Inleiding historiese verslag brigadier T. J. “Rooi Rus” Swanepoel, SOO
Hennie Heymans
Hierdie historiese verslag is opgestel deur destydse kolonel T. J. “Rooi Rus” Swanepoel, een van die mees ervare operasionele leiers in die Suid-Afrikaanse Polisie gedurende die vroeë fase van die terroristebedreiging in Suidwes-Afrika en Rhodesië.

Brig TJ Swanepoel, SOO.
Brig Swanepoel was die dryfkrag agter die eerste ontmoeting met SWAPO by Ongulambashe op 26 Augustus 1966, waar hy die veldwerk gedoen en die intelligensie ingesamel het wat die eerste geveg met die sogenaamde “terroriste” moontlik gemaak het. Die dokument self bevestig sy intensiewe betrokkenheid: “Ek was van Julie 1963 tot September 1967 ten nouste betrokke in die stryd teen terroriste organisasies soos die ANC, PAC, SWAPO, ZAPO, ZANU, UNITA en ook FRELIMO…”
Na sy dienstyd in die Veiligheidstak is kol Swanepoel onder meer na die Blitspatrollie in Johannesburg verplaas. Vanuit hierdie posisie het hy aan Polisie Hoofkantoor geskryf en sy insigte gedeel oor hoe die groeiende aanslag op staatsveiligheid die beste bekamp kon word. Die verslag is gedurende die vroeë 1970’s opgestel — ’n tydperk voor Operasie K — en bevat ’n reeks voorstelle oor opleiding, taktiek, leierskap, patrolliemetodes en die ontwikkeling van gespesialiseerde “hunter‑killer” spanne. Met die voordeel van agterna-wysheid blyk baie van sy aanbevelings vooruitstrewend en merkwaardig akkuraat te wees.
Die oorspronklike dokument was verbleik en moeilik leesbaar. ’n Persoon het dit aan my beskikbaar gestel; wyle Sarie van Niekerk het dit noukeurig oorgetik, en luitenant-generaal Johan Ferreira het gehelp om die laaste dowwe gedeeltes te ontsyfer.
Hierdie historiese verslag, wat ek hier aanheg, weerspieël brigadier Swanepoel se oorspronklike denke en sy operasionele insig in daardie vroeë, kritieke jare. Die dokument bevat historiese verwysings wat doelbewus behou is om die tydsgewrig akkuraat weer te gee. My dank aan almal wat by die bewaring en ontsluiting daarvan betrokke was.
Abstract
This document presents an early strategic memorandum written in the early 1970s by Brigadier T. J. “Rooi Rus” Swanepoel of the South African Police. Swanepoel, a key operational figure during the first armed confrontation with SWAPO at Ongulambashe on 26 August 1966, drew on his extensive field experience and intelligence work to formulate recommendations on countering emerging insurgent threats. The report itself reflects this background: “I was from July 1963 to September 1967 closely involved in the struggle against terrorist organisations such as the ANC, PAC, SWAPO, ZAPU, ZANU, UNITA and also FRELIMO…”
After serving in the Security Branch, Swanepoel was transferred to the Johannesburg Flying Squad, from where he submitted this assessment to Police Headquarters. The memorandum outlines his views on guerrilla tactics, leadership selection, patrol discipline, weapons, fieldcraft, survival skills, and the creation of specialised hunter‑killer teams. Although written before the implementation of “Operation K”, many of his proposals demonstrate notable foresight and align closely with counter‑insurgency practices later adopted by the South African Police and Defence Force.
The original document survived only in a faded copy. It was carefully retyped by the late Sarie van Niekerk, with Lt‑Gen Johan Ferreira assisting in deciphering the final illegible sections. With hindsight, Brig Swanepoel’s observations and recommendations appear remarkably prescient.
Keywords
- T. J. “Rooi Rus” Swanepoel,
- Ongulambashe,
- SWAPO,
- South African Police,
- Security Branch,
- Flying Squad,
- Counter‑insurgency,
- Guerrilla warfare,
- Early 1970s,
- Operation K,
- Intelligence gathering,
- Hunter‑killer teams,
- Rhodesia conflict,
Hierdie is ‘n redelike getroue weergawe van die oorspronklike historiese dokument en is liggies geredigeer. Daar is geen afbreuk aan die inhoud gedoen nie.

