VRYSTAATSTORIES, HENNING VAN ASWEGEN

DRAAI DIE KAM OM!

*Goudveld Hoërskool in die middel-Vrystaat is bekend as ʼn ‘groot skool,’ waar meer as ʼn duisend plaas-, myn- en dorpskinders in die middel-sewentigjare verbete probeer het om uit die kloue van onnoselheid te ontsnap. Ons koshuisouers en begaafde onderwysers het daarin geslaag om aan beide williges en onwilliges ʼn besonderse opvoeding te verskaf. Die poetse, strepe trek en stoutwees het ons self aangeleer – met rampspoedige gevolge.

Leon, Danie en Henning was drie stout koshuiskinders in Gouties se wit en blou koshuis, net langs diè beroemde skool in Welkom se sportvelde en tennisbaan. Ten spyte daarvan dat die koshuis règ langs die skoolgronde geleë is, het Danie elke oggend met ʼn stewige agterstand teen die koshuisklok, en die skool se doodsklok begin. Die ander koshuiskinders was lankal opgestaan en aangetrek, kiertsregop in ʼn ry voor die eetsaal vir ontbyt, dan trek Danie nog in die kamer aan. Deur die venster kon jy baadjies, dasse, skoene en onderbroeke van elke kleur en geur in alle rigtings sien trek. Party kinders het selfs vroeg opgestaan net om dié skouspel deur die venster te aanskou.

‘Nee-wat, Danie,’ korswil Leon een oggend,’ dit sal nie deug nie. Met jou sal ons ʼn plan moet maak. Jy kan nie elke oggend van jou lewe laat wees vir skool nie. Selfs meneer Ludick en die Tannies in die kombuis moes al kom hand bysit om jou betyds by die skool te kry.’

‘Veral die Tannies,’ help Henning meerweterig.

‘Maar wat kan ek doen?’ kla Danie beteuterd. ‘Ek kan nie vinniger aantrek nie, en ek kan ook nie vroeër in die oggend opstaan nie. Die hoenderhane in die Vrystaat is geleer om sewe-uur in die oggende te kraai, en ons moet half-sewe opstaan. Ek weet nie wat om te doen nie!’

‘Ons sal ʼn plan moet maak. ‘n Vrystaatse boer maak ʼn plan. Vrystaatse koshuisbrakke ook.’

‘Kom ons pak Danie se klere die vorige aand uit, dan hoef hy nie in die oggend so na sy goed te soek nie,’ sê Henning hulpvaardig.

‘Hierts, jou kerjakker!  Dis nou ʼn slim plan,’ sê Leon en klop Henning op sy kop. ‘Selfs die domste kop kry nou en dan ʼn slim idee!’

‘Ons moet net sy goeters in die regte volgorde uitpak,’ sê Henning oor-entoesiasties. ‘Anders trek Danie sy onderbroek oor sy bo-broek aan, en sy kouse bo-oor sy skoene.

‘Of sy skoene bo-oor sy kouse!’ Leon en Henning lag dat die stof so staan. Danie trek vieserig aan sy das en soek na sy skoenveters. ‘Julle ouens wil my kamstig help, nou spot julle met my.’

‘Reg so, manne,’ sê Leon vernaam, ‘kom ons beraam ons plan. Hoe klim jy elke oggend uit die bed, Danie? Watter metodiek gebruik jy?’

‘Metodiek?’

‘Ja, soos tegniek. Wat is jou modus operandi? Hoe klim jy uit die bed uit? Watter kant eerste?’

‘Bedoel jy my kant, Leon, soos my agterkant? Of die bed se kant?’

‘Ek het jou gesien,’ las Henning onnutsige by. ‘Jy klim elke oggend met jou agterent eerste uit die bed.’

Danie dink so ʼn bietjie na en verval amper in ʼn bepeinsing. ‘Eers sit ek my kleintoontjie op die vloer langs my bed, dan my ander tone, dan my voet, en dan die res van my been. Met ander woorde, voetjie vir voetjie. Soos ʼn trapsoetjies.’

‘Watter been eerste?’ kierang Henning aan Danie se siel. Dit is sy spesialiteit was om altyd die verkeerde vraag op die verkeerde regte tyd te vra.

‘Maak dit saak? kla Danie ongelukkig. ‘Ek klim amper elke oggend van my lewe met die verkeerde voet uit die bed.’

‘Reg-so, Danie. Nou is jy uit die bed uit, en jy moet badkamer toe om jou gesig te was en jou tande te borsel. So, ons pak eers jou tandeborsel op die vloer, gevolg deur jou tandepaste, dan seep en jou handoek en shampoo. Alles in ʼn ry, soos in die Army.’

‘Jy kan ook sommer die vorige aand jou hare natmaak,’ help Henning met nog nuttelose raad. Danie en Leon se bestrawwende kyke het baie gehelp om Vlooi se onsinnighede in toom te hou. Meeste van die tyd, maar nie altyd nie.

‘Danie,’ verduidelik Leon die plan verder, ‘wanneer jy van die badkamer af terughardloop kamer toe, gaan jy as volg te werk: tel al jou klere in volgorde op om tyd te spaar. Eers jou bruin skoene, dan jou grys kouse, gevolg deur jou geel onderbroek, dan jou grys hemp en laastens jou blou Goutie-das.’

‘So, ek trek my klere in sekwensie aan,’ merk Danie verwonderd op. ‘In paaiemente!’ Danie was duidelik diep beïndruk met Leon en Vlooi se ondeurdagte plan, hoofsaaklik omdat hy daardie twee se gesamentlike lae intellek heeltemal oorskat het.

‘Nee,’ meng Henning onnodig in, ‘in volgorde, nie sekwensie nie, Danie. Sekwensie is Frengels – in die Vrystaat praat ons Afrikaans.’

‘Sharrap!  Daar is nou vir jou ʼn mooi oorspronklike Afrikaanse woord.’

‘Reg,’ sê Leon ernstig, ‘eers word jou gesig gewas, dan was jy jou hare en jou lyfie blinkskoon. Dan trek jy jou skoene en jou broek aan en jy is loodreg vir skool.  Voor die klok lui! Nie ná die klok, soos wat jy gewoonlik daar by die skool aankom nie.

