Die Suid-Afrikaanse Polisiediens en sy baie generaals
Generaal-majoor (dr.) Johan Burger (afgtr)
Abstract: The South African Police Service and its many generals, an article by dr Johan Burger, in Nongqai Volume 17, No 9. Keywords: South African Police Service [SAPS].
Agtergrond
Sondag, 6 Julie 2025, sal waarskynlik eendag iewers aangeteken word as een van die mees dramatiese keerpunte in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Dit is die datum waarop luitenant generaal Nhlanhla Mkwanazi, provinsiale kommissaris van KwaZulu-Natal, sy nou bekende media konferensie in Durban gehou het.[1] Tydens die konferensie het hy, met die klaarblyklike ondersteuning van die nasionale kommissaris – generaal Fannie Masemola – skokkende onthullings gemaak oor die vlak van korrupsie in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel en in besonder in die polisie. Om sy aantygings te staaf het hy van etlike elektroniese en skriftelike bewyse gebruik gemaak. Maar dit was veral sy verwysing na die beweerde betrokkenheid van die minister van polisie, Senzo Mchunu, en verskeie prominente polisie generaals wat die oë laat rek het.
Generaal Mkwanazi se onthullings en die dwingende bewyse wat hy toé reeds voorgelê het het president Cyril Ramaphosa geen ander uitweg gelaat as om ‘n kommissie van ondersoek aan te stel nie. Die aanstelling van die kommissie – onder voorsitterskap van waarnemende adjunk-hoofregter Mbuyiseli Madlanga – is op 23 Julie 2025 in die staatskoerant gedoen.[2] By die skryf van hierdie artikel is die kommissie nog steeds aan die gang en word dit toenemend duidelik dat dit wat Mkwanazi op 6 Julie 2025 onthul het eintlik maar net die punt van die ysberg was. Vele reputasies en loopbane is intussen vernietig of is tans nog in die weegskaal.
Een van die kern-onthullings en grootliks gestaaf deur getuienis voor die kommissie is die betrokkenheid van senior polisie offisiere, veral generaals en brigadiers, by korrupsie en selfs direkte betrokkenheid by misdaadsindikate. In verskeie gevalle het die kommissie reeds die strafregtelike vervolging van sulke offisiere aanbeveel en in bepaalde gevalle het vervolging reeds begin.
Benewens die werk van die kommissie en ook die min of meer paralelle ondersoek van die parlement se ad-hoc komitee na polisie korrupsie wat op 23 Julie 2025 aangestel is, het die media ook deurlopend oor hierdie ondersoeke verslag gedoen. Die fokus wat deur hierdie ondersoeke op die polisie geplaas het het nou opnuut gelei tot hernude vrae en kritiek op die senior bestuur van die polisie. Daar is byvoorbeeld in die afgelope tyd, veral gedurende Julie en Augustus, verskeie artikels in die media gepubliseer waarin kritiek uitgespreek word op die grootte van die polisie se senior bestuur en die enorme koste daaraan verbonde.[3]
Die kern van die kritiek bestaan daaruit dat die polisie sogenaamd ‘topswaar’ is en dat te veel geld spandeer word op vergoedingspakkette vir te veel senior lede. Die gevoel volgens sommige kritici is dat senior bestuur verklein kan word en dat gepaardgaande besparings eerder vir meer en beter hulpmiddele en -bronne gebruik kan word.
