Nongqai Vol 17 No 9 – (14) Kaptein Wollie Wolmarans: SAP: Ballistiek

RADIO PRETORIA: “VETERANE TREE AAN!”

Kapt “Wollie” Wolmarans

Vlnr: Janine Aspeling, Hennie Heymans, kapt Wollie Wolmarans en Martin Jansen

Excerpt

Captain Wollie Wolmarans outlines the principles, history, and practical application of forensic ballistics in South Africa, enriched with insights from his extensive career.

Abstract

This talk by Captain Wollie Wolmarans, former forensic ballistics expert of the South African Police, provides a comprehensive overview of the development and practice of forensic ballistics in South Africa. He explains internal, external, and terminal ballistics, the application of Edmond Locard’s exchange principle, and the role of microscopic markings in firearm identification. Wolmarans shares notable experiences from his career, including high‑profile cases and international work, and emphasises the importance of accuracy, objectivity, and quality in forensic investigations.

Keywords

forensic ballistics, South African Police, firearms, Edmond Locard, internal ballistics, external ballistics, terminal ballistics, toolmark analysis, crime‑scene reconstruction, expert testimony, Wollie Wolmarans, SAP, Nongqai, Radio Pretoria

“VETERANE TREE AAN!”

More Brigadier Hennie, luisteraars en Martin Jansen.

Dankie vir die geleentheid om met julle te praat oor die Forensiese Ballistiek in Suid Afrika.

Na al die polemiek rondom die beoefening van die forensiese ballistiese wetenskap in Suid-Afrika, kan ek die volgende nie genoeg beklemtoon nie:

  • Wees nougeset tydens ondersoek en skryf van verslag met toepaslike kennis
  • Bly objektiwiteit en onpartydig,
  • Bly binne veld van kundigheid as jy nie weet nie sê dat jy nie.
  • Moet nie ʼn opinie gee as jy dit nie kan staaf nie.

Ek dink dat dit gepas sal wees om kortliks iets oor my agtergrond sệ.

Ek is op 3 Augustus 1946 gebore op ’n klein plekkie, Karino, oos van Nelspruit. My pa was ’n spoorwegwerker. Nadat my pa op ’n vroeë ouderdom oorlede is, het ek op ’n plaas net buite Nelspruit grootgeword, en daar het my voorliefde vir vuurwapens en die natuur ontstaan.

Ek matrikuleer in 1965 aan die Hoërskool Nelspruit, waarna ek my weermagopleiding doen en daarna die SAP as loopbaan verkies. Die rede hoekom ek eers my diensplig gedoen het, is omdat ek ʼn valskermsoldaat wou word, maar ek is meegedeel dat ek te lank was. My eerste keuse was egter om ʼn natuurbewaarder in die Krugerwildtuin te word, maar ek kon nie daar ʼn betrekking kry nie.

Nadat ek ses maande opleiding aan die polisiekollege ontvang het en na my opleiding vir ongeveer ses maande by die vertoongroep in die kollege geplaas is, is ek na die kwartiermeester (nou Logistiek) verplaas, waar ek by die gekonfiskeerde en verbeurdverklaarde vuurwapeneenheid vir ongeveer 6 jaar gewerk het. Hier het ek waardevolle kennis opgedoen oor vuurwapens in die algemeen onder leiding van Adjudant offisier Theo Otto afgetree as Lt. Kol.

Ek is in 1976 na die Suid-Afrikaanse Kriminele Buro (SAKB) verplaas, waar ek eers ʼn vingerafdruk-kursus moes voltooi voordat ek drie jaar lank ʼn verdere kursus in forensiese ballistiek moes voltooi. Ek het die voordeel gehad dat ek reeds kennis van vuurwapens gehad het, en veral van die meganiek van verskillende tipes wapens.

Tydens my dienstydperk by die verbeurdverklaarde vuurwapeneenheid ontmoet ek vir Sers. Bazil Young wat by die ballistiek eenheid gewerk het, later by die ballistiek eenheid raak ons beste vriende. Ons twee word deur Majoor Hennie Heymans (nou Brigadier) gedoop as Starsky and Hutch moontlik is dit nou die geleentheid vir hom om vir ons te sệ wie is wie.