‘Wat van my skooltas, en my boeke?’

‘Ons posisioneer jou skooltas die vorige aand daar langs die tennisbaan,’ adviseer Leon met ‘n grynslag om sy bakkies. ‘Dan gryp jy hom sommer so in die verbygaan op pad skool toe. Ons sal een van die standerd sessies kry om jou skooltas aan te gee as jy verbykom. Soos ʼn aflosstokkie.’

Naomie en Renè en die ander koshuisbrakke het gou-gou van Leon en Henning se briljante plan gehoor, en kort voor lank drom al die kinders by die eetsaal saam om die gebeure stap vir stap te volg. Party van die meisies het halsoorkop oor die muur langs die eetsaal geklim, nuuskierig om te sien wat aangaan. Een of twee het selfs met mik-en-druk kameras gereed gestaan.

‘Manne,’ sê Danie uiteindelik, nadat hy hard en diep oor die saak gedink het, ‘dit is ʼn briljante plan. Takties en strategies is die plan uitstekend en kreatief, en goed bedink. Dit is ‘n briljante ondeurdagte plan!’

‘Ons dink ook so, Danie,’ antwoord Leon en Henning genoegdoenig en skud mekaar die blad. Daardie jare was daar nog nie ʼn ding soos ʼn ‘High 5’ in die Vrystaat nie. Ander maniere van groet, behalwe bladskud, was daarbenewens ook volksvreemde gedrag waarvoor die koshuistannies gefrons het.

‘Maar daar is net een probleem, manne. My hare.’

‘Jou hare?’

‘Ja. Deur al die stappe wat julle geneem het, moet ek nog voor skool my hare kam. My hare is vir my belangrik, want ek moet netjies lyk.’

Wyse Leon dink vir ʼn oomblik diep na, en laat sy blik stadig oor die Vrystaatse vlaktes en mynhope draai. Op ʼn mooi skoon dag sonder wolke kon jy maklik van Welkom af bo-oor Odendalsrus tot in Bothaville sien.

‘Ek weet!’ sê Leon opgewonde. ‘Die kosyn!’

‘Hoe nou?‘ wil Henning en al die ander koshuiskinders wat deur die vensters loer verwondered weet.

‘Ons moet Danie se kam aan die onderkant van die deurkosyn vasgom!’

‘Maar ek het niks gom nie,’ kla Danie. ‘Net houtlym.’

‘Dis reg so, Danie,’ antwoord Leon slim, ‘jy het mos ʼn houtkam. Ons lym jou kam aan die onderkant van die kosyn vas, dan hardloop jy net onderdeur. Die houtkam kam jou hare, met ʼn middelpaadjie aan die kant. As jy jou middelpaadjie aan die anderkant wil hê, dan draai jy net jou kop skuins. Dit gaan vir jou baie tyd bespaar.’

‘Kan ons nie net sy hare op sy kop vaslym nie?’ wil Henning weet en koes by voorbaat sodat Danie hom nie met ‘n klap kan bykom nie.

‘Nee!’ protesteer Danie. ‘As ek onderdeur die kosyn hardloop, gaan die kam mos al my hare agtertoe kam! Ek kam my hare vorentoe! My hare gaan agterstevoor wees!’

‘Dis nie ʼn probleem nie, ou Danie,’ help Leon hom met ‘n grynslag van die wal af in die sloot.

‘Draai net die kam om!’

*

Herifnneringe aan my skooldae is soos ‘n ou, taai Wilson-toffie wat ons by Virginia Swembad se snoepie vir ‘n tiekie gekoop het. Daai toffies was so taai dat jy hulle net halfpad kon eet, dan bêre jy die res vir later. Daai tweede kou was altyd taaier en lekkerder as die eerste een.

Hierdie storie het regtig gebeur, toe ons in Standerd 9 in die Goudveld Koshuis in die Vrystaat was. Leon se kwinkslag het ons laat lag dat die trane later loop. Ons kon net nie ophou lag nie en koshuis-meneer moes ons later kom stilmaak. Ek dink nou nog, vyftig jaar later, aan die grappie en dit kielie nou nog steeds my lagspiere.

*

*

Kinders moet kaalvoet loop

In Vrystaatstories Twee: Kinders Moet Kaalvoet Loop. Naledi-uitgewers.

‘I do not agree with what you have to say, but I’ll defend to the death your right to say it.’ (Je ne suis pas d’accord avec ce que vous dites, mais je defendrai jusqu’a la mort, votre droit de la dire). Voltaire – (Francois-Marie Arouet)(1694-1777).

Kinders moet kaalvoet loop

My ma, die joernalis Babs van Aswegen (Renè en Lindi se ouma), het elke kind in Aberdeenstraat, Virginia geken. Elke ma en pa, tannie, oom, elke hond, kat, blaar en blom.  Sy was die beste netwerker in die Vrystaat, ‘n mensliewende mens met ‘n groot hart en meer geduld as Job se Ouma. Ek ken haar vandat ek in 1955 gebore is, en het haar nooit haar humeur sien verloor nie – ‘n beleefde, statige dame van min woorde en baie dade. Babs en my pa Kobus (‘n boekemens, lid van Alan Paton se Liberale Party, vrydenker en sitkamerfilosoof), leer my geduldig dat daar regte, en verkeerde maniere is om dinge in die lewe te doen. By hulle het ek nooit pakslae gekry nie (in ‘n koshuis in Welkom wel), net ‘n vraende kyk wanneer ek my meëdoonloos met stompsinnige dinge besig gehou het. Soos ‘n kind maar doen.

