https://naledi.co.za/product/plundering-ontbloot/

Boekresensie: Plundering Ontbloot, Fanie Cronje

Naledi-uitgewers: https://naledi.co.za/product/plundering-ontbloot/

Fanie Cronje se boek Plundering Ontbloot [Naledi-uitgewers] slaag daarin on ‘n enigsins hibridiese spanningsroman oor spioenasie en intelligensiekunde tot stand te bring. Staatskaping is vir die meeste Afrikaanse lesers ‘n gonswoord wat sedert 2007 tydens die Zuma-Gupta era deeglik deur die publisistiese media onder oëe geneem is, maar nie in die formaat van ‘n spanningroman nie.

Stories oor spioene trek maklik die aandag van die leserpubliek, juis omdat daar so min oor die onderwerp geskryf word. Na sy studiejare het die skrywer die geleentheid gekry om in die navorsingstruktuur van die RSA se siviele intelligensiedienste te werk, vanwaar hy in aanraking gekom het en eerstehandse inligting ingewin het oor die geheimsinnige doen en late van spioene. Daarom is Plundering Ontbloot so interessant.

Die verhaal van Ruan Terblanche, ‘n vermalige lid van die Nasionale Intelligensiediens is boeiend omdat die onderwerpe waarmee hy hom deur die loop van die boek besig hou, spioenasie, die insameling van intelligensie-inligting en die aktualiteit van staatskaping in Suid-Afrika is. Die verloop van Ruan Terblance se verhaal as navorser by die Instituut vir Navorsing is een waarin die leser se sin van avontuur, sowel as die nie-fiktiewe belangstelling in staatskaping en intelligensiekunde bevredig word.

Die skrywer Fanie Cronje is ‘n voormalige lid van Suid-Afrika se siviele intelligensiediens. Hy wend sy kennis en ondervinding in die intelligensiebedryf slim aan om ‘n spanningslyn rondom die boek se sentrale temas van ekonomiese terreur en staatskaping te skep. In menige spanningsroman vind lesers ‘n verweefdheid tussen ‘n hoof- en ondergeskikte tema of temas. Hoewel laasgenoemde per definisie ondergeskik aan die hooftema bly, vorm dit dikwels ‘n drama in eie reg. Om hierdie rede slaag Fanie Cronje se boek op uitnemende wyse of die geheime van die spioenasiewêreld vir sy lesers bloot te lê. Daar is nie enige groot besware oor die afronding van die teks nie en die hoofstukke lees maklik. Hierdie boek sal belangstelling by die leserspubliek wek en dalk ’n vroom student iewers oortuig om verdere navorsing te doen oor die hoofstuk wat hom of haar beïndruk het. Die boek dra by tot eindelose gesprekke oor die geskiedenis van Suid-Afrikaanse spioene en Cronje slaag uitnemend daarin om die vreemde taal wat spioene praat, in sy teks en storielyn te verweef.

Ek het die boek terdeë geniet, en beveel sterk aan dat enige lesers wat in misdaad en spioenasie (of ‘n mengsel daarvan) belangstel, onmiddellik ‘n kopie van hierdie uitmuntende spanningsverhaal by Naledi-aanlyn aankoop.

  • Henning van Aswegen, Redakteur Nongqai

* Die skrywer, Fanie Cronje, deesdae ‘n sakeman en deeltydse omroeper by Netradiosa, was vir vyftien jaar werksaam by die Nasionale Intelligensiediens.

https://naledi.co.za/product/plundering-ontbloot/

*