Nongqai Vol 17 No 6 – Soweto Onluste 16 Junie 1976

Abstract

This document provides a first-hand account of a South African Police constable who was deployed during the Soweto Uprising of 16 June 1976. The narrative describes his sudden mobilization, deployment to Soweto, and involvement in controlling widespread unrest alongside a police reaction unit and Special Task Force members. It highlights the chaotic and violent conditions encountered, including protests, looting, arson, and the use of force against demonstrators. The account also reflects on the physical and psychological hardships experienced by police personnel, such as lack of sleep, food shortages, extreme cold, and prolonged exposure to violence. Additionally, the document offers personal observations on the nature of the protests, the escalation into unrest, and subsequent deployments to other regions. Overall, it presents a subjective perspective on a significant historical event in South Africa, emphasizing operational challenges and the human experience of law enforcement during civil unrest.

Keywords

Soweto Uprising,

June 16, 1976,

South Africa,

Civil unrest,

Police perspective,

Riot control,

Law enforcement experience,

Social conflict,

Historical narrative,

HBH

————

SOWETO ONLUSTE 16 JUNIE 1976

Kol Johan van Rooyen

Ek was ‘n 21-jarige konstabel gestasioneer te Kameeldrift, noord van Pretoria. In die ou distrik 23, Pretoria-Noord.

Pretoria-Noord het op daardie stadium ‘n soort van reaksiespan gehad wat bestaan het uit lede afkomstig van al die stasies in die Pretoria-Noord-distrik.

Ons het op ‘n gereelde basis by die Distrikskommandant-kantore aangemeld vir oefeninge wat onder andere skyfskiet-oefening ingesluit het.

Wanneer ek met rusdae was het ek na my ouers se plaas in die Tweedragth area ongeveer halfpad tussen Pretoria en Bronkhorstspruit gegaan.

Op 16 Junie 1976 sou ek die middag om 14:00 by Kameeldrift aanmeld vir middagskof.

Kaptein Gustav Dey

Ek was so ongeveer 13:00 by die stasie waarop my stasiebevelvoerder destyds luitenant Gustav Dey my meegedeel het dat ek onmiddellik by Pretoria-Noord-distrik moet aanmeld. Geen verder inligting was verskaf nie.

Ek was geklee in wintersuniform (Tuniek) en uitgereik met ’n P38-pistool met 8 rondtes en ’n R1 met geen rondtes.

Met my aankoms by Pretoria-Noord het ek die ander lede van die reaksiegroep daar aangetref. Ek was een van die swaarvoetuigbestuurders in die groep en ons is meegedeel dat ons na die Polisiekollege geneem gaan word waar ons elkeen ’n Hippo sal ontvang wat ons na Orlando Polisiestasie in Soweto moet neem, wat ons toe in ’n konvooi gedoen het.

Hippo – Foto – bo en onder – Lt-kol William Marshal (SANW)

Met ons aankoms Soweto was dit Babelse verwarring waarvan ek die detail nie kan onthou nie. Op n stadium het ’n Majoor my genader en meegedeel dat hy en sy lede verbonde aan die Spesiale Taakmag saam met my in my Hippo ontplooi gaan word.

Ons het toe begin om die strate van die woongebied te patrolleer. Telkens moes ek stilhou wanneer ons groepe betogers opmerk, die taakmagmanne het dan uit die voertuig gespring en die groepe uitmekaar gedryf hetsy met traangas of skerppunt ammunisie. Ek het slegs my P38 met 8 rondtes en ‘n R1 met geen ammo by my gehad en moes agterbly om die voertuig op te pas. Na die tweede dag het die majoor van die Taakmag vir my 20, R1 rondtes gegee.

Orals was brandende geboue. Winkels en drankwinkels was deur die betogers geteiken en was geplunder en aan die brand gesteek. Oral kon jy geweervuur hoor tesame met die ritmiese dreunsang van die betogers wat in groepe in die strate gehardloop het. Daar was polisievoertuie wat lyke opgetel en sou ek later uitvind na die buitewyke van die woongebied afvoer waar hulle die lyke in lykswaens gelaai het.

