SOUTH AFRICAN POLICE: PRESENTATION PARADE: JULY 4, 1964
SA POLISIE: VOORSTELLINGSPARADE: 4 JULIE 1964
Brig HB Heymans (Afgetree)
My voorstellingsparade het op 4 Julie 1964 in die SA Polisie-kollege in Pretoria-Wes plaasgevind. Dit is 61-jaar gelede!
Hier is ons troepfoto:
Ons was maar blote kinders, pas uit die skool, die SAP-kollege het ons omgebou tot manne! Ons is opgelei deur die beste instrukteurs in die wêreld! Hulle het ons durf, dissipline en deursettingsvermoë geleer!
Net voor ons uitpasseer het ons, ons aanstellingsertifikate ontvang. Hier is ‘n afdruk van myne:
Die voorstellingsparade op 4 Julie 1964 in die SA P-kollege Pretoria-Wes.
Van links na regs: Lt-genl JM Keevy, senator AE Trollop, adv BJ Vorster, kol DJ “Daantjie” Maritz en konst AL Collins. Hy was die beste student van die eerste semester en word hier beloon.
Ds AJN van Heerden was ons predikant in Durban-Suid. As kind was ek baie lief vir die dominee gewees.
Op die 4 Julie 1964 het ons uitpasseer toe was daar baie BBP’s – senator AE Trollop was die funksionaris, ons minister was adv. BJ Vorster, genl John Keevy en kol ‘Daantjie’ Maritz op die podium. Ek kan nie onthou wie die kapelaan was nie. Hy was nie op die podium nie – dit kon maj. (ds.) A J N van Heerden, ons eertydse predikant van NG Kerk Durban-Suid gewees het.
No 44033 Konst A L Collins van troep 8 was die beste student van die eerste semester. Hy is na wat ek verneem het na Suidwes-Afrika verplaas.
Dr Leon Wessels was ons troepleier – later is hy ons adjunk-minister.
My moeder, mev JW Heymans, en Donald Campbell[1] was teenwoordig. Donald was toe ‘n eerstejaar BVSc-student aan die universiteit van Pretoria. Sy pa, luitenant-kolonel RFJ Campbell, is later van die SA Polisie, Durban, bevorder en na veiligheidshoofkantoor, Pretoria, verplaas om weer na buitelandse sake as konsul-generaal en inligtingsman gesekondeer te word. Kol Campbell was toe ‘ons man’[2] in Taiwan. Donald Campbell het ‘n foto van my geneem op my perd, Turk. In al die jare wat hierop gevolg het, het ek nooit die foto te siene gekry nie. Donald Campbell het ‘n veearts geword en ons het altyd kontak gehou en c1995 is hy aan kanker gesterf.
Ons troepsersant is sers H Tulleken. Hier sit hy op Nugget
Ek sit op Turk, met my linkerhand hou ek die teuels vas en my .303 geweer. Met elke beweging van die perd se kop skiet die pyn deur my. Ek het ‘n karbonkel in my armholte. Gou het ek geleer – die polisie, soos Afrika, is nie vir sissies nie!
As luiaard kon ek darem op die perd se rug sit en die wêreld beskou. Gemaklik op die Universal-saal het ek na al die toesprake geluister. (Ek kan vandag nie ‘n woord onthou nie.) Ek hoef nie te marsjeer nie, maar dit was baie seer!
Twee redes het my na die berede afdeling laat gaan:
– een ek is baie lief vir perde,
– twee ek kon perdry en hoef dus nie te loop of looppas mars nie, maar kon ry waarheen die sersant ons wou hiet en gebied. Dit was lekker! Mens het trots gevoel op die bosluis-uniform.
(Tydens die De Witt-komitee gedurende die laat 1980’s is vir voorstelle gevra om die Mag te verbeter. Ek het vier voorstelle ingedien een waarvan die her-instelling van die berede-eenheid was. Later het genl Mike Bester my verwittig dat die herinstel van die berede afdeling goedgekeur is.)
Turk was 21 jaar oud en was glo deur mnr HF ‘Harry’ Oppenheimer aan die SA Polisie geskenk. Vir jare het ek sy een hoefyster bewaar, totdat dit weggeraak het. Ou Turk was ‘n ordentlike perd met goeie maniere!
Toe ons parade van ses troepe (pelotonne) klaar was het die ander lede wat in die kollege agtergebly het, vir ons gesing – Auld lang syne en Bly by my Heer. Dit was nogal aangrypend. Sulke dinge het die polisie die moeite werd gemaak! Ek het deel van ‘n groot organisasie gevoel.
