HUMOR: SLAP TJIPS

Hennie Heymans

  • 'n Foto wat klere, leëruniform, persoon bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

'n Foto wat teks, tekening, soogdier bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Chris Joubert heel regs

Eendag kom ek in veiligheidshoofkantoor se voorportaal op die grondvloer. ‘n Sedige en stroewe atmosfeer het altyd daar geheers…. Ek wonder hoe ons besoekers die plek ervaar het – karige staatsdiens voorportaal en karige meubels in kantore. Toe ek in die republiek van China (Taiwan) op kursus was, het hulle soggens 06:00 oor die luidsprekers marse gespeel – so veel so, dat mens lus was vir oorlog. Maar veiligheidshoofkantoor het nie dieselfde karater as Kompol-gebou gehad nie. Te veel staal, glas en beton.

Voor my staan ‘n s/konstabel Josef – met witjas aan – en hy kom op aandag, groet en hou ‘n pak warm skyfies vas asof dit ‘n knuppel is. Ek groet terug en vra hom wie se skyfies dit is.

“Kaptein Joubert, derde vloer!” sê hy. Ek en kaptein Joubert is jare al vriende gewees. Ek neem die pak skyfies en begin eet. Mens ruik die asyn! Tjips het net daardie aptytwekkende kenmerkende geur – ruik mens dit is jy dadelik honger! Die hysbakke kom uiteindelik, maar ek eet skyfies tot op die derde vloer. Ek vou die pak netjies toe, gee die pak skyfies terug met die opdrag: “Sê niks vir die kaptein nie!”

Later sou ek hoor van die drama wat hom te hoofkantoor afgespeel het. Chris Joubert maak die pak aartappel skyfies oop en tel nege stukke slap ‘tjips’.

Hy bel die kafeteria om te kla oor die min skyfies. Voor hy veel kon sê, sê die dame: “Bel vir kolonel (Paul) Roux, hy is die voorsitter van die Hoofkantoor se ontspanningsklub, waaronder die kafeteria geressorteer. Hy het opdrag gegee dat die kafeteria minder skyfies moet gee aangesien die prys van aartappels drasties verhoog is”.

Arme Chris Joubert skakel toe my ou vriend, kol Roux, en kla sy nood by hom! Korrek sê die kolonel: “Ek het opdrag gegee dat die prys dieselfde bly maar dat minder aartappelskyfies in die pakkies gesit word!”

Ou Chris kla steen en been: “Maar daar is net nege stukkies in die pakkie!” Die kolonel het hom gelyk gegee en opdrag dat hy gratis ‘n nuwe pakkie slap tjips kon kry met meer skyfies in!

Eers later het die klaer uitgevind dat ek die tjips-dief is, toe ek hom later vra of hy van tjips hou?

'n Foto wat skermskoot bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.