Kaptein Bazil Young na wie verwys word in die praatjie

Geskiedenis van forensiese ballistiek in Suid Afrika.

Die eerste erkende Forensiese ballistiek deskundige in Suid-Afrika was Majoor Stef Monteque Baraclough van die weermag. Na sy afsterwe in 1937 word Insp. Britz die eerste bevelvoerder van die Forensiese Ballistiek eenheid in die SAP op 15 September 1937.

Wat is Forensiese Ballistiek, en hoekom neem dit drie jaar om ʼn kursus te voltooi?

  1. Interne ballistiek:
  • Alles wat in die vuurwapen gebeur vanaf die oomblik dat die sneller getrek word tot dat die koeël die loop verlaat.
  • Die ruilbeginsel van Edmond Locard, ’n Franse kriminoloog, maak die stelling dat wanneer twee voorwerpe met mekaar in aanraking kom, daar altyd ‘n uitruiling van materiaal plaasvind. Hy het dit opgesom met die bekende frase: “Elke kontak laat ‘n spoor agter. Hy sal bekend word as die Franse “Sherlock Holmes.
  • Die rondte ammunisie wat in die betrokke vuurwapen is soos byvoorbeeld ʼn pistool sal tydens die afvuur proses met verskeie onderdele van die pistool kontak maak wat mikroskopiese merke nalaat op die gevuurde doppie.

Die slagpen maak kontak met slagdoppie wat dan ʼn stempel afdruk of merke laat op die slagdoppie.

Die slytvlak van die wapen. Ek weet dat dit moontlik Grieks gaan klink vir die persone wat nie vertroud is met vuurwapens nie. Ek sal my uiterste bes probeer om so kort as moontlik te verduidelik.

Dit is die gedeelte rondom die slagpengat wat die rondte ammunisie ondersteun tydens die afvuur van die rondte, die afgevuurde doppie beweeg teen die selfde druk en spoed terugwaarts en enige mikroskopiese merk wat op die slytvlak voorkom sal dan merke op die kop van die doppie en slagdoppie nalaat soos ʼn stempelafdruk.

Hierdie is gewoonlik masjinering merke wat beskou word as klaseienskappe maar moet benader word as subklaseienskappe, aangesien dit deur dieselfde gereedskapstuk vervaardig is, moet die deskundige uiters versigtig wees om dit as individuele eienskappe te benader. Dit kan gedoen word deur van ander merke te gebruik soos nou kortliks bespreek sal word.

Die slagpen merk wat reeds bespreek is.

Die uittrekker wat die doppie uit die wapen trek laat merke na op die rand van die doppie.

Die uitwerper laat merke op die kop van die doppie wanneer dit kontak maak met die doppie om dit uit te werp.

Die rompdeksel of raam laat merke wanneer die gevuurde doppie kontak maak met die rand van die raam of romp.

Enige merk of merke in die kamer van die loop sal merke op die gevuurde doppie na laat as gevolg van die hoëdruk wat in alle rigtings plaasvind. Dit sal merke op die doppie oorgeplaas byvoorbeeld ʼn klein roesmerke in die kamer sal dan as ʼn krapmerk op die doppie voorkom soos die doppie uit die kamer getrek word.

Al hierdie merke het ook sekere klaseienskappe soos die grote, wydte, vorm ens. Die slytvlak merke kan byvoorbeeld sirkel vorming of halfmaanvormig wees, die slagpen kan ook ʼn vorm aanneem wat eie is aan daardie tipe wapen. Binne hierdie merke is daar klein mikroskopiese merke wat eie is aan die spesifieke wapen.

Die loop het groewe en velde wat die koeël laat roteer om ʼn spin aan die koeël te verleen vir stabiliteit. Die groewe word op die koeël in gegraveer en elke groef en veld het sy eie mikroskopiese fyn merkies of eienskappe wat op die koeël in gesny word, wat vir identifikasie gebruik kan word van die betrokke wapen.

Die werking van wapens moet bekend wees aan deskundiges vir verskeie redes, hier volg ʼn paar daarvan, maar nie almal nie.