BLY BY MY HEER, TERWYL DIE SKEMERDAAL.
LAAT STEEDS U LIG MY LEWENS-
PAD BESTRAAL. DAAR IS GEEN ANDER
HULP OF TROOS VIR MY –
HULP VAN DIE HULPELOSE BLY MY BY !
Lt-kol Bradley was in bevel van die orkes en sers “Ginger” Bain het die groot drom geslaan. Maj Snyman het in sy fors stem ‘n paar geskree: “Four beats on the Drum Sergeant Bain!”
Soos u gehoor het, majoor Snyman was ook daar. Hier is ‘n foto van hom geneem tydens ‘n ander parade. Hy het die MBE tydens die tweede wêreldoorlog ontvang. Ek glo selfs die Duitsers was vir hom bang!
Tydens my opleiding was my .303 “vuil” tydens ‘n inspeksie. Ek moes die volgende oggend voor die dienskamer aantree met die “vuil” geweer. Weer is die geweer “vuil”! Na inspeksie besorg hy rof die “vuil” geweer terug na my en hy tik my amper onderste bo met sy voorvinger. Ewe kordaat vra ek: “Majoor waar is die geweer vuil?” Toe wys hy my ….
Wanneer die Majoor diensoffisier was, was een van sy take om die menasie te besoek. Hy kom in met sy hondjie. Die menasie-sersant skree: “Aandag!” Majoor Snyman het so offisiersstokkie gedra met ‘n handvatsel. Hy “vra”: “IS DAAR KLAGTES OOR DIE KOS!!!?” Niemand sprak ‘n sprook. In my gedagte sien ek konstabel Abel steek sy hand op en verklaar die pampoen is nie lekker nie”. Niemand, maar niemand, sal dit waag nie!
Sersant AN “Kraai” Lesch was net vir die dag ‘n adjudant-offisier omdat hy die RSM was. Hier staan hy as luitenant-kolonel. Die befaamde AO NM Breedt was toe al afgetree en het offisiersrang beklee en was as tydelike lid in die kollege aangestel.
Johan Visagè – na al die jare is ons steeds vriende van Durban se dae! In Pretoria, na baie jare, het ons op dieselfde afdeling gewerk.
Na die parade het ons al ons vriende en gaste gesien en gegroet en toe ons goed ingepak. Ons trommels is op die trein gelaai. Ek en ses ander lede, waaronder Johan Visagè (no. 43607 van troep 12) is na Durban verplaas Sy bynaam was “Hamerkop”. My treinkaartjie van Pretoria na Jacobs in Durban het ek bewaar.
Ek was baie fiks gewees en het een les geleer: “ ‘n Pliesieman (sic) is nooit laat nie! Vyf minute voor die tyd is die regte tyd!” – dit het kol DJ (foto) Maritz gesê toe ons voor hom op 2 Julie 1964 uitpasseer het……. so onthou mens met dankbaarheid.
Gys Muller: Later Burgemeester van Durban
Oud-konstabel Gys Muller het saam met my Vader, sers AF Heymans, gewerk. Ek ken Oom Gys van kleintyd. Na my tuiskoms van die SA Polisie-kollege het Oom Gys my spesiaal kom gelukwens met my uitpasering en aanstelling as konstabel in die polisie. Ek het dit nooit vergeet nie! (“No act of kindness, how small, is ever wasted!”)
Later is ek distrikskommissaris te Welkom in die Oranje Vrystaat. Een aand word ek na ‘n skemerkelk van burgemeesters genooi en daar loop ek Oom Gys raak – toe is hy lid van die Nasionale Party en burgemeester van Durban. Ek sou dit nooit kon glo nie! Dis raar maar dis waar!!!
Dit was ‘n langpad van 1946 tot 1964…
Ek kon nie wag om skool klaar te maak nie. Ek moes wiskunde en wetenskap vir matriek slaag want ek ”moes” universiteit toe gaan volgens my Ouers maar ek wou eerder polisieman word!
Die lewe van 1964 tot datum: Genade en Dankbaarheid
Kyk ek terug is daar net twee woorde: genade van God en dankbaarheid teenoor my Skepper.
Die SA Polisie was goed vir my
Ek was twee maal op “vakansie” vir sowat ses weke te Maleoskop. Ook vir drie maande “vakansie” in Rhodesië en 10 dae te Simonstad by die SA Vloot.
