SPESIALE UITGAWE

Viering van Erfenisdag

Fort Schanskop, Pro Patria Museum

Voortrekker Monument, Pretoria

26 September 2026

Kopiereg

Kopiereg van die titel, teks, tabelle, kaarte, foto’s en geskandeerde voorwerpe bly die eiendom van die Bestuur van die Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie Erfeniskommittee.

Alle regte word voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, in ‘n herwinbare sisteem gestoor, of in enige vorm of op enige wyse gekommunikeer word, hetsy elektronies, meganies, deur middel van fotokopieë, opname of andersins, sonder die voorafverkrewe skriftelike goedkeuring van die kopiereg-eienaar nie.

Voorwoord

Deur

Johan F Lotriet: OOB

1. SA SPOORWEGPOLISIE VIER SY ERFENIS EN NALATENSKAP

Die SA Spoorwegpolisie het op Saterdag 26 September 2026 ’n besonder suksesvolle Erfenisdag by Fort Schanskop se Pro Patria Museum, by die Voortrekkermonument in Pretoria, aangebied. Ongeveer 70 eregaste, veterane, familielede en vriende het die verrigtinge bygewoon.

Hierdie jaarlikse geleentheid het oor die jare tot ’n betekenisvolle instelling ontwikkel waartydens die trotse nalatenskap van die Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie gehuldig, bewaar en aan toekomstige geslagte oorgedra word.

Erfenisdag bied aan veterane die geleentheid om nie alleen terug te kyk na die uitdagings, opofferings, kameraadskap en prestasies van hul dienstyd nie, maar ook om erkenning te gee aan die blywende historiese bydrae van die SA Spoorwegpolisie.

Die program het ’n waardige en seremoniële karakter aangeneem. ’n Gedenklesing deur André Olivier het gefokus op die ontstaan van die SA Spoorwegpolisie en die latere amalgamasie met die Suid-Afrikaanse Polisie. Johan Lotriet het vervolgens oor die historiese nalatenskap en erfenis van die Mag besin.

Een van die hoogtepunte van die verrigtinge was die simboliese aansteek van die Vlam van Herinneringe. Hierdie aangrypende handeling dien as ’n blywende herinnering aan diegene wat ons voorafgegaan het en wie se diens, opoffering, lojaliteit en toewyding steeds deel vorm van ons gedeelde geskiedenis.

Veterane en gaste het daarna die geleentheid gehad om die SA Spoorwegpolisie Museum te besoek. Die museum het sedert die vorige Erfenisdag merkwaardige ontwikkeling ondergaan, met talle verbeterings, nuwe uitstallings en historiese items wat tot die versameling toegevoeg is. Dit ontwikkel toenemend tot ’n waardige bewaarplek vir die geskiedenis, tradisies en nalatenskap van die SA Spoorwegpolisie.

Die formele verrigtinge is afgesluit met ’n gesellige aansitgeleentheid waar oud-kollegas en vriende weer bande kon verstewig, herinneringe kon herleef en die stories en staaltjies wat deel vorm van die unieke karakter van die Spoorwegpolisie met mekaar kon deel.

Bo alles het die dag weer beklemtoon waarom hierdie jaarlikse Erfenisdag so belangrik geword het: om te onthou, om te vereer en om te verseker dat die nalatenskap van die Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie vir toekomstige geslagte behoue bly.

Die uniforms mag stil geraak het, maar die kameraadskap, herinneringe en nalatenskap leef voort.

2. Die ontstaan en ontwikkeling van die SA Spoorwegpolisie se Erfenisdag

Die ontstaan van die SA Spoorwegpolisie se Erfenisdag was nie die gevolg van ’n enkele gebeurtenis of besluit nie. Dit was eerder die resultaat van ’n reis wat oor etlike jare ontwikkel het, gedryf deur ’n groeiende besef dat die geskiedenis, opofferings, tradisies en kameraadskap van die SA Spoorwegpolisie doelgerig bewaar behoort te word.

Die eerste betekenisvolle tree op hierdie pad kan na ongeveer 2012–2013 teruggevoer word.

Wyle Brigadier Ronnie Beyl het destyds met Generaal Opperman onderhandel om erkenning te bewerkstellig vir vier SA Spoorwegpolisie-veterane wat gedurende amptelike diens aan die grens gesterf het. Hulle name is daarna op die Muur van Herinnering aangebring en word tot vandag toe jaarliks tydens die Dag van Herinnering met ’n kranslegging gehuldig.