Brig TJ Swanepoel, SOO
HOOGS GEHEIM.
c./B/6. Carolinestr, Uitb.,
Kol. T.J. Swanepoel Jan Hofmeyer,
Johannesburg.
A. Die Kommissaris,
S.A. Polisie,
Privaatsak 94,
PRETORIA.
B. Lt.-genl. N.G. Loxton.
C. Brig. V. Verster.
LEDE VAN DIE S.A. POLISIE AS GUERRILLA VEGTERS: OPGESTEL DEUR KOL. T.J. SWANEPOEL (S.O.O.).
1. Ek was van Julie 1963 tot September 1967 ten nouste betrokke in die stryd teen terroriste organisasies soos die ANC, PAC, SWAPO, ZAPO, ZANU, UNITA en ook FRELIMO…. Ek beweer nie dat ek ‘n deskundige op die gebied van guerrilla-oorlog is nie maar wel dat ek ‘n redelike intensiewe kennis het van die operasionele metodes van alle terroriste metodes wat deur hierdie organisasies toegepas word.
2. Die leerstellings en guerrilla taktiek van Mao Tse Tung en Che Chevara in sover as guerrilla oorlog betref word slaafs deur alle terroriste organisasies nagevolg. Die enigste kere waar ek ‘n afwyking in hierdie tegnieke gevind het is in gevalle waar ‘n terroriste bevelvoerder nie die tegnieke soos hierdie leermeesters voorgeskryf word heeltemal bemeester het nie. Feit bly egter dat enige ervare polisie guerrilla vegter in staat behoort te wees om verwagte terroriste hinderlae of aanvalle op basisse en in die meeste gevalle waar landmyne of teen personeelmyne gelê word soos ‘n boek te kan lees. Die goue reël is hier dat geen beplande terroriste aanval watter aard ook al sal plaasvind voordat die doelwit en omgewing herhaaldelik verken is nie. Die enigste gevalle wat ek nog opgemerk het is gevalle waar ‘n groep terroriste en veiligheidsmagte onverwags in mekaar vasloop. Ek is van mening dat daardie deel van die boek “Mao Tse Tung and Guevara on Guerilla Warfare” veral die taktiese deel en beveiliging van terroriste basis in ons leerplan ingesluit moet word.
3. Die vegvermoë van die terroriste verskil van organisasie tot organisasie. Die A.N.C van Suid-Afrika en Z.A.P.U. van Rhodesië is na my mening die uitstaande vegters. F.R.E.L.I.M.O. van Mosambiek was na my mening glad nie uitstaande nie maar wel die Portugese wat so swak gemotiveer was.
4. Die sukses van die Portugese terroris organisasies wat die onlangse Portugese staatsgreep behaal het sal ongetwyfeld vir ons verreikende gevolge hê. Ek is van mening dat die onlangse paar geïsoleerde skermutselings wat wes van Kanyembe tot naby Kazungula (Kazunguala?) klein verkennings groepe deur Z.A.P.U. was en wel met die doel om ons verdedigings metodes en patrollie metodes en roetes te toets. Ons kan verwag dat, in hierdie gebiede, ‘n ernstige en intensiewe front deur Z.A.P.U. en moontlik in samewerking van die A.N.C. van Suid-Afrika geopen sal word. Dit moet onthou word dat Z.A.P.U. vir die afgelope paar jaar feitlik tot stilstand gekom het. In die verlede was hulle die sterkste organisasie en ons kan verwag dat hulle hierdie keer met vasberadenheid sal optree.
