Nongqai vol 17 No 9A – (10) kapt Jan Idema

Excerpt (English)

Captain Jan Idema’s career in the South African Police Service began on 10 December 1981, marked immediately by danger when the Wonderboom Poort Police Station was attacked by terrorists during his first week of service. His training year at the Police College in 1982 was shaped by strict discipline, memorable instructors, and participation in the state funeral of former President C.R. Swart. After a year in the Guard Unit, he spent eight formative years at Warmbad, where he gained extensive operational experience, handled serious investigations, worked closely with magistrates, and even served as Mess Master. In 1992 he moved into training at Pietersburg, later joining the Police Dog School in Pretoria-West in 1997, where he served for 25 years in Learner Support, curriculum monitoring, and international cooperation. His career included interactions with historic figures, foreign police delegations, and the custodians of long-standing SAP traditions. He retired on 29 April 2022 after 14,751 days of service.

*(Excerpt supported by document lines such as: “Ek is op 10 Desember 1981 ingesweer…” and “Ek het 3 Februarie 1997 by die Hondeskool begin…”) *

Abstract (English)

This autobiographical report traces the 40‑year police career of Captain Jan Idema, beginning with his induction in 1981 and early exposure to terrorism-related violence. It details his rigorous training at the Police College, his service in the Guard Unit, and his eight influential years at Warmbad, where he handled investigations, court processes, community policing, and administrative duties. The narrative highlights his transition into police training, his promotion to lieutenant in 1995, and his long tenure at the SAPS Dog School from 1997 to 2022. Idema’s account provides insight into police culture, discipline, operational challenges, and institutional memory, including historical anecdotes, international cooperation with the French Police, and traditions such as challenge coins. His retirement message reflects a career marked by dedication, resilience, and deep camaraderie.

*(Supported by document lines such as: “Ek was agt jaar op Warmbad…” and “Ek het op Vrydag 29 April 2022… met pensioen gegaan.”) *

Keywords

South African Police Service, police training, Police College, Guard Unit, Warmbad Police Station, investigations, court procedures, learner support, Dog School Pretoria-West, police dogs, challenge coin, French Police cooperation, policing history, operational discipline, career development, SAPS traditions, retirement.

No Promotion in 25 Years at the Dog School?

His document states:

“Ek het 3 Februarie 1997 by die Hondeskool begin… Hier sou ek vir 25 jaar en twee maande werksaam wees…”

But there is no mention of any further promotion after 1995, when he became a lieutenant (converted to captain after the rank restructuring). He retires in 2022 still as Captain Idema.

In the context of post‑1994 policing, Captain Jan Idema’s lack of promotion over twenty‑five years at the Dog School cannot be separated from the broader transformation policies that reshaped the South African Police Service. Although he served with dedication, competence, and deep institutional loyalty, the promotion pathways for white officers in specialised training environments were severely restricted by equity targets and structural bottlenecks. His career therefore reflects a common pattern of the era: committed, experienced white members who carried significant responsibility, yet remained professionally static due to demographic priorities rather than merit or performance.

MY LOOPBAAN

Kapt Jan Idema

Ek is op 10 Desember 1981 ingesweer in diens van die Suid-Afrikaanse Polisie.

Die Adjudant-offisier wat my ingesweer het, het die volgende advies vir my gehad:

“As jy moeilikheid by die huis het, los jy die moeilikheid by die huis omdat daar niemand by die werk is wat jou met die moeilikheid kan help nie, en as jy moeilikheid by die werk het, los jy die moeilikheid by die werk omdat niemand by die huis jou met daardie moeilikheid kan help nie”. Hierdie advies het ek dwarsdeur my loopbaan nagevolg.

Nadat ek ingesweer is, het ‘n voertuig van Wonderboom-polisiestasie my kom haal

Student by Wonderboompoort-polisiestasie.

Ek het as ‘n student by Wonderboom-polisiestasie begin werk in die aanklagkantoor.

Ek het gou die take bemeester om vingerafdrukke te neem en ongeluk verslae te voltooi.

Saterdag 26 Desember 1981 het ek 06:00 van my laaste nagskof afgekom.

Sondag oggend toe my Pa die radio aanskakel vir die nuus, was die hoofnuus dat Wonderboompoort  se polisiestasie die vorige aand deur terroriste aangeval is. Een swart student is dood en twee ander studente beseer. Die terroriste het ‘n RPG7 afgevuur op die Ondersoek en Navrae kantoor en met AK47 op die lede aan diens geskiet. In die aanklagkantoor was daar twee tydelike aanhoudings selle. Een van die ronde stawe van een sel was getref met ‘n AK47 rondte en daar was slegs die dikte van die verflaag oor of die yster was morsaf. Die terroriste is later gearresteer waar hulle in ‘n gat langs die Apiesrivier geskuil het.

Nodeloos om te sê dat my Ma baie onrustig was dat haar seun by die polisiestasie werk wat deur terroriste aangeval is.

Daarna met elke middag skof wat 22:00 eindig, het my ouers oorkant ons huis in die straat gestaan en wag totdat ek met die fiets om die straathoek gekom het. Ek het vir my Pa gesê dat hulle dit asseblief nie moet doen nie, waarop hy my geantwoord het: “Ek sal nie dat jou Ma daar alleen staan nie”.

Die volgende skofte by die polisiestasie was gekenmerk deur nuuskierige publiek wat kom kyk het na die skade.

Een van die verhale wat ek gehoor het, was dat Minister Louis Le Grange saam met die Kommissaris, Genl. Mike Geldenhuys die toneel besoek het kort na die aanval, en een van die oorkantse huisbewoners het by die minister kom kla dat sy huis se sinkdak ‘n koeëlgat het en dat die polisie die skade moet herstel. Die minister het hom glo taamlik bruusk geantwoord dat hy met dooie polisie lede te kampe het, en dat die klaer maar sy versekering moet nader om die koeëlgat te herstel.

1982: Fotoalbum: SA Polisiekollege

Student-konstabel J Idema

Die Polisie-kollege

Ek is op Sondag 10 Januarie 1982 polisie-kollege toe vir ‘n jaar. Die polisie bestuur het dit goed gedink om die opleidingstyd te verleng van die normale ses maande tot twaalf maande, waar die studente dan in die laaste ses maande fase die geleentheid kry om die sersant eksamen af te lê. Hierdie gedagte van die polisie bestuur het nie vir baie lank gehou nie, want die inname groep in Junie maand het saam met ons uitpasseer op 3 Desember 1982. Slegs 6% van die studente wat die sersant eksamen geskryf het, het dit met die eerste poging geslaag. Ons het uniform gaan “trek” by die kwartiermeester in Visagie straat. Daar was ‘n senior Adjudant-Offisier wat die klere groottes uitgeroep het soos wat die manne by hom verby loop. Toe ek aan die beurt was, het hy stil gebly, na my toe geloop en sy hande weerskante van my skouers gesit om te meet en vir die helper naaste aan hom gesê “bring vir my ‘n 16 en ‘n 16A tuniek baadjie. Die 16 het gepas en die Adjudant het kom kyk of dit goed pas. Al die ander klerasie het goed gepas soos wat hy my met die oog ‘gemeet” het. Ek is 1,86m lank en skraal gebou.