Hierdie gebeurtenis sou later veel groter betekenis aanneem. Dit het opnuut beklemtoon dat die geskiedenis van die SA Spoorwegpolisie nie bloot uit uniforms, kentekens, dokumente en foto’s bestaan nie. Dit is in die eerste plek die geskiedenis van mense, van diens, opoffering, kameraadskap en herinneringe.

2.1. ’n Nuwe hoofstuk begin

Gedurende 2023 is die SA Spoorwegpolisie genooi om tydens ’n Magtedag ’n uitstalling aan te bied.

Fanie Booysen, Barnie van der Walt en Manie Fourie het ’n besonder suksesvolle uitstalling saamgestel, terwyl André Olivier ’n gedenkboodskap oor die geskiedenis van die SA Spoorwegpolisie gelewer het.

Die belangstelling en positiewe reaksie op die uitstalling het ’n belangrike waarheid bevestig: daar bestaan steeds ’n besondere belangstelling in die geskiedenis van die SA Spoorwegpolisie en ’n behoefte om hierdie erfenis vir toekomstige geslagte te bewaar.

Wat as ’n tydelike uitstalling begin het, het daarmee die grondslag gelê vir iets veel groter.

2.2. Van ’n uitstalling na ’n permanente tuiste

Ongeveer 18 maande gelede het die bestuur van die Pro Patria Museum vir Fanie Booysen genader met die voorstel dat die SA Spoorwegpolisie dit behoort te oorweeg om ’n permanente uitstalling daar te vestig.

Kort daarna het Fanie Booysen, Riaan Stander en Manie Fourie saam met Johan Lotriet op sy stoep vergader om die moontlikheid en die pad vorentoe te bespreek.

Dit was ’n eenvoudige vergadering, maar uit daardie gesprek het ’n erfenisprojek begin vorm aanneem wat uiteindelik veel groter sou word as wat aanvanklik voorsien is.

Generaal Nico O’Kelly en Brigadier Sam Kilian is daarna by die proses betrek en ’n reëlingskomitee is onder Johan Lotriet se voorsitterskap saamgestel, bestaande uit Generaal O’Kelly, Brigadier Kilian, Fanie Booysen en Manie Fourie.

Met die ondersteuning en leiding van die Hoof Uitvoerende Beampte van die Pro Patria Museum, Kolonel Louis Buys, is ’n geskikte ruimte beskikbaar gestel waarin die SA Spoorwegpolisie-uitstalling gevestig kon word. Sy ondersteuning en betrokkenheid het ’n waardevolle bydrae tot die verdere ontwikkeling van die projek gelewer.

2.3. Die geboorte van ’n jaarlikse Erfenisdag

Die komitee het vervolgens 6 Desember 2025 bepaal as die datum waarop die SA Spoorwegpolisie se Erfenisdag en uitstalling amptelik bekendgestel sou word.

Ongeveer 150 persone het die geleentheid bygewoon.

Maar die betekenis daarvan het veel verder as net die bekendstelling van ’n uitstalling gestrek. Daar is besluit dat Erfenisdag voortaan ’n jaarlikse instelling sou wees, toegewy aan die bewaring, herdenking en uitbouing van die geskiedenis, tradisies en nalatenskap van die SA Spoorwegpolisie.

Dit was die oomblik waarop ’n idee in ’n erfenisroeping begin verander het.

2.4. Waar staan ons vandag?

Sedert die aanvanklike bekendstelling het die uitstalling na ’n permanente ruimte onder die Kroonsaal verskuif.

Die projek is egter nog lank nie voltooi nie. Dit moet eerder beskou word as ’n lewende erfenisprojek wat voortdurend uitgebrei en verbeter sal word namate uniforms, kentekens, dokumente, foto’s, memorabilia en persoonlike verhale beskikbaar gestel word.

Die visie strek egter verder as ’n uitstalling.

Die uiteindelike doel is die totstandkoming van ’n permanente museum vir die erfenis van die SA Spoorwegpolisie.

’n Museum waar ons geskiedenis nie net bewaar word nie, maar vertel, verstaan en beleef kan word.

’n Plek waar toekomstige geslagte die uniforms kan sien, die kentekens kan bestudeer, deur foto’s en dokumente ons geskiedenis kan ontdek en, belangriker nog, die verhale van die mense agter daardie geskiedenis kan leer ken.

