Nongqai Vol 17 No 10 – (44) New York se Broken Windows-teorie

Ekserp

Die Broken Windows-teorie berus op die uitgangspunt dat sigbare tekens van verval en wanorde, indien dit nie aangespreek word nie, die indruk skep dat niemand beheer uitoefen nie. Dit kan verdere verval, wanorde en uiteindelik misdaad aanmoedig. Die teorie beklemtoon daarom die belangrikheid van netjiese, veilige en goed onderhoude openbare ruimtes as deel van ‘n breër strategie om misdaad te voorkom.

Abstrak

Die Broken Windows-teorie, ontwikkel deur James Q. Wilson en George L. Kelling, argumenteer dat sigbare verval soos gebreekte ruite, rommel, graffiti en verwaarloosde openbare ruimtes kan bydra tot verdere wanorde en misdaad. Die benadering is in die 1990’s prominent in New York toegepas en word dikwels met Rudolph Giuliani en William Bratton geassosieer. Hoewel misdaadvlakke aansienlik afgeneem het, verskil navorsers oor die mate waarin die beleid alleen daarvoor verantwoordelik was. In Suid-Afrika bied die teorie interessante lesse, maar swak munisipale dienste, informele nedersettings, armoede en beperkte hulpbronne maak die direkte toepassing daarvan moeilik. Effektiewe polisiëring vereis daarom ‘n kombinasie van sigbare orde, goeie plaaslike bestuur, infrastruktuurontwikkeling en doelgerigte misdaadbekamping.

Sleutelwoorde

Broken Windows-teorie, misdaadvoorkoming, openbare orde, sigbare polisiëring, stedelike verval, informele nedersettings, munisipale dienste, gemeenskapsveiligheid, misdaadintelligensie, New York-model, polisiebestuur, stedelike veiligheid.

DIE “BROKEN WINDOWS”-BELEID: WAT KAN SUID-AFRIKA DAARUIT LEER?

Brig Fanie Bouwer

Kan die Amerikaanse benadering tot misdaadbekamping in Suid-Afrika toegepas word? Meer hieroor ondertoe.

Ek het laas hiervan gehoor in die ou SAP toe daar gesprekke hieroor was wanneer misdaadvoorkoming die onderwerp van die dag was. Ek vermoed party stasiebelvoerders het ook van die idees probeer toepas. Sover ek kan onthou, was daar andersins nie werklike erns oor hierdie benadering nie.

Die Broken Windows-teorie (gebreekte-vensters-teorie) word veral verbind met die misdaadbekampingsbeleid van die 1990’s in New York-stad.

Dit laat die vraag ontstaan of ’n soortgelyke benadering suksesvol in Suid-Afrika se moderne stedelike gebiede, die digbevolkte townships en diep informele nedersettings enigsins toegepas kan word?

Die twee figure wat veral met dié benadering verbind word, is Rudolph Giuliani, burgemeester van New York van 1994 tot 2001, en William Bratton, polisiekommissaris in die middel-1990’s.

Die teorie is egter nie deur hulle ontwikkel nie. Die akademici James Q. Wilson en George L. Kelling het dit reeds in 1982 bedink en bekend gestel.

Wat het die beleid behels?

Die basiese uitgangspunt was dat sigbare tekens van wanorde – indien geïgnoreer – die indruk skep dat niemand omgee of beheer uitoefen nie. Dit kan verdere verval, wanorde en misdaad aanmoedig.

Die benadering het daarom aandag gegee aan gebreekte vensters, graffiti, rommel, verlate geboue en verwaarloosde openbare ruimtes. Die doel was om orde te herstel en inwoners se gevoel van veiligheid te versterk.

Die polisie het strenger opgetree teen geringe oortredings soos vandalisme, openbare dronkenskap en sekere verkeersoortredings.

Sigbare polisiëring, doelgerigte patrollies en die ontplooiing van personeel volgens misdaadpatrone was deel van die strategie. Dit was nie bloot ’n poging om soveel moontlik mense vir geringe oortredings te arresteer nie, maar om openbare wanorde vroegtydig aan te spreek sonder om ernstige misdaad uit die oog te verloor.

