Nongqai Vol 17 No 10 – (41) Bevel en beheer
Uittreksel
Hierdie artikel vergelyk die tradisionele polisiële benadering van bevel, beheer en toesig met die moderne bestuursbenadering wat sedert die laat 1980’s ontwikkel het. Brigadier Fanie Bouwer besin oor die invloed van hierdie veranderinge op dissipline, aanspreeklikheid, institusionele geheue en die doeltreffendheid van polisiëring.
Abstrak
In hierdie artikel deel brigadier Fanie Bouwer sy persoonlike herinneringe en beskouings oor die ontwikkeling van leierskap en bestuur binne die Suid-Afrikaanse Polisie. Hy put uit sy ervaring as stasiebevelvoerder op Robertson gedurende die 1970’s, toe streng toesig, gereelde inspeksies, dissipline en duidelike bevelstrukture die norm was. Volgens die skrywer het hierdie praktyke bygedra tot doeltreffende polisiëring, hoë oplossingsyfers en gemeenskapstevredenheid, ondanks beperkte hulpbronne. Hy kontrasteer hierdie stelsel met die geleidelike invoering van moderne bestuursbeginsels gedurende die laat 1980’s en vroeë 1990’s, wat volgens hom gelei het tot groter administratiewe fokus en ‘n toename in vergaderings. Die artikel voer aan dat die verlies aan institusionele geheue en die afname van tradisionele toesig- en beheermeganismes ‘n negatiewe uitwerking op polisiëring gehad het. Die leser word genooi om die twee benaderings te vergelyk en ‘n eie mening te vorm oor die rol van bevel, beheer en bestuur binne ‘n semi-militêre organisasie.
Sleutelwoorde
Bevel en beheer, toesig, polisiële leierskap, polisiebestuur, dissipline, aanspreeklikheid, institusionele geheue, polisiestasies, organisasiekultuur, inspeksies, polisiëringsdoeltreffendheid, Suid-Afrikaanse Polisie, Brig Fanie Bouwer, historiese polisiëring, bevelvoering.
‘BEVELVOER’ VS. ‘BESTUUR’ OOR DIE JARE
Brig Fanie Bouwer
Ek plaas hieronder weer ‘n baie ou pos net om te herinner hoe toesig en beheer by polisiestasies gewerk het.
Die pos gaan oor my herinneringe van Robertson waar ek in 1977 as stasiebevelvoerder in my middel-twintigs begin het – en dit is nou bykans 50 jaar gelede al – eers by die ou polisiestasie, en toe by ‘n nuwe.
My gedagtes gaan eintlik hier oor al die dinge wat ons oor lees en wat oral oor by polisiestasie verkeerd loop. Ek dink die rede(s) daarvoor is omdat dit wat u onder gaan lees, bloot nié meer gedoen word nie.
So lees nou my mymeringe oor die spesifieke werkskultuur van destyds
————–
Ek wil sommer so gou iets hieroor skryf; nie in-diepte nie – net sommer ‘n kort algemene herinnering van wat was, en toe later en nóu.
Toeka se dae het ons ‘bevel gevoer’.
‘Bevel en beheer’, ‘toesighouding’; ‘spanwydte van beheer’ en sulke soort van taal was deel van ons polisie-woordeskat.
Waar ons wel iets bestuur het, was dit die polisievoertuie.
Op stasies was daar ‘n verpligte maandelikse lesing wat al die stasielede moes bywoon. ‘n sg. Lesingregister is ook bygehou deur die stasiebevelvoerder (SB). Daarna het die lede sommer in die agterplaas so ‘n bietjie driloefeninge gedoen. Ook om dissipline op te skerp.
Een maal ‘n maand was daar ook die sg. stasiebevelvoerderskonferensie by die Distrikskommandant (DK) se kantore, wat ook deur die Distrikspeuroffisier (DSO) en die takbevelvoerders (TB) bygewoon is.