5. Dit behoort teen hierdie tyd vir elke regdenkende lid van die Mag duidelik te wees dat ons binne die volgende jaar oor ‘n baie wyer front as tans sal moet veg en dat ons dit met minder manne sal moet doen. Ek wil dan ook die stelling hier maak dat ‘n polisieman ‘n baie beter guerrilla vegter as ‘n konvensionele soldaat uitmaak. Ek is van mening dat die verskil in die metode van opleiding gesoek moet word. ‘n Soldaat word geleer om slegs bevele uit te voer. Aan die anderkant word ‘n polisieman van die eerste dag af geleer om vir homself te dink
6. Ek is van mening dat ons die oorlog in Rhodesië met driekwart van die mannekrag wat ons daar het, suksesvol sal kan veg.
7. Na baie jare van navorsing wil ek die stelling maak dat nie meer as 10 – 15% van ons offisiere geskik is as guerrilla leiers nie. Ek is van mening dat fataal is om ‘n offisier te nomineer vir grensdiens en moet ons uitsluitlik van vrywilligers gebruik maak. Selfs onder die vrywilligers al ons waarskynlik 5% droë hout vind wat of vir geldelike gewin of graag van sy huis wil wegkom.
Ondervinding het my geleer dat die gehalte van ‘n kompanie beoordeel kan word aan sy offisiere.
8. Ondervinding het my geleer dat met geringe uitsondering, feitlik alle kompanie bevelvoerders of peloton bevelvoerders binne twee weke na hulle aankoms ‘n vaste roetine volg met ander woorde voertuig patrollies word op dieselfde roete gery en naastenby op dieselfde tye. Voetpatrollies volg dieselfde roetine en oor nag met enkele uitsonderinge, in dieselfde tydelike basisse.
Met ander woorde ons nooi die terroris uit om ons aan te val en ons maak dit maklik vir hom. Hy het die jagter geword en ons die prooi geword.
Die “HUNTER-KILLER” het blykbaar met enkele uitsonderings, nog nooit by ons pos gevat nie en sien die meeste lede van die Mag, diens op die grens in ‘n tweeledige doel – geld spaar en ‘n betaalde vakansie.
9. Die wapens wat ons gebruik is na my mening minderwaardig teenoor die van die terroriste. Die volume vuur wat die terroriste in ‘n hinderlaag op ons konsentreer is van so ‘n aard dat ons nie veel van ‘n kans staan nie en ek wil nie beweer dat ons manne nie kan of wil veg nie. Inteendeel maak ek die stelling dat enige lid van die Mag se vegvermoë gelykstaande is aan die van twee terroriste. Eerstens is die gemiddelde polisieman beter gemotiveer as die terroris en soos enige Suid-Afrikaner is enige lid van die Mag lief vir ‘n geveg.
Indien alle R1-gewere outomaties gemaak word sal die verskil uitgeskakel word en kan die swaar-loop en L.M.G. of heeltemal uitgeskakel word of tot ‘n minimum beperk word.
10. Deur intensiewe ondervraging van veral konstabels en sersante het ek die afgelope jaar gevind dat die manne al hoe meer gefrustreerd vanaf Rhodesië terugkeer. Ek dink ek kan sê dat ek die vertroue van my manne het en dat ‘n gemiddeld van 50 man van radio tak voortdurend in Rhodesië diens doen.
Feitlik deurgaans is die beswaar dat hulle nie weet wat van hulle verwag word nie. Dit wil voorkom dat hulle op patrollie uitgestuur word, sekere roetes moet volg op sekere plekke oornag en op sekere roetes moet terugkeer.
Nadat ‘n sekere seksie of peloton vir ‘n bepaalde taak aangesê word vertrek hulle feitlik sonder uitsondering sonder om ten volle ingelig te word, wat verwag word en watter inligting beskikbaar is.
Dit is immers so maklik om nadat ‘n groep manne aangesê is vir ‘n bepaalde taak om hulle ten volle in te lig. Te sorg dat hulle nie kontak maak met buitestaanders nie en te sorg dat hulle vertrek sonder dat enige lekkasie van inligting kan uitlek.