Het dit sukses behaal?

New York het in dié tydperk ’n aansienlike daling in misdaad beleef. Volgens die New York-polisie se historiese verslag het totale indeksmisdaad tussen 1993 en 1998 met ongeveer 50% gedaal, terwyl moorde met sowat 67% afgeneem het.

Dié dalings was indrukwekkend, maar die belangrike vraag was: Hoeveel daarvan direk aan die Broken Windows-beleid toegeskryf kon word?

Navorsers verskil hieroor. Sommige studies verbind die toepassing van die beginsels met ’n afname in geweldsmisdaad. Ander het bevind dat strenger optrede teen geringe oortredings en verbeterde polisiebestuur nie op hul eie die daling verklaar nie.

Ander bydraende faktore was beter polisiebestuur, doelgerigte optrede teen vuurwapens en bendes, veranderinge in die dwelmmark en breër maatskaplike omstandighede. Die redelike gevolgtrekking is dat New York se misdaaddaling werklik was, maar dat dit nie verantwoordelik is om die hele sukses aan een beleid toe te skryf nie.

Die kritiek op die beleid

Die benadering het ernstige kritiek ontlok. Die groot aantal arrestasies vir geringe oortredings het kommer gewek oor buitensporige polisieoptrede. Inwoners van arm en oorwegend swart woonbuurte is dikwels buite verhouding aan ondersoeke en deursoekings onderwerp, wat vertroue in die polisie benadeel het.

Daar is ook ’n belangrike onderskeid tussen die handhawing van openbare orde en die suksesvolle ondersoek van ernstige misdaad. Om iemand vir ’n geringe oortreding te arresteer, beteken nie dat ’n georganiseerde bende, moordnetwerk of korrupsie suksesvol bekamp is nie.

Wat kan Suid-Afrika hieruit leer?

Suid-Afrika verskil aansienlik van New York. Ons het moderne stedelike gebiede, digbevolkte townships en baie groot informele nedersettings waar armoede, werkloosheid, gebrekkige infrastruktuur en beperkte munisipale dienste dikwels saam voorkom. Die beleid kan dus nie bloot oorgeneem en oral op dieselfde manier toegepas word nie. Sigbare verval kan nie uitsluitlik deur streng polisieoptrede aangespreek word waar munisipale dienste, behuising en basiese infrastruktuur ontbreek nie.

Tog bevat die benadering waardevolle beginsels. Verwaarloosde openbare ruimtes, vandalisme en onwettige gebruik van openbare plekke moet aandag kry. Munisipaliteite en die polisie moet saamwerk om woonbuurte ordelik en veilig te hou. Tans in Suid-Afrika waar meeste munisipaliteite baie swak vaar, sal hierdie seker maar net as ‘n teorie bespreek kan word.

Wat staan die polisie dus te doen? Polisiebevelvoerders behoort betroubare misdaadstatistiek en intelligensie te gebruik om personeel volgens werklike misdaadpatrone te ontplooi. Geringe oortredings moet konsekwent en regmatig hanteer word, maar arrestasies alleen behoort nie as maatstaf vir sukses te dien nie.

Ter afsluiting

Suid-Afrika kan waardevolle lesse uit New York se ervaring leer, maar Broken Windows is, eerstens, nié ’n ‘wondermiddel’ nie en, tweedens, in Suid-Afrika met sy liberale grondwet en hoë premie op menseregte, sal dit eerder meer kritiek uitlok.

Ons benodig daarom eerder ’n kombinasie van sigbare polisiëring, goeie bestuur, aanspreeklikheid van bevelvoerders, betroubare misdaadintelligensie en doeltreffende ondersoekwerk teen ernstige en georganiseerde misdaad.

Die uiteindelike doel moet nie bloot wees om strate netjieser te laat lyk of meer arrestasies te maak nie. Dit moet wees om misdaad te verminder, gemeenskappe veiliger te maak en die publiek se vertroue in die polisie te herstel.