Die BO van Peitou Polwar-kollege en sy gade, kol en mev Brian Adams die SAW-militêre attaché.
Vir bietjie meer as drie maande in die Verre-Ooste op ‘n politieke oorlogvoeringskursus. Daar het ek volksvreemde goed gesien en ‘n parade op militêre vliegveld bygewoon met duisende soldate wat marsjeer sodat die stof hoog staan. (Ek het rofweg uitgewerk daar was minstens 20 000 man). Ons het die garnisoen eiland Kinmen, baie naby aan die Volksrepubliek van China, besoek …
Ek het ook die VSA en verskeie lande besoek. As polisieman was ek deel van ‘n wêreldwye broederskap. Die IPA het my ‘n beurs gegee om nagraadse navorsing in Nederland te doen.
Hier is een van my SNASP-kollegas, mnr JW de Castro Lopo, van Mosambiek (Verwysing S1/Alg/1326)
As lid van die sekretariaat van die staatsveiligheidsraad (SSVR) het ek verskeie SA Weermag basisse besoek en daar oornag, kursusse en dies meer aldaar bygewoon. Ek het al die “vyandige” grense van die land gesien. Het vir ‘n kort parlementsitting in Tuynhuis gewerk en die Parlement van nader beskou. Ek het op hogere vergaderings gedien … Dit was vreeslik interessant …
Ek moet hierdie staaltjie vertel; so moet ek ‘n vergadering by “Onderwys en Opleiding” bywoon. Kom by ontvangs en meld by sekuriteit aan.
“Naam?”, vra die amptenaar.
‘n Onnutsige gier pak my beet: Ek staan stom.
“JA, NAAM?”, vra die amptenaar met bietjie ongeduld. Ek dog ek sal sy dag bietjie opkikker.
“Kolonel” sê ek.
“Ja – kolonel wie?” Hy skryf.
“Kolonel Yasser Arrafat”
“Van watter organisasie?”
Ernstig antwoord ek: “Van die PLO”.
“Dankie kolonel, hier is u toegangskaartjie!”
Op ‘n meer ernstige noot: God het my behoed en bewaar – ek was jonk, onervare en soms voortvarend! Dodelike bestanddele vir teëspoed! Vandag is ek baie dankbaar!! Party lede is op die stasie oorlede en ander op die grens – ek het drie vriende en een kennis op die grens verloor, almal van Durban. Een kollega is oorlede toe ‘n tweede kleefmyn ontplof terwyl hy aan die eerste gewerk het om dit onskadelik te stel.
Ek het interessante mense ontmoet soos Robert Kennedy – hy het formeel met ons drie SAP-lede hande geskud – en saam met prinse en ministers geëet en met stamhoofde tradisionele bier gedrink! Ek het baie mense gearresteer – party is moeg selle toe geneem – ook van my “eie mense” gearresteer – so ook lede van die AWB wat die wet verbreek het. Saam gewapende terroriste gearresteer… Interessante dinge beleef – interessante, bekende en berugte mense ontmoet. Lewe en dood gesien! Hartseer en blydskap!
Die lewe was ‘n fees! Soms so moeg gaan slaap dat ek vergeet het om te bid. Ja, in die maalstroom van die tyd, mens vergeet soms om te bid en mens vergeet van God, weens verskillende eise van die tyd, maar deur die genade vergeet Hy nooit vir ons nie!
As dit druk gegaan het, het genl Van der Merwe altyd gesê: “Die liewe Vader sal sorg!”
Die polisie was hard – baie van ons is moreel verwond. Ek het baie oor stres (PTSS) gedink en het tot die slotsom gekom dat net soos ‘n ander kollega in ‘n ongeluk gedood of beseer kan word net so kan mens geestelik verwond kan word … Dit is eintlik voor die hand liggend. Ons het nie sielkundiges geken nie – eerder brandewyn en Coke om te ontlaai! Om die kapelaan of sielkundige te sien het ‘n swart kol agter jou naam gelaat.
“He could not take pressure under fire!” is soms in ‘n lid van die SAP-brigade se legger aangeteken. Offisiere het nie die simptome van stres geken nie.