11. Ek wil die stelling hier maak dat ons manne ‘n goeie basiese opleiding in die hantering van wapens kry. In so ‘n mate dat hulle ten minste die gelyke van die terroris is. Ek sou graag wou sien dat hulle in meer wapens opgelei word. Hulle behoort ook ‘n werkende kennis van kommunis wapens te hê. Ons moet nie vergeet dat die sersant of konstabel wat die veg werk moet doen, nog op laer skool was, toe die terroris wat as ‘n veteraan beskou moet word, reeds toe ‘n terroris was nie
12. VELDKENNIS
Die meeste van ons manne se veldkennis is pateties, tot so ‘n mate dat hulle oor spore loop sonder om dit raak te sien. Hierdie is een aspek wat ernstige aandag behoort te geniet en ek wil nou aan die hand doen dat spoorsny voortaan ‘n integrerende deel van ons opleiding moet word. Die leermeesters van hierdie taktiek kan later uitgestryk word.
NAGGELUIDE: Baie min van ons manne besef waarom krieke, paddas of ander nag insekte stil raak vir of mense of hulle natuurlike vyande nie.
DAGGELUIDE: Dieselfde geld ook gedurende die dag. Baie min besef hoe om die veldgeluide te vertolk. Noem slegs die kwêvoël. Slegs mense en roofdiere laat hom sy waarskuwingsteken gee. Andersins kwetter hy lustig Voort en die manne in ‘n hinderlaag stelling, met kennis, behoort onmiddellik te weet wanneer mense of roofdiere in die omgewing beweeg,
WILD: Wilde diere opsigself is een van jou beste alarms. Veral as jy windop spoorsny.
Ek noem graag hierdie paar voorgaande feite, om te pleit dat lede wanneer lede hulle wapen en taktiese kursus voltooi het dan moet hulle opleiding in alle erns begin om te leer hoe om die terroris deur veldkennis op te spoor voordat die terroris hom opspoor en uitwis. Ek is nie bereid om te aanvaar dat enige terroris die gelyke van ‘n lid van die Mag is nie. Al wat ons kort kom is ondervinding.
13. OORLEWINGSKURSUS
Die grootse vrees van lede van die Mag is dat hulle van hulle patrollie sal afdwaal. Minder as 1% van hulle is in staat om hulle rigting deur middel van wind, miershope, waterlope en die son te vind. Die rigting waarin bome se takke groei, op plekke waar daar ‘n heersende wind is weet hulle hoegenaamd niks nie.
Plante en wortels en veldvrugte wat hulle vir ‘n paar dae aan die lewe kan hou weet baie min iets.
Om water uit wortels en bome te haal is vir die meeste Grieks Indien ‘n mens gou speel kan jy daarmee wegkom want dit neem jou ‘n paar minute om ‘n bok se pens oop te sny, die vloeistof te verwyder en te laat spat. Dit gee jou terselfdertyd voedsel vir ‘n dag of wat.
Die beste gespesialiseerde persoon om ‘n paar instrukteurs te onderrig sodat hulle weer die kennis aan ons manne kan oordra is Mnr. Vahrmeijer van die W.N.N.R. Ek is oortuig dat sy kennis vir ons in die toekoms van onskatbare waarde sal wees.
Elke lid sal noodwendig met ‘n oorlewingsnoodrantsoen pakkie uitgereik moet word. ‘n Mens kan vir geruime tyd op veldkos oorleef maar sal proteïne, ensovoorts moet bykry, om hom in staat te stel om te vlug of sy pad te vind. Hierdie pakkie moet so klein wees dat dit weinig weeg maar tog sy gewig in goud werd wees.
14. PATROLLIESTAP: Hierdie is en bly een van ons grootste swakhede en kwesbaar hede. Che Guevara sê dat die stadigste man die spoed moet bepaal. Dit is inderdaad so en moet ook so toegepas word.
By ons is dit net die teenoorgestelde. Byvoorbeeld konstabel “A” is die Transvaal stap kampioen en hy stap voor. Die stadigste man in die patrollie is net so fiks, maar sy spoed is stadiger.
Ek het naamlik ‘n toets uitgevoer en gevind dat ‘n patrollie van agt man oor ‘n myl versprei is. Die L.M.G. man wat die swaarste dra is die verste agter.