Generaals, brigadiers en algemene polisie bestuur
Volgens Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, dui hulle inligting daarop dat daar tans 578 brigadiers, 123 generaals majoor, 20 luitenant generaals en een generaal (die kommissaris) in die SAPD is. ‘n Totaal dus van 722.[4] As die 2 426 kolonelle by hierdie totaal gevoeg word is daar 3 148 senior bestuurslede van kolonel tot generaal. Uit ‘n koste-oogpunt beloop dit ongeveer R3.59 miljard per jaar. Cameron voeg egter by dat Suid-Afrika nie noodwendig ‘n kleiner getal bekwame leiers nodig het nie maar dat onnodige vlakke van beheer vervang moet word met meer doeltreffende beheer, gedesentraliseerde kapasiteit en hoë vlakke van integriteit.[5]
Die berig in BussinessTech het effens verder gegaan en bereken dat die R3.6 miljard wat jaarliks bestee word aan die vergoeding van 722 generaals en brigadiers in die SAPD uitwerk op ‘n gemiddelde jaarlikse pakket van R4.99 miljoen elk.[6] Dit is duidelik nie ‘n baie geldige argument nie en gevolglik het die regering se kommunikasiediens op 24 Julie 2026 paslik daarop gereageer:
It is important to clarify that each of the 722 SAPS senior officials do not earn an annual salary of R5 million. The reporting lacks important context and may mislead the public regarding the remuneration of SAPS senior management. Government therefore wishes to place the correct facts on record. … Equally to other Departments, the salaries of SAPS senior officials are determined as per the directions from the Department of Public Service and Administration. … The total annual cost to the State employing and supporting the senior officials may include employment-related costs, operational costs, administrative support, and other overheads that are critical in leadership positions. It should not be interpreted as personal remuneration of individual officials.[7]
Die problematiek ten opsigte van ‘n ‘topswaar’ polisiediens moet gevolglik verder in oënskou geneem word. Tabel 1 bevat inligting oor Suid-Afrika se bevolkingsgetalle en gepaardgaande inligting oor polisiegetalle gedurende die sokkerwêreldbeker in 2010 met ‘n vergelyking tien jaar later in 2020/21, sowel as in die laaste twee finansiële jare. Hieruit kan ‘n aantal tendense en verskeie vrae afgelei word. Byvoorbeeld, in die aanloop tot die wêreldbeker is die polisie aansienlik uitgebrei ten einde die goeie orde en veiligheid van hierdie grootse sportgebeurtenis te verseker. Dit het Suid-Afrika ‘n baie gunstige polisie-publiek ratio van 1:323 gegee met polisie getalle wat toegeneem het tot 154 748 lede, insluitend 156 generaals en 519 brigadiers.
Tabel 1: Polisiegetalle teenoor bevolking: 2010/11 tot 2024/25[8]
| 2010/11 | 2020/21 | 2023/24 | 2024/25 | |
| Bevolking | 50 miljoen | 60 miljoen | 62 miljoen | 63 miljoen |
| Polisie-publiek ratio | 1:323 | 1:430 | 1:412 | 1:406 |
| Totaal: polisie personeel | 193 892 | 176 180 | 184 106 | 187 681 |
|
154 748 | 139 901 | 150 388 | 155 231 |
|
39 144 | 36 279 | 33 718 | 32 450 |
| Generaals | 156 | 153 | 172 | 160 |
| Brigadiers | 519 | 611 | 637 | 641 |
In 2020 het polisiegetalle egter met byna 15 000 gedaal tot 139 901 lede. Intussen het die bevolking met 10 miljoen tot 60 miljoen in 2020 gestyg. As gevolg hiervan het die polisie-bevolking ratio van 1:323 tot 1:430 verswak. Dit is opvallend hierteenoor dat die getal generaals met slegs 3 gekrimp het terwyl die aantal brigadiers van 519 tot 611 toegeneem het.
Teen 2023 het die bevolking tot 62 miljoen toegeneem en het die polisie se grootskaalse herbou-program begin vrugte afwerp. Die gevolg was ‘n groei met net meer as 10 000 nuwe polisielede tot ‘n totaal van 150 388 en ‘n effens meer gunstige ratio van 1:412. In hierdie tyd het die aantal generaals ook met 19 toegeneem tot 172 en die aantal brigadiers met ‘n verdere 19 tot 172.
In die laaste finansiële jaar (2024/25) het die bevolking tot ongeveer 63 miljoen gestyg en polisiegetalle tot 155 231. Die polisie-bevolking ratio het ook verbeter tot 1:406 maar steek nog steeds sleg af by dié van 2010. Byvoorbeeld, polisiegetalle is nou min of meer dieselfde as 16 jaar terug toe daar net minder as 155 000 lede was terwyl die bevolking intussen met ongeveer 13 miljoen toegeneem het. Ten minste, sover dit die aantal generaals aan betref, wil dit in hierdie stadium lyk of daar ‘n mate van rasionalisasie begin intree het want die getal generaals het met 12 tot 160 afgeneem terwyl die aantal brigadiers met slegs 4 toegeneem het.
Oorsake en impak van onbehoorlike aanstellings in senior poste
Die voor-die-handliggende vraag is of daar inderdaad te veel generaals en brigadiers in die polisie is en indien wel hoekom dit ‘n probleem is. In ‘n gesprek met ‘n voormalige polisie werkstudie-offisier oor hierdie vrae het hy twee primêre redes uitgelig.[9] Die eerste verklaring het te doen met die amalgamasie -en integreringsprossesse van die middel 1990’s. Dit het bestaan uit die amalgamasie van die 11 verskillende polisiemagte in die groter Suid-Afrika om een enkele Suid-Afrikaanse Polisiediens te vorm. In die proses moes voorsiening gemaak word vir al die generaals, brigadiers en ander range van al die onderskeie polisie(magte).[10] Daar moes ook voorsiening gemaak word vir die integrering van geïdentifiseerde lede van bevrydingsorganisasies. Uiteraard was dit ‘n baie moeilike proses maar die uiteindelike gevolg was die vestiging van ‘n nuwe geïntegreerde offisierskorps wat nie oral noodwendig voldoen het aan die normale vereistes van ‘n behoorlike werkstudie ondersoek nie.
Die tweede verklaring verwys grootliks na die administrasie van voormalige president Jacob Zuma, oftewel die sg staatskapingsperiode vanaf ongeveer 2009 tot 2018.[11] Tydens hierdie tydperk het kader-ontplooiing ook in die polisie hoogty gevier. Baie van die aanstellings is gedoen met die uitsluitlike doel om oud-president Zuma, sy familie en vriende teen ondersoeke en vervolging te beskerm. Een goeie voorbeeld is die aanstelling destyds van Berning Ntlemeza as nasionale hoof van die Valke (Direktoraat vir Prioriteitsmisdaad Ondersoek). Hy is uiteindelik deur middel van ‘n hofbevel uit sy pos verwyder en ook in rang verlaag van luitenant generaal na generaal majoor.[12] Daar is verskeie ander voorbeelde uit hierdie tydperk wat uiteindelik meegehelp het tot ‘n byna reddelose agteruitgang in behoorlike bevel en beheer in die polisie.[13]
Die huidige debat oor die aantal generaals en brigadiers in die polisie hou duidelik ook verband met die opspraakwekkende getuienis voor die Madlanga kommissie oor polisie korrupsie op die hoogste vlak. Tog is daar ook ander aanwysers van byvoorbeeld swak en ondoelteffende leierskap in die polisie. Twee van hierdie aanwysers berus op meningspeilings oor openbare vertroue in en die koste van siviele eise teen die polisie.
Daar is verskeie meningspeilings oor openbare vertroue in Suid-Afrika se polisie maar vir die doel van hierdie bespreking word volstaan met dié van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) soos op 14 Julie 2025 gepubliseer (Figuur 1).[14] Daar word veral gekyk na die
Figuur 1: Openbare vertroue in die polisie[15]
wisselende en hoofsaaklik dalende tendens oor die afgelope twintig jaar soos aangedui in Figuur 1. En die mees opvallende kenmerk van hierdie grafiek is die 24% daling in openbare vertroue van 46% in 2004 tot slegs 22% twee dekades later, in 2024. Die sogenaamde Marikana-dip in 2013 – ‘n daling van 36% in 2012 tot 28% in 2013 – het gevolg op die Marikana tragedie van Junie 2012 toe die polisie 34 stakende mynwerkers doodgeskiet het. Oor die volgende twee jaar het vertroue egter geleidelik herstel tot 38% voor dit weer die dalende tendens voortgesit het. En in 2021 is vertroue in die polisie verder negatief beïnvloed deur die onbeholpe en ondoeltreffende wyse waarop hulle die maatskaplike onrus van Julie 2021, veral in KwaZulu-Natal, hanteer het. In die volgende drie jaar het vertroue in die polisie nog verder gedaal tot 22%, sy laagste vlak in 27 jaar.[16]
Die gebeure rondom luitenant generaal Mkwanazi se aantygings in Julie 2025 en die gevolglike aanstelling van en onthullings by die Madlanga Kommissie van Ondersoek sal onvermydelik ‘n verdere negatiewe impak op openbare vertroue in die polisie hê. Daar is ‘n goeie kans dat ‘n nuwe peiling nou openbare vertroue tot baie naby of selfs onder 10% kan druk.
Die ondoeltreffende dissiplinêre stelsel in die polisie, veral sedert 2016, en die gepaardgaande styging in siviele eise is ‘n verdere bewys van swak bevel en beheer. Om hierdie stelling te staaf is dit nodig om die aantal dissiplinêre verhore gedurende die relevante tydperk vanaf 2011/2012 tot 2024/2025 te meet teenoor die finansiële uitgawes vir die polisie gedurende dieselfde tydperk.
Dit is duidelik dat die daling in dissiplinêre verhore sedert 2012, kort na die begin van die staatskapingstydperk in Suid-Afrika, ook ‘n baie negatiewe impak gehad het op aanspreeklikheid en verantwoordbaarheid in die polisie. In 2012/2013 byvoorbeeld het die polisie 5 786 dissiplinêre verhore gehou en in dieselfde finansiële jaar R187miljoen aan siviele eise uitbetaal, verreweg die grootste deel hiervan was te wyte aan onregmatige optrede deur polisielede, veral onregmatige arrestasies.[17] In 2016/2017 het dissiplinêre verhore gedaal tot 4 496 terwyl die uitbetaling van siviele eise gestyg het tot byna R377miljoen.
In 2016 het die polisie hulle dissiplinêre kode boonop aansienlik aangepas en dit was gou duidelik dat die nuwe dissiplinêre regulasies heelwat meer ruimte vir manipulering en vermyding van aanspreeklikheid geskep het. In 2017/2018 byvoorbeeld het die aantal dissiplinêre verhore skerp gedaal van 4 496 in die vorige jaar tot slegs 1 960, ‘n daling van byna 44% in net een jaar. In dieselfde finansiële jaar het die uitbetaling van siviele eise aanvanklik gedaal van R376 miljoen in 2016/2017 tot R343 miljoen maar in die volgende jaar weer skerp gestyg tot R523miljoen, ‘n styging van meer as 65%.
In die geheel gesien en alhoewel daar ‘n effense verbetering in die aantal dissiplinêre verhore gedurende die laaste twee finansiële jare was, het hierdie vorm van aanspreeklikheid en verantwoordbaarheid tussen 2012/2013 en 2023/2024 met byna 72% afgeneem van 5 786 tot 1 639.[18] Daarteenoor het die uitbetaling van siviele eise deur die polisie gedurende dieselfde tydperk met 231% gestyg van R187miljoen tot R620miljoen in 2024/2025.
Slotopmerkings
Daar is min twyfel dat die aantal generaals en brigadiers in die Suid-Afrikaanse Polisiediens waarskynlik buite verhouding met die res van die polisie is. Dit is ook taamlik seker dat daar geen of bitter min regstellings met betrekking tot poste was wat gevolg het op die amalgamasie en integrasie van die 1990’s en selfs ook op die latere kader ontplooiing. En die gevolge hiervan sien ons in die voortdurende ondoeltreffende bevel en beheer in die polisie, veral in die hoë vlakke van korrupsie, onregmatige en selfs kriminele optrede van sommige polisielede en ook die groeiende bedrae geld wat die polisie jaarliks aan slagoffers van onregmatige optrede deur die polisie moet betaal.
Dalk het Ian Cameron tog iets beet wanneer hy sê dat getalle as sodanig nie die grootste probleem is nie maar veel eerder die kwaliteit van bevelvoerders. Nogtans behoort daar ‘n soort regstelling te kom om die regte verhouding te vind vir die aantal senior poste in die polisie teenoor die res van die organisasie. Terselftertyd moet die keurings- en aanstellingsprossesse sodanig verfyn word dat manipulering en onreëlmatige aanstellings heeltemal uitgeskakel kan word.
Laastens moet erkenning gegee word aan die baie eerlike, hardwerkende en knap polisielede van alle range, rasse en geslagte wat ten spyte van al die kwaad rondom hulle nog elke dag toegewyd hulle beste doen.
