Nongqai Vol 17 No 8 – Anita van Zyl
My loopbaan in die SA Spoorwegpolisie, SAP EN SAPD.
Abstract
Anita van Zyl recounts her career in the South African Railway Police, later integrated into the SAP and SAPD. She describes the stringent recruitment process, six‑month training at Esselen Park, and the unique living arrangements for female recruits. Her narrative highlights the disciplined daily routine, academic and practical subjects, and the strong camaraderie among trainees. Van Zyl reflects on operational duties across stations, airports, and harbours, including riot control, crime investigation, and specialised units. She offers vivid memories of unrest areas such as Katlehong and Tembisa, where women served alongside men in full combat gear. The account also covers sporting activities, cultural identity within the force, and the impact of the amalgamation that dissolved the Railway Police. Despite the organisational changes, she emphasises the enduring legacy, reunions, and pride shared among former members. Her memoir stands as a tribute to the professionalism, resilience, and unity of the SA Railway Police.
Keywords
South African Railway Police, Esselen Park Training College, female police recruits, police training, SAP, SAPD, operational policing, riot control, railway security, camaraderie, discipline, police history, amalgamation, legacy preservation, South African policing, law enforcement memoir, unrest areas, Katlehong, Tembisa, special task force, police culture, reunions, historical policing narrative
MY LOOPBAAN IN DIE SA SPOORWEGPOLISIE, SAP EN SAPD.
Anita van Zyl
Laat ek begin by die begin. Die indiensneming was in die ATKV / Lugdiens gebou in Braamfontein Johannesburg. Jy moes aan sekere vereistes voldoen en moes ook psigometriese toetse en mediese toetse ondergaan om te kwalifiseer.
Ons opleiding was vir 6 maande by Esselenpark opleidingskollege in Kaalfontein area naby Kempton Park.
Die dames het nie by die Opleidings kollege se kaserne gebly soos die mans nie. Ons was in 4 huise ingedeel wat op een standplaas was in Elgin-straat in Birchleigh.
Dit was volledige 3 slaapkamer huise, kompleet met sitkamers, 3 slaapkamers en badkamers. Daar was een groot motorhuis wat ons bymekaar gekom het in die aande as die vroue instrukteurs met ons wou praat of as ons net lekker bymekaar wou kom.
Ons instrukteurs tydens my opleiding was Sers (v) Linda Odendaal en haar hulp instrukteur was Sers (v) Felicitae Greyling.
Ons is vervoer vanaf die huise na die kollege en terug met bussies. Natuurlik een oggend was Sers (v) Odendaal in nie so goeie bui en moes ons Opleidingskollege toe hardloop.
Ons moes ook behoorlik skoonmaak en het huis- inspeksies gehad. Almal wat in ‘n huis gebly het, was verantwoordelik om sy eie blyplek skoon te maak. Dit was lekker. Wat lekker was, was die feit dat ons kombuise gehad het. Daar het ons heerlik gebak en brou.
Die lede het van heinde en ver gekom vir opleiding. Ons het twee dames gehad wat van Suidwes Afrika gekom het.
Die menasie se kos was tops. Behalwe sommige oggende was die “scramble” eiers ‘n uitdaging. Vrydae was steak en chips dae.
Woensdae was sportmiddae en dan het ons as ek reg onthou vis en slaaie gekry. Die koffie en tee sal ek nie oor praat. Daar was meer blou fieterjoel in as suiker. Nee dankie. Daar het ek geleer vars melk drink. Beter opsie.
Sondae was ons almal in die bussie gelaai en het ons kerk bygewoon met jou volle formele uniform. Die kerk was op die perseel van die Kollege. Hou ingedagte dit was SA Spoorweë en Hawens se opleidingskollege. So dit was ontsettend groot. Ons het natuurlik nie met die Spoorweë personeel gemeng nie. Of sal ek dit so stel: Daar was nie tyd nie. Die enigste voordeel van nie by die Kollege bly was dat ons nooit wag gestaan het nie.
Ons dame peloton M25 was die laaste groep wat in die huise gebly het. Daarna het die meisies in die kasernes by die Opleidingskollege gebly.