Elke tipe wapen dra sy eie merke oor en die deskundige moet weet wat die merk veroorsaak het en hoekom.

Inligting kan aan ondersoekbeamptes oorgedra word wat hom kan help met sy ondersoek as hy weet waarna gesoek moet word.

Is die wapen enkel aksie of dubbel aksie tipe wapen die snellerdruk verskil by beide aksies enkelaksie sal ligter wees as dubbelaksie?

Is dit gas of terugslag werkend gewoonlik is selflaai pistole (handwapens) terugslag werkend?

Die gevuurde koeël kan vir jou vertel wat die kaliber van die wapen is en moontlik die tipe wapen soos ʼn rewolwer of pistool as gevolg wan merke op die koeël by rewolwer sal daar duidelike skuifmerke toon soos die gevuurde koeël van af die silinder na die loop spring (reguit beweeg) voordat dit in die groewe inbeweeg om dan te begin roteer

Die snellerdruk kan behulpsaam wees om die verdagte se weergawe te staaf of om dit te weerlê

of selfs om ʼn ongeluk te verduidelik.

  1. Eksterne Ballistiek

Dit kan beskryf word as alles wat met die koeël gebeur in sy trajek nadat dit die loop verlaat het totdat dit die teiken tref.

    1. Intermediêre ballistiek (ook bekend as oorgangsballistiek) is die studie van ‘n projektiel se gedrag vanaf die oomblik dat dit die loop verlaat tot waar die gasdruk agter die koeël gelyk word aan die atmosferiese druk.

Dit is belangrik aangesien daar verskeie goed gebeur nadat die koeël die loop verlaat het.

Terwyl die koeël nog in die loop is en onder aansienlike hoëdruk is, is daar nog dryfmiddel (kruit) wat toenemend verbrand en gas vorm om die druk op te bou. (Dit is nie ʼn ontploffing nie).

Die koeël verlaat die loop saam met verbrande (roet) en deelsverbrande dryfmiddel en stukkies metaal afkomstig van die koeël. Hierdie residu word dan op kledingstukke en op vel gedeponeer in die geval van klere word ʼn chemiese toets op die kledingstuk gedoen waaruit bepaal kan word of daar verbrande of deelverbande dryfmiddel teenwoordig is in die geval van vel waar geen klere was nie sal dit die vel penetreer in die vorm van spikkels wat as tatoeëermerke beskryf kan word. Hieruit kan ʼn afleiding gemaak wat die afstand tussen die skut en teiken was, kon dit selfmoord gewees het of nie?

Deur die betrokke wapen met soortgelyke ammunisie te toets kan daar bepaal word wat die afstand tussen die tromp van die wapen en die teiken was indien dit gewoonlik nie verder as tussen 60cm en ʼn meter is nie afhangende van die tipe wapen (lengte van loop kan verskillende resultate gee) die tipe dryfmiddel waarmee die ammunisie gelaai is speel ʼn besonderse rol.

Dryfmiddels kom in verskeie vorms voor wat hul eie verbrandingstempo het. Hier is ’n paar voorbeelde: vlokkies, korrels, plat gemaakte korrels (flattened balls) en silinders.

Terminale ballistiek

Ek wil net noem dat die forensiese deskundige oor geen mediese kwalifikasies beskik nie, maar hy kan die forensiese patoloog met advies bedien oor vuurwapenwonde.

Terminale ballistiek kan ook omskryf word as wond ballistiek soos reeds hierbo verduidelik kan die forensiese ballistiek deskundige ʼn afleiding maak deur middel van toetse wat die afstand van die tromp van die wapen tot by die teiken (oorledene was) en of dit moontlik ʼn opslagkoeël kan wees of nie.

Die koeël wat die liggaam penetreer laat ʼn kneusmerk om die inskiet wond waaruit die afleiding gemaak kan word van die posisie van die skut teenoor die oorledene of gewonde persoon.

Die kneusmerk kan rond of ovaalvormig wees hier moet die deskundige uiters versigtig wees aangesien ʼn skoot wat reghoekig van voor af geskiet was kon ʼn kurwe in die liggaam getref het wat die ovaal kneusing kon veroorsaak het.