Hulle moet daar kan verstaan wat diens, kameraadskap, opoffering, lojaliteit en trots vir geslagte lede van die SA Spoorwegpolisie beteken het.

Want die grootste verantwoordelikheid wat vandag op ons rus, is nie bloot om ons geskiedenis te onthou nie.

Dit is om dit so te bewaar dat dit steeds vertel kan word wanneer ons nie meer daar is om dit self te vertel nie.

Dít is die oorsprong van ons Erfenisdag.
Dít is waarom ons jaarliks bymekaarkom.
En dít is die nalatenskap wat ons aan die geslagte ná ons wil nalaat.

3. REËLINGSKOMITEE

Om die erfenisprojek verder te ontwikkel, is ’n Reëlingskomitee saamgestel onder voorsitterskap van Johan Lotriet, met Nico O’Kelly, Sam Kilian, Fanie Booysen en Manie Fourie as lede.

Die komitee het die verantwoordelikheid aanvaar om die Erfenisdag en die SA Spoorwegpolisie-erfenisuitstalling te vestig en verder uit te bou, asook om jaarliks die voorbereiding en aanbieding van Erfenisdag te koördineer.

Die reelingskommittee vir die seremonie bestaande uit vlnr:

Generaal-Majoor Nico O’Kelly; Manie Fourie, Fanie Booysen, Johan Lotriet en Brigadier Sam Kilian

3.1. Uitnodiging, program en voorbereiding

3.1.1 Agtergrond en Doel van die Geleentheid

Die SA Spoorwegpolisie Erfenisdag, gehou op 26 September 2026 by Fort Schanskop, Pro Patria Museum, het ten doel gehad om die SA Spoorwegpolisie se nalatenskap te herstel, te vereer en amptelik te integreer in die militêre erfenisruimte saam met ander gewapende dienste. Die dag het ook die formele loods van die nuwe SA Spoorwegpolisie-uitstalling ingesluit.

3.1.2. Uitnodiging: Reikwydte en Benadering

3.1.3. Teikengroepe

Uitnodigings is gerig aan:

• Voormalige lede van die SA Spoorwegpolisie

• Verteenwoordigers van die SA Weermag

• Pro Patria-komitee

• Families van gevalle lede

• Gaste van die Voortrekker Monument en Pro Patria Museum

3.1.4 Kommunikasiekanale

• Formele e-posuitnodigings

• WhatsApp-kennisgewings aan groepe en individue

• Telefoniese opvolg vir eregaste

• Sosiale media aankondigings binne veterane-gemeenskappe

3.1.5. Sleutelelemente in die Uitnodiging

• Doel van die Erfenisdag

• Datum, tyd en plek

• Kleredrag (formeel / veterane drag / eenheidsdrag waar toepaslik)

• Programopsomming

• RSVP-prosedure

• Parkeer- en toegangsinligting

3.2. Program vir die Dag

 

3.3. Amptelike Opening

3.3.1 Welkomwoord deur die seremoniemeester Fanie Booysen

Welkomwoord deur die seremoniemeester Fanie Booysen

3.3.2. Verwelkoming deur Generaal-Majoor Nico O’ Kelly

Generaal-Majoor Nico O’Kelly – Verwelkoming

3.3.3. Open met skriflesing en gebed deur Pastoor Marius Swart

Pastoor Marius Swart wat die skriflesing en gebed hanteer het

4. Toesprake

4.1. Beskermheer, Andre Olivier oor die ontstaan van die SA Spoorwegpolisie tot amalgamasie met die SA Polisiediens.

Beskermheer : Andre Olivier

4.2. Voorsitter, Johan Lotriet oor die historiese nalatenskap en erfenis.

Voorsitter, Johan Lotriet

Die oorsprong van die SA Spoorwegpolisie se Erfenisdag kan teruggevoer word na ongeveer 2012–2013, toe wyle Brigadier Ronnie Beyl met Generaal Opperman onderhandel het om erkenning te verkry vir vier SA Spoorwegpolisie-veterane wat tydens amptelike diens aan die grens gesterf het. Hulle name is daarna op die Muur van Herinnering aangebring en word sedertdien tydens die jaarlikse Dag van Herinnering met ’n kranslegging gehuldig.