Met die eerste “PT” klas was ons almal geweeg. Ek het 64Kg geweeg. Die sersant sê toe vir my “moenie worry, wanneer jy in Desember uitpasseer sal jy beslis swaarder weeg”.
En aan die einde van die jaar met die laaste weeg sessie weeg ek presies 64Kg. Die sersant het net sy kop geskud in ongeloof. Ek het nooit uitgesit met ligte diens tensy die hele peloton ‘n inspuiting of inenting gekry het, en die hele peloton op ligte diens was nie.

Dinge wat my altyd sal by bly van daardie jaar in die kollege.

Met verslaggewing, het die instrukteur ons geleer dat wanneer verslag gedoen word, of wanneer ‘n verklaring afgeneem word betreffende ‘n misdryf, is die toets vir volledigheid, die vyf whiskeys in die hotel. Moenie komkommer nie, hierdie was beslis nie ‘n les in “dorsles” nie.

Om die korrekte spelling van ‘n woord te verstaan, of met radiospraak het ons van die Fonetiese alfabet gebruik gemaak. Dus die “H” was as “Hotel” uitgespreek en die “W” as “Whisky”.

Die vyf “Whiskeys” het gestaan vir:

Wie

Wat

Waar

Wanneer

Waarom

En die “Hotel” het gestaan vir:

Hoe

Met die toepassing van hierdie reël was die verslag of verklaring volledig.

Ek volg hierdie reël nog steeds.

Die Kaptein wat vir ons Strafproses reg aangebied het was ‘n advokaat. (Ek kan sy van nie meer onthou). Hy het ons studente altyd aangespreek as “Menere”.

Hy het ‘n besondere manier van klas aanbieding gehad. Sy eerste les het hy begin soos volg:

“Menere onthou “Betrokke” “Bewys”, “Bestem”, Menere julle ken artikel 20.”

Hierdie artikel handel oor wanneer daar beslag gelê kan word.

Strafprosesreg was my beste vak danksy hierdie dosent wat dit so interessant kon aanbied.

Adjudant-offisier Liebenberg was kompanie adjudant. Hierdie man was baie trots op sy uniform. Sy uniform was altyd onberispelik en alles wat kon blink het geblink. Selfs wanneer hy loop was dit altyd flink en regop. Majoor Lesch wat die bevelvoerder was van die Dril seksie was net so onberispelik op sy uniform en het net so flink en regop geloop. ’n Ware militaris.

Een van ons dril instrukteurs het eenkeer vir ons vertel dat daar ‘n kompetisie was, Wie die blinkste en netjiesste polisieman in die Mag was. Majoor Lesch en Adjudant-offisier Liebenberg het gelykop in die finaal geëindig. Op die laaste moment het die beoordelaars onder hulle skoene gekyk, en Majoor Lesch se skoene was aan die onderkant tussen die hak en die skoensool net so blink as die bokant.

Majoor Lesch was ‘n Baie streng offisier en het nooit genade betoon vir swak maniere en ongedissiplineerdheid nie. Hy het ‘n bulderende stem gehad wat ontsag afgedwing het.

Eenkeer was een van die studente Baie stout, en sy straf was dat hy die hele naweek wagdienste sal werk. Een skof aan en een skof af. Die eerste skof het Vrydag middag 16:00 begin tot 18:00. Daarna was dit drie ure aan en drie ure af. Met etenstye is hy afgelos om gou te gaan eet in die eetsaal. Saterdag met aand ete het ek hom in die eetsaal gesien en hy was nog baie braaf en vol moed dat niemand hom sal breek nie.

Met Sondag aand se ete was ek weer in die eetsaal toe hierdie student kom eet het. Hy was doodstil toe hy sy kos kry en toe hy gaan sit val hy met sy kop in sy bord. Die menasie sersant, (Ons het na hulle verwys as menasie speurders) het hom aan sy hempkraag terug getrek en die bord kos weg geskuif. Binne minute was Majoor Lesch in die eetsaal. Baie rustig het hy die onder-offisiere instruksie gegee om die student na sy bed te neem en vervangings vir die res van die wagdienste te reël. Sy straf was verby.

Gedurende Julie 1982 het ons verneem dat oud staatspresident, Mnr. CR Swart se gesondheid afneem. Kort Hierna het die berede personeel perde verskuif na Bloemfontein en gedurende die dril periodes is daar gekonsentreer op “slow march” stadige mars, soos met militêre begrafnisse die gebruik was. Ek is nie seker hoeveel studente na Bloemfontein gereis het vir die begrafnis nie, maar ons was Baie.

Toe Oom Blackie sterf op 16 Julie 1982 was my peloton een van vele wat in die optog van die kerk na die begraafplaas sou marsjeer. Ander pelotonne het langs die roete die erewag gevorm.

Ons het per trein van Pretoria na Bloemfontein gereis en êrens in die nag het die trein in Bloemfontein gestop. Ongeveer 05:00 die oggend van 22 Julie 1982, het ons kompartement se deur oopgegaan en “iemand” het saggies gesê “Môre kêrels, staan op, trek julle winters uniform aan en tree aan op die perron”. En die kompartement deur het weer saggies toegegaan. Iemand vra toe, “Wie was dit…” En iemand anders antwoord “Ek dink dit was Majoor Lesch”.

Buite op die peron was ons verbaas hoeveel uniforms op die perron was. Alle eenhede van die weermag die lugmag die geneeskundige korps die vloot, noem maar op hulle was almal daar. Iemand van die weermag het die leiding geneem om hierdie groot parade op aandag te kry. Na drie pogings wat misluk het, het Majoor Lesch ingespring en met sy duidelike stem het hy vir die parade mooi verduidelik. “As ek sê PARADE dan ruk jy jou skouertjies op, en as ek sê AANDAG stamp jy jou voet in. PARADE AANDAG en met Een donderslag was almal op aandag. Naby my sê toe iemand saggies maar duidelik hoorbaar “Dit is ons Majoor Lesch daai!”

Van die skougronde waar die trein gestop het, is ons met vragmotors (opruk trokke) na die kerk geneem. Ons is afgelaai in strate agter die kerk en in die volgorde waarin die Magte in die optog sou loop. Ons het tussen winkels deurgeloop tot in die straat voor die kerk, en was presies waar ons moet wees. Daar was geen op-en-af lopery op soek wie moet waar wees nie. Weer ‘n mooi voorbeeld van hoe presies die beplanning gedoen was. Ons was heel voor in die optog, en toe die roudiens byna verby was het die berede voor ons kom plaasneem. Ons het agter die perde ge “slow march” en na die “slow march” was perdemis mooi opgeruim.

