Nongqai Vol 17 No 10 – (48) Verlore Recce-Tweerigtingradio
Uittreksel
‘n Verlore Recce-radio in Thornville lei tot ‘n les wat die kern van suksesvolle intelligensiewerk verwoord: “Ken jou gebied en ken jou mense.” Die herinnering van Lucas Holtzhausen belig die waarde van menslike intelligensie, terreinbekendheid en tydige verslagdoening
Abstrak
In hierdie persoonlike herinnering vertel Lucas Holtzhausen van sy diensjare in die Veiligheidstak gedurende 1986 onder bevel van Brigadier Bob Beukes. Toe ‘n verlore SA52-tweerigtingradio van die Recces in sy verantwoordelikheidsgebied gevind word, kry hy die opdrag om die oorsprong daarvan vas te stel. Deur sy kennis van die gebied en plaaslike kontakte spoor hy die tydelike Recce-kamp vinnig op. Die voorval beklemtoon Brigadier Beukes se bestuursfilosofie, naamlik dat ‘n veldwerker sy gebied en mense deeglik moet ken. Die verhaal illustreer die belang van menslike intelligensie, betroubare beriggewers en tydige rapportering as hoekstene van effektiewe intelligensie-insameling.
Sleutelwoorde
Veiligheidstak, Lucas Holtzhausen, Bob Beukes, menslike intelligensie, HUMINT, Recce, SA52-radio, Thornville, veldwerk, beriggewers, intelligensie-insameling, terreinkennis, bevel en beheer, veiligheidsmagte, Suid-Afrika
Die Verlore Recce-Tweerigtingradio
Lucas Holtzhausen
Beste oom Hennie,
Baie Dankie vir die puik artikel in die Nongqai Vol 17 No 10 – (37) KI se Beoordeling van die SAP Veiligheidstak.
Ek wil graag aansluit oor hoekom die Veiligheidstak lede sulke goeie werk gelewer het.
Ek het op die 1ste Februarie 1986 by die Veiligheidstak aangesluit. Daardie jare kon jy nie aansoek doen om ‘n verplasing na die Veiligheidstak nie, jy was genader deur ‘n offisier van die Tak. My uitnodiging het gekom in Januarie 1986 en soos reeds gemeld het ek die 1ste Februarie 1986 by die Veldeenheid wat toe op die eerste vloer by Alexandra Weg Polisiestasie Pietermaritzburg geleë gerapporteer. Die afdelingsbevelvoerder was toe Kolonel Bob Beukes gewees met Lt. Kol Chris Wolhuter as tweede n bevel. Ek het Kolonel Beukes al van te vore ontmoet wanneer hy ons toegespreek het tydens DK konferensies te Kokstad. Ek was toe ‘n speurder sersant gestasioneer te Ixopo en ek het dadelik van hom gehou want ek kon die intensiteit van sy voorligting sessies dadelik aanvoel.
Met my aankoms was ek ‘n baie groot plattelandse gebied gegee om in te werk. Dit het die polisiewyke van Thornville, Richmond en Mid-Illovo ingesluit. Ek en my swart kollega sou soggens begin om beriggewers te besoek en eers laat in die middag terugkeer. Daar was heelwat uitgewekenes in my gebied gewees en ons moes weet wanneer hulle sou terugkom veral as daar ‘n dood of begrafnis in hul familie was. Daar was nie sprake van telefoniese onderskepping gewees nie want die uitgewekenes in die valleie gebly. Om kontak met jou beriggewer te behou was baie moeilik. Ons moes vooraf dae en datums bepaal wanneer ons sou ontmoet. As jy een dag sou mis dan moes jy ander planne maak om hom te kontak. Ek en my swart lid het ons self voorgedoen as landbou beamptes en ons het met ‘n Isuzu 4×4 enkel kajuit bakkie gery.