Hierdie gebeurtenis het ’n belangrike beginsel gevestig: dat die diens, opofferings en geskiedenis van die SA Spoorwegpolisie en sy lede nie toegelaat mag word om met verloop van tyd verlore te gaan nie.

’n Verdere belangrike stap het in 2023 gevolg toe die SA Spoorwegpolisie genooi is om tydens ’n Magtedag ’n uitstalling aan te bied. Fanie Booysen, Barnie van der Walt en Manie Fourie het die uitstalling aangebied, terwyl Andre Olivier ’n gedenkboodskap oor die geskiedenis van die Mag gelewer het. Die belangstelling en positiewe reaksie wat daarop gevolg het, het die behoefte bevestig aan ’n meer permanente wyse waarop hierdie geskiedenis bewaar en aan toekomstige geslagte oorgedra kon word.

Die gedagte aan ’n permanente SA Spoorwegpolisie-uitstalling het daarna momentum gekry toe die bestuur van die Pro Patria Museum vir Fanie Booysen genader het met die voorstel dat so ’n uitstalling gevestig word. Uit daaropvolgende gesprekke tussen Fanie Booysen, Riaan Stander, Manie Fourie en Johan Lotriet het die projek verder ontwikkel.

Generaal Nico O’Kelly en Brigadier Sam Kilian is vervolgens betrek en ’n reëlingskomitee is onder Johan Lotriet se voorsitterskap saamgestel. Met die ondersteuning van Kolonel Louis Buys, Hoof Uitvoerende Beampte van die Pro Patria Museum, is ’n geskikte area vir die uitstalling beskikbaar gestel.

Die proses het uiteindelik gelei tot die besluit om 6 Desember 2025 as die datum vir die amptelike loodsing van die SA Spoorwegpolisie Erfenisdag en die permanente uitstalling te bepaal. Terselfdertyd is besluit dat Erfenisdag voortaan jaarliks gevier sou word.

Die doel daarvan is veel groter as die bewaring van uniforms, kentekens, foto’s, dokumente en memorabilia. Dit gaan oor die bewaring van herinneringe, geskiedenis en die nalatenskap van die mense wat in die SA Spoorwegpolisie gedien het.

Erfenisdag verteenwoordig daarom vandag ’n verbintenis om die Mag se geskiedenis, tradisies, kameraadskap, diens en opofferings vir toekomstige geslagte te bewaar. Die permanente uitstalling vorm ’n belangrike deel daarvan, maar die uiteindelike visie is die totstandkoming van ’n volwaardige SA Spoorwegpolisie-museum.

Die kern van Erfenisdag kan dus eenvoudig saamgevat word:

Ons bewaar nie bloot voorwerpe nie. Ons bewaar herinneringe, ons bewaar geskiedenis, ons bewaar die nalatenskap van ons kamerade, en ons bewaar die erfenis van die SA Spoorwegpolisie.

5. Oorhandiging van Wyne

• Erkenning aan individue vir hul diens, bydraes en ondersteuning

• Fotomomente met ontvangers

Vlnr: Louis Buys en Johan Lotriet

Vlnr: Johan Lotriet en Andre Olivier

Vlnr: Marius Swart en Johan Lotriet

Vlnr: Barnie vd Walt en Johan Lotriet

6. Bedankings

Hermanus de Beer het die bedankings behartig.

Hermanus de Beer

7. Simboliese Seremonie : Aansteek van die Vlam van Herinneringe

• Voorlees oor die belofte van bewaring

•

 Aansteek van die Vlam van Herinneringe

Johan Lotriet lees die belofte voor

Fanie Booysen steek die Vlam van Herinneringe aan, wat jaarliks herhaal sal word

8. Museumvoorlegging

• Formele bekendstelling van die nuwe uitstalling

• Rondleiding deur die komiteelede

Voorkant en ingang van die Museum

Hoofde/Kommissarisse van die SA Spoorwegpolisie

'n Foto wat teks, koerant, skermskoot, buite bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Bord wat Grensdiens uitbeeld

Bord wat die geskiedenis van die Spesiale Taakmag uitbeeld

Bord wat die ontstaan en geskiedenis van die Spoorwegkollege uitbeeld

9. Groepsfoto

• Buite die museum by die trappe

Groepsfoto buite die Museum

10. Afsluitende Ete

• Ligte maaltyd en verversings

11. Algemene foto’s van die verrigtinge en bywoning