Nongqai Vol 17 No 10 – (52) Brief: Kommentaar op dr WP Steenkamp se E-Boek
KOMMENTAAR OP DR WILLEM STEENKAMP SE MANUSKRIP:
‘SOUTH AFRICA’S TRANSITION: WHAT REALLY HAPPENED AND WHY – PART 3: THE LESSONS: HOW DID WE ARRIVE WHERE WE ARE TODAY’

Prof Fanie Cloete, 28 Oktober 2026
Dr Steenkamp se jongste manuskrip is wat my betref die mees omvattende en realistiese beoordeling oor die politieke transformasie in SA gedurende die twee dekades tussen 1974 en 1996 wat tans beskikbaar is, veral as gevolg van sy binnekamer perspektiewe.
Ek stem met die oorgrote meerderheid van sy waarnemings, insigte en gevolgtrekkings saam, met enkele uitsonderings wat ek hieronder kortliks sal probeer verduidelik en motiveer.
Inhoudelik:
Ek nie so oortuig soos hy dat die Vorster era regtig meer gefokus het op praat (‘settle’) eerder as skiet (‘shoot’) nie. Ek het nooit self direk met Vorster kontak gehad nie, maar wel met mense in sy persoonlike en politieke binnekringe. My inligting en ervaring is dat hy wel meer diplomaties was as PW en meer subtiel in die afdwing van sy NP beleid as PW. Hy het egter in 1973 reeds van die begin af blatant geweier om die Theronkommissie se baie mak aanbeveling oor politieke deelname vir bruinmense te aanvaar. Ek was direk betrokke by daardie verslag en weet hoe ontsteld en gefrustreerd die meer verligte lede van die kommissie daaroor was toe hy hulle voor die tyd ingeroep en gewaarsku het hy gaan daardie aanbeveling nie aanvaar nie. Die optredes van die polisie en BvSV teen teenstanders van sy beleid was verder sterk onderdrukkend met geen aanduiding dat gesprekkvoering met legitieme leiers oorweeg was nie. Enkele stemme ten gunste daarvan, soos Dr Steenkamp se pa en ander was uitsonderings op die reël, soos ons by Staatkundige Beplanning ook was teenoor die sekurokrate van PW daarna.
Ek is ook meer krities as hy oor die ondemokratiese koverte optredes van die Rhoodies, Mulder, Vorster en Vd Bergh gedurende daardie tyd. Hulle doelwit was nie regtig demokratisering nie, maar meer effektiewe verkoop en aanvaarding van apartheidsbeginsels. Die 1995 Sterrewag transkripsie wys dat selfs Pik Botha en Heunis 20 jaar later steeds finale wit beheer in beginsel aanvaar het. Vd Bergh se ‘rassekantons’ was dieselfde verfyning van apartheid as wat afsonderlike ontwikkeling was. Ek is ook meer krities oor die onaanvaarbare en ondemokratiese optredes van die veiligheidspolisie (bv Craig Williamson) en ander koverte intelligensieprojekte (bv Turton se projek teen Slovo). Daar is ‘n vlak van selektiewe kompartementalisering by oud-intelligensiebeamptes soos Johan Mostert, Tony Turton, ens, wat ek moeilik vind om te aanvaar. Sulke ‘vuil hande’ taktiek is wel wydverspreid in outokratiese en ook in demokratiese stelsels, maar bly onaanvaarbaar vir my (sien my artikel oor Machiavelli in SA).
Ek sou verder graag meer stawende bewyse van die interessante beweerde oorvlug van Kubane oor die Uniegebou? Wou kry (p 215).
Ek meen nie dat Huntington se politieke oorgangsmodel bedoel is om bestaande regimes in magsposisies te behou nie (p 117). Dr Steenkamp is wel korrek dat Huntington later opgemerk het dat sy advies nie gevolg was onder PW nie. FW het met sy 2 Feb 1990 toespraak wel die Blitzkrieg strategie gevolg maar daarna, te lank ‘n stadiger inkrementele veranderingsproses gevolg deur steeds bestaande apartheidsbeginsels soos groepsregte en ‘n minderheidsveto te probeer perpetueer, soos wel genoem word.
Ek meen ook nie dat FW die kar voor die perde gespan het deur eers op die proses van onderhandelinge te fokus voor hy die inhoud van wat hy wou bereik gefinaliseer het met die ANC nie (p 367-368). Die normalisering van die konteks waarbinne die onderhandeling moes plaasvind, was ‘n voorvereiste voor die inhoud aandag kon geniet. Dis onrealisties om te verwag Mandela moes in die tronk bly onder volle beheer en toesig van die NP en die ANC verban bly tot die onderhandelingsresultate gefinaliseer was. Die katastrofale gevolge as Mandela sou sterf in die tronk gedurende daardie tyd was baie ernstig deur die kabinet, die tegnokrate en sekurokrate opgeneem. Die ANC sou formele onderhandeling onder sulke omstandighede ook nooit aanvaar het nie, soos hulle bevestig het in een van die laaste gesprekke van ‘Gert’ met Thabo, Aziz en Tony Trew wat ek persoonlik in London bygewoon het (sien Pahad, 2014:200).
