Nongqai Vol 17 No 7 – Stormtroepe SASP-STM

Abstract (English)
This article from Die Lourierkrans (December 1984) highlights the professionalism and elite training of the South African Railway Police Special Task Force. It describes their dual role in counter‑insurgency operations along the national borders and in protecting the country’s extensive transport infrastructure—railways, ports, airports, and public vehicles. The narrative emphasizes their rigorous preparation under Major Ronnie Beyl at Slagboom near Port Elizabeth, where live ammunition and explosives were used to simulate real combat conditions. The piece portrays the unit as a disciplined, fearless brotherhood, praised internationally for its expertise in hostage rescue and anti‑terrorist missions, under the leadership of Brigadier Gustav Erlank.
Key Words (English)
South African Railway Police, Special Task Force, South African Railway Police – Special Task Force, counter‑insurgency, border operations, Slagboom training, Major Ronnie Beyl, Brigadier Gustav Erlank, transport security, anti‑terrorism, police professionalism, 1980s South Africa
ONS STORMTROEPE – DIE LOURIERKRANS, DESEMBER 1984
HULLE IS VOLWAARDIGE, KNAP POLISIEMANNE
Hennie Heymans artikel ontvang van Frans Bedford Visser
HULLE is volwaardige, knap polisiemanne; manne wat in elke opsig hul deel doen en manne wat vir niks en niemand terugstaan nie. Dit is die manne van die Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie, wat wêreldwye erkenning kry as van die beste polisiespesialiste ter wêreld.
Die Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag is al deur buitelandse kenners as die beste taakmag ter wêreld bestempel, veral wat hul vaardigheid by die ontsetting van vliegtuie, geboue, treine en busse betref.
Min mense besef dat die Spoorwegpolisieman ook aan ons land se grens sy deel doen en terroriste uitroei.
Die Spoorwegpolisie het ‘n eie stuk grensgebied wat aan hulle toegesê is en groepe Spoorwegpolisiemanne doen daar diens in die boswêreld in skofte van drie maande.
OP ‘n pragtige plaas in die Oos-Kaapse boswêreld naby Port Elizabeth, ‘n gebied wat hom uitstekend leen tot bosopleiding, word die Spoorwegpolisiemanne gereeld voor grensdiens deur Majoor Ronnie Beyl en sy spesiale personeel ingeskerp.
Majoor Beyl en sy personeel skerp die manne in om terroriste uit te snuffel en uit te roei. In die spesiale kursus word deurentyd met lewendige ammunisie en plofstof gewerk. Grenstoestande word aaklig na aan die werklikheid nageboots.
Die gevolg is dat wanneer die manne van die plaas af vertrek, hulle in staat is om enige situasie te hanteer en vir niks stuit nie.
Slagboom is die plek se naam en slaggereed gaan die Spoorwegpolisiemanne daarvandaan grens toe. Elke terroris wat hul pad aan die grens kruis. vind heel gou uit dat Slagboom ‘n slag het om jong Suid-Afrikaners terroristejagters van formaat te maak.
Binne ‘n enkele week word ‘n veertig stuks man wat vanoor die hele land heen saamgetrek word, op Slagboom in ‘n hegte eenheid gebind, word kameraadskap opgebou en word hulle in ‘n gedugte, doodsveragtende gevegseenheid opgebou. In die boswêreld is dit nie elke man vir homself nie. Hulle is ‘n eenheid.
Die inskerpingskursus sluit nie net fiksmaak in nie, maar 00k intensiewe opleiding in bospatrolliewerk en wapen- en plofstofhantering. Oorlewing in alle denkbare omstandighede en die opspoor en uitroei van booswigte is die sleutelwoorde
BESTE OM in die bos teen terroriste te veg is egter nie die enigste buitengewone en moeilike taak wat aan die Spoorwegpolisieman opgedra is nie.
Dit is sy taak om die land se uitgestrekte vervoerinfrastruktuur te beskerm, ‘n infrastruktuur wat oor die lengte en breedte van die land strek. in Stedelike en plattelandse gebiede, dikwels in onherbergsame terrein.
Uit die aard van die saak is die spoorwegnetwerk, die hawens en die lughawens wat deur die Suid-Afrikaanse Lugdiens gebruik word en treine, busse, skepe en vliegtuie kwesbaar. Hulle moet bewaak: beskerm en beveilig word. Dit is die Spoorwegpolisieman se taak.
Daarom word hulle ook intensief in teeninsurgensiewerk opgelei en daarom is die Spesiale Taakmag ‘n mag wat so knap opgelei is dat wêreldkenners hom as een van die heel bestes beskou.
Die taakmagmanne, onder die persoonlike bevel van Brigadier Gustav Erlank, self ‘n kenner wat wêreldwyd gerespekteer word, word baie streng gekeur. Plek vir ‘n bang haar is daar nie op hul koppe nie.
Dit is bitterlik jammer dat alles oor die Taakmag, oor hul bedrewenheid, hul opleiding en hul werksmetodes, uit die aard van die Saak nie bekend gemaak kan word nie. Dit sou soos ‘n sprokiesverhaal lees, maar die vyand sal dit ook opslurp en dan sal die angel uitgetrek wees.
Die reisende publiek, of dit nou per vliegtuig, trein, boot of bus is, kan egter gerus wees in die wete dat ‘n boosdoener of kaper hom beslis baie deeglik teen daar die manne sal vasloop waarskynlik soos nêrens anders ter wêreld nie.
