Nongqai Vol 17 No 7 – 1966 Wêreldhofuitspraak SWA
Inleiding
Suid-Afrika het Suidwes-Afrika – ’n mandaatgebied van die voormalige Volkebond – sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog geadministreer. In 1939 het die Suid-Afrikaanse Polisie die gebied binnegegaan om ’n pro-Duitse putsch te verhoed, die aktiewe Nazi-simpatiseerders te interneer en die SWA Polisie oor te neem.
Walvisbaai, wat histories deel van die Kaapprovinsie was, het ’n unieke status behou as Britse gebied. Vir lang tydperke het Suid-Afrika die mandaatgebied bestuur asof dit ’n vyfde provinsie was, en die administrasie en veiligheidstrukture is volledig deur Suid-Afrika behartig.
Die Suid-Afrikaanse Polisie het ook in Walvisbaai ’n beduidende rol gespeel. Reeds tydens die Eerste Wêreldoorlog het genl. Louis Botha die Duitse magte in die gebied verslaan, en hy het ’n lyfwag van 100 SA‑polisielede gehad onder bevel van maj. F.W. Trew.
Sedert 1939, toe die SA Polisie weer formeel die gebied betree het, was lt.-kol. Frank Verster in bevel. Die Polisie het nie net die gebied gepolisieer nie, maar later ook ’n aktiewe rol in die grensoorlog gespeel nadat die gewapende stryd op 26 Augustus 1966 by Omugulugwombashe (soms Ongulumbashe gespel) begin het. Hierdie aanval word vandag nog in Namibië as ’n nasionale herdenkingsdag gevier.
Die politieke stryd rondom die mandaat, die VN, SWAPO en die internasionale druk op Suid-Afrika is minder bekend onder baie oudlede van die Suid-Afrikaanse Veiligheidsmagte. Daarom is die artikel van dr. Riaan (Koedoe) Eksteen – ’n direkte deelnemer en ooggetuie – van besondere waarde. Hy bied ’n unieke blik op die diplomatieke, militêre en internasionale dimensies van die Suidwes-kwessie, soos hy dit oor dekades heen beleef het – Hennie Heymans.
KEY WORDS (English)
South West Africa, Namibia, International Court of Justice, 1966 judgment, United Nations, mandate dispute, Ethiopia, Liberia, South African foreign policy, SWAPO, Omugulugwombashe, Ongulumbashe, Resolution 435, Chester Crocker, Henry Kissinger, John Vorster, Hendrik Verwoerd, PW Botha, Cassinga, Security Council debates, Namibia Council, Martti Ahtisaari, Hage Geingob, Namibian independence, diplomacy, Cold War Africa, Riaan Eksteen.
ABSTRACT (English)
This article reflects on the 1966 International Court of Justice ruling on South West Africa, in which Ethiopia and Liberia challenged South Africa’s administration of the mandate. The judgment, delivered by Judge Percy Spender, dismissed the applicants’ case, triggering far‑reaching diplomatic, political, and military consequences. As the article notes, “the General Assembly… revoked the mandate on 27 October 1966,” placing South Africa’s presence in the territory under intense global scrutiny. The author, Riaan Eksteen, recounts his direct involvement in South Africa’s diplomatic efforts over nearly three decades, detailing the escalation of conflict with SWAPO, the role of major international actors such as the United States, and the eventual implementation of UN Resolution 435 leading to Namibia’s independence in 1990. The narrative offers a unique insider perspective on the interplay between diplomacy, international law, and geopolitical pressures during a pivotal era in Southern African history.
DIE WÊRELDHOF SE UITSPRAAK OOR SUIDWES-AFRIKA IN OËNSKOU NÁ 60 JAAR
Riaan Eksteen Ph.D.

Die skrywer lewer ‘n toespraak in Veiligheidsraad, 29 Augustus 1981
Sestig jaar gelede was dit my voorreg om saam met Pik Botha en Suid-Afrika (SA) se twee senior advokate, David de Villiers en Buddie Muller, ’n lid van SA se regsspan by die Wêreldhof in Den Haag te wees. Op 18 Julie 1966 het die Internasionale Geregshof in Den Haag uitspraak gelewer oor die jare lange saak wat Ethiopië en Liberië teen SA gevoer het oor SA se hantering van die mandaat ten opsigte van Suidwes-Afrika. (Die benaming SWA word gebruik omdat die naamsverandering na Namibië eers later internasionaal erken is.) Toe die uitspraak daardie middag gelewer is, het die voorsittende beampte, regter Percy Spender van Australië, die beslissende stem uitgebring. Daarmee is die aansoekers se betoog verwerp.

By die aanhoor van die Hofuitspraak, 18 Julie 1966. David de Villiers, Buddie Muller, Pik Botha en Riaan Eksteen
In vele opsigte was dit ‘n belangrike gebeurtenis vir die Afrika-groep by die VN namens wie die aansoekers die saak gedryf het – vir Suid-Afrika se buitelandse beleid en internasionale verhoudinge, vir SWA, en vir SWAPO. Die regsaspek rakende die mandaat het tot ‘n einde gekom, wat Suid-Afrika voorsien het die geval sou wees. Wat daarna gebeur het, was nie SWA óf SA op voorbereid nie. Op 26 Augustus 1966 val die gewapende vleuel van SWAPO Omugulugwombashe in Ovamboland in teen SA se polisieteenwoordigheid. Hierdie gebeurtenis op 26 Augustus word jaarliks sedert Namibië se onafhanklikheid op 21 Maart 1990 herdenk en is ’n openbare vakansiedag. Met hierdie aanval het 23 jaar van Suid-Afrika se militêre betrokkenheid in die land begin; aanvanklik in Ovamboland, maar later in die suide van Angola en ook ander dele van Angola.
Met die aanvang van die sitting van die VN se Algemene Vergadering in September 1966 was dit die Afrika-state se doelwit om die hofuitspraak ‘n belangrike besprekingspunt te maak om sodoende die mandaat ongeldig te laat verklaar. Die Algemene Vergadering het dan ook op 27 Oktober 1966 die mandaat herroep. Hiervolgens is SA se teenwoordigheid enersyds onwettig verklaar en andersyds het die eis vir SA se algehele onttrekking uit SWA momentum gekry.
Hierdie besluit het die geskil oor SWA wêreldwyd op die voorgrond geplaas en ‘n nuwe era met betrekking tot internasionale konflik oor SWA ingelui. Van daardie dag af het dit ‘n belangrike punt geword in SA se buitelandse beleid. Die hantering van hierdie aspek is op ‘n baie groter internasionale skaal geplaas, wat oor jare heen gestrek het en uiteindelik uitgeloop het op die aanvaarding van resolusie 435, en die implementering daarvan nadat die VSA se Chester Crocker ingegryp het. Namibië het in 1989 ’n verkiesing gehou en in Maart 1990 onafhanklik geword.
Ná die uitspraak het die destydse eerste minister, dr. Hendrik Verwoerd, wat met vakansie by sy strandhuis op Bettiesbaai was en laat die middag na die SAUK se Seepunt-ateljees moes ry om ‘n boodskap oor die uitspraak lewer, onder andere gesê SA sal hom nie laat voorsê deur sy teenstanders nie. Hy het hiermee nie net na die VN en die hofsaak verwys nie, maar ook na ander lande, met inbegrip van die VSA, wat SA vooraf gewaarsku het en met optrede in die Veiligheidsraad gedreig het indien SA nie gehoor aan die uitspraak sou gee nie – self het hulle nie gehoor aan die uitspraak gegee nie. Dit was die laaste keer wat dr. Verwoerd se stem oor die SAUK gehoor is voordat hy op 6 September in die Volksraad vermoor is. Sy opvolger, John Vorster, is onmiddellik met hierdie problematiek in SA se buitelandse verhoudinge gekonfronteer.
Hy het dadelik besef dat hierdie aangeleentheid indringende aandag verg. Sy opdrag was dat daar reeds vroeg in 1967 ’n publikasie oor SWA moes verskyn waarin alle politieke en sosio-ekonomiese aspekte van die land aan die buitewêreld gekommunikeer moes word. Vir drie weke aan die begin van daardie jaar het ek saam met Pik Botha en dr. Eric Leistner, van die Afrika-Instituut, deur SWA gereis om inligting oor SWA saam met personeel van die Administrasie in te samel. In Mei is die “SWA Survey 1967” gepubliseer. ’n Opvolguitgawe het later in 1974 verskyn nadat ons drie weer SWA deurkruis het. SWA het ook al hoe meer Vorster se aandag geëis. Eerstens het hy die waarde van diplomasie ingesien om die SWA-kwessie te hanteer en het ook die toenemende belangrikheid van die kwessie vir SA se buitelandse beleid besef – met ander woorde, nie net om meer aandag te vestig op die interne politiek van SWA en politieke partye daar nie, maar ook om die wêreld meer vertroud te maak met die internasionale dinamika van die kwessie. Vorster het besef hy sal nie vordering kan maak met sy eie détente-beleid indien die kwessie nie met diplomasie hanteer word nie. Tydens sy vergadering met Afrika-leiers was SWA een van die knelpunte. So ook tydens sy drie ontmoetings tussen 1974 en 1976 met dr. Henry Kissinger, wat toe die VSA se Staatsekretaris was. In Mei 1977 was ek verheug om deel te wees van sy afvaardiging vir die samesprekings met President Jimmy Carter se Vise-president, Walter Mondale, in Wenen waartydens SWA ook bepreek was.
Sy minister van verdediging, PW Botha, het egter ’n meer aggressiewe benadering met militêre magsingryping in Angola (teen SWAPO) voorgestaan wat later tot verskeie veldslae gelei het waarby die MPLA van Angola, Kuba en die Sowjetunie betrokke geraak het. Die militêre optrede teen ’n SWAPO-kamp by Cassinga op 4 Mei 1978 – skaars drie weke nadat SA die Westerse voorstel aanvaar het wat later die grondslag vir resolusie 435 van die Veiligheidsraad sou vorm vir die onafhanklikheidswording van Namibië – het daardie voorstel byna verongeluk. Die datum waarop die Cassinga-inval plaasgevind het, is vandag steeds ’n amptelike vakansiedag. Hierdie gebeurtenis het ’n reeks debatte in die Veiligheidsraad ingelui. Ek het vervolgens die Raad op 29 Augustus 1981 toegespreek oor SA se aanvalle op SWAPO op Angolese grondgebied.
Aksies by die VN teen SA oor SWA was nie net tot die Veiligheidsraad beperk nie. Inteendeel. In die Algemene Vergadering is die kwessie jaarliks bespreek. Die antagonisme teenoor SA was openlik, soveel so dat ek by drie afsonderlike geleenthede gelas is om die sittings te verlaat nadat voorstelle van die Afrika-groep aanvaar is om SA se geloofsbriewe te verwerp.
Aan al hierdie debatte het SWAPO aktief deelgeneem aangesien die Algemene Vergadering reeds die party as die enigste en ware verteenwoordiger van die mense van SWA erken het. SWAPO is ook waarnemerstatus by die VN toegeken en teenwoordiges kon vrylik aan alle debatte deelneem, maar het nie enige stemreg gehad nie. Die permanente verteenwoordiger van SWAPO was Theo-Ben Gurirab. In President Nujoma se eerste kabinet is hy as minister van buitelandse sake aangestel. Tydens my termyn as SA se eerste ambassadeur in Windhoek was dit ’n plesier om saam met hom te werk in ’n heeltemal ander atmosfeer as wat ons in New York beleef het. ’n Besonderse vriendskap het tussen ons oor die daaropvolgende drie dekades ontstaan.
Bykomend tot hierdie verskillende fronte teen SA in die VN-familie was daar ook die Raad vir Namibië wat voortgevloei het uit die ongeldigverklaring van die mandaat in 1967. In 1968 het hierdie Raad “Namibië” as amptelike benaming vir SWA verklaar. Aan die hoof was Sean MacBride as die eerste Kommissaris vir Namibië. Sy opvolger was Martti Ahtisaari, wat in 1978 deur die Veiligheidsraad aangewys het as die sekretaris-generaal van die VN se spesiale verteenwoordiger vir die implementering van resolusie 435. As ambassadeur by die VN het ek hom en sy verkenningspanne vir twee van hul besoeke aan Namibië vergesel.
Benewens hierdie Raad is ’n “Instituut vir Namibië” geskep wat in Lusaka gesetel was. Die eerste direkteur was Hage Geingob. Hy is in 1972 as ‘n politieke skakelbeampte by die Raad van Namibië aangestel. By die instituut wat gestig is om Namibiërs in te lig en op te lei ter voorbereiding vir onafhanklikheid het sy opleiding as onderwyser hom goed te pas gekom. Tydens my dienstermyn in Windhoek was hy eerste minister; later ook minister van handel en nywerheid, en uiteindelik Namibië se derde president. Ons het gedurende al sy ampstermyne ’n goeie verstandhouding gehad.
Tydens my 27-jaar-diens by die departement van buitelandse sake was ek vir 17 daarvan voltyds betrokke by die implementering en uitvoering van SA se beleid met betrekking tot Namibië. Dit was my beskore om die uitvoering van die beleid onder Verwoerd, Vorster, PW Botha (as eerste ministers), en daarna ook onder PW Botha en FW de Klerk (as presidente) van naderby te beleef. Laasgenoemde het my as ambassadeur in Namibië aangestel. Onder De Klerk was die inisiatief wat die Reagan-administrasie onder leiding van Chester Crocker in 1981 begin het, suksesvol om resolusie 435 in 1989 geïmplenteer te kry. Die hoogtepunte van my betrokkenheid in Namibië was sonder twyfel die eerste drie jaar, toe ek deel was van die proses om daardie inisiatief te bevorder en op koers te kry en te hou. Dan natuurlik die verbintenisse wat tussen my en die leiers van Namibië ontstaan het – van vurige opponente tot hegte vriende!
Dr Eksteen se 27 jaar in Buitelandse Sake het onder meer ’n dienstermyn in Washington ingesluit asook ambassadeursposte by die VN in New York en Genève terwyl hy in ses lande as ambassadeur gedien het, insluitend Namibië as SA se eerste ambassadeur na onafhanklikheid. Tans is hy ’n navorsingsgenoot verbonde aan twee universiteite in Suid-Afrika. Joernale in Suid-Afrika en internasionaal het reeds 30 van sy artikels geplaas. Hy is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy memorie, Beyond Diplomacy, is in Oktober 2022 gepubliseer.

From around the early 1020s the Union Defence Force Military Police was replaced by the South West Africa Police(SWAP). The The South African Police (SA19took over policing of SWA in April 1939, prior to WWII.
The SAP was replaced in SWA/N in 1980 by the South West African Police (SWAPOL).
When SWA/ became independant on 21 March 1990 SWAPOL was disbanded and replaced by the Namibia Police ( NAMPOL).