Ons het ge-“slow march” tot by die begraafplaas. Dit was die langste “slow march” waaraan ek ooit deelgeneem het.

Met ons uitpasering op Vrydag 3 Desember 1982, was Majoor Lesch die argitek van die parade. Ons het ‘n wiel gevorm waar die binne naaf teenoorgesteld draai van die buite rand, en die speke weer teenoorgesteld draai van die binne naaf. Terwyl hierdie wiel dan so beweeg is die dril aksies met die gewere gedoen. Op ‘n bepaalde tyd het ons ‘n loskruit patroon afgevuur. Almal gelyk een knal. My Pa het later gesê dat hy hom boeglam geskrik het vir die skoot maar dat hy baie beïndruk was met die parade. Toe die dril gedeelte van die parade verby was, het ons afmarsjeer na die terrein Wes van die Hoofhek, waar ons die uniforms uitgetrek het. Ons het die “PT” klere onder ons uniform aan gehad vir die liggaamsoefening gedeelte van die parade. Adjudant Liebenberg was daar met sy stasiewa en vir ons gesê om ons gewere in sy voertuig te laai, sodat die studente wat op “ligte diens” was, ons gewere kon skoonmaak. Hierdie welwillendheid van die Adjudant het gemaak dat ons baie vinnig na afloop van die parade kon vertrek.

My eerste vrye tyd buite die kollege was van korte duur, want net na die naweek (die eerste vol naweek in 12 maande), was ek Sondag aand terug in die kollege om die vier weke opleiding vir die Wageenheid te deurloop.

Die Wageenheid

Die eerste twee weke van Desember 1982 was dit Adjudant-Offisier Snorre Vermeulen en sy span van Taakmag, wat ons onder hande geneem het om onder andere die fynere kunsies van die skietkuns te leer. Hierdie span was ongelooflike instrukteurs.

Ons het 05:00 gaan PT doen met een van die Sersante. Daai Sersant was heeltyd voor met wat ons gedoen het. Ons moes eenkeer met dik toue opklim tot teen die dak waaraan die toue gehang het. Omdat ek so skraal gebou was, het ek nie baie krag in my arms gehad om met die toue op te klim nie. Die Sersant kom staan toe langs my, en baie rustig sê hy toe dat ek nie moet probeer om met krag my op te trek nie, maar dat ek die regte tegniek moet gebruik deur eers my lyf te lig en dan die tou vas te trap tussen my voete. En dit het gewerk!!. Dit was die eerste keer dat PT vir my lekker was. Ons het elke dag gaan skiet. Na hierdie twee weke het ek ‘n gemiddeld van 95% geskiet met die Walter P38 pistool, en 90% met die R-1 geweer. Net die korrekte vashou, vasdruk en asemhaling wanneer die sneller GEDRUK word en NIE GETREK word het ‘n groot verskil gemaak.

Die Wageenheid was ‘n jaar van wagstaan en sorg dat die uniform skoon en blink is. Baie vervelig om vir agt ure by ‘n hek te sit sonder enige aktiwiteite. Die skof waarop ek ingedeel was, was aangename kollegas en met humor onder mekaar het die jaar verby gegaan.

So het ek en Erasmus ‘n dag (Dit was ‘n naweek dag of ‘n vakansiedag), by die Uniegebou gewerk. Hier was Baie plek om rond te loop om te kyk dat daar nie ongerymdhede is nie. Ons was met pistole en pomp-aksie haelgewere bewapen. Ons staan toe op ‘n stadium by die vlagpaal wat daardie tyd op die onderste straat en parkeervlak gestaan het. Erasmus sê toe dat dit darem baie vervelig is, en ons moet iets daaraan doen. Sy voorstel is dat ons sal dril tot heelbo waar die twee gange van die halfmaan bymekaar kom. So gesê so gedaan. Erasmus het ‘n goeie stem gehad en hy het die bevele geskree. Skouer geweer, Aandag, ons het die vlag gesalueer ‘n ommekeer gemaak en oor die straat gemarsjeer. Hy het die linkerkantste trappe geneem en ek dié aan die regterkant. Ons het net verby die amfiteater na mekaar toe gedraai en onder die koepel gestop. Weer presenteer geweer, mekaar gesalueer en verby mekaar gemarsjeer toe is ek aan die linkerkant, en hy regs, toe draai ons weer na die Noorde kant en marsjeer die trappe op. Ek onthou nog dat ek vir hom gesê het ons moet op die tweede laaste trap stop waar ons sal omdraai vir ‘n saluut, omdat die son nog op die tweede laaste trap geskyn het. Met dié dat ons op die tweede laaste trap halt en omkeer, staan die hele terrein vol mense. Daar het ‘n paar toerbusse gestop en almal van hulle is besig met hulle kameras. Ons het baie vinnig weer ‘n ommekeer gemaak en op die koppie agter die Unie gebou vertoef tot die toeriste weg was.

As jy ‘n jaar op die Wageenheid vol gehou het, kon jy jou keuse van jou volgende standplaas aandui, en hulle het dan probeer om daaraan te voldoen.

Ek het Pietersburg gekies, omdat ek die ondervinding as student gehad het, dat my ouers onrustig raak wanneer ek later as die gewone tyd by die huis aankom. Dit het ook gebeur op die Wageenheid wanneer ons by plekke vêr van die Bryntirion landgoed gewerk het, en laat afgelos word. En ek is nie iemand wat hou van koue nie, en het gedink Noord-Transvaal is warm.

Op ‘n stadium het een van die administratiewe klerke vir my gevra hoekom ek spesifiek vir Pietersburg gekies het, en of ek daar familie of ‘n trekpleister het. Ek het hom verduidelik dat ek net Noord wil gaan en dat die dorp nie baie saak maak nie.

Hy sê toe dat iemand anders het Warmbad gekry terwyl hy graag in Pietersburg wil wees, en of ek bereid sou wees om met die persoon te ruil. Dit het toe so gebeur.

Warmbad

Toe my ouers hoor ek word Warmbad toe verplaas, het my Pa my “opdrag” gegee om gedurende my rusdae Warmbad toe te ry om die stasiebevelvoerder te ontmoet en my voor te stel natuurlik, en uit te vind waar ek gaan bly. Ek het nie gedink dat dit so nodig was nie, maar my Pa was toe nie oop vir onderhandeling nie. Ongeveer die middel van Januarie 1984 het ek Warmbad toe gery.

Ek parkeer my voertuig toe heel netjies in die straat voor die polisiestasie en stap by die aanklagkantoor in. Die kollega aan diens vra waarmee hy kan help en ek sê dat ek binnekort hier kom werk. Hy gaan roep toe die stasiebevelvoerder, Kapt. Sparkie Louw.

Die Kaptein kom toe na my toe en wil weet wie het vir my gesê dat ek op Warmbad kom werk, want hy kry sy opdragte van sy Distrikskommandant af, en daar was tot nou toe nog nie sulke kommunikasie nie. Ek vertel toe my verhaal, en die Kaptein is na sy kantoor om die DK te bel.

