Nongqai Vol 18 No 8 – Brief van Thailand
Brief van Thailand
Lt Barry Taylor

Môre almal
Ek word nie sommer diep geraak deur moorde nie, maar hierdie een — die saak met die twee pragtige kinders — het my ontstel. In my lewe was daar drie moorde wat my nog altyd bybly, en ek sal dit nooit vergeet nie.
Die eerste was ’n priester in Pretoria-Wes. Ek en generaal Jan Grobbelaar het om twee-uur die oggend daar gestaan waar die man met ’n mes deur die hart gesteek is, sonder enige rede. Die dader is gevang en later gehang.
Dan was daar die vrou in Wierdapark. Ek het op haar afgekom terwyl sy nog geleef het; die lugborrels het by haar keel uitgekom waar ’n man haar keel afgesny het vir ’n botteltjie met ’n paar koper sente. Ek het alleen daar gestaan tot sy gesterf het — daar was nog geen ander polisiemanne op die toneel nie. Bok de Beer en sy span het later opgedaag, en Bok het vir drie van sy swart speurders gesê dat hulle nie weer kantoor toe hoef te kom voordat hulle die moordenaar gevang het nie. Die volgende middag is hy in die Winterveld gearresteer. Hy is later gehang.
Die derde geval was op Hemelvaartdag 1973: ’n man het sy vrou en vier kinders in hul bed verwurg in Monumentlaan, Lyttelton. Hy het daarna na die polisiestasie gegaan en die sersant aan diens geroep om te kom kyk wat hy gedoen het. Die vier kinders het gelyk asof hulle net slaap. Dit is ’n lang storie, maar die man is nooit tronk toe nie — hy was twee of drie jaar in Weskoppies en toe vrygelaat.
Nou hierdie saak met die twee kinders — ek ken hulle nie, ek het niks daarmee te doen nie, ek was nie naby die toneel nie. Waarom dit my so tref, weet ek nie. Ek het by baie moorde gestaan en seker duisende gelees, maar hierdie twee kinders raak my diep.
Pattaya is eintlik redelik veilig. Ek sou niks gesê het as my dogter en seun vieruur die oggend na die 7/11 wou gaan nie — waarskynlik sou ek net gesê het: “Moet my nie wakker maak as julle terugkom nie.” Ek weet nie wat die moeder van die kinders doen nie, maar sy is blykbaar ’n enkelma en woon in ’n “mansion” in Pattaya.
Hier waar ek woon, en in die oorgrote meerderheid van die platteland, kan jy enige tyd van die dag of nag loop waar jy wil. Ek onthou een oggend omstreeks eenuur het ek en C deur die strate van Bangkok geloop en verdwaal. Ons het later in ’n deel beland waar ek nie eintlik wou wees nie, en daar staan ’n klomp skollies. Ek vra hulle hoe ons by die Baiyoke Hotel uitkom — ewe vriendelik verduidelik hulle vir ons. Ons kon ’n taxi neem, want daar was orals taxis, maar ons het maar geloop.
Waar ek nie snags sal loop nie, is in sekere natuurreservate — daar is bere, olifante en tiere, en die nag is húlle looptyd.
Ek hoop die vier verdagtes kry nie die doodstraf en word ingespuit nie. Dit is onwaarskynlik — sedert 2009 is net een persoon ingespuit. Ek kan nie indink hoe die ma voel nie, en waar die pa ook al is. Ek weet net die ouens het nie nou ’n maklike lewe nie. Jy sal ook nie maklik foto’s van hulle sien nie — die polisie het hulle verseker “gepanelbeat” ná al die uitwysings.
Ek onthou ’n jong man wat vir my en Johan Struwig in Pretoria-tronk gesê het, die aand voor hy tereggestel sou word, dat hy uitsien na die dood en om na Jesus te gaan. Hy het ons hande gesoen en gesê hy hou ’n plek vir ons by Jesus, want ons is goeie mense — dit nadat hy ’n ou dame in Pietersburg verkrag en vermoor het. Hy het heeltyd by ons voete gesit terwyl hy gepraat het, en ’n mens kon amper jammer voel — tot jy onthou wat hy gedoen het.
Ek is teen die doodstraf — dit is te vinnig en te maklik. So iemand moet die res van sy lewe soos El Chapo in die Supermax sit: alleen in ’n sel, geen besoekers, geen gesprek met medegevangenes of wagte nie. Of soos in die Black Dolphin in Rusland — nog veel erger — en Rusland het die doodstraf jare gelede afgeskaf.
Ek het Donderdag gekyk hoe ’n man, wat op 14-jarige ouderdom kinders by ’n skool vermoor en ander gewond het, nou op 18 lewenslank plus 20 jaar gevonnis is. Stel jou voor: die res van jou lewe in ’n enkel sel so groot soos ’n badkamer. Jou kos deur ’n skrefie. Een uur per dag alleen in ’n hok om te oefen. Dink terug toe julle 18 was — en nou tot vandag — nooit uit jou “kamer” nie, niemand om mee te praat nie, nie eens die wagte nie. Dink mooi hoe dit moet voel.
Ek hoop maar die vier verdagtes word behoorlik gestraf. Ek sien die twee is vol tatoes.
Ek het al verskeie kere gelees, en dit is destyds ook deur die staat se regsadviseurs bevestig, dat dit goedkoper is om ’n persoon lewenslank in die gevangenis aan te hou as om hom tereg te stel. Dit geld nie net vir Suid-Afrika nie, maar ook vir die VSA, mits alle regskoste in ag geneem word voordat ’n teregstelling kan plaasvind.
Groete