Maar hoe leer jy jou kind om te onderskei tussen reg en verkeerd, om te help met stoele wegpak nà Kinderkrans, om Chomsky en Uris se boeke te lees in plaas van Mein Kampf of Karl Marx se Das Kapital? Of moet ons juis ons kinders aanmoedig, soos my pa Kobus met my gemaak het, om Leon Uris, Gore Vidal, Herman Wouk, Adolf Hitler, Marx en Engels, Leipoldt, FA Venter, Langenhoven, David Ben-Gurion en skrywers uit ander kulture te lees. ‘Jy is in standerd agt, oud genoeg om ordentlike boeke te lees.’ Lees!, anders gaan jy nooit verstaan hoe die wêreld werk nie. ‘Read, or remain stupid forever,’ was een van sy gunsteling-uitdrukkings.

My pa se kulturele agitasie en my eie hardkoppigheid laat my op sestienjarige ouderdom by Goudveld Hoërskool in die moeilikheid beland omdat ek weier om aan die 1971 Republiekwordingvieringe deel te neem. ‘n Onvergeefbare oortreding in die ongenaakbaar-konserwatiewe middel-Vrystaat, en die rede ons Afrikaanse onderwyser my ondeurdenkend ‘n klein kommunis noem. ‘n Etiket wat die res van my skoolloopbaan soos dooie albatros-etiket om my nek hang. Lyfstraf was daardie jare algemeen in ons Vrystaatse skool en koshuis, maar gelukkig het Joubert en Ludick verkies om my vir die res van my skoolloopbaan tot vuil kyke en stoïsisme te vonnis.

Elke ouer se wens vir hul kind is om min of meer ‘n geletterde, gebalanseerde grootmens te word; sonder om in die tronk te beland, op veertien jaar betraand te bieg dat sy ‘n baba verwag, of op sestien tydens ‘n laat aand met hoërskoolvriende dwelms gebruik (‘net om te voel hoe voel dit, ma’). Of om nà matriek vir jare doelloos deur die lewe rond te dwaal. “Ek vat net ‘n gaapjaar, pa. Ek belowe ek sal dan verder swot, volgende jaar.“

Kinders moet kaalvoet loop, speel en swem en boomklim, maar ook lees en ondervind en ondersoek en ontdek sodat hulle darem een of ander verwysingsraamwerk het om ‘n lewens- en wêreldbeskouing mee te vorm. Hoe doen jy dit as jy niks weet nie, òf dink kennis kom uit Google of ‘n XBOX?

Ouers in Suid-Afrika het die moelikste taak van almal. Die land is nà apartheid in ‘n politieke gemors van korrupsie, wanbestuur, morele verval en misdaad. Elke ouer wat op die beste toekoms vir hul spruite en nageslag hoop, se ergste nagmerrie. Hoe bly ‘n kind kultuurvas, normaal, gebalanseerd, ingelig en toegerus om die toekoms aan te pak sonder om rigting te verloor? Een van die min wat weet hoe om geld te maak, om selfversorgend te wees? Hoe gaan hy of sy weet wie CJ Langenhoven was, Danie Theron, Barry Hertzog, DF Malan en Eugene Marais, Herman Charles Bosman of Frederik van Zyl Slabbert?  Vra jy vandag se Afrikaansprekende kinders wie AG Visser, Uys Krige, Adam Smal, SV Petersen, Opperman, Totius, Boerneef of Eitemal was, dink hulle jy het ‘n skroef los. Hoe Afrikaners van 1899-1902 vir hulle land moes veg, en dit toe verloor het. Hoe om sinvol in ‘n land met ‘n Swart meerderheid en Blanke minderheid produktief te bestaan, sonder om kwaad en opstandig te word en dan tasse te pak om onthuts Australië toe te emigreer? Op soek na iets beter?

Die sleutel lê in die opvoeding van jou eie kind. Skole en kerke en portuurgroepe speel ‘n marginale rol as dit kom by metodes om jou kind vir die toekoms voor te berei.  Dit is jou verantwoordelikheid om te voorkom dat jou kind Amerikaanse aktrise-stompsinnighede uit Huisgenoot by ‘n ambassade-kelkie kwytraak, en nog nooit ‘n pragtige gedig van NP van Wyk Louw of Joan Hambidge of Daniël Hugo gelees het nie. Afrikaners is nie net plesierig nie, ons is ook oningelig, polities naïef, kultureel bekrompe en dwergies wanner dit by ons kinders en nageslag se lewens- en wêreldbeskouing kom. My filosofiese helde is baie: Uilspieël, Inspekteur Clouseau, Don Quixote, Jean-Jacques R, Hegel, Kant, Kierkegaard, miskien Paulo Coelho. Virginia Volkskool en Goudveld en PUK en UNISA het dit nie vir my geleer nie, ek moes self uitvind.

‘n Afrikaanse ouer vra my noudie-annerdag wie Langenhoven was? Ek moes vir my ‘n koppie boeretroos gaan maak om te herstel. Ek wou hom eers antwoord dat Langenhoven vleuel speel vir Vrystaat, want daarvan weet hy baie, maar byt my tong net betyds. “My volk gaan te gronde as gevolg van ‘n gebrek aan kennis,” treur Jean Jacques Rousseau in ‘Madeleine, maar hy plagieer maar vir Joshua van die Bybel. Terloops, ek het eenmaal ‘Madeleine in sy oorspronklike Frans in die Alliance Francasie in Pretoria probeer lees, maar halfpad moed opgegee omdat JJ so langdradig is.

Dieselfde ding gebeur hier aan die Suidpunt van Afrika, Jean Jacques. Ons volk is maar niks meer as ‘n stam nie, en ons gaan ten gronde omdat ons Frengels praat en nie lees nie. Wat meer is JJ, Aristoteles (ja hy, wat aan die voete van Plato en sy meesterdenker Sokrates grootgeword het), stem saam met my. Plato skryf oor Sokrates en sy vriend Phaedrus se gewoonte om hul skerpste filosofiese gesprekke kaalvoet langs die waterstrome van Griekeland te voer. ‘I am lucky that I came out without shoes today, for we have much to discuss. You of course (hy gesels met Sokrates), never wear them. Our easiest way to discuss matters is to get our feet wet and walk in the stream. Pleasant enough too, especially at this time of year when our thoughts and minds rise and soar to the hights of the universe.’