As ek so terugdink was ‘deelnemende bestuur’ ook nié ‘n spesifieke styl nie, maar eerder ‘n soort van eenrigtingverkeer by beide die stasielesing én konferensie by die DK-kantore. Hiermee bedoel ek dat slegs die SB; die DK en die DSO meesal gepraat, instruksies uitgereik of kommentaar gelewer het nadat die SB’s/TB’s kortliks die stand van sake by hulle stasies/eenhede gelewer het.
Toe is ons weer terug stasies en takke toe waar ons ‘toesig en beheer’ uitgeoefen het – oor lede se (werks) doen en lates; registers nagesien; 24-uur dossierinspeksies uitgevoer; eie maandelikse dossierinspeksies gedoen, todat die dossier gereed is vir verhoor (onthou julle die ‘gereed vir verhoor’- verklaring’ in die ondersoekdagboek?). Ook na-uurse onverwagte besoeke. En so aan.
Dan praat ek nie eers van die DK; die DSO; die Afdelingsinspekteur en die Afdelingspeuroffier se inspeksies nie.
Dissipline, behalwe enkele gevalle hier en daar, was destyds goed. Sake en klagtes het goed aandag gekry. Oplossyfers was hoog. Die gemeenskap was tevrede met die diens wat hulle ontvang het in weerwil van die uiters karige polisiebegrotings van daardie tyd teenoor nou.
Toe in die baie laat 80’s, vroeë 90’s is die konsep van ‘Bestuur’ geleidelik aan ons bekend gestel. Selfs ek het aanvanklik laaangtand daaraan gekou; tot dat ek ook die begrippe onder die knie begin kry het.
Hoe dit ookal sy, en sonder om spesifiek in te gaan oor die voor/nadele van die konsep ‘Bestuur’ in ‘n semi-militêre omgewing, het hierdie nuwe bestuurstyl om een of ander onverklaarbare redes skielik ‘n helse klomp bestuursvergaderings – van bo na onder – tot gevolg gehad.
Dit word oor dít; oor dat en die duiwel in sy moer weet wat nog, vergader – elke dag. Nou kan jy ‘n bevelvoerder bel en tien teen een sal jy hoor: “Hy/ sy is in ‘n vergadering”. Dit is asof die bestuursvergaderings die alpha en die omega geword het.
Die negatiewe gevolge hiervan (uitgesonder enkele plekke waar ‘ou hande’ nog goed doen) vir polisiëring in al sy fasette, lees en hoor ons van in die media elke dag. Ook hier.
Vergelyk nou dus die bestuurstyle van destyds (Toesig en Beheer) en die van die ‘Bestuur’ van die polisie per se en misdaad deesdae, dan kan jy maar jou eie opinie vorm.
Ek dink die waarnemende Naskom erken dit. Hy sal baie vinnig en doelgerig moet terugkeer na die “basics”, soos hy belowe het. Die verlies van die institusionele geheue – dit wat goed en reg was in die verlede – het sy tol duidelik geëis.

Kommentaar
Ek meen die tipiese Nongqai-leser gaan hierdie artikel met groot belangstelling lees. Die onderwerp spreek regstreeks tot voormalige polisiemanne, aanklaers, veiligheidsbeamptes en historici wat die ou polisiestelsel geken het en die veranderings oor dekades heen beleef het.
Die artikel se grootste sterkpunt is sy egtheid. Brigadier Fanie Bouwer skryf uit persoonlike ondervinding en nie bloot uit akademiese teorie nie. Dit gee die stuk geloofwaardigheid en historiese waarde. Baie lesers sal waarskynlik saamstem met die skrywer se beklemtoning van dissipline, toesig en aanspreeklikheid as grondbeginsels van suksesvolle polisiëring.
Die artikel behoort ook gesprek en debat uit te lok. Sommige lesers sal die standpunt ondersteun dat die afname in direkte toesig en bevelvoering tot vandag se uitdagings bygedra het, terwyl ander moontlik sal aanvoer dat moderne bestuur noodsaaklik is vir ‘n komplekse organisasie. Juis daarom het die artikel waarde: dit moedig nadenke aan.
Dit is ‘n nostalgiese maar relevante bydrae wat historiese herinnering, praktiese ervaring en hedendaagse relevansie suksesvol kombineer.