Ek meen ook dat die politieke oorgangsprosesse in Namibië en Zimbabwe ook maar in dieselfde sekwensie verloop het, anders as wat dr Steenkamp se vertolking is (p 370).
Ek stem saam dat Barnard vir Mandela gemanipuleer het volgens sy eie erkenning (p 369). Ek kan egter nie onthou dat ek elders al gesien het dat hy reeds in 1988 met Mandela ooreengekom het oor swart meerderheidsregering in ‘n uniale staatstruktuur as finale uitkoms nie (p 223, 249, 368?). Dis verder teenstrydig met dr Steenkamp se eie stelling op p 497 dat Mandela vir Barnard ‘n 50-50 kabinet aangebied het. FW was wel vol vertroue dat hy en Roelf vir Mandela sou kon oortuig om magsdeling op grond van groepsregte en minderheidsvetos in die kabinet te aanvaar. FW se hardnekkige pogings om dit aanvaar te probeer kry, het die onderhandelinge egter uitgerek soos tereg genoem word. FW het uiteindelik eers net voor die ondertekening van die nuwe 1996 konsepgrondwet aanvaar dat swart meerderheidsregering onvermydelik was. Hy het tot kort voor die ondertekende teks bekendgemaak is, nog ernstig getwyfel of hy dit moes afteken (Du Toit, 2016). Barnard het verder volgens my binne inligting by Staatkundige Ontwikkeling hard probeer om die beginsel van ‘n Afrikanertuisland in die onderhandelinge aanvaar te kry, maar die beste wat uiteindelik vir die ANC aanvaarbaar was, was toe art 235. Dis dus duidelik dat die inhoud van die finale skikking nie die begin van die onderhandelinge kon wees nie, maar wel die uiteindelike resultaat daarvan soos dit toe wel gebeur het.
Inherente rassisme in NP beleid onder beide PW en FW het verder tereg NP denke tot teen die einde beperk (p 458, 478). Ook die groepsdenke en wanpersepsie binne die NP dat hulle magsposisie oorweldigend is en dat die ANC gedisorganiseerd en verdeeld is. Hulle was dus tereg totaal onvoorbereid vir die onderhandelinge. Sien gerus ook onder andere Roelf Meyer se nuwe biografie hieroor.
Die outeur se opsomming van die Groote Schuur beraad se uitkoms ignoreer ongelukkig die kritiese rol wat Staatkundige Ontwikkeling in die voorbereiding daarvan gespeel het (p 274), hoewel hy darem erken dat as hulle vroeer en meer deurlopend betrokke was by die onderhandelingsproses voor Barnard daar aangekom het, die NP dalk beter voorbereiding sou kon doen (p 373).
Ek dink ook nie dit was prakties moontlik vir FW om eers ‘n persoonlike verhouding met Mandela agter die skerms te probeer bou het voor die onderhandelinge begin het nie (p 388-389). Ex post facto het ons bewyse hulle het nooit mekaar regtig gevind nie. Die tydsdruk op FW het dit verder onmoontlik gemaak, soos ek hierbo reeds motiveer.
Fasilitering deur ‘n buite instansie sou ook nooit aanvaarbaar gewees het vir FW nie (p 392)
FW kon verder nie meer deursigtig gewees het nie agv die NP en spesifiek sy eie nalate om wit kiesers voor te berei vir swart meerderheidsregering (p 418). Hy het naamlik tot teen die einde geweier om daardie gevolg te aanvaar soos ek bo reeds genoem het (p 479). Daarenteen was federalisme onaanvaarbaar vir die ANC (p 479-481).
Laastens was die rol van Staatkundige Beplanning wat FW in die SKK toenemend laat twyfel het oor die toekoms van eie sake, baie meer deurslaggewend as wat die outeur verduidelik, soos hy persoonlik teenoor my erken het in 2019. Elita se bydraende rol om FW te oorreed om tot aksie oor te gaan (p 166, 345-347), was ook baie meer deurslaggewend. Ek het binne-inligting van mense wat persoonlik baie naby aan hom was en direkte bewyse het hoe hy hom laat beinvloed het deur die vroue in sy lewe. Elita het van hulle eerste ontmoeting al vroeg in 1989 ‘n baie deurslaggewende invloed op sy denke gehad wat saam met die ander faktore wat jy noem, bygedra het tot sy standpuntverandering. Sien gerus Martie Meiring se biografie oor haar.
Tegnies:
Die teks kon heelwat korter gewees het agv baie duplikasies en oorvleuelings wat natuurlik nog meer aandag en werk sou verg om uit te skakel.
Meer sistematiese teksverwysings en ‘n bibliografie kan die navorsingsgehalte daarvan dramaties verbeter.
Ek het reeds voorgestel dat dr Steenkamp ‘n opsommende artikel vir die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) stuur vir publikasie, waarin die teoretiese raamwerke verduidelik en illustreer word met kernvoorbeelde. Dit kan maklik deur geselekteerde uittreksels uit hierdie manuskrip saamgestel word.
————————–
Met vriendelike groete/ With kind regards
Prof Fanie Cloete