*

  • Vrystaatstories Twee: Kinders Moet Kaalvoet Loop.
  • In Plato/Phaedrus, Penguin Classics. 1971. Translated from the Greek by Walter Hamilton, Penguin Books. 3.
  • Bestellings vir Vrystaatstories: stuur ‘n e-pos aan henningvanaswegen55@gmail.com.

    *

    TOPSIE EN BELLA

In Strand langs Valsbaai woon daar twee oulike klein dogtertjies – nie ver van die digter Ingrid Jonker se standbeeld met haar driewieletjie-simbool op nie. Alhoewel Topsie nog jonk was, het sy al Ingrid Jonker se gedigte gelees en so goed geken dat sy hulle woord-vir-woord aan haar maatjie Bella kon oorvertel. Topsie het die meeste van die gediggie, ‘Die Kind’ gehou omdat Ingrid daarin ʼn storie oor kinders vertel. Topsie kon nie wag vir die Christusfees en die einde van elke jaar nie, want dan het haar ma en pa vir haar boeke en digbundels persent gegee om te lees. Lees en boeke is Topsie se gunsteling stokperdjie, lekkerder as boomklim of droë-perskes eet en wegkruipertjie speel. Topsie hou van allerhande boeke en stories – stories oor avonture van kinders en stories uit die Vrystaat, digbundels en kinderbundels, dierestories en storieboeke om van te kies en keur. Klein Topsie was ‘n leser van boeke, en baie trots daarop.

‘Topsie,’ vra haar vriendinnetjie Bella toe hulle eendag in die sonnetjie op Strand se strand sit en speel, ‘wat gaan jy hierdie jaar doen? Hierdie nuwe jaar wat kom?’ Bella was ʼn bekommerde klein meisietjie en wil nie waag om in die see te swem nie. Sy is altyd bietjie bang dat die water te koud gaan wees, of dat ʼn krappie haar kleintoontjie gaan knyp.

‘Die jaar het so vinnig verbygegaan, Bella! Ek het nie eers tyd gehad om te onthou wat my Nuwejaarsvoornemens verlede jaar was nie.’ Topsie vroetel met haar tone in die sand en bou aan haar sandkasteel. Sandkastele bou was vir haar heerlik, maar sy het baie meer daarvan gehou om om lugkastele te bou.

‘Maar wat gaan jy doen, Topsie? Ek is nie juis lus om enigiets te doen nie, die lewe is te vervelig.’

‘Ek gaan kyk hoe die blomme in my tuintjie groei, Bella.’

‘Blomme? Waarom blomme?’ vra Bella verbaas. Sy het nog nooit ooit gehoor van iemand wat daarvan hou om te kyk hoe blomme groei nie.

‘Omdat ek die blomme geplant het,’ antwoord Topsie tevrede. ‘Ek is ʼn tuinier, en ek hou daarvan om te kyk hoe my blomme groei.’

‘En wat nog, Topsie? Wat gaan jy nog hierdie komende jaar doen?’

‘Ek gaan baie meer boeke lees en al hoe slimmer word.’

‘Slimmer!’ Bella lag uit haar magie uit en kyk skuins na Topsie. ‘Mens kan mos nie slimmer word nie. Jy is slim of jy is dom. Niks of niemand kan jou help om slimmer of dommer te word nie.’

Maar Topsie laat haar nie van stryk bring nie. ‘As jy lees, leer jy nuwe woorde en jy ontdek nuwe wêrelde. Jy leer van nuwe kulture en interessante mense en hulle manier van dinge doen. Ek dink ek gaan sommer baie slimmer word as ek my boeke lees. Ek gaan soveel as moontlik stories en gedigte en prosa lees.’

‘Wat nog, Topsie? Wat gaan jy nog doen?’

‘Ek gaan baie mooier word,’ verklaar Topsie heldhaftig. ‘Sonder om in die spieël te kyk.’

‘Mooier? Agge-nee, Topsie, ons kan mos nie mooier of leliker word nie. Ons is só gemaak en so laat staan. Ons gesiggies bly dieselfde, maak nie saak wat ons doen nie. Daarom het ons spieëls nodig – om ons mooier te laat lyk.’

‘Weet jy wat, Bella? Ons kan iets doen om mooier te word, sonder ‘n spieël. My ma en pa gee elke jaar vir my boeke persent wanneer dit Christusfees is, pragtige kinderboeke van elke onderwerp onder die son. Dan lees ek hulle, want elke storie gaan oor nuwe, mooier plekke, en lande, en mense.’

Bella tel ʼn skulpie van die sand af op en bestudeer dit asof dit die eerste keer is dat sy ʼn skulpie sien. Sy het nooit geweet dat skulpies soveel kinkels en kreukels het nie en dat daar miskien ʼn krappie daarbinne bly nie.

‘Lees jy ál jou boeke?’ vra Bella nuuskierig.

‘Maar natuurlik!’ lag Topsie. ‘Dit is die lekkerste ding in die hele wêreld om kinderboeke te lees. Al die boeke het prentjies in! Ek kan dinge ontdek en sien wat die mense in Japan doen en hoe mooi hulle pienk kersiebome is. En ek kan sien hoe die cowboys en hul perde in Amerika lyk, of die krappies op Kersfeeseiland in die middel van die Stille Oseaan.’

‘Maar dit gaan jou nie mooier maak nie,’ kla Bella.

‘Baie van my boeke het mooi fotos in,’ spog Topsie. ‘Fotos van die Amazone en sy pragtige diere, van die Nylrivier met sy groot krokodille, van ysbere in Kanada. En Bengaalse tiere in Indië, met hulle mooiste strepe. Daar is stories van Kossake in Rusland en Eskimos in Ysland, van Franse kastele en die Swartwoud in Duitsland. Só ontdek ek nuwe plekke en mense en beleef ek avonture by dosyne!’

‘Ag Topsie man, ek hoor al jou stories,’ redekawel Bella en sy skop ʼn denkbeeldige ronde seeklippie oor die sand. ‘Maar dit gaan jou nie mooier maak nie.’

‘Het jy al van die Blye Boodskap gehoor, Bella?’