Wonde veroorsaak deur opslag koeëls waar daar ʼn intermediêre teiken was is nie rond of ovaal vormig nie maar verskeurd en in sekere gevalle waar die persoon naby of teenaan die intermediêre teiken was kan daar self sekondêre wonde wees wat deur die opbreek van die koeël of teiken veroorsaak is. Wanneer ʼn koeël ʼn intermediêre teiken tref sal dit onstabiel word en nie tipiese inskiet wond veroorsaak nie.

Wonde kan kontak, nabykontak, loskontak skuinskontak, intermediêre of afgeleë wees in hierdie gevalle moet die deskundige die betrokke wapen met soortgelyke ammunisie toets waaruit hy of sy afleidings kan maak.

Al hierdie inligting help die deskundige om die misdaad toneel te rekonstrueer.

Uitskietwonde is gewoonlik groter as die inskietwonde en is nie rond met ʼn kneusing ring soos reeds beskryf nie. Daar is wel die uitsondering waar ʼn kneusingring om die uitskietwond voorkom en dit is waar die gedeelte van die liggaam deur iets ondersteun word soos byvoorbeeld iemand wat op ʼn stoel met rugleuning gesit het sal die wond op rug ʼn kneusing rondom die wond hê wat as ʼn ge-oewerde (Shored entrance) wond beskryf word, hierdie tipe wond is nie algemeen nie.

Skietwonde laat ook bloedspatselpatrone na waaruit die forensiese ballistiekdeskundige sekere afleidings kan maak om hom of haar met die rekonstruksie van ʼn misdaadtoneel behulpsaam te wees.

Dit is verder die deskundige se funksie om gereedskap merke te ondersoek ek gaan net hier kortliks beskryf wat dit is

ʼn Gereedskapmerkondersoek in die forensiese wetenskap is die wetenskaplike ontleding en vergelyking van spore, indrukke, skrape of snye wat ‘n harde gereedskapstuk op ‘n sagte oppervlak of voorwerp gelaat het. Dit help om ‘n spesifieke gereedskapstuk aan ‘n misdaadtoneel te koppel, soos knyptange, skroewedraaiers, boudknippers, selfs hamers.

Hier kan ek noem dat dit nie elke Jan Rap en sy maat is wat hierdie tipe ondersoek kan doen nie, dit is kompleks en kan ure se mikroskopiese werk in beslag neem om die verdagte gereedskapstuk met die verdagte merk te verbind.

Byvoorbeeld, ʼn stukkie draad is dun, en die snykant van die knyptang is lank; in sommige gevalle is daar meer as een snykant, en die toets moet op die regte plek geknip word en teen die regte hoek om die merk te dupliseer.

Dit is ook lekker onderwerp vir die verdediging om die deskundige te kruisondervrae. Dit sal gewoonlik hul uitgangspunt wees dat die deskundige die merk wat hy gefotografeer het (hofkaart) gemanipuleer was.

Met nuwe tegnologie word gereedskapstukke byvoorbeeld met dieselfde gietstuk vervaardig wat merke kan dupliseer. Die deskundige sal moet weet hoe die verdagte gereedskapstuk vervaardig was. is die merk wat hy gebruik om tot sy bevinding te kom uniek en waarom.

SAKE TYDENS MY SAP LOOPBAAN

Ek weet nie presies in hoeveel sake ek tydens my loopbaan in die betrokke was nie, dit was ongeveer 10 000 waarvan ek in ongeveer 500 getuig het. Hierdie sluit sake in waarin ek in my private hoedanighede getuig het.

In my SAP-loopbaan van meer as 20 jaar by die ballistiek eenheid het ek in baie min sake getuig waar jy geweet het wie die beskuldigde was.

Die saak wat ek nooit sal vergeet nie is ʼn saak waar ʼn veiligheidspolisieman ʼn verdagte in sy kantoor dood geskiet het, hy is aan strafbare manslag skuldig bevind en tot 10 jaar gevangenis straf gevonnis.

Dit was nie ʼn baie aangename saak vir my gewees nie maar die forensiese getuienis het ongetwyfeld ʼn groot rol in sy skuldigbevinding gespeel.