Ek het naamlik opsetlik met ‘n paar man oor hulle patrollie paadjie gestap om te sien of hulle dit sal opmerk en dan binne 20 tree van hulle oop en bloot gaan sit. Ek het gevind dat die meeste so moeg is dat hulle sommer die maklikste paadjie volg en nie nog tyd het om vir spore te soek nie.
Indien die stadigste man in die patrollie die pas aangee – en ek praat nie van die verkenners nie, want ‘n verkenner behoort ten minste elke uur afgelos te word – sal ‘n patrollie minstens 75% van julle vermoë behou. Teen so ‘n geweldige hoef ek nie eers kommentaar te lewer nie want die tragedies wat reeds afgespeel het, kan aan niks anders as so ‘n hoë spoed toegeskryf word nie. Hierdie tragedies is welbekend en ek is nie van plan om wonde oop te krap nie. Feit bly egter dat ons elke keer met die broek op die enkels gevang word en daar is baie min hiervan wat nie voorkom kon word nie. Alhoewel ek nie sou beweer dat ons nie ongevalle sou gely het nie, maar nie soos dit reeds gebeur het nie.
Elke keer dat ons manne van nuut af moet motiveer, en ek weet uit ondervinding, dat dit maklik is om ‘n man op sy tone te bring wat alreeds ‘n gemotiveerde man is. Maar om dit te doen moet die offisier self gemotiveerd wees.
Ons moet geheel en al afwyk van die semi-konvensionele stelsel dan oorskakel na onkonvensionele metodes. Met ander woorde ons moet “Hunter-Killer” spanne ontwikkel in die ware sin van die woord. Hierdie spanne moet van uit agt tot 10 man bestaan en ek beskou dit as noodsaaklik dat Bantoes ‘n geïntegreerde deel van die span moet vorm. Byvoorbeeld ses blankes en twee Bantoes of ses blankes en vier Bantoes. Die Bantoes dien in meer as een opsig. Eerstens as dekking en tweedens om na sy terroris vriende te verneem en derdens om as tolk op te tree wanneer ‘n verdagte in die bos gevind word.
So ‘n “Hunters-Killer” span kan opsplit wanneer drie of vier lede ‘n verkennings operasie moet uitvoer soos wat die terroriste doen en dan weer later op ‘n afgesproke plek kan ontmoet.
W.N.N.R. het ‘n swartmaak middel vir nommer een kommando van kol Jan Breytenbach gemaak. Hierdie middel kan maklik aangesit en verwyder word en word nie deur sweet afgewas nie
VOERTUIG PATROLLIES: Waarom ons sulke patrollies uitvoer was nog altyd vir my ‘n raaisel. ‘n Terroris gebruik ‘n pad of voetpad slegs vir die volgende doeleindes: Landmyne lê, hindernisse lê en fopmyne lê.
Voertuigpatrollies moet slegs gebruik word om voorrade te vervoer en lede oor sulke lang afstande te vervoer vir operasies waar die afstand te voet te lank sal neem om enigsins doeltreffend te wees.
Operasionele voetpatrollies moet met versterkte voertuie na die beginpunte van die voetpatrollies vervoer word sodat hulle sover moontlik ongeskonde in aksie kan gaan
LEIDING DEUR OFFISIERE
Navorsing het aan die lig gebring dat baie min offisiere hulle manne op patrollies lei. Die uitsondering blyk jong vurige luitenante en kapteins te wees.
Die leuse is blykbaar “storm ek kom” in plaas van “Volg my.”
Hierdie blyk een van die groot besware van die jong manne te wees. Hulle meen, en ek stem saam, dat ‘n offisier sy manne moet lei en nie altyd feitlik herderloos moet stuur nie. Baie tragedies en ongevalle kon na my mening voorkom gewees het indien offisiere hulle manne in die veld lei. Die jong manne voel dat hulle vir die wolwe gegooi word. Ons kan hier ‘n blaadjie uit die boek van die Israeliete neem en dit is “VOLG MY”.
Gedurende die begin van 1971 is ‘n groep van ongeveer 27 blanke lede in die Mag opgelei.
Slegs op plofstof en meer gespesialiseerde guerrilla metodes is gekonsentreer.
Slegs ongeveer agt blankes is ooit gebruik en ongeveer ses Bantoes wat deur ons self opgelei is.
Die opleiding was amptelik en met goedkeuring.
Dit is gevind dat uit elke ongeveer elke 10 blankes slegs ongeveer vier kommando kaliber is.
Gedurende 1973 het ‘n groep van ongeveer 50 Swapo-terroriste hande uitgeruk in Oos-Caprivi. ‘n Polisiebasis aangeval en ‘n deel van ‘n Bantoe polisiepatrollie uitgewis. Dit was duidelik dat drastiese optrede nodig was en ‘n groepie van ongeveer 10 kommando’s het in twee maande meer van hierdie Swapo’s gedood as wat voorheen deur die Suid-Afrikaanse Polisie en die weermag sedert 1966 saam gedood is. Die metodes wat aangewend is, is nie hier ter sprake nie. Selfs nou nog vermy die terroriste die Oos-Caprivi.
Ek noem hierdie voorval nie om beuel te blaas nie maar slegs om die waarde van ‘n gespesialiseerde blanke en Bantoe kommando te onderstreep.
Die kern van die toentertydse kommando bestaan nog en ek bepleit die stigting van ‘n tussentydse kommando van 20 blankes en 10 Bantoes as begin.
Hierdie kommando kan by ander kompanies ingeskakel word en slegs in noodgevalle en met magtiging gebruik word.
Dit sal nie so maklik wees om die 30 regte manne te vind nie. ‘n Paar valskerm manne mag van hulp wees maar sal slegs in absolute noodgevalle kan gebruik word. Byvoorbeeld om ‘n ontvoerde te ontset. Valskermspringer sal slegs ‘n klein onderdeeltjie vorm en moet slegs as ‘n metode om ontvoerdes te red, beskou word. Van ‘n kommando word baie, baie meer eienskappe verwag. Spanwerk, intieme verhouding met nodige wedersydse respek tussen wit en Bantoe, uithouvermoë, volharding om mislukkings te aanvaar, sonder om enige kanse te vat. Dapperheid wat nog die regering of die Mag in die verleentheid sal plaas is noodsaaklik.
Uniforms van vyandige magte (of wat as sulks kan deurgaan) is ook noodsaaklik.
Intieme kennis van plofstowwe en alle Kommunistiese wapens is noodsaaklik vir die nodige dekking.
Absolute fiksheid om drie of vier dae sonder water klaar te kom en lang afstande te voet af te lê. Met ander woorde van elke 30 man mag een kwalifiseer as ‘n kommando.
Dit mag soms nodig wees om diep in vyandige gebied te infiltreer ten einde voorrade roetes te bepaal deur vier tot ses man terwyl alle kontak met die vyand vermy word.
18. DIE “BUDDY STELSEL”: Gedurende die kommando-operasies is gevind dat twee lede as “Buddies” saamwerk met ander woorde die een kyk na die ander. Dit maak pakke wat gedra word ligter. Die een beweeg nie sonder die ander nie. Slaapsakke word gedeel, want terwyl die een slaap waak die ander. Dit het veral een vername voordeel, as jy rus verhoed dit dat een aan die slaap raak of wegraak. Deur pakke te deel veroorsaak dit dat meer water, wat in daardie gebied, goud werd is, saamgedra kan word. Ons het gevind dat hierdie stel onverbeterd is en ek doen aan die hand dat al ons manne in hierdie stelsel opgelei word. Daar is was gevind dat ‘n blanke en ‘n Bantoe uitstekend saamwerk. As een “Buddie” verwond word beskerm die ander hom en versorg hom terwyl die groep voortveg.
19. KLIKKERS – GEBRUIK VAN:- Gedurende klandestiene nag operasies het ons gevind dat dit feitlik ‘n onbegonne taak is om ‘n groep manne bymekaar te hou sonder dat party afdwaal. Byvoorbeeld ‘n lid sit vas in ‘n haak-en-steek-bos. Absolute stilte is nodig en sy maat moet hom losmaak. Dit het telkemaal gebeur dat die bevelvoerder vind dat deel van sy patrollie wegraak.