Notas
- Mail & Guardian, 6 Julie 2026, SAPS at war with itself a year after Mkhwanazi’s explosive 6 July briefing. Beskikbaar by: https://mg.co.za/news/south-africa/2026-07-06-saps-at-war-with-itself-a-year-after-mkhwanazi-s-explosive-6-july-briefing/ ↑
- Staatskoerant No 53048, 23 Julie 2025, Judicial Commission of Inquiry into Criminality, Political Interference and Corruption in the Criminal Justice System Arising from Specific Allegations Made Public on 6 July 2025, in Proklamasie R269 van 2025. Beskikbaar by: https://lawlibrary.org.za/akn/za/act/p/2025/r269/eng@2025-07-23 ↑
-
Sien in die algemeen: News24, 20 Julie 2026, Ian Cameron: Does SAPS really need 722 brigadiers and generals? Beskikbaar by: https://www.news24.com/opinions/columnists/guestcolumn/ian-cameron-does-saps-really-need-722-brigadiers-and-generals-20260720-0402; en BusinessTech, 22 Julie 2026, Over 700 government employees in one department are millionaires – earning R5 million each. Beskikbaar by: https://businesstech.co.za/news/government/867074/over-700-government-employees-in-one-department-are-millionaires-earning-r5-million-each/
- Ibid, News24. ↑
- Ibid. ↑
-
Ibid, BusinessTech. ↑
-
Government Communications, 24 Julie 2026, Government clarifies reports on SAPS management costs. Beskikbaar by: https://www.gcis.gov.za/government-clarifies-reports-on-saps-management-costs
- Jaarverslae van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, 201o/2011 tot 2024/2025. Beskikbaar by: https://www.saps.gov.za/about/stratframework/annualreports.php ↑
- Generaal majoor (afgtr) André Wiese, telefoniese onderhoud, 25 Augustus 2026. ↑
- South African Police Service (History), since 1994. Beskikbaar by: https://www.saps.gov.za/about/history/history.php ↑
-
The Judicial Commission of Inquiry into Allegations of State Capture, ook na verwys as die Zondo Kommissie van Ondersoek, Junie 2022. Beskikbaar by: https://www.statecapture.org.za/site/information/reports
- Freedom Under Law & Helen Suzman Foundation, 20 September 2017, Joint Press Release: Retirement of General Berning Ntlemeza. Beskikbaar by: https://hsf.org.za/news/press-releases/joint-press-release-ful-and-hsf-retirement-of-general-berning-ntlemeza
Sien bv, ISS Today, Johan Burger, 28 Junie 2021, South Africa’s police need urgent and fundamental reform. Beskikbaar by: file:///Users/jburger/Desktop/ISSToday-PoliceReform-June2021.html↑
-
Human Sciences Research Council (Raad vir Geesteswetenskappe), 14 Julie 2025, Still feeling blue? Changing patterns of trust in the police in South Africa since the late 1990’s. Beskikbaar by: https://www.polity.org.za/article/hsrc-survey-finds-significant-decline-of-trust-in-saps-lowest-in-27-years-2025-07-14 ↑
- Ibid. ↑
- Ibid. ↑
- Al die inligting oor dissiplinêre verhore en die uitbetaling van siviele eise deur die polisie is beskikbaar in die jaarverslae van die Suid-Afrikaanse Polisiediens tussen 2012/2013 en 2024/2025. Beskikbaar by: https://www.saps.gov.za/about/stratframework/annualreports.php ↑
- Die Jaarverslag van die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir 2024/2025 dui nie die aantal dissiplinêre verhore aan nie alhoewel dit meld dat daar 3 920 skuldigbevindings was teenoor 2 862 skuldigbevindings in 2023/2024. ↑

Dr Johan Burger is ‘n afgetrede generaal-majoor in die SA Polisiediens. Hy verwerf in 2005 sy doktorsgraad in polisiëring aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie met ‘n proefskrif getitel ‘A strategic perspective on the role of the police in the combating of crime’. Dr Burger is voorsitter van die Nongqai Trust en eienaar van die konsultasie-firma ‘FJB Crime and Policing Consultancy’. Epos: johanburger45@gmail.com
*