Genl LG Snyman – Nongqai Vol 17 No 6
1964: DIE DAG TOE MAJOOR SNYMAN MY “VUIL” GEWEER GEÏNSPEKTEER HET
Hennie Heymans

Hennie Heymans
Op 12 Januarie 1964 klim ek op die trein na Pretoria – dit was die spogtrein, die Trans-Natal. Ek is ‘n ‘applikant’ en 17-jaar oud en ry tweedeklas.
Ek is saam met ‘n veteraan van die tweede wêreldoorlog in die kompartement. Ek het my rooi sy das en swart katkisasie pak aan. Ek dink aan James Bond en aan Patrys-speurders en ek wonder wat vir my voorlê. Die veteraan vertel van die oorlog en na al die jare kan ek nog een van sy stories onthou.
Nietemin ons kom in Pretoria aan en ‘n lang netjiese sersant keer my voor: “Goeie more meneer kom u polisiekollege toe?” Hy is so netjies, hy lyk soos ‘n reus en hy is vriendelik. “Kom saam”, gebied hy my en sit my agter in ‘n opruktrok. Daar is so twee of drie ander manne. Ons is maar almal oorbluf. Later kom nog ‘n paar manne en daar ry ons!
Ek onthou die pad verby die slagpale en die ou Western Hotel en uiteindelik kom ons in die kollege aan. Ons klim voor die dienskamer uit die opruktrok en word vermaan om versigtig uit te klim!
Iewers is ‘n skroef los – die manne op my pa se stasie het my gewaarsku die polisie-kollege is nie ‘n plek vir bang mense nie en die opleiding is erg. Ek het juis baie fiks in die kollege aangekom. Donald Campbell en ek het van Durban na Pietermaritzburg gestap om te kyk of ek “tough” genoeg vir die polisie sou wees? Die Sunday Times het die opleiding in die polisiekollege as “the toughest in the world” beskryf.


Na ons ingesweer is het alle hel losgebars! Ons moes net hardloop – veral op die paradegrond moes jy hol – geen gedrentel nie. Ons is in tydelike troepe ingedeel en kampdiens verrig – “stompies gearresteer”.
En het toe het ek uit keuse in die beredetroep geland en later 18-jaar oud geword. In die beredetroep het ek manne van staal ontmoet – of dat ek liewer sê, ek het onder hulle hande (en stem) deurgeloop. Hulle was: majoor LG Snyman, MBE, sersante Otto, DCM, – ons kompanie sersant-majoor, sers H Tulleken ons troepsersant – troep 7 (berede) en sers Johnnie Coetzee die troepsersant van troep 15 (berede).
Hulle was kwaai manne maar ek het dadelik van hulle gehou! My intieme kennismaking met majoor Snyman het na ons eerste inspeksie plaasgevind: My 303 was in polisietaal: “vuil”! My geweer was so skoon hy kon in ‘n chirurgiese saal geplaas word – maar majoor Snyman sê die geweer is “vuil” en as hy sê “dis vuil” dan moet dit so wees.
“Rapporteer more-oggend 07:00 voor die dienskamer met ‘n skoon geweer”. Die volgende oggend is ek daar op die stoep. Die majoor inspekteer my geweer en gooi dit terug in my arms en hy tik my voor die bors dat ek amper op my rug val – maar ek is “tough” en weeg 150-pond.
“Majoor waar is die geweer vuil?”
“Kyk hier” en hy wys twee klein koper ringetjies op die houtbrug van die geweer! Dis toe met politoer en ek moet ‘n vuurhoutjie en Brasso gebruik om dit skoon en blink te maak! Les geleer tot vandag toe! Die standaard is hoog en jy moet wakker loop.
So eet omtrent ‘n duisend manne en majoor Snyman besoek die menasie. Soos die gewoonte was word daar hard duidelik “aandag” geskree en ons hou op eet en sit gestrek op aandag. Dis majoor Snyman met sy bekende offisiersstokkie onder die arm en ‘n brakkie wat ons besoek.
“Is daar klagtes oor die kos” bulder die majoor in ‘n harde duidelike stem soos die strafproseswet vereis. Niemand roer nie! Niemand sê iets nie. Iemand se ma het seker gekla klein Jannie se kos is nie lekker nie! Geen klaer kon gevind word nie.
Ek kan sien hoe die majoor na die dienskamer stap en ‘n voorvalleboekinskrywing maak: Menasie besoek: Geen klagtes oor die kos – geteken LG Snyman, Majoor, MBE.
Die majoor en sy manne was soos Griekse of Spartaanse Gode – regte ysters. Hulle het ons goed opgevoed.
Later jare het ek offisier geword en majoor Snyman weer ontmoet by gesellighede toe hy brigadier was en hy het die mag verlaat met die rang van generaal-majoor.
Hy was een van die mees onvergeetlikste karakters – in ‘n positiewe sin – wat ooit my pad gekruis het – hy was fier en vol elan! Deur sy swaer, Oom Claude Balfour Sterley, het ek met genl Snyman se seun kennis gemaak – genl Snyman was toe al oorlede. Ek het genl Snyman se dokumente en foto’s afgetas – ook die generaal se oorlogsalbums.
Die generaal se seun het onlangs weer ‘n klompie dokumente en foto’s gestuur. Nadat ek dit ook afgetas het, het ek dit vir die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument geskenk om vir die nageslag te bewaar.
Ek deel met u ‘n klompie foto’s dat u kan sien – hierdie man, was ‘n man van staal en enig in die wêreld! Ek deel graag ’n paar foto’s met u — want hierdie man was werklik ’n man van staal, en daar was net één van sy soort in die wêreld.
Majoor LG Snyman, kol D Maritz, dr HF Verwoerd en lt-genl J Keevy. Dis die majoor wat ons as student-konstabels in 1964 ontmoet het…..
‘n Paar foto’s om die lewe van genl LG Snyman, MBE, uit te beeld:

Voor: Sers Bokkie Breedt. hoofkonstabel Snyman en sers Otto

Sers-majoor van 1SAP




“Smartest Man”


Adv CR Swart toenmalige minister van justisie

Goeweneur-generaal dr EG Jansen
Staatspresident CR Swart – sers Johnnie Coetzee op die perd – heel regs.

Op Fleur

Met staatspresident Jim Fouche

By Nugget – let op sy unieke offisiersstokkie met handvatsel.

Met Kavalier


Met nog ‘n legende, Oom Fred Geldenhuis …… Oom Fred was RSM van 2SAP tydens die oorlog in die Noorde. Oom Fred het die MM verwerf en ook die “Italy Star” is aan hom toegeken. (Ons het al volledig oor oom Fred geskryf.)