‘Nee.’

‘Dit is ʼn ander naam vir jou Bybel. Blye Boodskap. Dit is een van my boeke en ʼn goeie storie om te lees.’

‘Ek weet, ja,’ antwoord Bella skoorvoetend.

‘Die Blye Boodskap het mooi verhale met lekker boodskappies. Enige mens kan dit lees, kinders ook.’

‘Maar hoe gaan dit jou mooier maak?’

‘Al wat ons kinders moet doen, is om die blye boodskappies in ons harte te sit en dieselfde dinge te doen. Ons kan mense help, veral as hulle arm is of nie kos het om te eet nie. Ons kan diere beskerm en hulle nie seermaak nie. Ons kan ons planeet oppas deur nie plastiek te gebruik nie. Ons kan beleefd wees teenoor ander mense en nie ongeskik met hulle praat nie en vriendelik wees, in plaas van sommer kwaad wees vir alles.’

‘En dan word jy mooier?’

‘Ja, natuurlik!’ lag Topsie. ‘Mense kan die blye boodskap op jou gesig sien en hoor hoe jy praat. Jou gesiggie straal sommer sonskyn en warmte uit, jou ogies blink en jou wangetjies word al hoe rooier en mooier.’

Bella spring vinnig orent en gooi haar arms uitgelate in die lug. ‘Ek gaan dit probeer, Topsie!’ skree sy uitbundig. ‘In die nuwe jaar! Ek gaan dit doen!’

Topsie glimlag ingenome met haar maatjie en vroetel haar kaal tone dieper die seesand in. Haar sandkasteel is klaar gebou en trots sit sy ‘n vlaggie bo-op, net soos ‘n kersie op ‘n koek.

‘Bella,’ lag Topsie opgewonde, ‘waarvan jou hartjie vol is, loop jou mond van oor!’

*

Henning van Aswegen, in Vrystaatstories [Naledi]. Boekbestellings: henningvanaswegen55@gmail.com. R 295 + posgeld.

*

DIE TROETEVISSIES WAT VERDRINK HET

Dit is ‘n kraaie-gaap somer in die Vrystaat, en die son skyn warm op Mossieman en Geronkie die Donkie se rûe waar hulle langs Bloemfontein se dam sit en maak of hulle visvang.

Konstabel Abel kom daar verby en hy kyk agterdogtig na Mossieman en Geronkie waar hulle luilekker in die sonnetjie lê en bak.

Goeiemôre, Konstabel Abel,’ groet Mossieman en Geronkie gemaak-beleefd, terwyl Mossieman ʼn vrugtefles agter sy rug wegsteek.

Konstabel Abel ken Mossieman al sedert hy ʼn klein kannetjie was wat die dominee se perskes gesteel het. (Mossieman het die perskes gesteel, nie die dominee nie).

‘Mossieman!’ sê Konstabel Abel kwaai, ‘wat is in daardie vrugtefles? Ek kan van hier af sien daar is niks vrugte in nie. Wys vir my wat jy daar agter jou rug wegsteek.’

‘Watter vrugtevlieg, Konstabel Abel?’ vra Mossieman onskuldig en glimlag in sy mou.

‘Daardie vrugtelose vrugtefles sonder vrugte wat jy agter jou rug probeer wegsteek Mossieman!’ Konstabel Abel loer kwaai onderdeur sy ruie wenkbroue na Mossieman en Geronkie die Donkie want hy weet hulle is altyd besig met kattekwaad en een of ander kwaaijongstreek.

‘Nee-sien, Konstabel Abel,’ sê Mossieman vroom asof botter nie in my bekkie kan smelt nie, ”daar is niks agter my rug nie. Net my benoude boude.’

‘Mossieman, sê Konstabel Abel bevoeterd, ‘jy moenie nou hier staan en jok nie; ek sluit j’ou sommer in die tronk toe! Ek ken julle twee stouters, julle is regte karnallies wat elke dag besig is met stoutighede!’

‘Nee-regtig, Konstabel Abel, ek doen niks nie,’ sê Mossieman vroom. ‘Stroesjannies!’ In die Bybel staan dat jy nie mag jok nie, en Mossieman wil nie eers ʼn witleuentjie vertel nie. Hy is in elk geval nie altyd seker wat die verskil is ʼn wit leuentjie en ander kleur leuentjies nie.

‘Mossieman, dit wil vir my voorkom asof jy is besig om vissies uit die dam te steel! Is jy besig om onwettig en onregmatig vis te vang? Ek dink jy en hierdie langoor langs jou is besig met hengelary.’

‘Nee, Konstabel Abel, nooit as te nimmer nie. Nee,’ sê Mossieman verontskuldigend. Versigtig haal hy die vrugtefles vissies agter sy rug uit. “Nie ek nie. Hierdie vissies is my troetelvissies. Ek bring hulle elke dag hier na die dam toe, om te kom swem vir ontspanning, en dan vat ek hulle weer saam met my huis toe. Hulle moet elke dag oefening kry, anders raak hulle onrustig en benoud. Dan kry my vissies benoude boude net soos ekke en Geronkie hier langs my.’

‘Mossieman,’ sê Konstabel Abel nors, ‘jy is mos nou besig om my heuning om die mond te smeer. Ek dink jy jok dat die byle huil. Kyk hoe loop die heuning uit jou mond uit!’

‘Nee-maggies Konstabel Abel, dit is min of meer die waarheid! Dit ís rêrig my troetelvissies hierdie. Ek bring hulle dam toe om te swem, net soos jy elke dag jou hond vat om te gaan stap. Ek gee vir hulle swemlesse. Vryslag, Rugslag, Borsslag en Vlinderslag. Elke dag, gereeld soos klokslag.’

Konstabel Abel skud sy kop skepties heen en weer. ‘Mossieman, ek glo nie jou storie nie. Ek gaan jou nou arresteer en tronk toe vat.’

‘Regtig, Konstabel! Ek praat die reine halwe waarheid. My troetelvissies het elkeen ʼn eie naam. Daar is Ogies, Vinne, Skulpie, Seegras, Graatjie, Kiewe en Haai. Regtig konstabel, hulle het elkeen hul eie naam. Hulle kom nader as ek vir hulle op my Ramkiekie met net een snaar speel.’

‘Jy staan nou vir my en jok, Mossieman! Boonop smeer jy vir my heuning om jou mond om my om die bos te lei. Ek het in my lang loopbaan as konstabel in die Vrystaat nog nooit van troetelvissies gehoor nie. Ek het ook nog nooit gehoor dat jy ʼn vis moet leer swem nie. En jy kan nie eers Ramkiekie speel nie. Waar is jou blikkitaar met net een snaar?’

‘Konstabel Abel,’ verduidelik Mossieman selfversekerd, ‘kom staan bietjie nader, dan wys ek jou. Kyk mooi, ek sit die vissies net hier in die dam, dan maak hulle litte los en swem so bietjie in die rondte vir opwarming. Net-nou kom hulle terug en dan sit ek hulle weer in die bottel en dan ons gaan huis toe. Hulle gaan net uit vir ‘n woertsie-wartsie in die dam en dan swem hulle terug hier na my toe.’

‘Nou goed,” stem Konstabel Abel agterdogtig in. ‘Kom ons kyk. Sit nou die vissies in die water sodat ons kan sien. Kom ons kyk of jy die waarheid praat, Mossieman. En as jy jok, gaan jou kierangs braai.’

Mossieman sit nonchalant al die vissies in die water. Eers swem hulle lekker rond, en toe verdwyn hulle een-een onder die water. Woerts-warts, verdwyn hulle. Konstabel Abel staar stip na die water, maar hy sien naderhand niks nie.

Na ʼn rukkie vra Konstabel Abel ongeduldig: ‘Hoe lank vat dit, Mossieman? Wanneer kom die vissies terug?’

‘Hoe lank vat wát, konstabel?’ vra Mossieman tong in die kies, en hy knip sy oëe onskuldig. Geronkie die Donkie staan langs Mossieman en hy probeer hard om nie te lag nie. Hy staan nietemin gereed om enige tyd weg te hardloop, net ingeval Konstabel Abel probeer om hulle te arresteer.

‘Hoe lank vat dit vir die visse om terug te kom?”

‘Watter visse, konstabel?’ vra Mossieman en hy maak kamtig om hy in die dam rondsoek, maar die vissies is nêrens te sien nie. Geronkie begin lag en hy en Mossieman stap Ramkiekie-Ramkiekie weg, sterte in die lug.

‘Mossieman!’ skree Konstabel Abel kwaai agter hom aan. ‘Kom terug hierheen, jou klein vabond! Jy het vir my gejok!

‘Nooit-gesien nie, Konstabel Abel! Ek dink die vissies het hulle wind-uit geskrik! Net-nou toe jy so luidrugtig oor hulle gepraat het. Daarom is hulle almal nou weg! Tjoef-tjaf, almal weg!’

“Mossieman, kom hier! Nou gaan ek jou arresteer!” Konstabel Abel is sò kwaad dat die rook by sy ore uitkom. Hy swaai sy konstabel-stokkie woes heen-en-weer en hy spring op en af, so kwaad is hy. Konstabel Abel spring flink weg om Mossieman en Geronkie te jaag, maar die stouterds laat spaander in alle rigtings.

ʺMaar waarvoor wil jy my arresteer, Konstabel Abel? Waar is jou bewyse?” roep Mossieman en hy begin so vinnig as wat hy kan hardloop, om weg te kom.

‘Kom terug, julle twee vabonde’ skree Konstabel. ‘Kom terug!’

‘Konstabel Abel!’ roep Geronkie die Donkie oor sy skouer terwyl hy en Mossieman weghardloop, ‘die visse het so groot geskrik dat hulle verdrink het! Ons sal begrafnis moet hou!’

Konstabel Abel hardloop so ‘n entjie agter die twee jakkers aan, maar hulle is te vinnig vir hom. ‘Kom terug, kom terug,’ roep die arme konstabel flou agter hulle aan, maar hy is kapoet en gee sommer gou moed op.

‘Totsiens, Konstabel Abel’ skree Mossieman. ‘Tot volgende keer! Dan swem ons en die visses weer!’

*

Die Rottevanger van Winburg

Gerhard Venter

“Vandag se jongmense wil alles op ’n skinkbord hê,” sê ou Henning nou laas Woensdagoggend toe ons op die stoep van ons gunsteling-brekfisrestaurantjie aan die kant van die Gordonsbaai se strand sit en koffie drink.

“Hulle eis gratis huise, gratis opvoeding, gratis water, gratis mediese dienste, gratis alles.”

“En nie net hier nie,” sterk Gerhard hom in sy kwaad. “VSA, Kanada, Dingabonga — orals.”

Vriend Henning is dadelik agterdogtig. Hy trek sy oë net effens op skrefies. Ek kan sommer sien hy gaan my vanoggend fact-check.

“Kanada ook?” wil hy weet.

‘Sjoe!’ Gerhard dog hy gaan vra waar is Dingabonga.

“Verseker, Kanada ook. Die Kanadese is mos so beleefd. Hulle betogers kom bymekaar in groepe van tot dertig en gebruik lelike woorde. Dan moet die polisie hulle vermaan en vra om huis toe te gaan.”

“En as hulle nie wil nie?”

“Dan vra hulle mooi,” verduidelik Gerhard onnutsig. “Pretty pretty please with flowers on.”

“Ag hoe brutaal!” sê Henning geskok. Hy kyk verstrooid rond vir sy teelepel — het nog nie agtergekom ek het die duiwelstuig vasgelê nadat hy sy koffie die derde keer geroer het.

“En gratis hamburgers is nie al wat hulle op ’n skinkbord wil hê nie. “Hulle eis ook die koppe van almal wat hulle ‘waardes’ durf teenstaan. As hulle byvoorbeeld hoor hoe ek en jy praat van ‘daardie langhaar huisdiere wat agteruitloop as hulle dans en sit as hulle piepie,’ is dit tiekets met ons. Af met ons koppe! Op die skinkbord op ’n beddinkie slaai met agurkies en kaas en beskuitjies.”

Dít was, soos die wyle Kenneth Kaunda in sy beste Bad English gesê het, ‘too ghastly to contemplate.’

“Toe ons klein was,’ vertel Gerhard, ‘het ons nie dinge sommer so vir soetkoek opgevreet nie. Tydens die groot depressie was ons maar te dankbaar vir elke bord kos wat ons kon kry.’

‘Gerhard my ou mater, tydens die groot depressie was jy nog nie met ons nie. Ek ook nie. Ons is eers in die vyftigs gebore. Die depressie was in die dertigerjare.”

Henning en sy feite. Mens sou sweer hy’s ’n joernalis. ’n Outydse een wat hom nog aan feite steur.

“In elk geval, my oorl’e pa het my vertel hoe erg daai depressie was. Dié het mos saam met die runderpes, die Spaanse griep en ’n vreeslike droogte gekom.”

“Tja-aa,” sê Henning. Ek sien hom in my geestesoog op Google, besig om die te soek vir “Timeline of South African history.”

“Nou in daardie dae was daar boemelaars wat op die vragtreine gery het en by dorpies en plase aangekom het op soek na kos,” vertel ek.

“Ek is seker hulle was nie orals welkom nie,” sê Henning.

“Beslis nie. Hier by die derde boemelaar het hulle begin om die ou spul voëlverskrikkers met bokhael te verwelkom.”

Gerhard hou van poetse bak en kan Henning se lyding nie meer aanskou nie. Hy haal stilletjies sy teelepel uit sy sak en maak of hy dit van die vloer af optel, en gee dit vir hom. Hy druk dit ingedagte in sy koffie.

“Daar was een ou boemelaar wat met ’n plan gewerk het. Hy was ’n pesbestryder. Rotte en muise sy spesialiteit. Hy het altyd respekvol aan die deur geklop, sy hoed afgehaal en gevra: ‘Mevrou, as u las het van rotte en muise – ek roei hulle almal uit vir tien sjielings. Die laaste een!’”

Daar’s twee dinge waarop die ondernemende boemelaar reken: eerstens, dat daar rotte en muise op die plaas is; en tweedens, dat die arme vrou nie tien sjielings het nie.

Die onvermydelike oomblik kom wanneer sy sê: ‘Meneer, ek het ongelukkig nie tien sjielings vir jou nie.’

Dan speel hy sy tweede-beste kaart.

‘Ag mevrou, ek het so ver gestap van die stasie af — ek sal dit doen vir ’n bord kos.’

‘Al die rotte en muise op die plaas?’ wil sy weet.

‘Almal. Die laaste een.’

‘Die kakkerlakke en kokkerotte ook?

‘Ja mevrou,’ lag die boemelaar skelm in sy mou.

‘En hoe raak jy van hulle ontslae?’

‘Kap hulle koppe hiermee af,’ sê hy terwyl hy ’n handbyltjie onder sy baadjie uithaal. Met droë bloed aan die snykant. Jy kan feitlik die doodskrete van die knaagdietjies hoor.

’Nou toe — spring aan die werk!’ sê die boervrou.

‘Mevrou, ek is eintlik bietjie swak vir so ’n groot werk — ek het gister laas geëet.’

Die vrou se ogies glinster van anti-rot bloedlus. Almal dood vir ’n bord kos? Die een ding wat daar altyd op ’n Vrystaatste plaas te vinde is, behalwe rotte, selfs in die middel van die depressie-cum-droogte-cum-runderpes-cum-Groot Griep, is kos. Jy kan sê sy dienste kos haar feitlik niks.

Sy skarrel binnetoe en gaan skep vir hom ’n bord van gisteraand se skaapboud en rys en aartappels op.

“Hy haal ’n sakdoek uit wat al beter dae gesien het, en bind dit om sy nek,” vertel Gerhard vir Henning met ’n stekie skuldgevoel oor sy teelepel, want daar’s ’n ouerige tissue in my sak. Ek dink hy’s darem nog ongebruik.

Nou ja, ons entrepreneur-hobo smul aan die boerekos. Lek die beentjies af, dan sy vingers, dan lek sy twee lippe mekaar af. Vryf aan die vetkol wat hy op sy hemp gemors het en lek dan weer daai vinger af.

Boervrou staan daar met ’n glimlag. ‘Nou kom,’ sê sy. ‘Kom ons gaan roei daai rotte uit.’

‘Sekerlik,’ sê die boemelaar.

Hy staan op en hulle stap uit na die kapblok langs die houthoop.

‘Ek gaan ’n slypsteen en ’n melkstoeltjie nodig hê,’ sê die ou.

Boervrou kan nie vinnig genoeg met die nodige toerusting vorendag kom nie.

Boemelaar gaan sit op die melkstoeltjie voor die houtblok. Hy bind sy ou sakdoek weer om sy nek om sy klere teen die komende bloedbad te beskerm en begin sy byltjie skerpmaak.

‘Oukei,’ sê hy. ‘Bring hulle!’

Die restaurantmeisie kom met nog twee koppies koffie. Sy weet al beter as om te vra. Sy begin die goedjies uitpak. Sy haal blink nuwe teelepels uit ’n servetjie. ‘Ag dametjie, ons hou sommer die oues,’ lag die twee ou vabonde oor die lekker poets wat die boemelaar die boervrou gebak het.

Gerhard Venter

*

Bertus en Brutus vat die hasepad
Henning van Aswegen

Een sonnige Saterdagmiddag sit Mossieman hoog in die takke van ʼn groot ou populierboom op die walle van die magtige Sandrivier sy boeretroos en drink. Die voordeel van so hoog in die takke sit, is dat Mossieman alles en almal om hom en onder op die grond kan sien. Sonder dat enigiemand onder op die grond hom hoog in die takke kan sien.

Al met die grondpaadjie langs, onder die populierboom verby, kom twee hasies ruik-ruik aangeskarrel. Elke paar tree steek hulle vas, neusies in die wind, oortjies gespits om met kloppende hartjies te luister of daar nie êrens iets is wat hulle wil vang en opeët nie.