In die oggende as ons by die Kollege gekom het, het die sirene ook bekend as die “Kat” ons eers almal, mans en dames bymekaar gejaag. Dit was dan parade inspeksie. Ek onthou gedurende my opleiding was Kol Delport die Bevelvoerder van die Opleidingskollege. Kaptein Daan Venter was die Offisier in beheer van die opleiding.
Daarna het ons ontbyt gaan eet en 9 uur het die klasse begin. Moet net noem as die parade-inspeksie nie goed afgeloop het, het ons die spreekwoordelike “Bus” gery. Dit het beteken jy kry vir jou die stofpad en hardloop die 2,4km in rekord tye. Ek onthou jy moes hom in 9 of 11 minute kon voltooi teen die tyd wat die opleiding tydperk verby is.
Alternatiewelik het ons die 3,2km gehardloop.
Ons het deur die dag klas geloop by die Opleidingskollege. Al die vakke is deur offisiere aangebied.
Die vakke wat ons gehad het was:
●SA Strafreg
●Kriminologie en Volkekunde
●Strafprosesreg
●Wapenkunde,
●Wette Reg
●Wet op Binnelandse Veiligheid
●Polisie Administrasie – Was hoofsaaklik oor die voltooi van alle dokumente en die werks aspekte.
●Spoorweg en Hawens en natuurlik ook die lughawes se Wette en Regulasies
●Prakties
●Noodhulp
●Ondersoek van Misdaad
●Dril
●Noodhulp
●En natuurlik Selfverdediging en Liggaamlike oefeninge.
Na opleiding is ons uitgeplaas na die verskillende stasies, lughawens en hawens toe.
Jy het dan of in die aanklagkantoor begin of by een van die ander eenhede. Soos administrasie, mobiele eenheid, speurders, trokeenheid, veiligheid, honde-eenheid en soveel ander eenhede. Daar was baie eenhede waarvan ek nie die name kan onthou nie.
Ons het natuurlik ook baie streng reëls gehad met betrekking tot uniform, gewig, hare ens. Vir my lengte mag ek nie meer as 59kg geweeg het. Jou hare moes netjies wees en geen mode haarstyle was toegelaat. Gelukkig daai jare was die naels en oogwimpers glad nie ‘n “trend” nie. Jou romp moes ‘n sekere lengte gehad het. Jou skoene moes blink elke dag. Jy mag nie buite stap of uit jou voertuig klim sonder jou hoed of pet (mans) op jou kop nie. Dit was ‘n – NO GO.
Ons dissipline en gedrag en kameraderie was van top gehalte. Ja, ons het ook lede gehad wat dissiplinêre verhore gehad het. Niemand is volmaak nie. Ons is almal mense. Ons dissipline was van uitstaande gehalte.
Gedurende onluste of as daar opstande of stakings by die Spoorwegpersele was, het ons kamoefleerdrag gedra soos die mans en het ons saam hul uitgegaan en gaan help met wat ookal nodig was.
Dit was net altyd hartseer om te sien as die treine so gebrand word. Ons het net so hard saam gewerk soos die mans. Ons het dae en nagte gewerk in areas soos Ratanda, Katlehong, Tembisa, en vele meer plekke ons “man” gestaan tussen al die manne. Ons het saam hulle kos gekry uit groot houers. Ek onthou in Katlehong het Brig Ronnie Beyl altyd gesorg vir die etes. Daar was nie onderskeid getref nie. Jy het maar met jou Uzi of R1 of waarmee jy ookal uitgerus was vir die taak, gehardloop.
Ons het ook saam gery in die Casspir’s en Nyala’s asook die trokke waarmee personeel vervoer is.
As jy die woord “specials” op n Vrydagmiddag 4 uur gehoor het, het jy geweet – geen naweek vir jou nie. Werk gaan daar gewerk word.
Ons het ook sakboekies daagliks voltooi. Die werk as sulks het nie veel verskil van die SAPS se werk nie. Dit was net verskillende omstandighede.
Klagtes soos Spoor loop, trein trap (soos ons dit genoem het as iemand deur ‘n trein raakgery is), bagasie diefstal, beskadiging van SA Spoorweë en Hawens se eiendom was die algemene klagtes. Ek glo toe ons nog Wet en Orde beheer het was die persele nog in baie goeie en netjiese toestand. ‘n Hele paar van my vriende en vriendinne het saam gewerk in Sandveldt-gebou waar die bom destyds ontplof het. Daar was beserings, maar geen noodlottige gevalle. Ek onthou ook die stasiebom by Germiston destyds.