Ons het kikkertjies aangekoop. Van die soort van die soort wat ons almal as kinders gespeel het en die geluid van ‘n paddatjie maak.
Ons het ‘n eenvoudige kode uitgewerk wat kort-kort verander is. Partymaal met elke operasie is ‘n ander kode gebruik.
Die geluid is dieselfde as ‘n boompadda of ‘n vleipadda. Ek het nog nooit ‘n persoon gevind wat die verskil agtergekom het nie behalwe die wat daarvan bewus is.
‘n Kode wat ons baie gebruik het, is soos volg:-
- Jy merk ‘n persoon op en jy wil vasstel of hy ‘n vriend of vyand is. Dadelik gee jy twee klikkies. Vriend antwoord met twee klikkies. Voordat jy skiet gee jy weer twee klikkies.
- Gedurende mars word dit nodig om die groep te stop. Dadelik word drie klikkies gegee en gaan grond toe terwyl die bevelvoerder vasstel wat verkeerd is. Sodra alles reg is word vier klikkies deur die bevelvoerder gegee en gaan die groep voort.
- Vyf klikkies beteken dat die groep almal na die bevelvoerder gaan vir opdragte.
- Sodra gevaar gewaar word gee die persoon wat dit sien tien ritmiese klikkies en almal gaan af.
- Hierdie metode het ons uit baie onnodige onaangename posisies gered veral omdat baie van ons operasies in die nag uitgevoer word.
Dit kan gehou word aan ketting wat uitkenningsteken dra en kan nie so wegraak nie. Veral as dit oorgeblaas word na ‘n vaal of bruin kleur. ‘n Gaatjie kan deurgeboor word en sal nie kan verloor nie.
Die kode kan voortdurend verander word.
20. LAWAAI OP PATROLLIES:-‘n Besondere swakheid wat op ons patrollies voorkom is lede wat loop en hard gesels. Dit gaan meeste van die tyd in so ‘n mate dat jy die patrollie op ongeveer 500 tree kan hoor aankom.
Dit behoort met opleiding reggestel te word. Die Rhodesiërs het ‘n manier van praat wat jy hom slegs ongeveer ‘n tree of twee ver kan hoor. Dit word slegs gedoen wanneer noodsaaklik en dit het tyd geword dat ons manne in hierdie opsig gedissiplineer moet word. Watter terroris sal vir jou wag as hy geraas ver kan hoor?
21. STUDIEGROEP:- Dit word aan die hand gedoen dat ‘n klein studiegroep wat om die beurt voortdurend saam met die manne in die veld beweeg, op die been gebring word sodat hierdie klein dog belangrike hindernisse onmiddellik in die kiem gesmoor word.
22. MOONTLIKE KOMMANDO’S OF MANNE WAT UITSTAANDE GUERILLAVEGTERS IS:- Dit word aan die hand gedoen dat daar met ‘n lys van name begin word by hoofkantoor sodat uitstaande vegters nooit uit die oog verloor word nie. Ek wil die stelling maak dat indien ons vyf jaar gelede daarmee begin het sou ons vandag ten minste ses kommando’s gehad het dat van die beste in die wêreld is.
23:- DIE VICTOR VERSTER HINDERLAAGSTELSEL:-Hierdie stelsel was aan my verduidelik en ek is van mening dat indien die manne reg geoefen word gaan nog baie terroriste op ‘n onverwagte en meer onkonvensionele metode die tydelike met die ewige verwissel. Hierdie stelsel het feitlik ‘n onbeperkte potensiaal en behoort mettertyd aan alle lede geleer te word.
24. GEBRUIK VAN FOSFORGRANATE:- Ek is van mening dat ons meer van hierdie gebruik moet maak. Veral in hinderlae en die uitwissing van kampe. Ek het dit persoonlik intensief gebruik en kan persoonlik getuig van die doeltreffendheid daarvan. Dit is dus nodig dat elke seksie ‘n paar botteltjies, maar liefs plastiese houers met kopersulfaat moet saam dra as ‘n neutraliseerder in geval van ongelukke.
