Nongqai Vol 17 No 10 – (47) SAP Koppies: Dinge wat my altyd sal bybly
Uittreksel
‘n Oud-polisieman kyk terug op oomblikke waar plig en gewete gebots het, en vra eerlik of sommige besluite anders geneem kon word.
Abstrak
Hierdie persoonlike herinneringe van AJ Wiid beskryf verskeie voorvalle tydens sy diensjare in Koppies wat hom steeds bybly. Die verhaal toon die moeilike keuses wat polisiemanne soms moes maak in die uitvoering van hul pligte. Sommige gebeurtenisse wek trots, soos die redding van ‘n man met ‘n meswond aan die kop, terwyl ander steeds skuldgevoelens en berou veroorsaak, veral waar diere doodgemaak is op instruksie van owerhede. Die artikel bied ‘n eerlike blik op die emosionele las van polisiewerk, die gevaar van emosionele afgestomptheid en die voortdurende worsteling tussen amptelike plig en persoonlike gewete.
Sleutelwoorde
Polisiediens, Koppies, plig, gewete, berou, emosionele trauma, hondsdolheid, vrugafdrywing, patrolliewerk, menslikheid, verantwoordelikheid, herinneringe, polisieman, etiek, stryd tussen plig en gewete, AJ Wiid
Dinge wat my sal bybly, soms met spyt: In Koppies as n polisieman.
(AJ Wiid)(Pleb IV)
Daar is soms dae, veral op jou ouer dae, of tye waar jy op jou eie of net alleen is. Dit is dan waar jy in die verte dink en gebeure opkom wat jy 2 keer aan dink. Nie net spytvolle dinge nie maar ook goeters wat jy sal onthou.
Ek was geken as ‘n polisieman wat altyd alleen gepatrolleer het. Tydens nagskof het ek baie stadig gery, soms sonder ligte. Die rede was dat ek meer kon sien wat aangaan en potensiële kriminele my nie sommer sal sien nie.
Daar was nagstrate in Koppies vir die trokke om die riool te verwyder en nie vir normale verkeer nie. Die een nag het ek een of ander houer gesien waar ‘n hond aan gevreet het. Toe ek nader stap het ek gesien dat dit eintlik ‘n koelboks is wat geskeur is, met baie bloed, en ‘n hond wat besig was om iets te eet. Dit het gelyk soos vleis. Ek het dit van nader bekyk en gesien dat dit ‘n menslike fetus was.
Ons sou later verneem dat die fetus so ongeveer 6 maande was. Ek het die hond afgetrek van die fetus. Dit was ‘n groot hond. Ek was baie geskok en besef dat die hond menslike vleis geëet het. Ek het hom toe dood geskiet.
Later in my lewe het ek weer gedink dat die hond nie die oorsaak van die vrugafdrywing was nie, en bloot as vleis gesien het. Ek was baie spyt ek het dit gedoen. O’ ja die ma was toe later gearresteer en gevonnis deur die hof. Die klagte was, “vrugafdrywing”.
Die ander geval was toe die vee-inspekteur ons na ‘n toneel ontbied het. Daar was 12 honde in ‘n hoenderhok wat toegesluit was. Die inspekteur het vir my gesê dat daar hondsdolheid onder van die honde was. Onderstepoort het dit bevestig deur ‘n brein wat ondersoek was en wat deur ‘n meerkat gebyt was, hondsdolheid gehad het.
Dit was vir my onduidelik hoekom hulle nie bloot uitgesit was nie. Ek is toe aangesê om die honde te skiet. Hy moes my sakboekie teken met die versoek. Ek het toe gesien dat ‘n die boer en sy vrou eenkant gestaan en mekaar vasgehou het. Die vrou het saggies gehuil. Ek het al die honde doodgeskiet.
Ek het gesien hoe verskrik hulle was. Tot vandag huil ek van tyd tot tyd. Dan besef ek hoe polisiemanne afgestomp was. Ek moes hulle nooit geskiet het nie en aangedring het dat hulle eerder uitgesit moes word deur ‘n veearts. Ek is baie lief vir my eie honde.
Ek het op ‘n ander geval gepatrolleer en iets gesien het wat langs die pad gelê het. Ek sou dit nooit gesien het as ek vinnig gery het nie. Ek het nader beweeg en gesien dat ‘n swartman daar lê met ‘n mes in sy kop.
Hy was by sy bewussyn maar het gesien dat hy kort-kort sy bewussyn wil verloor. Ek het gedink dat hy sou doodgaan as hy sy bewussyn sal verloor en het hom aangesê dat hy sy oë moet oophou. Op ‘n stadium het ek hard met hom gepraat en hom gedreig om nie sy oë toe te maak nie. Ek het gedink dit was die beste wat ek kon doen. Ek het by hom gebly tot die ambulans hom kom haal het en Kroonstad toe vat.
Ek was nie vol hoop nie, maar nou ja, dit is die lewe.
Een maand daarna het die aanklagkantoor my kom sê dat iemand my wou sien En wie was daar, die man met die mes in sy kop. Ek kon nie glo dat hy dit gemaak het nie. Hy het my kom dankie kom sê dat ek hom gehelp het. Dit was maar net my plig gewees, maar moontlik buite my pligte.
Ek sal dit nooit vergeet nie.

Kommentaar
Hierdie artikel is besonder sterk omdat dit nie probeer om die skrywer as held of slagoffer uit te beeld nie. Kol AJ Wiid skryf met opvallende eerlikheid oor besluite wat destyds logies en wettig gelyk het, maar wat hom later met vrae en spyt gelaat het. Dit is juis hierdie selfondersoek wat die artikel waardevol maak.
Die sentrale tema is die ewige spanning tussen plig en gewete. ‘n Polisieman word opgelei om opdragte uit te voer en wet en orde te handhaaf, maar bly terselfdertyd ‘n mens met emosies, deernis en ‘n morele kompas. Die artikel wys hoe sommige besluite eers jare later ten volle verwerk word.
Veral die beskrywing van die honde wat geskiet moes word, tref die leser diep. Die skrywer se latere besef dat daar moontlik ‘n meer menswaardige alternatief kon wees, beklemtoon hoe herinneringe oor dekades kan bly voortleef. Daarteenoor staan die dankbaarheid van die man wat ‘n ernstige meswond oorleef het as bewys dat pligsgetroue optrede soms lewensreddende gevolge het.
Vir Nongqai-lesers sal die artikel waarskynlik herkenbaar wees. Baie oud-polisiemanne en veiligheidsmaglede dra soortgelyke herinneringe, waar die regte besluit op die oomblik nie noodwendig die maklikste besluit vir die gewete later was nie.
Die artikel herinner ons daaraan dat agter elke uniform ‘n mens skuil wat sy ervarings en besluite vir die res van sy lewe saamdra.
Baie dankie vir die waarheid.
Dit bevestig waarom sommige lede se traumatiese ervarings later tot sielkundige trauma kan lei.
Nie almal ondervind trauma na ‘n spesifieke ervaring nie, dit word gekoppel aan verskeie faktore soos bv ‘n geskiedenis met vorige stres.
Andersins ontwikkel iemand ‘n skuldgevoel. omdat hy/sy nie tydens die ervaring anders opgetree het nie..