Hy kom toe ‘n ruk later terug met die boodskap dat ek maar die eerste werkdag van Februarie daar kan begin. Kaptein Louw vra my toe waar my ouers woon, en toe ek sê Pretoria, sê hy “net naby genoeg en net vêr genoeg”. Dit was baie waar woorde.

En die kollega wat in die aanklagkantoor was, Konst. Gert Britz het ‘n rondawel gehad, maar ook op die dorp by sy ouers gewoon. Ek kon daardie rondawel betrek. Toe ek later terug ry Pretoria toe, het ek die rondawel se sleutel in my sak gehad. Daar was in totaal vier rondawels met ablusie geriewe.

Ek was agt jaar op Warmbad. Hierdie agt jaar het Baie bygedra tot my vormings jare in die Polisie.

Met my aankoms op Warmbad komende van die Wageenheid het my leer kombinasie belde goed versorg en blink gelyk. Die gewoonte om met elke rusdae die leerwerk te politoer en blink te vryf, het voort geduur vir solank ons die kombinasie belde gedra het.

Ek kom een aand redelik laat op ‘n boer se plaas aan vir die bywoon van ‘n klagte rakende veediefstal. Ons het in die sitkamer gesit waar ek sy verklaring geskryf het, en sy jong seun het langs sy pa gesit my my baie stip dopgehou. Toe ek al die inligting neergeskryf het, vra ek die boer of ons by die kraal kan gaan kyk vir spore en ook hoe toegang verkry is. Die boer het dadelik ingestem, maar die jong seun het beswaar gemaak. Sy pa vra toe vir hom wat is die probleem en hy antwoord “Die Oom se blink skoene en mooi belde sal vuil word as hy kraal toe loop.”

Die kollegas op Warmbad was aangenaam om mee saam te werk en ons het gereeld mekaar gehelp. Personeel tekorte was maar ‘n gereelde ding en dit het dan ook gebeur dat twee lede op ‘n skof werk. Een in die Aanklagkantoor en voertuig wanneer klagtes bygewoon moet word en ‘n hekwag wat ook die selle besoek het. Wanneer ‘n klagte dan bygewoon word, het die hekwag in die kantoor die radio en telefoon beman.

So het ek met die begin van ‘n nagskof ‘n klagte ontvang op die pad na Pienaarsrivier.

Konstabel Piet Schoeman wat sy eerste middag skof gewerk het, bied toe aan om saam met my te ry na die klagte. Toe ek oor die spoorbrug en stopstraat is begin ek versnel en wou net ‘n voertuig wat voor my gery het, verby steek toe Piet Schoeman vir my skree om te stop omdat daar beeste in die pad gelê het. Dit het gereën en dan lê die beeste op die warm teerblad om warm te word. As ou Piet nie saam gery het nie, sou ek nooit by daai klagte uitgekom het nie.

Ek het ‘n groot belangstelling in fotografie en het oor die jare heen vir my toerusting aangeskaf. Ek het mense wat met honde geteel het se werpsels afgeneem vir advertensie doeleindes. Ek het troues begin afneem en selfs een van die tannies se kleindogter wat ‘n model wou word se model foto’s geneem. Aan die einde van my tyd op Warmbad het ek ook vir die plaaslike koerant hulle films ontwikkel en die foto’s afgedruk (Swart / Wit).

Per geleentheid kom die stasie bevelvoerder van Rooiberg polisie stasie, Adjudant-Offisier Flip Otto na my en vra of ek foto’s kan neem van een van sy gearresteerdes, wat by ons in die selle was. Die man was van kop-tot-tone ingekleur met tatoeëerings. Wanneer ons vinger afdrukke van gearresteerdes geneem het, moet ons ook uiterlike herkenbare merke en littekens op die vorm aangedui het, en in hierdie geval was dit ‘n onbegonne taak om al daai prentjies te beskryf. Ek het my kamera gaan haal en ons is selle toe. Die Adjudant het die ou verduidelik wat ons gaan doen en hy was gediend daarmee. Ek het hom van kop tot tone afgeneem in sy onderbroek. Die foto’s is saam met die vingerafdruk vorm KRS toe.
‘n Paar weke later toe Adjudant Otto weer my raakloop sê hy vir my dat hy ‘n brief van KRS ontvang het waarin hulle hom bedank vir die foto’s en dat dit saam met die vingerafdrukke geliasseer word.

Met ‘n geleentheid was ek aangesê om saam met een van die landdroste van Warmbad twee drank verslaafdes na die rehabilitasie sentrum by Zonderwater gevangenis te neem. Op Pad Pretoria toe was die twee verslaafdes baie geselserig omdat een van hulle al ondervinding het van wat op hulle wag, en hy het in kleur en geur vertel hoe en waar hulle drank bekom en wegsteek.

Met die terug reis het die landdros en ek geleentheid gehad om te praat. Ek het toe vir hom gesê dat ek dink ons hof prosesse maak dat ons NIE reg laat geskied aan die waarheid nie. Hy het geglimlag en gevra ek moet verduidelik.

Ek het ‘n motorongeluk ondersoek wat op die N1-snelweg gebeur het, en waarin ‘n motoris oorlede is. Met my aankoms op die toneel het ‘n man na my toegekom en dadelik vir my gesê dat hy dink hy het moeilikheid omdat hy op die verkeerde kant van die snelweg gery het. Ek het hom dadelik stil gemaak en hom gewaarsku dat hy geen erkennings aan my mag maak nie.

Ons het later met ‘n bloedtoets bewys dat hy onder die invloed van alkohol bestuur het, en dat hy die afrit van die snelweg as ‘n oprit gebruik het, en netjies aan sy linkerkant gehou het.

Op daardie dag het ‘n jong vrou met haar twee klein kindertjies van Pretoria gery. Sy was op pad na Ellisras waar haar man gewerk het, en hy het naweke aan hulle nuwe huis gebou. Hierdie vrou het opgemerk dat daar nog ‘n voertuig saam met haar ry wat deur ‘n jongman bestuur word. Dan het die man haar verby gegaan en op ‘n latere stadium het sy weer die man verby gegaan. Dit het later so geword dat hulle vir mekaar begin glimlag het en met die hand geswaai het. Net verby die Pienaarsrivier afrit (Binne Warmbad se polisie grens) was dit die man wat haar weer verby gaan, en skielik was daar voertuigligte van voor. Te laat om die ongeluk te vermy. Die jong man in die ander voertuig was opslag dood. Toe die twee voertuie bots het die jongman se voertuig uitmekaar gebreek en enjin olie het op die dame se voertuig voorruit beland. Die dame was vas oortuig dat sy ook in die ongeluk betrokke was, maar toe haar voertuig nog kon ry het sy aangehou ry en op Nylstroom by die Polisie stasie die ongeluk gaan aanmeld. (Sy was nie bekend met die omgewing en het nie geweet waar Warmbad se polisiestasie is nie, en sy was bekommerd oor haar twee klein kindertjies.) Eers die volgende dag met lig en nadat haar man die voertuig skoon gemaak het, het hulle agtergekom dat sy NIE deel van die ongeluk was nie, maar sy was ‘n oog getuie. Sondag middag op haar terug reis na Pretoria het sy by Warmbad polisiestasie gestop en ek het haar getuie verklaring afgeneem.

Met die verhoor het ek die beskuldigde eers nie herken. Hy het in ongeveer ses maande stok oud geword. Hy het ‘n baie bekende prokureur van Johannesburg gehad om hom te verdedig. Hierdie prokureur het die vrou met kruisondervraging probeer verwar in haar getuienis. Sy was op ‘n stadium baie na aan trane en het later vir my gesê dat sy gevoel het of sy as die beskuldigde beskou is.

Met hierdie inligting het die landdros vir my geglimlag en gesê dit is presies waarom Suid Afrika ‘n regverdige regstelsel het. Indien iemand NIE die waarheid sou vertel in sy/haar getuienis in ‘n hof, is die kruisondervraging die enigste manier om dit uit te wys.

Die landdros vertel toe dat hy op ‘n keer as landdros ‘n bekentenis van ‘n beskuldigde afgeneem het, en dat die saak teen die beskuldigde baie swaar gesteun het op die bekentenis. In die verhoor het die beskuldigde terug gekrabbel en vir die regter gesê dat hy onbehoorlik beïnvloed is om die bekentenis te maak. Die landdros word toe gedagvaar om daaroor te kom getuig. Die landdros sê toe vir my dat hy is gewoond aan hof verrigtinge, maar daardie dag het hy baie vlinders in sy maag gehad en dat hy ook op ‘n stadium gevoel het of hy verkeerd opgetree het. Die uiteinde was dat daardie bekentenis in die hof aanvaar is.

Met ‘n ander geval was daar was ‘n moord op die plotte op die Rooiberg/Thabazimbi pad. Met die verhoor, het die verhoor regter Warmbad toe gekom. Hy het 2 assessore aangewys wat hom bygestaan het. Die hooflanddros en een van die prokureurs van Warmbad. Ek was verantwoordelik om die regter op te pas. Ek het daardie tyd die rang van sersant gehad, en omdat ek op die Wageenheid was, was ek gevra om die regter op te pas. Ek het elke oggend by die hooflanddros se kantoor hulle ontmoet en tot by die hofsaal begelei, en die mense in die hof laat staan. Daarna het ek omgeloop en in die hofsaal by die tafel van die aanklaer gaan sit.

Tydens die verhoor het een van die beskuldigdes ‘n bewering gemaak dat hy tydens ondervraging aangerand is om sekere erkennings te maak. Die regter het ‘n “binneverhoor” gehou of soos ons vroeër gepraat het, ‘n “verhoor binne ‘n verhoor”. Hierdie was presies een van die prosesse wat in die studie materiaal behandel is vir ons bevorderings eksamen in die Polisie Administrasie Diploma. Tydens die kort wandeling tussen die hofsaal en die kantoor het ek met die regter oor sulke onderwerpe kon praat en hy was daarmee beïndruk. Hierdie was maar net nog ‘n bewys dat ons ‘n regverdige regstelsel gehad het.

In die platteland is daar baie onbewaakte spoorweg oorgange waar ongelukke tussen treine en pad voertuie gebeur. Warmbad het ook daarvan gehad. Ek is eenkeer uitgeroep na so ‘n ongeluk op die Nylstroom pad net verby die lokasie. Die oupa het sy kleinkinders by die skool gaan haal en op terug huis toe het sy voertuig op die spoor onklaar geraak. Na ‘n paar vergeefse pogings om die voertuig weer aan die gang te kry, is die trein in aantog. Die oupa maak toe die een agterdeur van die voertuig oop en beveel die kinders om uit te spring en so vêr moontlik van die voertuig weg te kom. Hyself was ook net betyds veilig toe die trein die voertuig tref. Gelukkig was daar geen beserings.

Ek was al redelik lank op die toneel toe die masjinis daar aangestap kom en wou dadelik weet of die insittendes van die voertuig ongeskonde is. Hy het hom aan my voorgestel as Mnr. Kruger. Toe ek sy verklaring wou neem deel hy my mee dat hulle nie toegelaat word om sulke verklarings te maak nie.

Met ‘n voertuigongeluk neem ons ‘n waarskuwings verklaring van elke bestuurder omdat die skuldige party eers met die afhandeling van die ondersoek bekend is. Ek het dadelik moeilikheid vir my saak gesien omdat die treindrywers werk oor die hele land en sonder so ‘n verklaring gaan my saak dossier nie afgehandel kan word nie. Mnr. Kruger het ook bevestig dat hy Kaap toe gaan op ‘n volgende skof. Ek vra toe vir hom of hy ‘n stopteken gesien het waar hy moes gestop het? En hy antwoord NEE. Ek vra toe vir hom of motorvoertuie voorrang het bo die trein by so spooroorgang? En hy antwoord toe weer NEE. Ek sê toe vir hom dat hy redelik veilig kan wees dat hy niks verkeerd gedoen het wat die ongeluk veroorsaak het nie, en dat hy maar die verklaring kan aflê. Hy het dit toe ook gedoen en my saak was binne redelike tyd afgehandel. Die oupa wat die motorvoertuig bestuur het was ook ‘n Mnr. Kruger. They have met by accident.

My laaste twee jaar op Warmbad 1990 – 1991 is ek aangesê om as Menasiemeester in die kombuis te werk. Ek was toe ‘n sersant en reeds die tesourier van die Menasie. Ek het beswaar gemaak, maar dit het niks gehelp nie. Tannie Vorster was ons Tannie wat in die Menasie gewerk het. Ek sê toe vir haar dat ek koffie water verbrand en nie weet hoe om ‘n eier gaar te maak nie. Haar antwoord was “Moenie worry, ek sal jou wys”.

Die eerste maand was dit nogal intensief vir my en net toe ek dink dat ek nou redelik reg is, sê Tannie Vorster een dag vir my “Besef jy dat my jaarlikse verlof volgende week begin?”

Toe het ons maar inderhaas spyskaart beplanning gedoen vir die tyd wat sy weg sou wees.

Die volgende skok was toe ek ingelig is dat die Onluste-eenheid van Pietersburg die volgende dag in Warmbad sou wees vir ‘n protes aksie wat in die lokasie sou gebeur, en ek moet kos verskaf vir ‘n ekstra honderd mense.

Ek het my wind uit geskrik en vra toe wat moet ek vir die mense gee om te eet? En die antwoord wat ek kry is Kerrie en rys is seker nie te moeilik om te maak nie?

Dit word toe kerrie en rys. Ek bel die slaghuis en vra hoeveel maalvleis het ek nodig vir honderd mense, en kan hulle aflewer.

Toe ons besig is om die vleis te kook was dit vir my ‘n raaisel hoeveel marsala poeier moet ek ingooi om die gewenste smaak te kry. Ek onthou toe ook dat Tannie Vorster gesê het die marsala poeier is baie flou. Op die ou end het ek ‘n hele boksie marsala poeier in die pot en dit proe nog na niks, en die tyd vir ete kom nou vinnig nader. Ek sê toe vir een van die helpers om die pot met die Peri-Peri poeier te bring, en ek gooi drie groot opskep lepels vol daarvan by. Toe ek proe kon ek proe dit proe nou soos kerrie.

Baie tevrede dat ek die krisis oorwin het begin ek vir die mense opskep. Die groep het in twee sessies kom eet, en hulle offisier het tussen die twee sessies kom eet. (Ek het saam met hom op dieselfde skof gewerk op die Wageenheid). Toe hy klaar geëet het sê hy vir my dit was lekker maar bietjie warm. Een van ons kollegas het laaste kom eet. Hy was bietjie geset en het kort-kort vir water gevra. Toe ek by hom wil hoor wat is fout is die arme man sop nat gesweet en sê net “Sjoe dis warm”, maar moenie worry nie dit is lekker”. Ek weet self nie hoe daardie kerrie geproe het nie, van daardie pot kerrie en rys het daar niks oorgebly nie, ons moes vir die kombuis personeel ander kos voorberei.

Toe Tannie Vorster terug is na haar vakansie het ek vir haar van die kerrie en marsala ding vertel. Sy het byna ‘n hartaanval gekry toe ek van die Peri-Peri vertel. Sy sê toe dat die smaak versterk met tyd en dat toe ek geproe het en die laaste persoon ge eet het die gereg lank genoeg gestaan het om tot volle sterkte te kom. Ek het nooit weer marsala vir die menasie aangekoop nie. Net die kerriepoeier wat die Tannie gevra het.

Aan die einde van 1991 het kollegas van Indiensopleiding in Pietersburg gevra of ek nie saam met hulle wil kom werk nie. Ek het toe die rang van Adjudant-Offisier gehad. Die Junior Bevelvoerder kursusse vir Sersante en Adjudant-Offisiere is in Warmbad aangebied omdat daar slaap plek en ‘n Menasie was.

Ek het die offisiere, Kapt. Bothma en Kapt. Dreyer, goed geken vanweë my rol in die Menasie.

Vroeg in Januarie 1992 moet ek ‘n psigometriese toets aflê om te bepaal of ek geskik sal wees as ‘n opleidings beampte. Kapt. Bothma sê toe vir my “Ou Jan laat ek jou nou goeie advies gee want jy is net so ‘n introvert soos ek. Wanneer die vraag kom of jy eerder agter in die saal staan of heel voor in die groep is en op die tafels dans, dan kies jy om op die tafels te dans. Maar jy moet mooi kophou want hulle vra ‘n ander vraag net bietjie anders, en dan moet jy weer kies sodat dit by die tafeldans inpas, anders gaan jy NIE slaag nie. Ek het die psigometriese toets geslaag.

Met die kursusse op Warmbad het ons dit so gereël dat ons Woensdag aande gebraai het. Baie van Warmbad se personeel het dan saam gebraai en gekuier. Met een van daai kuiers kom die berugte kerrie en rys petalje weer ter sprake en hoe warm die gereg nou eintlik was. Ek vra hulle toe maar waarom het julle toe niks gesê nie.

Een van die kollegas sê toe “Toe jy in die menasie begin het, was jy so kwaad en befoeterd gewees. Jy het vir ons gesê “Laat nou net een van julle julle monde oopmaak oor die kos, dan sal jy hier kom werk en kook”. So ons het maar ons monde gehou”.

Die klas aanbieding was in die begin maar ‘n uitdaging gewees tot die tyd dat ek my styl van aanbieding gevind het. Hierdie was ook ‘n periode van selfontwikkeling en groei in my lewe.

Gedurende Maart en April van 1994 het ons ‘n Junior Bevelvoerders kursus vir Sersante in Warmbad aangebied en ek was die kursus leier vir die kursus. Die kursus leier was getaak om na die eerste opening van die kursus en bekendstelling van die aanbieders, en die klas administrasie te behartig en elke week na die weeklikse toets geskryf is, die uitslag aan die groep bekend te maak.

Op hierdie kursus is daar toe ‘n oud kollega van Warmbad wat ek goed ken. Ek vra hom toe op ‘n stadium in die eerste week wat hy tot op daardie stadium van die kursus dink.

Hy sê toe vir my dat ek mooi na hom moet kyk want hy sukkel met leer en dat hy nie sy Technikon eksamens kan deurkom nie. Ek het hom geantwoord dat ek nie vir hom kan sê wat gevra word in die toetse nie, maar dat hy goed in die klas moet oplet, dan behoort hy nie ‘n probleem te hê nie.

Die eerste Vrydag na die toets is ek toe net voor ons verdaag vir die naweek in die klas en ek deel hulle mee dat almal die toets geslaag het, en of ek hulle toestemming het om die punte hardop uit te lees, anders moet hulle een-vir-een vorentoe kom om die punt te sien. Die groep kies toe vir hardop uitlees. Toe ons klaar is pak ons op en net toe ek wil loop staan daardie ou kollega van Warmbad voor my. Hy vra of hy sy punt kan sien. Ek sê toe ek het dit gelees soos julle gekies het, maar hy wil nog steeds die punt sien. Ek moet weer die lêer uithaal en oop blaai en ek wys hom sy punt. Hy het die hoogste syfer vir die toets in die klas gehad.

Aan die einde van so kursus het ons die tradisie gehad om 3 sertifikaat rame te koop uit ons eie sakke uit. Goud, Silwer en Brons vir die eerste drie presteerders.

Hierdie oud kollega van Warmbad het die goud gekry. Toe ons klaar maak met die afsluiting staan hy op en sê dat hy op hierdie kursus nie net geleer het dat daar meer as drie Regters reëls is nie, maar ook dat hy nie so dom is as wat die Technikon hom laat lyk nie. Hy kan weer in homself glo.

Regte en Reëls

  • Reg op swyg: Jy is nie verplig om enige bekentenis of erkenning te maak nie.
  • Reg op regsbystand: Jy kan onmiddellik jou eie prokureur skakel of regsbystand vra.
  • Die 48-uur-reël: Jy moet binne 48 uur na arrestasie voor ‘n hof gebring word (naweke en vakansiedae uitsluitend).
  • Rede vir arrestasie: Die polisie moet jou dadelik vertel waarom jy in hegtenis geneem word.
  • Wettige lasbrief: Vir deursoeking van jou huis en beslaglegging op goedere, moet die polisie gewoonlik ‘n geskrewe lasbrief van ‘n regter of landdros hê.
  • Identifikasie: Beamptes moet hul naam, rang en kentekennommer aan jou bekend maak as hulle daarna gevra word.
  • Geen fisiese geweld: Slegs redelike en minimum nodige krag mag gebruik word tydens ‘n arrestasie.
  • Inventaris van beslaglegging: As items opgeneem of afgevat word, moet ‘n lys (kwitansie) van die goedere aan jou voorsien word.
  • Onskuldvermoede: Jy word as onskuldig beskou totdat ‘n hof jou skuld bewys.
  • Menswaardigheid: Jou reg op privaatheid en menswaardigheid moet deurgaans gerespekteer word.

Ek is in Pietersburg bevorder tot die rang van Luitenant vanaf 1 Julie 1995. In Desember 1995 het die nuwe bewind die rangstelsel verander. Die Luitenant rang het Kapteine geword en die Majoors het Superintendente geword saam met die Luitenant-Kolonelle.

Aan die einde van 1996 het ek besluit om weens persoonlike redes te kyk vir ‘n verplasing na Pretoria.

Ek het te hore gekom dat daar ‘n pos oopgaan by die Forensiese Wetenskap Laboratorium se fotografie afdeling. Fotografie is een van my stokperdjies, en ek het my kans waargeneem om navraag te doen. Die personeel daar was redelik verbaas omdat die pos nog nie geadverteer is nie, maar die persoon wat daar gewerk het, is reeds weg.

‘n Paar weke later ontvang ek toe ‘n uitnodiging vir ‘n onderhoud.

Die paneel was vriendelik en baie aangenaam en het hulle bes gedoen om my op my gemak te stel. Hulle het beurte gemaak om vrae aan my te stel. Ek het begin om my hele loopbaan en ondervinding te vertel, en toe ek by die Menasie op Warmbad kom noem ek toe dat ek daar weg is omdat my liggaamsbou nie ‘n goeie advertensie was vir die kombuis nie. Die een ou op die paneel het so gelag dat hy nie verdere vrae gehad het nie.

Ek het nie die pos gekry nie, omdat hulle iemand gesoek het met meer kennis oor gesigssamestellings en KRS agtergrond, maar blykbaar het hulle tog van my gehou. (Dit gebeur met my as ek só op my gemak voel met mense, dat ek maklik iets verkeerd in die situasie kan sê.)

Hondeskool in Pretoria-Wes

Ek het toe navraag gedoen by die Hondeskool in Pretoria-Wes. Ek is uitgenooi vir die onderhoud en ek het ‘n pos gekry as Personeel Ontwikkeling.

Ek het 3 Februarie 1997 by die Hondeskool begin. Hier sou ek vir 25 jaar en twee maande werksaam wees tot my aftrede op 30 April 2022. Die eerste vier jaar was Baie spesiaal en besonder. Die Hondeskool is een van die oudste polisie instellings in die land. Die gebruik van honde in die polisie het in 1911 begin en eers twee jaar later is die verskillende wetstoepassings eenhede in die land saamgevoeg tot een Polisiemag.

Die opleiding van polisie honde is begin deur ‘n Nederlander Cornelius Kuiper op die plaas van Generaal Jan Smuts op Irene.

Ek het die voorreg gehad om saam met Kaptein Hendrik Smit, oud-Kaptein Scheepers Kitching te ontmoet wat 97 jaar oud was. Toe hy by die Hondeskool begin werk het, was die tweede bevelvoerder die bevelvoerder daar. Die oom het vertel dat in die begin jare daar geen bome was nie, en die speurhond-geleiders het takkies nodig gehad wanneer hulle reukspore uitlê vir die honde. Die mense moet kan sien of die hond op die reukspoor loop en daarom moet die takkies gelos word soos wat die reukspoor loop. Oom Kitching het toe klein boompies gaan koop. Dit was ‘n rooi Den. Saam met die klein denne boompies het hulle ook ‘n paar Bloekom boompies geplant.

Hierdie klein plantjies is vandag die baie bekende bos waar ‘n menigte funksies gehou is.

Oom Kitching het ook vertel dat die Hondeskool so vêr uit Pretoria was, dat die bevelvoerders het toestemming verleen dat die personeel se vrouens een maal per maand hulle inkopies in Pretoria kan gaan doen.

Hulle het dan met ‘n donkiekar gery tot waar vandag die spoorlyn oor Kerkstraat gaan. Daar het hulle die trem gekry wat hulle tot op Kerkplein gebring het. In die middag het hulle weer op die selfde wyse terug gereis Hondeskool toe. Dit was ‘n hele dag se uitstappie.

Ook op hierdie terrein het die Britse konings gesin besoek gebring in 1948. Hulle het ook die besoekersboek geteken.

Die funksie van personeel ontwikkeling het later Leerder Ondersteuning geword. In Engels Learner Support.

Die Franse Polisie se besoek in 2013.

Van 13 Mei 2013 tot 24 Mei 2013, het drie Franse Polisiemanne ons by die Polisie Hondeskool in Pretoria-Wes besoek om ’n kursus in Skarebeheer aan te bied. Die name van die drie kollegas is: Julien Colus (Kaptein); Regis Faugeris (Adjudant-Offisier) en Sébastien Gaubert. (Sersant). Die onder-offisiere se rang benaming is ek nie seker van nie, omdat hulle gewoon op hulle name aangespreek is, en ek nie op hoogte is met die rang struktuur van die Franse Polisie nie.

Ek was daardie tyd gemoeid met “Learner Support”, wat behels het dat ek alle klasse gereeld besoek het, en indien die aanbieder probleme ondervind met lesmateriaal, of logistieke probleme, hanteer ek dit, en gee weer vir hulle die terugvoer.

Met hierdie kollegas en die groep was dit ook nie anders nie. In die begin van hulle kursus, moes hulle skilde gehad het, om die groep bewegings tydens ’n skarebeheer operasie, te oefen. Die skilde moes van ’n ander Afdeling kom, en dit is net nie by ons afgelewer nie. Ek het toe ’n senior offisier gebel en toe kon die goed baie vinnig by ons aankom.

Later in die opleidings program, het hulle twee Njala onluste voertuie nodig gehad. Selfde storie, en ek het weer die senior offisier gebel, en kort daarna arriveer die voertuie, en die opleiding kon voortgaan.

Aan die einde van die kursus, het ek ’n groepfoto geneem. Op die foto het daar ’n Generaal-majoor en ’n wit Kolonel gesit, wat vir die foto gekom het, maar nooit betrokke was met die opleiding nie. Die vrou heel links in beeld, dink ek was die skakeloffisier van die generaal se kantoor, en het met die funksie opgetree as die seremoniemeester. Ons bevelvoerder van daardie tyd Magane het ook kom bystaan, en ook die Franse Ambassade se verteenwoordiger, wat die reëlings tussen die Franse Polisie en die Suid-Afrikaanse Polisie hanteer het, asook die vervoer en verblyf reëlings van die drie Franse Polisiemanne hanteer het.

Op die foto voor links: Regis Faugeris; Sébastien Gaubert, en heel regs Julien Colus.

