk

As jou skepings droog is en hulle het nie gekraak nie moet hulle gebak word vir ‘n eerste maal om hul ‘n bietjie sterker te maak sodat glasuur op hulle gespuit kan word of hulle daarin gedoop kan word. Wanneer die artikel rou is en die glasuur word daarop gespuit sal dit die klei laat sag word. Hierdie bakproses is om dit hard genoeg te maak om die glasuursel te kan hanteer.

Die bak is afgewerk en deur die eerste bakproses

Die klei is nog poreus maar taamlik hard en as die glasuursel aangespuit word bly die glasuursel sit terwyl die water in die glasuur in die poreuse klei intrek. Die artikel kan ook in glasuursel gedoop word.  Dan het jy ‘n artikel bedek met poeier. Dit word dan ‘n tweede keer gebak.  In die proses sal die glasuursel smelt en jou werk word bedek met ‘n harde glasagtige lagie. Hierdie is nie net ‘n lagie nie maar dit is ook die laag wat die kleurelemente van jou werk dra. Na die tweede bak is die artikels meestal bruikbaar afhangende van die tegniek wat gebruik word. Daar is sekere pottebakkerswerk wat nie gebruiksartikels is nie maar slegs dekoratief. Dit kan wees omdat hulle nie deurgebak word nie en dus nie in klip verander nie. Dan kan hulle byvoorbeeld nie vloeistowwe hou nie.

Daar word dikwels vrae gevra om kreatiwiteit. Ons het almal ‘n mate van kreatiwiteit en dit kan ontwikkel soos mens meer kennis opdoen. In pottebakkery glo ek dat deursettingsvermoë ‘n groter rol speel as kreatiwiteit, veral in die begin. Daar kom maar van tyd tot tyd foutjies. Jy spandeer byvoorbeeld baie tyd aan ‘n pot, wat in of die eerste of die tweede bak kraak. ‘n Ander ding wat kan foutgaan is dat jou glasuur glad nie so uitkom soos wat jy beplan het nie. Dit is dan dat jy nie moet moed opgee nie en weer en weer probeer want as jou meesterstukke die proses deurstaan is dit so bevredigend en kan jy trots voel. Dit beteken geensins dat alles altyd fout gaan nie maar mens moet bedag wees daarop. Jy kan ’n oond vol stukke bak en meeste van jou stukke kom perfek uit. Dit kan egter ook gebeur dat daar ‘n paar flops tussen die goeies is so mens moet maar altyd bereid wees om ‘n paar artikels te verloor. Dit is maar soos om een of twee kuikens uit ‘n broeisel te verloor voor hulle grootword, soos wat dilwels gebeur.

Basiese tegnieke kan redelik vining bemeester word maar dit kan etlike jare duur voor jy vaardig genoeg is en die verskillende tegnieke maksimaal kan aanwend. Tegnieke word ook dikwels gemeng in een artikel om meesterstukke voort te bring. Daar is geweldig baie veranderlikes in die skep van kleiware. Dit is dus altyd ‘n goeie idee om eers vir ‘n tyd lank lesse te neem by iemand wat jou kan touwys maak. Dit gee jou die geleentheid om die basiese tegnieke aan te leer en ook om te besluit in watter rigting jy wil konsentreer.  Dit is natuurlik ook moontlik om by ‘n naskoolse instansie te studeer indien jy regtig in diepte kennis wil opdoen.  Hier kan selfs ‘n formele kwalifikasie behaal word.

Pottebakkery omvat so ‘n wye veld van tegnieke en keuses dat mens maar moet begin met dit waarmee jy kennis maak of waarvan jy reeds kennis dra. Jy kan natuurlik vooraf ‘n studie maak van wat alles in die veld van pottebakkery moontlik is. Mettertyd sal jy nuwe rigtings leer ken en hoe meer mens na ander se werk kyk, hoe meer idees kom by jou op. Lesse in die tegnieke van pottebakkery is ‘n goeie idee todat mens begin agterkom wat jou voorkeure is en ook om die fyner kunsies vinniger te bemeester.