So het ons aangegaan elke dag en gereeld verslae ingedien oor familie bewegings van die uitgewekenes. Ons het maandeliks, die laaste Vrydag van die maand almal by mekaar gekom by die skougronde vir ‘n braai. Die een besondere Vrydag was ek al gereed om te gaan braai toe Brigadier Beukes my na sy kantoor ontbied. Daardie jare was ons maar skrikkerig as die groot baas jou summier na sy kantoor ontbied. Daar aangekom wys hy vir my ‘n weermag tweerigting radio (SA52) wat op sy tafel lê. Hy vra toe vir my wat weet ek van die radio en ek antwoord dat ek geen kennis dra daarvan nie. Hy sê toe vir my dat ‘n boer in die Thornville gebied die radio op getel het dit na hom toe gebring het en dat daar iewers in my gebied ‘n ‘ Recce’ kamp is. Ek moes gaan uitvind waar dit is en dan aan hom terug moet rapporteer voordat ek kan gaan braai. Ek klim in my Isuzu bakkie en ry in die rigting van Thornville met geen idee waarheen ek nou eintlik op pad is nie. Toe tref dit my dat die SB van Thornville al jare lank daar gestasioneer was en dat hy dalk vir my kan help. Ek ry toe na die polisie stasie toe en vra vir oorlede A/Off Hans le Roux of hy dalk kennis dra van ‘n weermag kamp in sy gebied. Ja sê oom Hans die ‘Recces’ doen hul nagmars keuring in die Thornville gebied en hy verduidelik toe vir my presies waar die tydelike kamp is. Ek ry toe deur die bosse en skielik kom ek op die kamp af. ‘n Jong luitenant bestorm my en vra wat soek ek hier. Nou was dit my beurt om hardekwas te wees. Ek vra toe vir hom om hy ‘n tweerigting radio verloor het. Dit was asof ek die ou met ‘n nat lap in die gesig geslaan het. Hy staan so twee tree terug en antwoord dat hulle wel ‘n radio verloor het. Ewe kordaat sê ek toe vir hom dat as hy sy radio wil terug hê dan moet hy dit gaan haal by Brigadier Beukes se kantoor.
Ek gaan toe terug en rapporteer aan Brig Beukes dat ek die ‘Recce’ kamp opgespoor het en dat die luitenant sy radio by hom sal kom haal. Ek vra toe vir Brig Beukes hoekom het hy my uitgestuur om ‘n ‘Recce’ kamp op te spoor aangesien dit ‘n militêre aangeleentheid is . Sy antwoord het soos ‘n goue draad deur my Veiligheidstak loopbaan bly loop “Ken jou gebied en ken jou mense”
As veldwerkers het ons meestal van Menslike Intelligensie gebruik gemaak. Brig Beukes het ook ‘n ander gesegde gehad wat ons altyd deeglik toegepas het. Dit was “Intelligence is the truth timeously told”
Ek was voorwaar uiters bevoorreg om onder sy bevel te kon dien. Later met my bevordering na die rang van luitenant het ek ‘n gebiedsoffisier geword met nog ‘n groter gebied onder my bevel. Ek het seker gemaak dat elke lid onder my bevel sy gebied en sy mense geken het and dat intelligensie altyd bevestig en betyds gerapporteer was.
Groetnis
Lucas Holtzhausen
PS Later sal ek ‘n artikels stuur oor hoe Bob Beukes vir die “Army Intelligence”-manne ore aangesit het en die eerste BBP beveiliging van Nelson Mandela net nadat hy uit die tronk vrygelaat is.
Kommentaar
Dit is ‘n uiters interessante en leesbare veteraneverhaal. Die waarde van die artikel lê nie in die verlore radio self nie, maar in die dieper les wat Brigadier Beukes oorgedra het: suksesvolle intelligensiewerk berus op deeglike kennis van jou area, jou mense en hul bewegings.
Die verhaal illustreer ook op praktiese wyse hoe menslike intelligensie dikwels meer waardevol is as tegnologiese hulpmiddels. Nongqai-lesers, veral voormalige lede van die Veiligheidstak, SAP, Weermag en intelligensiegemeenskap, sal die verhaal geniet omdat dit ‘n blik gee op die alledaagse realiteite van veldwerk tydens die onstuimige 1980’s.
Die twee aanhalings van Brigadier Beukes, “Ken jou gebied en ken jou mense” en “Intelligence is the truth timeously told”, vorm die ware kern en blywende waarde van die artikel.