In hierdie kursus tyd, (van 2 weke), het die drie Franse kollegas vir my gesê hulle wil die Voortrekkermonument besoek. Ek het na die monument gery, en probeer reël vir ’n Frans sprekende toergids by die monument. Daardie oggend sou daar om 11:00 ’n toer wees met ’n Frans sprekende gids, maar die gids sou nie weer later die dag kon terugkom nie. Hierdie polisiemanne het dit baie duidelik gemaak, dat hulle nie gedurende werktyd, die monument sal kan besoek nie, en dat sulke besienswaardighede slegs na-ure sal gebeur.

Ek het vir die drie kaartjies gekoop en vir elkeen ’n boekie oor die monument wat in Frans beskikbaar was. Hulle het dit baie waardeer, en het later vir my gesê, dat met die hulp van die boekie, hulle ’n baie goeie idee kon kry oor die monument.

(Waarom hulle spesifiek die monument wou besoek, of wie hulle daarvan vertel het, weet ek nie.)

Na die afsluiting van die kursus, het die drie kollegas na my kantoor gekom, om te groet. Hulle het my bedank vir my hulp en ondersteuning.

Hulle het vir my ’n Franse vlaggie (driehoekig), en ’n pennehouer met ’n horlosie aan die voorkant, wat op ’n lessenaar kan staan, gegee.

Na hierdie vlaggie en pennehouer, gee die Kaptein toe vir my ’n vierkantige boksie.

En hy sê vir my dat dit eintlik bedoel was vir die Generaal. Maar omdat hulle, die Generaal nooit gesien het, of hulp gehad het van die Generaal se kantoor met hulle frustrasies om opleidings toerusting te bekom sodat hulle die kursus kon aanbied nie, het hulle drie ondermekaar besluit, om dit vir my te gee.

Ek was nogal verbaas. Dit lyk soos ’n medalje, of ’n groot munt.

Van September 2017 was ek deel van Monitering en Evaluasie.

Ons moet seker maak dat die kurrikulum aangepas word tot die nuutste wysigings. Bv. Wetgewing, departementele instruksies, veiligheids vereistes ens. Verder dat die aanbieders vrae wat in die klas gevra word, deeglik antwoord, besoeke doen wanneer eksamens afgelê word, en die memorandum nagaan en wanneer gemodereer word kontroleer dat dit korrek geskied. ens.

Gedurende 2019 ontmoet ek vir Luitenant-Kolonel Mac Macintosh. Hy het by ons die laaste vier jaar verskeie kursusse in Skarebeheer, asook Gyselaar Onderhandelaar, aangebied.

Tydens een van ons gesprekke, noem ek toe aan hom van die Franse Polisie se besoek van 2013, en van die “medalje” of “munt” in die boksie wat hulle vir my gegee het.

Hy het toe vir my gesê dat dit ’n Challenge Coin is, en die feit dat hulle dit vir my gegee het en nie vir die Generaal, dit Baie Spesiaal is. Hy noem toe verder dat as ek dit sou verkoop, ek op die internet, ’n mark daarvoor sal vind, maar dat ek dit ASSEBLIEF NOOIT moet doen nie.

Challenge Coins word op minister en ambassade vlak tussen lande gegee, as ’n blyk van spesiale prestasie of waardering, en ook in militêre of Polisie geledere.

Ek het toe eintlik eers besef wat die Franse Polisiemanne vir my gegee het.

Met my klas besoeke was ek saam met die kollegas wat die Duik-opleiding aanbied, Durban toe in die laaste week van November 2018, vir hulle laaste fase van opleiding, en die finale evaluasie en kursus afsluiting.

Met die kursus se afsluiting, het ons kollega, Kaptein JJ van Staden, challenge coins in die swembad gegooi wat die duikers moes uitduik. (’n Tradisie van die duikers). As dit nie sy munt was nie, word dit weer terug gegooi in die swembad, en die uitduik van die munte begin weer van vooraf tot elkeen sy munt gehad het. Met hierdie geleentheid het Kapt. JJ van Staden die ontstaan van die challenge coin, ook aan die groep verduidelik.

Ek het op Vrydag 29 April 2022, op my sestigste verjaardag, met pensioen gegaan.

Afskeidsboodskap

Afskeid boodskap aan personeel, geskryf vir 29 April 2022. Gepos op WhatsApp 30 April 2022. (Ek moes wag dat die Bevelvoerder die groep oopmaak om dit daar te pos.)

Good Day Colleagues

Yesterday was my last day in the South African Police Service.

I have reached my expiry date!

Today I was a policeman for 14 751 days.

When I started my career, I thought 40 years looked so far away into the future, and now the journey is suddenly over.

I would love to thank each one of you who have supported me, worked with me, made jokes with me and sometimes stand by me. I thank you for the footprints on my heart.

I have worked at this academy for 25 years. During this time, I have wonderful memories, and a few less nice experiences, but when I make up the balance, I had a wonderful career time. In bad times it was the friendship from you, that kept me going.

The people that know me for 25 years, have become few now.

A Big Thank You for everyone who organised the tea and cake yesterday morning. I did not expect it, but I appreciated it immensely.

Some people come

into our lives and

quickly go.

Others stay a while,

make footprints on

our hearts and

we are never the same.

I say “Goodbye” through this medium, as it was impossible to meet all of you individually to give you a handshake.

May you be proud

of the work you do.

The person you are,

and the difference

YOU MAKE.

I do not think it will be a “Good Bye” but rather “Until we meet again”.

May the sun shine warm upon your face;

the rains fall soft upon your fields,

and until we meet again,

may God hold you in the palm of His hand.

Salute

Capt. Idema

[11:02, 30/04/2022] +27 83 604 1233: Thank you Cptn.

Very nice massage and emotional also.

Enjoy your Pension Peacefully.

God bless.

[11:05, 30/04/2022] +27 74 990 7180: Wow! Great message indeed Capt. Thank you👏

Rest and enjoy, may the hand of the Lord rest upon you always.

Blessings

[11:08, 30/04/2022] +27 72 233 5591: Inspiring message Capt. Thank you for who you are and was a pleasure to have known a person like yourself. Go in peace to your new venture and may the peace and love of God be upon you🙌🙌🙌

[11:17, 30/04/2022] Khumalo: What a wonderful message it’s being nice working with you Captain, enjoy your pension 👌🏾🙏🏾🙏🏾

[12:08, 30/04/2022] +27 79 223 3636: Dankie vir die voorreg om kapt te kon ken geniet die rus en weet dat jy gemis gaan word

[13:00, 30/04/2022] Jan Idema: 😁😁🙏🙏

[13:45, 30/04/2022] +27 71 548 4419: Well done Capt👩🏽‍✈️.

Take care!!🙋🏾‍♀️

[17:47, 02/05/2022] +27 73 452 9541: Take care my Capt. I have learned a lot from you. Thanks for sharing that experience with me. Wishing you all the best in the future. May God bless you with all the blessings your heart desires. Stay safe. 🙏🙏🙏

[17:47, 02/05/2022] Jan Idema: 😁🙏🙏🙏