NONGQAI CONTRIBUTORS, PLEASE BE WATCHFUL ABOUT LEGAL NICETIES
ABSTRACT: As an officially registered non-profit, public benefit organization which also is financially dependent on sponsorships and donations, the Nongqai Trust needs to be careful about what it publishes, in terms of civil legal liability (copyright infringements and libel / individual privacy), criminal law (crimen injuria, and not disclosing official secrets or covert operational methods, sources and technology) as well as public administrative law (not giving grounds for our non-profit PBO status to be revoked based on perceived party-political partisanship).
KEYWORDS: copyright; crimen injuria; libel; non-disclosure of official secrets; non-disclosure of covert operational methods, sources, and technology; party-political neutrality.
GEWAARDEERDE BYDRAERS, ‘n OGIE OP DIE REGSTEGNIESE ASSEBLIEF
van die redaksie
NONGQAI Publikasies waardeer dat dit staan onder die sambreel van die Nongqai Trust en respekteer die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan. Dit beteken dat daar opgelet moet word na die regstegniese dimensie van dit wat ons publiseer – so ook sê ons prokureurs. Want ons wil nie iets plaas wat die Trust se status as ‘n amptelik geregistreerde PBO (Publieke Belang Organisasie) en sy vrystelling deur die SAID van belasting (as synde nie gerig op winsbejag en nie-polities), enigsins in gevaar mag stel nie. Ook nie ons borgskappe nie…
Daarom het ons prokureurs ‘n vrywaringsdokument opgestel, wat aanstons gesirkuleer sal word na al ons gewaardeerde bydraers (wie se ywer ons publikasie moontlik maak). Hierdie artikel is dus ‘n kort voorsmaak en verduideliking waarom hierdie stap in hierdie dag en tyd onvermybaar noodsaaklik geword het.
Ons weet dat ons eintlik hier “aan’t preek is vir die bekeerdes”, want dit is maar selde dat ‘n bydraer se inhoud enigsins hoef bevraagteken te word. In die era van Kunsmatige Intelligensie wat enorme hoeveelhede data kan deurwerk in ‘n oogwink, begin dit egter al meer gereeld gebeur dat ons aanmaningsbriewe ontvang vir beweerde kopiereg-skendings – veral wat betref foto’s. En dan kan daar groot geld ter sprake wees…
Dit is so dat die Suid-Afrikaanse kopiereg-wetgewing uitsonderings toelaat vir instansies soos Nongqai wat ‘n opvoedkundige doel het en inligting gratis aan die publiek dissemineer, sonder eie winsbejag. Dit is egter steeds goeie praktyk om volledige erkenning te gee mbt outeursreg van elke foto of aanhaling wat gebruik word.
Die ander gevaar-sone itv siviele aanspreeklikheid, is inbreuk op die reg tot privaatheid van individue, en/of naamskending. Veral oor persone steeds in die lewe, moet daar met groot versigtigheid gehandel word as oor hulle beweerde doen-en-late geskryf word. Wat u sê mag die volle waarheid wees, maar is dit bv. vandag bewysbaar dat “X soos ‘n kanarie gesing het” in aanhouding? Onthou ook asb dat ons in terme van joernalistieke etiek enige beweringe rakende ‘n persoon nog in die lewe, eers aan daardie persoon moet voorlê vir repliek / kommentaar, voor ons kan publiseer…
Ook op strafregtelike terrein kan hierdie soort “ontbloting” tot klagtes van crimen injuria lei. ‘n Ander strafregtelike aanspreeklikheid om nie uit die oog te verloor nie, is die ongemagtigde publikasie van geklassifiseerde inligting. Veral wanneer oor geheime operasies van die verlede geskryf word – is dit ondertussen definitief de-klassifiseer? Openbaar u nie koverte operasionele bronne, metodes en tegnologie wat dalk steeds vandag in gebruik mag wees nie?
Op administratiefregtelike terrein is dit veral gebiedend noodsaaklik dat, in konteks van vandag se realiteite, geen sweem gelaat moet word van party-politieke vooroordeel nie. Ons is almal natuurlik geregtig op ons eie politieke opinies (‘n reg wat Nongqai baie hoog ag) maar dit is nie moeilik nie om te verstaan dat ‘n publikasie wat met sensitiewe geskiedenis soos dié oor nasionale veiligheid handel, baie maklik sy PBO en nie-winsbejag status kan verloor as daar sweem is van party-politieke vooroordeel. Dit beteken nie dat polities-relevante veiligheidsaangeleenthede nie bespreek kan of moet word nie (alles hou tog maar verband met politiek). Dit beteken bloot dat die fokus moet wees op objektiewe analise, op publieke opvoeding gebaseer op wetenskaplike beginsels en norme, en nie op die opsigtelike afkraak van ‘n spesifieke hedendaagse politieke party of leier vir party-politieke gewin, of die subjektiewe bevordering van ‘n ander party nie.
Ons vertrou dat u, ons baie gewaardeerde bydraers, dus die vrywaringsvorm sal sien in die lig van die regstegniese noodsaaklikhede waarop ons prokureurs korrek aandring. Nie net sal die nakom van hierdie voorsorg vir Nongqai beskerm nie, maar ook vir u self (want uiteraard sal nie net die publikasie aangespreek word nie, maar ook u persoonlik as die outeur, sou probleme van hierdie aard opduik).
U kan die vrywaringsvorm aflaai met hierdie skakel: https://tinyurl.com/ytydk69k
Dankie by voorbaat vir u aandag hieraan. En, asse-groot-blief, laat daardie lekker-lees bydraes kom!