Waar begin ‘n mens?  Eerstens het jy klei nodig. Klei is baiekeer in die natuur beskikbaar maar vereis soms byvoegings en dit moet skoongemaak word wat ‘n lang proses is. Dit is aan te beveel dat jy aanvanklik klei by ‘n voorsiener aankoop. Die vorming van die klei is jou beginpunt. Jy kan begin met handwerk waar jy sekere elemente met die hand vorm en ander waar jy kleiblaaie in verskillende vorms rol en sny en dan aanmekaarsit. Jy kan ook klei vorm deur slegs jou hande te gebruik. Jy kan die handwerk eers laat en met wielwerk begin waar jy ronde artikels soos potte vorm. Die twee word dikwels gemeng in ‘n enkele stuk.

Wielwerk en handwerk gemeng

Na dit op die wiel gevorm is word dit vir ‘n tyd gelaat tot dit winddroog is en dan weer op die wiel teruggeplaas om dit af te werk. Hievoor is veskillende gereedskap nodig maar die goeie nuus is dat meeste hiervan self gemaak kan word teen ‘n minimum koste. Dit is ook by die afwerking  waar die dikte van jou artikel bepaal word. Daar bestaan ‘n persepsie by leke dat pottebakkerswerk dik en swaar is maar hoe vaardiger jy word hoe dunner kan die artikels gemaak word en dit is glad nie nodig dat dit lomp en swaar moet wees nie. Ons is almal op hoogte van die borde en melkbekers of teepotte ens. wat ons elke dag gebruik en dit is maar net ‘n vertakking van pottebakkery.

Verskillende keuses is beskikbaar as jy begin. So kan jy steenware maak. Dit is artikels wat teen ‘n baie hoë temperatuur gebak word en basies in klip verander. Die bakproses verander die klei in klip en al is die artikel nie geglasuur nie is dit dig en sal water hou. ‘n Ander vertakking is om erdeware te maak.  Dit is waar die artikel teen ‘n laer temperatuur gebak word. Dit kan wees dat die pot nog effens poreus is en jy het in die geval die glasuurlaag nodig om dit waterdig te maak. Nog ‘n vertakking is Raku. Dit is in ‘n mate ‘n primitiewe proses waar die ware in ‘n kleiput in die grond met vuur gebak word. Daar is nie temperauurkontroles nie en die moontlikheid van krake is relatief hoog. Die artikels het heeltemal ‘n ander tegniek van glasuring en dit is steeds poreus wanneer dit klaar is. Dit is dus nie gebruiksartikels nie.  Daar kan egter wonderlike kleurresultate verkry word wat dit in baie kunstige ornamentele artikels kan verander.  Verder is daar ook klei-beeldhouwerk. Vaardige pottebakkers kombineer selfs gebruiksartikels met elemente van beeldhouwerk.

Wiele en oonde is van die duur artikels warsonder mens nie  kan klaarkom nie. Dit is altyd ‘n goeie idee om eers lesse te neem sodat jy seker is dat dit is wat jy wil doen. Om ‘n ateljee aan die gang te sit kan nogal duur wees en jy wil nie graag jou geld mors nie. Jy moet ook seker wees dat jy nie omgee om jou hande vol klei te kry nie. Nog ‘n oorweging is dat jy genoeg spasie moet hê om te werk. Ateljees is nie altyd te netjies nie want daar word met klei en ander rou materiale gewerk wat nie altyd dadelik opgeruim kan word nie. Neem in ag dat dit uiteindelik jou wiel, oond, emmers glasuur en klei en nog vele ander droë materiale moet huisves, veral as jy self glasure gaan meng. Bo en behalwe hievoor moet jy ook plek hê om die potte veilig te kan stoor voor dit gebak word want hulle is baie breekbaar, en dan ook wanneer hulle klaar gebak is en wag om geglasuur te word. Daarna moet jy ook plek hê vir jou klaar artikels.  Voor jy ‘n groot finasiële uitleg doen om ‘n wiel en oond aan te koop maak seker dat dit is wat jy wil doen en dat jy dit gaan gebruik sodat dit die moeite werd is. Die hele proses van ‘n ateljee oprig is eerstens duur en jy gaan daarvan gebruik moet maak om die finansiële uitleg te regverdig. Onthou dat dit ook heelwat koste meebring om die oonde te laat brand want die temperature waarteen gebak word is hoog. Daar is elektriese en gasoonde maar Meestal word elektriese oonde gebruik deur atekjee-pottebakkers. Die resultate in ‘n gasoond en in ‘n elektriese oond verskil en elkeen se glasure moet daarvoor geformuleer word.  Pottebakkery is lank nie meer ‘n goedkoop stokperdjie nie maar as jy kwaliteit artikels produseer is daar ‘n geredelike mark.