Ons lede het ook grensdiens gedoen. In die SA Spoorweg-polisie se bestaan het daar slegs 4 lede hul lewens verloor met grensdiens.
RIV 

SA Spoorwegpolisie se Spesiale Taakmag was gereken as een van die bestes ter wêreld. Ek kan nie veel daaroor skryf nie. Die geskiedenis van ons Taakmag was reeds in die Nongqai geplaas.
Ons het natuurlik een groot voordeel gehad. En dit was dat jy ‘n Vrypas gekry het. Dit het beteken jy het verniet trein gery werk toe en terug en kort afstande. Dit was onbeperk. Jy kon lang afstand ritte eenmaal ‘n jaar doen. As jy meer wou ry het jy goeie afslag gekry. Dit was baie lekker.
Ons het nog steeds aan sport deelgeneem na opleiding. Ons dames het netbal, atletiek en vlugbal gespeel en die manne het rugby, atletiek en krieket gedoen. Skiet kompetisies was ook gereeld gehou. Ons het gereeld toernooie gehad. Ons het natuurlik altyd gaan oefen by Sturrock Park in Johannesburg en dan daarvandaan Kaserne depot toe gegaan en gaan “konfedereer” oor die oefeninge of net enigiets wat opkom. Daar was nooit onenigheid. Niemand was beter as die volgende een nie. Ons was n baie hegte groep.
Net soos SAPS as die “Pote” of “Boere” geklassifiseer is, was ons bekend as die stasieblompotte. Dit het ons nie gepla nie. Ten minste het ons kleur aan plekke verleen. Ons was ‘n trotse Mag.
Ons was ‘n paar vriendinne wat gekies was vir ‘n netbaltoer wat aangebied was in die Goodwood-saal in Goodwood in die Kaap. Ons het die lekkerste treinrit gehad af ondertoe. En na die toernooi weer terug na ons onderskeie stasies toe.*** What happens on the tour stays on the tour ***. Dit was geweldig lekker.
Amalgamasie
Ons harte was baie seer toe ons verneem van die amalgamasie. Dit het ons baie onseker oor ons toekoms gelaat. Stel jou voor jy word na ander familie gegee. En jou familie is nie meer deel van jou nie. Heelwat van ons lede het as gevolg daarvan die Mag verlaat. Ons ander het oorgegaan. Dit was baie moeilik. Ons was aanvanklik skepties ontvang maar dit het verbeter.
30 September 2026 is dit 40 jaar gelede wat ons ontbind is as ‘n Mag. Ons het op 25 September 2026 ‘n groot samekoms by die Voortrekkermonument ter viering van die geskiedkundige gebeurtenis.
Ons het ook in Oktober ‘n groot bring en braai- en verwag lede en hul gades van heinde en verre om dit by te woon.
Lede wat in die Oos-Rand bly kom eenmaal in 3 maande saam vir ‘n ontbyt wat gereël word op verskillende plekke om almal se dorpe te erken. Die bywoning is elke keer meer en meer.
●● Ons is nog almal baie betrokke en probeer hard om die “Legacy” te behou en nog steeds te eer. Ons hou ook gereeld reünies. Ons eerste groot een was by Maselspoort en die volgende groot een was in Kempton Park. Daar was ook al reünies in die Kaap. Ons behou kontak dmv WA groepe. Elke reünie was ‘n reuse sukses ons kameraderie is net iets anders.

Ek kan ook noem dat Eben Etsebeth se pa ‘n offisier was in die SA Spoorwegpolisie.
Wahl Baartman se pa was ook ‘n senior offisier in die SA Spoorwegpolisie. So ook Mbonambi wat ook ‘n Springbokspeler is se Pa.
Ek hoop jul lees lekker.
Van my kant af wil ek vir die dames van SAPS se dankie dat jul ons in jul spasie toegelaat het.
Dankie dat ons deel kan wees van jul FB blad en kan deel in jul lief en leed.
Ons het voluit geleef by die Spoorweë asook in die SAPD.
Dit was n ongelooflike ervaring
Groete
Anita van Zyl
