Nongqai Vol 17 No 7 – Memorabilia
Abstract
This article offers a reflective account of a lifetime devoted to collecting, preserving, and documenting police, military, and cultural memorabilia. The author, now in his eighties, recounts the development of extensive collections that include books, documents, photographs, medals, model trains, artefacts, insignia, and other historical items. He describes decades of research, travel, and editorial contributions to Nongqai, as well as the challenges faced when institutions lose interest in preserving certain aspects of South Africa’s past.
The narrative concludes with practical guidance for veterans and collectors on responsibly disposing of their own historical materials to ensure that the heritage of the South African policing community is safeguarded for future generations.
Keywords
memorabilia, collections, police history, militaria, Nongqai, heritage preservation, museums, archives, documents, medals, insignia, ephemera, Erfenisstigting, Akademia, legacy, South African Police, historical sources
BESKIKKING: MEMORABILIA
Hennie Heymans

Wat om te doen met jou memorabilia, medaljes, boeke en dokumente?

Ek is nou oor die 80 jaar oud en was my hele lewe lank ’n versamelaar. My versamelings bestaan uit:
- Boeke (Afrika, polisie, weermag, oorloë, strategie, treine, letterkunde, antropologie, regte, outobiografieë en Bybelkunde)
- Koerante, skêrsnitte en tydskrifte
- Dokumente en foto’s
- Posseëls
- Munte en medaljes
- Loodsoldaatjies
- Memorabilia en skildjies
- Artefakte
- Modeltreine (meer as 1 000 items) en modelvoertuie
- Vlae en wimpels
- Kentekens en “patches”
- Bierbekers
- Gesprekke op band
- Fossiele en ystertydperk-wapens
- ’n Fototeek (onder meer afdrukke uit die albums van genls Vic Verster, Witkop Badenhorst, Mike Geldenhuys en JV van der Merwe)
- ’n Vuurwapenversameling (insluitend Tokarev en AK‑47)
My liefde vir boeke het begin toe my vader my as kind ’n boekrak geskenk het. Hy was ’n polisieman, en ná die Pondoland-opstand het ek twee assegaaie bekom — die begin van my belangstelling in kentekens en ander historiese items.
Deur die jare het ek wyd gereis en baie boeke gekoop oor onderwerpe wat my interesseer. As lid van die International Police Association het ek lede hier en oorsee ontmoet en skildjies en ander items uitgeruil. Ek het snuffelwinkels, tweedehandse winkels, kerkbasaars en vlooimarkte deursoek om items te red en te bewaar. So het my versamelings gegroei.
Akademia
My nagraadse navorsing en my rol as Hoofredakteur van die Nongqai (nou al meer as 17 jaar), het my na die polisiemuseum en ander museums geneem, waar ek dokumente bestudeer en foto’s geneem het. As skrywer het ek gehelp om verskeie boeke saam te stel en met baie mense in aanraking gekom. Ek het die land vol gereis om inligting te versamel, artikels te skryf en foto’s te neem. Die Nongqai het ’n enorme versameling artikels en foto’s opgebou, wat op ons blog met ’n soekfunksie beskikbaar is. Al ons uitgawes word by Akademia geberg. My belangstelling het daartoe gelei dat ek ’n treinkamer en ’n studeerkamer buite my woning moes bou om alles te huisves.
Met die jare het ek besef dat ek niks saam kan neem nie. Ek het doelbewus begin bepaal wie wat sou wou hê. Ek het reeds baie items en dokumente aan die polisiemuseum geskenk — helaas is sommige daarvan gesteel. Omdat ek in erfenisbewaring belangstel, het ek my volledige wintersuniform (met aktetas en stokkie) aan ’n museum in die Oos-Kaap geskenk. Die kurator het daarvoor gevra, maar ná sy aftrede het die nuwe bestuur geen belangstelling in “ons” geskiedenis getoon nie. Ongelukkig is dit die geval by baie museums.
Die destydse kurator van die polisiemuseum het my versoek om items by generaals Van der Merwe en Fivaz te bekom. Ek het daaraan voldoen, maar genl Fivaz se medaljes nie geneem nie — ek was bang dit sou later gesteel word. My vuurwapens het ek wettiglik aan die Voortrekkermonument en aan vriende geskenk, en die res aan die SAPS oorhandig vir vernietiging. (Lisensies is onnodige rompslomp.)
Ons het niks om voor skaam te wees nie
Ek het ’n groot argief opgebou en nooit daarvan gehou om dokumente weg te gooi nie. Ek het baie materiaal by generaals en kollegas bekom en deur die jare verskeie studente met navorsing gehelp. ’n Professor het my genader om my argief aan sy universiteit te skenk. Ek het ingestem, omdat ek weet dit sal vir die nageslag bewaar word. Buiten koverte aksies — wat elke land bedryf — is daar niks in ons geskiedenis waarvoor ons skaam hoef te wees nie.
Op gevorderde leeftyd moes ek oor my versamelings beskik. Ek het my polisieboeke en polisie‑memorabilia aan ’n versamelaar verkoop en die res, insluitend my seëlversameling, aan hom geskenk. Daarna het ek en my gade (wat nie gesond is nie) na ’n aftreeplek verhuis. Boeke koop is duur kos maklik R100 – R500 stuk — my versameling was dus ook ’n belegging.
Die Erfenisstigting
Intussen het ek ’n nuwe argief opgebou: efemeriese stukke, plakboeke, kentekens, skildjies, foto’s en ander materiaal in argiefdose. Alles in my studeerkamer — borsbeeldjies van Boere-generaals, bronsbeelde, skildjies, kentekens, “patches”, boeke, ’n gemonteerde wimpel, ’n groot SAP‑vlag met vlagstaander, ’n yster‑ossewaentjie (100 jaar oud), modelvoertuie en meer — is aan die Erfenisstigting geskenk. Sekere items is ook aan Akademia geskenk. Ek het ’n kollega versoek om die argiefstukke in sy besit aan die Erfenisstigting te skenk. My rekenaar se harde skywe met duisende foto’s en klankopnames sal ná my afsterwe aan die Erfenisstigting oorhandig word. Dit is my nalatenskap. Kol Logan Govender het enorme werk gedoen om die geskiedenis van polisiemanne van Indiese herkoms vir die nageslag te bewaar. Ons het ook met verskeie mense in die bruin- en swart gemeenskap geskakel, maar sonder sukses.
My Raad
Verkoop jou medaljes aan ’n versamelaar as niemand in die familie dit wil erf nie. Onthou verkoop is ook bewaring. Om dit aan ’n jong versamelaar te skenk of te verkoop, hou ons geskiedenis lewendig en relevant. (Mens moet sien hoe lewendig die versameling van Anglo-Boereoorlog-medaljes is!) Onthou: nie alles wat geskenk word, word uitgestal nie — maar dit word wel vir die nageslag bewaar. Ek wil kollegas en veterane versoek om oor hul historiese items te beskik terwyl hulle nog leef: skenk boekversamelings aan Akademia, en skenk memorabilia aan die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument.
Só kom ons ons plig na en bewaar ons die verlede vir die nageslag.
