Regiment Oranje Rivier (ROR)
Gedenkwoord deur ROR se ere-kolonel, kol AP Stemmet
REGIMENT ORANJE RIVIER
Gedenkwoord deur kol AP Stemmet

Kol AP Stemmet en mev Petro Stemmet
Interessante berigte in Die Burger oor gebeure van vyftig jaar gelede herinner ons aan die oorlog wat destyds in Angola gewoed het. Ook elders in die media kry dit weer aandag. Vir ons wat daar was, roer dit seer herinneringe aan makkers wat gesneuwel het, en aan dié wat gewond is—herinneringe wat nooit heeltemal verdof nie.
Burgermag-regimente uit Kaapstad is destyds opgeroep, onder andere die Regiment Oranjerivier (ROR), wat in Desember 1975 gemobiliseer is. In Januarie 1976 het ons die grens oorgesteek en ons eerste verlies gely: ’n jong man van Kaapstad, ’n eggenoot en vader van twee klein kindertjies. Sy opoffering bly ’n wond en ’n erfenis.
Hoewel ROR nie meer bestaan nie, het veterane van die regiment en ander eenhede op Sondag 11 Januarie 2026 die oorsteek van die grens en daardie eerste verlies herdenk. In ’n waardige en diep emosionele seremonie is hulde gebring aan hom, en aan almal wat later in Angola en op die grens gesneuwel het tydens die regiment se optredes.
By die gasvrye NG Kerk in Melkbosstrand is daar jare gelede ’n gedenkplaatjie vir ROR se gesneuweldes aangebring. Die gemeente het ons op 11 Januarie 2026 weer hartlik ontvang—eers in hul erediens, en daarna by die gedenkmuur vir ons seremonie. Hulle opregte ondersteuning en gasvryheid verdien ons innige dank.
Wat egter seer maak, is dat die media—radio, televisie en koerante—hierdie seremonie heeltemal geïgnoreer het, ondanks die feit dat hulle vooraf in kennis gestel is. Dit steek. Eina.