Daar was ook verskeie ander sake wat ek onthou vir die een of ander rede die betrokke een waar aan ek nou dink was in Vereeniging in die rondgaande hof.

Beskuldigde skiet ʼn reisendeverkoopsman dood met sy eie pistool wat hy in die paneelkissie gevind het.

Die liggaam word in ʼn mielieland gegooi en sy horlosie waarop sy naam en datum van die maatskappy waarvoor hy gewerk het kom op agterkant van horlosie voor. Die horlosie verkoop hy aan sy broer by wie die Moord en Roofeenheid dit later opspoor.

My getuienis het gegaan oor die koeël wat met die wapen verbind was wat in sy besit gevind is.

Die broer kom getuig by wie, waar en wanneer hy die horlosie bekom het.

Die broer, ʼn langman met bloedrooi hare, daag by die hof op met ʼn swart pakklere wat hy moontlik by iemand geleen het wat te klein is vir hom, hy het wit sokkies aan en sy broek is te kort vir hom met Bata tekkies aan.

Hy Klim in die getuiebank met sy arms wat heen en weer swaai, druk sy regterhand in sy gatsak haal ʼn lang swart kam te voorskyn en kam sy hare wat nog in die ou ducktail manier gesny was, waarna hy sy hare netjies in plek druk, die kam word weer tydsaam terug in sy gatsak geplaas. Hy draai tydsaam na die regter me ʼn uitgestrekte regterarm met wysvinger en pinkie wat regop staan (Bokhorings) en begroet die regter met howsit my unckle!

Nadat ek die SAP in 1991 verlaat het met vervroegde mediese pensioen was ek in verskeie hoё profiel sake betrokke vir die verdediging soos die

Inge Lotz saak in Kaapstad

Oscar Pistorius in Pretoria

Saak waar ʼn vrou wat onskuldig was en aangekla is vir huurmoord op haar man.

Forensiese ballistiese ondersoeke kan onder geen omstandighede gedoen word met die oog op kwantiteit nie, kwaliteit is die wagwoord.

Ek het ook vir die VN in Kosovo gewerk waar ek betrokke was in die lykhuis by die identifisering van bewysstukke wat uit die liggame verwyder is om te bepaal hoe hulle dood gemaak is, al die liggame was in ʼn gevorderde stadium van ontbinding.

Graag wil ek almal bedank vir die geleentheid en ook om te noem dat ek tans besig is met twee boeke die eerste een in Afrikaans gaan oor moorde (22) in Suid Afrika waarvan dit so ver terug dateer as 1714 Maria Mouton wie haar man vermoor het en nie gehang het nie maar op ʼn wreedaardige manier tereg gestel is en dan ook oor Herman Charles Bosman en die man wat waarskynlik saam met hom in die dodesel gesit het in afwagting vir begenadiging 1926. Volgens die uitgewer sal die boek vroeg volgende jaar op die rak beskikbaar wees.

Die tweede boek is in Engels en gaan oor sake wat ek self en ander kollegas gedoen het. Volgens Delien Burger wat my help met die skryf daarvan voorspel sy dat die boek so drie maande na die Afrikaanse boek beskikbaar sal wees.

Dankie nogmaals Brigadier Hennie en Radio Pretoria FM vir die geleentheid.

Kommentaar Hennie Heymans

Ek het Wollie Wolmarans gevra vir sy Notas en sy toestemming verkry om hier te plaas. Na verwagting sal die baie interessante onderhoud op 20 Oktober 2026 uitgesaai word.

Van links na Regs: Wollie, Bazil, genl Neethling en ‘n onbekende AO.

Generaal (dr.) L.P. Neethling was die bevelvoerende offisier van die Forensiese Wetenskapslaboratorium (FWL), en Wollie Wolmarans en Bazil Young het onder sy leiding gewerk. Die FWL het destyds skouer aan skouer met die beste laboratoriums ter wêreld meegeding — ’n trotse tydperk in ons wetenskaplike geskiedenis. (Ongelukkig kan ons nie dieselfde sê van vandag se laboratoriums en hul agterstand nie.)

Meer oor die doen en late van “Starsky & Hutch” kan gelees word in Nongqai Vol 14 No 7: