Nongqai vol 17 No 6 – Ria Potgieter

ABSTRACT (English)

This autobiographical narrative traces the life and career of Ria Potgieter within the South African Police Service (SAPS) community, beginning with her appointment in 1983 as a typist at the Potchefstroom Headquarters Division. Her story highlights the deep professional and personal bonds formed within the policing environment, her marriages to two policemen, and her varied roles in administrative, investigative, and child‑protection units. A central and devastating turning point occurs with the murder of her husband, Sergeant Jaco Potgieter, during an armed robbery on 25 June 1999 — an event that profoundly shaped her life and remains emotionally present decades later. The narrative also reflects her continued resilience, career transitions, relocation to the Western Cape, and her role in raising both her biological and step‑children. Ultimately, the account emphasises the enduring solidarity of the SAPS community and her gratitude for divine protection throughout her life.

KEYWORDS (English)

  • South African Police Service (SAPS)
  • South African Police (SAP)
  • Police community
  • Personal narrative
  • Armed robbery
  • Line‑of‑duty death
  • Sergeant Jaco Potgieter
  • Potchefstroom
  • Klerksdorp
  • Child Protection Unit (CPU/KBE)
  • Police families
  • Resilience
  • Bereavement
  • Career in policing
  • SAP history
  • SAPS history
  • Commercial Crime Unit (SAP)

MY LEWE IN DIE SAPD-FAMILIE

Ria Potgieter

***Ook opgedra aan my man wat more 27 jaar gelede in ‘n gewapende roof gedood is: SERS J POTGIETER :

“In 1983, op 22-jarige ouderdom, begin my loopbaan by die Afdeling HK in Potchefstroom as tikster, destyds deur lede bekend as die “Withuis”.

Ek het die voorreg gehad om saam met Brig. JG le Roux Stemmet, Brig. Jan de Waal en Kol. Scheepers te werk. Ek was betrokke by tikwerk en administrasie saam met Jeanette Grimbreek en Maxie du Toit, en het later ook by die Speurtak in Potchefstroom gewerk.

In 1985 trou ek met ‘n polisieman Hannes Marx.

In 1989 word hy bevorder tot offisier en ons verhuis na Klerksdorp.

Daar werk ek by die Handelsmisdaadeenheid saam met kapt. Gert Viljoen in die West End-gebou. In 1992 word my seun gebore. Die eenheid kon my eenvoudig nie vir drie maande mis nie, en daarom is daar ‘n babakamer langs my kantoor ingerig. So het ek my baba tussen die dossiere grootgemaak. Wanneer hy onrustig geraak het, het kollegas hom sommer in ‘n staatsvoertuig vir ‘n rit geneem totdat hy aan die slaap geraak het. Ek het ook vir ‘n tyd by KBE gewerk.

In 1995 verhuis ek terug na Potchefstroom waar ek gehelp het om ‘n nuwe KBE-kantoor te vestig. Ons was baie trots toe ons die eerste eenrigtingglas-“speelkamer” kon open waar kinders op ‘n veilige manier ondervra en gehelp is.

Gedurende hierdie tyd stig ons ook ‘n dames-toutrekspan en ontvang Wes-Transvaal erekleure.

In 1997 trou ek met sersant Jaco Potgieter, ‘n speurder in Potchefstroom.

In 1998 bedank ek uit die SAPD en begin versekering vir Assupol aan polisie- en korrektiewe dienstelede verkoop.

● ● Op 25 Junie 1999 stort my wêreld in dui en my grootste vrees word waar.

Om 05:00 die oggend word my man tydens ‘n gewapende roof doodgeskiet. Om 08:00 staan ‘n maatskaplike werker en ‘n generaal voor my deur met die slegte nuus.

**** Jaco was slegs 28 jaar oud, met nege jaar diens agter sy naam. Hy verdien ook n toekenning as speurder van die Jaar. Ons was saam so trots daaroor. Hy was geliefd onder sy kollegas en gewild onder sy vriende. [Ons het pas ‘n nuwe huis gekoop. Ons lewe saam het eintlik nog maar net begin.]

Tydens sy begrafnis, wat deur meer as ‘n duisend mense bygewoon is, het die howe in Potchefstroom en Klerksdorp tot stilstand gekom.

Aanklaers, landdroste, prokureurs en generaals van Hoofkantoor, die verkeersafdelings, brandweerpersoneel en talle ander het hul laaste eer kom betoon aan n geliefde man.

Dit was ook vir my ‘n bewys hoe geliefd my man werklik was. Sy liefde vir sy werk, familie en vriende sal my altyd by-bly. Sy dood was ‘n geweldige verlies vir my en die gemeenskap.

*** Ek mis hom steeds. Vandag, 27 jaar later, bly hy my “forever young”.

Gedurende 2000 word ek deur Hoofkantoor na Pretoria genooi vir ‘n kranslegging waar Jaco en ander lede wat aan diens gesterf het, se name onthul is.

‘n Foto van my en die kinders het op die voorblad van Servamus verskyn.

Teen 2005 begin ek met Labour Hire in Noordwes en later werk ek in die mediese fondsbedryf.

In 2016 skud ek die Noordwes-stof van my voete af en verhuis na die Wes-Kaap. Vier jaar in Stellenbosch en nou reeds ses jaar in die mooiste Mosselbaai – die beste besluit van my lewe.

My drie kinders woon vandag in Dakota in die VSA. My seuns het daar gaan boer en my dogter, wat eers sielkunde wou volg, het besluit om saam trekkers te ry en haar eie pad te stap.

Jaco se dogter woon in Klerksdorp en is die ma van twee kinders.

Uit my eerste huwelik met Hannes het ons een seun gehad. Ná ons egskeiding het hy en Riana nog ‘n seun en ‘n dogter gehad. Ná Riana se afsterwe het ek die twee kinders grootgemaak asof hulle my eie was. Dit was ‘n voorreg om hul kinders ook groot te kon maak weens omstandighede. Dalk is dit my ondervinding van my tyd by KBE wat in my hart vasgesteek het.

***Een ding het ek deur al die jare geleer: as jy eenmaal deel van die Polisiegemeenskap was, bly jy altyd deel daarvan. Iewers in Suid-Afrika sal jy altyd iemand raakloop wat jy ken.

Die bande wat daar gesmee word, verdwyn nooit.

Ek dank ons hemelse Vader dat hy altyd n wakende oog oor my en my kinders gehou het.”

Groete Ria — saam met Hennie Heymans

Fotoalbum