Verskeie oorledenes het brandwonde opgedoen nadat hulle in die dakke van winkels deur elektriese krag doodgeskok was.

Die eerste nag het die samedromming, dreunsang en geweervuur nooit opgehou nie ons het ook nooit geslaap nie. Daar was geen slaapgeriewe of voorsiening gemaak vir kos nie. Ek het vir die hele 7 dae wat ek daar was in my Hippo op die knopperige sitplekke onder ‘n koerant geslaap, vir kos het ons maar geïmproviseer en sommer blikkies kos by spaza/tuck shops gevat en die blikkies op die sypaadjies oopgeskuur. Lede van die publiek het toebroodjies aangery wat die polisiemanne dan buite die woongebied gaan haal het maar dit was opgeëet voordat ek en meeste ander enige van dit gesien het.

Dit was bitter koud. Orlando-polisiestasie het ‘n hout SAP-13 stoor gehad wat die lede stelselmatig afgebreek en vuur gemaak het totdat net die dak oorgebly het.

Van ons was na 7 dae meegedeel dat ons afgelos gaan word , dieselfde dag was daar tente afgelewer en opgeslaan en rantsoen pakke uitgedeel. (“To little to late”.) Ek kon nie wag om by ‘n stort en skoon klere uit te kom nie. My oorlede ma het my uniform sommer in die asblik gegooi.

Al die lykhuise by die polisiestasies in Johannesburg en omgewing asook hospitale was vol en die lyke is daarna op ‘n hoop op die polisieperseel afgelaai. Dit is later na ‘n sel verskuif.

Na voorvalle waar die polisie en betogers/plunderaars slaags geraak het was die gewondes en of dooies deur hulle self verwyder. As daar agterna weer daar gepatrolleer was het hulle die dooies op die sypaadjies uitgedra

Tydens ‘n paar patrollies het die betogers die paaie met klippe en ander voorwerpe versper en moes ek noodgedwonge deur die veld om dit ry. Die betogers het probeer om die Hippo wat stadiger beweeg om te gooi waarop die majoor vir my geskreeu het: “Ry deur hulle anders is ons almal dood”.

Meeste van die betogers/plunderaars was ook smoordronk gewees.

Wat my betref het slegs die aanvanklike protes die dag van die 16de Junie gegaan oor die Afrikaans in skole, die res van die onluste was kriminele wat geplunder het.

Destydse Bantoe-sake administrasie het reuse voorraadstore gehad met boumateriaal ens, hulle was aanhoudend geplunder totdat daar niks oor was nie.

Ek was teenwoordig waar ‘n ma die polisie bedank het dat hulle haar seun geskiet het want volgens haar kon sy hom glad nie beheer nie.

Fort Beaufort

Ek was ook later die basisbevelvoerder op Fort Beaufort. Dit was verstommend om te sien hoe klein kindertjies wat skaars ’n klip kan optel klippe na die polisievoertuie gooi as daar patrollie gery word. Ons het hulle sommer met sambokke bietjie maniere geleer.

Vrystaat

Op Theunissen en Sasolburg het ek die onluste hanteer met slegs ‘n sambok. Ek het wel ‘backup’ gehad met lede wat gewapen was sou iets verkeerd loop. Van my swartlede het my op ’n tyd gewaarsku dat hulle gehoor het die betogers wil my met ’n mes steek en dan in die ‘mop’ in verdwyn as ek besig is om met hulle te onderhandel. Hulle het toe ‘n linie agter my gevorm en my rug beskerm. Ek het dit baie waardeer en dit het nooit gebeur nie.

Een lid op Theunissen wie se huis tydens onluste afgebrand is kontak my nog gereeld om te hoor hoe dit gaan.

Sersant Johan van Rooyen op Maleoskop