Nongqai Vol 17 No 9 – (16) Die diamantlokval: kerrie en paniek.

DIE LOKVAL: 10% KERRIE EN 90% PANIEK.
Lt-kol VE Kruger (jnr)
In kamer 412 van ‘n Hotel in Johannesburg het die lug dik gestaan van sigaretrook en spanning. Die Diamant-speurders het maande aan die groot lokval gewerk. Die verdagtes is reeds ontmoet en die finale oorbetaling sou die volgende oggend geskied, maar die beriggewer se senuwees was op moedverloor se vlak.
Ná ‘n bord ekstra-sterk kerrie en rys begin die beriggewer toe te kerm: “Vel, my bors brand vrek van hierdie kerrie! Ek gaan nie môre se ontmoeting maak nie!”

Oud-kolonel Vel Kruger het geweet die man se “sooibrand” is 10% kerrie en 90% paniek. As hy die hele nag so sou aangaan, sou niemand ‘n oog kon sluit nie. Hy stap rustig na sy tas, krap tussen sy spulletjies en haal ongemerk twee swaar slaappille uit.
Hy druk dit in die beriggewer se hand: “Drink hierdie spesiale pille vir maagkwale. Dit vat die brand dadelik weg, maar jy moet gaan lê.”
Die man sluk die pille met ‘n groot hap water af en gaan lê op die bed. Binne minute snork hy soos ‘n hysbak.
Een van die Diamant-speurders kyk die spul met oop mond aan en fluister: “Kolonel, wat van sy sooibrand?”
Vel kyk droogweg oor sy bril en sê: “Sien julle die beriggewer het nie meer sooibrand nie? ‘n Man wat slaap, kla nie.”