Een ou “klein sakie” uit my loopbaan – maar soos in elke geval, ‘n belangrike saak vir die klaer – is waar ek na ‘n toneel ontbied was, wat ‘n positiewe resultaat opgelewer het. Ongeveer 10:00 een oggend word ‘n huisbraak gerapporteer in Stablefort-weg… Ek lig my buurstasie in en ek en my kollega, sers John Senekal, daar op.
Die Bluff was bedek met digte bosse en begrens deur ‘n spoorlyn
“Die man is nou net hier af in die digte bosse na die treinspoor se kant …” Ons vat die pad en kom by die treinspoor. Daar was ‘n ploegbaas en sy span. Hulle lag en beduie dat die man wat ons soek is weer teen die bult op deur die bosse. Ons vat toe sy paadjie en ons kom weer in die beskawing en ‘n swartdame vertel hier is nou net ‘n man haastig op in die straat. Ons stap op in die staat en weer word vir ons vertel die man wat ons soek (wat ons nog nooit gesien het nie) is in die straat regs teen ‘n ander bult af – ons is op die Bluff en daar is meer as een bult.
Ons kom onder aan die voet van die bult en sien ‘n man wat goed dra loop in die vlei – hy is sowat ‘n kilometer voor ons. Ons stap aan en by ‘n ashoop sien ons die man gaan sit en trek ander klere aan. Ek kom naby hom en rig my wapen op hom en verklaar dat ek hom arresteer. Hy ontken “alles” maar ons moet toe die lang pad terugstap na die misdaadtoneel toe word die gesteelde goed geïdentifiseer – nog ‘n saak waar die boeie suksesvol toegeknip was.
Die polisie het my verstom
Gewone alledaagse polisiewerk is nie “rocket science” nie maar wag totdat u by ons deskundiges kom!
Lt-genl (dr) LP Neethling
Die forensiese werk (veral na die aanstelling van dr LP Neethling as ‘n lid van die Mag), die spesialiste by tegnies, bomopruiming, ballistiek, vingerafdrukke, Spesiale Taakmag, Intelligensie afdeling en so kan ek aangaan, se resultate was verstommend! Hare, speeksel, bloed, liggaamsvloeistowwe, vingerafdrukke, bytmerke en enige ander stof was vir die mense van belang en skrape en merke op bewysstukke ook! Hulle ken tot ‘n hoender en ‘n krokodil se bloed!
My kollega van die ballistiek-laboratorium, kaptein Bazil Young. Sonder sulke wetenskaplikes sou die SA Polisie nooit misdaad kon oplos nie.
Waar ek op die hoogste forums gedien het bv by die Tak Nasionale Vertolking (TNV), Nas-Gis (Nasionale Inligtingsentrum) en die veiligheidstak se Sanhedrin kon ek sien dat die polisie wat landswyd verspreid was, geweldig baie inligting ingesamel het wat hulle landswyd van overte-, koverte- en tegniese bronne ontvang het. Sun Tsu het duisende jaar gelde klem gelê op die bedryf van inligting – “dit kan nie van die gode afgebid word nie, dit moet deur agente ingesamel word!”
Een ding het ek geleer moet nooit die konstabels op die stasie (ook op die veiligheidstak) gering te skat nie. Hulle is daar waar die tekkie eerste die teer slaan. Baie van die konstabels – van alle rasse – is uiters bekwaam gewees! Swart konstabels het my die fyn tegnieke geleer om inbrekers aankeer en ander misdadigers aan te keer. Korporatiewe geheue moet nie onderskat word nie..
Daar is GEEN geheime in die Mag nie. Die “informele interne nuuskanaal” het goed gewerk!
Ons was egter baie lank in ‘n rewolusionêre stryd betrokke en daar was nie veel tyd vir klassieke polisiëring nie.
My geheim
Ek het “my alles” vir die Mag gegee – ek was nooit lui nie. Die diwidende was baie! Nooit het ek egter ‘n eervolle vermelding ontvang nie – behalwe ‘n Oorkonde van die Stadsraad van Welkom. Ek het gedien en beskerm tot die beste van my vermoë en ek is onbehoorlik ryklik geseën en beloon! Dit het my mateloos verryk! My dank aan die Skepper van Hemel en Aarde.
- Dr Donald Campbell is c1995 oorlede. Hy was ‘n skoolvriend met wie ek deur die RSA geryloop het. ↑
- ‘Ons man’ is eintlik Suid-Afrika se man, maar inderwaarheid eintlik RI se man! ↑
A great read, but I can’t imagine being where, “Die pampoen is nie lekker nie!” Thank you Hennie!