My Eerste Boek!
Piet du Toit
Hoe moeilik kan dit nou wees? En, in elk geval, as jy kan lees en kan sien is die Joutube en Dokter Google kombinasie ‘n gewaarborgde sukses-resep. Ek het in elk geval nie genoeg geld om ‘n boek te laat druk van my skryfies in nie. Ook nie almal wat belangstel in hierdie kop wat raas nie, so hoeveel boeke teen ‘n weggee-prys sal ek moet verkoop om net met die “Self-publuseer” koste gelyk te breek? Heelwat meer as die aantal mense wat in my goedjies belangstel! So, ek gaan dit self druk (ek het mos ‘n drukker), self bind (Youtube en Google is byderhand met “Book Binding DIY”). Die klompie mense wat my goedjies lees sal wel iemand ken vir wie hulle die gedrukte boekie as geskenk kan weggee!
Ek begin dan ook sommer dadelik met “All that you need to do your own Perfect Binding”. Vir die van julle wat (soos ek vóór Youtube en Google) nie weet nie, “Perfect Binding” het niks te doen met die kwaliteit van die eindproduk nie, dis bloot die metode van boek-bind, wat met gom en sagte buiteblad liewer as ryg-gare en harde buiteblad gedoen word. Minder moeite, minder vaardigheid, minder koste … volgens You-google se DIY!
So begin die soektog en aankope. Eers die regte gom. “Moenie gewone kouelym gebruik nie”, sê die Youtube jong dame en … “Gewone skool-kuns gom werk ewe goed” se die ewig in die rede vallende AI-oom. Nou wat nou? Eindelik gom gekry wat sê: “Perfect for a variety of DIY projects, including book binding” by ons plaaslike skryfbehoefte-winkel. By dieselfde winkel ‘n pak A5 80gr papier gekry ook. Die klaargesnyde gekoop liewer as om A4 bladsye per hand te halveer met ‘n geleende guillotine. Totale koste nou “net” R120.00. ‘n Stukkie gaas-lap (medisyne-kas toe daarvoor) en ‘n plastiese “Bone-knife” om die voue mooi skerp te kry. By die kunsafdeling op ons buurdorp aanskaf. Koste nou sowat R200, vervoerkoste en tyd uitgesluit. Ek is so opgewonde soos ‘n kind by die basaar se lekkergoed-tafel. Liniaal, skerp papiermes het ek. Gom-kwas (moet ‘n platte wees, sê oom AI, dit werk beter. Nog R55. Die twee A4 bladsye van hoër gehalte vir die binne en buitblaaie (teen R12, 50 elk) en die A3 karton (teen R28) maak die “Book Binding DIY Material List” volledig, insluitend ‘n paar huishoudelike items, soos twee plat planke en skroewe wat sal deug vir ‘n “Book Press”.
My drukker kan, volgens sy handleiding, beide kante van ‘n blad druk. Dis volgens die handleiding. Nie volgens my handvaardigheid en die té dun A5 80gr kopieer-papier nie, maar na ongeveer 20 opgemorsde blaaie, het ek die 150 bladsy boek gereed vir die omslag!
My bietjie rekenaar-kennis help my om die buiteblad (wat ek self ontwerp het) op die 150gr karton te druk. Bietjie van die middel af, maar darem naby genoeg, en die bindproses begin. Gom wat tussen elke aanwending eers moet droog word; bladsye wat aan die “Book Press” vassit; ongelyke bladsye afwerk; ten spyte van presies eenderse aangekoopte A5 80gr papier … en na drie dae se werk en kyk hoe gom droog word is my boek gedruk.
Met my borsmaat verdubbel en trots op my lae koste ( net R338) selfgedrukte eerste uitgawe, is vroulief die eerste om die boek te inspekteer: Die titel: “Uit ‘n kop wat raas”. En haar kommentaar?
“Um … moet die voorblad aan die agterkant van die boek wees?”
Nou lees die boek ietwat Hebreeus, maar ek het ‘n 150 bladsy, sagteband, R333 se boek gepubluseer!
Maar boekbind, wat AI, Google, Youtube of wie ookal sê, is nie maklik nie, en ook gladnie so goedkoop nie. Vra maar vir my!
- Piet du Toit