Een ding is seker ‘n terroris veg nie verder nadat fosfor hom getref het nie.
25. VOORRADE AAN TERRORISTE IN NOORD-OOS RHODESIË:
Ek dink ons sal almal saamstem dat ZANU ‘n besondere doeltreffende voorrade linie vanuit Mosambiek het. Dit is ook so dat alle terroriste ‘n veilige basis moet hê waarheen hulle vlug sodra hulle onder druk verkeer.
Laasgenoemde is ‘n absolute noodsaaklikheid want hulle het ook gewondes en siekes. Dit is so dat hulle soms tussen die bevolking beweeg. Alles dui egter daarop dat hulle nie baie lank tussen die plaaslike inwoners kan bly nie. Dit wil voorkom asof hulle ‘n strooptog uitvoer en dan weer verdwyn. Geografies sou ek sê dat hulle hoof basisse en opslagplekke in die Mavuradona is. Dit is redelik maklik om met pakdonkies en pakosse redelike voorrade deur te bring, sonder om veel aandag te vestig. Dit is so dat klonkies of donkies en pakosse nie veel aandag vestig nie.
Die hoeveelheid plofstof wat gebruik word, en elke saboteur sal kan sê dat elke van elke vier myne gewoonlik net een afgaan en die ander vir een of ander rede net nie afgaan nie en nooit ontdek word nie, tel by die mortiere wat in groot getalle gebruik word en die antwoord vir my lê nog in die Mavuradona berge waar die voorrade geberg word en die veilige terroriste basisse is.
26. MOTIVERING VIR VERSLAG
Dit mag op die oog af lyk asof hierdie verslag bedoel is om die gemiddelde offisier in ‘n swak lig te stel. Ek wil dit duidelik is dat dit my ‘n hele paar jaar geneem het om myself te oortuig dat dit nodig is. Na alles is die voortbestaan van die hele Suidelike-Afrika op die spel en na die jongste gebeure het my oortuig dat die ware feite soos dit oor jare gesien het nou dringend onder die soeklig geplaas moet word. Na alles is ons polisiemanne en kan dit nie verwag word dat elke offisier ‘n uitmuntende guerrillavegter moet wees nie.
Wat ek graag wil beklemtoon is dat offisiere uitgesoek moet word vir hierdie taak.
Ten minste 90% present van manne van watter beroep ook al kan goeie konvensionele soldate word maar op die uiters 10% baie goeie guerrillavegters word.
Onder jonger lede van die Mag sal die persentasie heelwat meer wees want dit is soveel makliker om jongmanne te motiveer en is hulle meer vatbaar vir nuwe idees. Dan bly die lus vir onder jong manne al hoe meer en onder streng dissipline is dit wat ons nodig het.
27. LESSE TE LEER UIT ISRAELITIESE METODES
Ek bepleit nie op hierdie oomblik dat ons weerwraak aanvalle soos deur Israel van stapel moet stuur nie. Veral nie met die huidige delikate posisie tussen Rhodesië en Frelimo nie of die delikate posisie tussen Angola en Suidwes-Afrika nie. Die toestand is nog nie so ernstig nie. Wat ek wel bepleit is dat ons, ons manne moet begin oplei vir soortgelyke optrede wanneer die tyd ryp is.
Ons behoort selfs voor te berei vir direkte aanvalle vanuit Mosambiek direk op die Suid-Afrikaanse Republiek vanuit die ANC en PAC.
As ek dink aan hoe ons in 1966 klei getrap het toe ons die eerste keer met die Swapo terroriste slaags geraak het, het ons sedertdien baie geleer maar ons behoort ons tempo van vordering nou drasties te bespoedig.
Ons sal nie altyd volgens die “Queensbury” reëls kan veg nie en ons behoort ons manne nou reeds daarvoor voor te berei.
B EN C. 1. Afskrif ter inligting.
TAKBEVELVOERDER: KOLONEL (S.O.O.)
T. J. SWANEPOEL.