Glasuur is ‘n inherente deel van die meeste pottebakkery. Glasure is ‘n mengsel van verskillende grondstowwe wat die glaslaag op die artikel vorm, en minerale wat die kleur laar ontstaan in die bakproses. Dit word met water gemeng tot die regte dikte en dan aangespuit op die stuk wat reeds deur die eerste bakproses is of die artikel word daarin gedoop.

Koop jy glasure of meng jy jou eie? Om jou eie glasure te meng is natuurlik ook ‘n manier om jou eie identiteit te vestig maar dit is ‘n redelike ingewikkelde chemiese proses. Dit beteken natuurlik glad nie dat jy dit nie kan doen nie. As mens eers die basiese beginsels gesnap het is dit ‘n redelik eenvoudige proses om jou eerste glasure te skep maar toets daarvan is die belangrikste element en moet dikwels keer op keer herhaal word. Glasure word geskep met ‘n sekere smeltpunt in gedagte en dit is goed om jou werk so te beplan dat jy normaalweg al jou werk teen net een temperatuur vuur. Mens kan natuurlik klaar gemengde glasure te koop kry maar as jy jou eie meng ontwikkel jy maklik of gouer ‘n eie styl. As jy jou eie glasuur meng kom jy soms op ongewone resultate af. Sorg dus altyd dat jy sekuur boekhou van wat jy doen.

Glasuur 

Mettertyd sal jy ‘n eie identiteit ontwikkel ten opsigte van jou werk. Daar is bekende pottebakkers wie se werk mens maklik kan uitken omdat hulle werk ‘n duidelike identiteit met spesifieke kenmerke dra. Dit geld natuurlik nie vir almal nie maar baie mense se werk is maklik herkenbaar.

Daar is ook nog twee ander vertakkings van pottebakkery. Dikwels word ‘n artikel slegs met handvaardigheid geskep en is dit meestal ‘n gebruiksartikel. Daar is egter ook ‘n hele kunsrigting hierin vervat.  Sommige kleiartikels kan suiwer kunswerke wees. Die lyn tussen kuns en vakmanskapp is dikwels baie vaag en dit hang tot ‘n groot mate af van innovering, kunssinnigheid en goei vakmanskap om van ‘n gewone artikel ‘n kunswerk te maak. Of jy nou gebruiksartikels of kunswerke skep, of selfs ‘n kombinasie van die twee, hang geheel en al van jouself en jou vaardigheid af.  Kwaliteit bly altyd die mikpunt.

As jy sou besluit om jou op pottebakkery toe te lê gaan jy beslis nie ‘n fout maak nie. Wees net bedag op wat jy te wagte kan wees maar dit kan vir jou ‘n bevredigende en selfs finansieel lonende tydverdryf wees. Moet egter nie te haastig wees nie maar intussen leer jy die vaardighede aan. As jy sou begin word jy ‘n gelukkige leerproses toegewens en ook ’n uitdagende maar bevredigende stokperdjie.

  • Philip de Kock & Henning van Aswegen

*