Elke rukkie gaan sit hulle kiertsregop, en al gewaar hulle niks, ruik-ruik hulle in die lug, en dan hop-hop hulle weer vorentoe. Die twee hasies se lyfies trek so effens windskeef, en met die hop-hop vee hul wolhaarstertjies oor die graspolle en spriete langs die grondpaadjie. Nou en dan stop die twee hasies ʼn bietjie om aan die grasspriete te proe en te knibbel. Die hasies se ore bly gespits, en elke keer as hulle dink dat hulle iets hoor, soek hulle oë naarstiglik rond vir ʼn gat om in weg te kruip.

ʼn Breë glimlag kruip oor Mossieman se gesig waar hy bo-in die populierboom die hasies sit en dophou. Ewe skielik hoor die twee hasies droë blaartjies kraak – daar kom ʼn jakkalsie in die paadjie afgedraf. Vinnig kruip hulle agter die spriete langs die pad weg, en hou die jakkalsie nuuskierig dop. Die tweelinghasies is baie bang, en hul nekhaartjies staan sommer soos ystervarkpennetjies orent. Maar die ou jakkalsie draf Voort, verder en verder weg. Nou en dan stop hy, en snuffel rond, luister, en kyk ʼn slag of twee om, en dan weer alkante toe. Al kriewel die jakkalsie se neus van allerhande reuke en klanke, sien of hoor hy niks nie. Toe verdwyn sy wolhaartert die bosse in.

Bo uit die boom sien Mossieman dat die twee hasies baie bang en versigtig is om uit hul wegkruipplek te kom. Die twee lyk vir hom banger as ‘n haas vir ‘n hond.

‘Julle twee is maar baie bang vir daardie jakkalsie, nê,’ lag Mossieman. Die twee hasies skrik hulle boeglam, en probeer halsoorkop omdop.

‘Nee, wel… ja’ begin die een hasie onseker, terwyl die ander een versigtig om hom rondkyk. ‘Ons is net paraat op ons tone, want ons wil nie hê dat enige jakkalsies ons moet opvreet nie. Ons ouer suster het opdrag gegee om ons langsaam te haas.

‘Wat is julle name, en waarheen is julle oppad?’ verneem Mossieman nuuskierig. Hy vlieg sit-sit van sy hoë tak af en gaan sit op ʼn laer tak, sodat die twee hasies hom beter kan sien.

‘My naam is Bertus,’ waag die een hasie. ‘En dit is my broertjie Brutus. ‘Ons is ‘n tweeling, ons kom van Drieriviere af. Brutus is baie banger as ek; hy slaap net soos ‘n haas, met sy een oog oop.’

‘En waarheen is julle reis?’ wil Mossieman nuuskierig weet.

‘Ons is oppad na ons Oom Geronkie die Donkie se plaas toe, daar anderkant Vierfontein. Duskant Vyfster, in die pragtige Vrystaat. Maar ons haas ons nie, ons stap maar stadig.’

‘Maar ek ken vir Geronkie’ kwetter Mossieman opgewonde. ‘Hy is my boesemvriend, ons was saam in Virginia Volkskool. Ek weet presies waar hy op sy plaas bly.’

‘Baie dankie, meneer…?’

‘Mossieman,’ antwoord Mossieman trots. ‘My naam is Mossieman en ek is ‘n wyse uil. Is dit net julle twee hasies, of is daar nog van julle broers en susters wat hier met die grondpaadjie langs loop?’

‘Nee, dit is net ons twee op reis, Mossieman. Ons het nog twee boeties by die huis; die een het ʼn haaslippie en die ander een ʼn haasbekkie.’

‘Is dit al?’ wil Mossiman weet.

‘Ons het nog baie nefies en niggies by die huis, benewens ons haasbekkie-broertjies. Die mense sê ons klomp hase teel aan soos konyne.’

‘Ek sal julle gaan wys waar Geronkie die Donkie bly, as julle wil.’

‘Baie dankie, meneer Mossieman,’ laat Bertus en Brutus dankbaar van hulle hoor. ‘Ons ouer suster het ons gestuur om na Oom Geronkie te gaan soek. Sy het gesê as ons die hasepad vat, sal ons by sy plasie uitkom, Maar dit is beter dat jy ons gaan wys waar hy bly. Dit is haas onmoontlik om die plaas op ons eie op te spoor. Meneer weet mos, hoe meer haas, hoe minder spoed.’

‘Nou goed manne, kom ons val in die hasepad. Geronkie bly nie vêr hiervandaan nie, maar voordat ons soëntoe gaan, moet julle eers vir hom ʼn geskenkie kry. Mense of hase daag nie net by familie se huise op nie, jy moet ʼn geskenkie saamvat en vir die plaashuiseienaar gee.’

‘’n Geskenkie? Soos blomme bedoel jy, Mossieman? waag Bertus.

‘Nee-man, Bertus,’ raas Brutus. ‘Oom Geronkie is ʼn donkie, en as jy vir hom blomme gee, eet hy dit op. En jy gee oor die algemeen nie vir Vrystaters blommme nie, hulle voeter jou sommer met ‘n mieliestronk. Oom Geronkie gaan dink ons is so mal soos hase.’

‘Reg so, Mossieman’ sê Brutus, ‘Watter soort geskenk moet ons vir Oom Geronkie kry?’

‘Iets wat hom sal laat balk van vreugde, manne. Ek weet – mieliestronke! Dit is haas onmoontlik om vir hom enige iets anders te gee.’

‘Ja,’ beaam Mossieman. ‘Julle Oom Geronkie eet baie mielies, en dan herwin die plaaswerkers later die mieliestronke wat oorbly.’

‘Herwinning!’ roep Bertus verbaas uit. ‘Soos in ‘recyclng,’ Mossieman?’

‘Net so, Bertus, net so!’

‘Ek het altyd gedink ‘recycling’ het iets met fietsry te doen,’ brom Brutus onderlangs. ‘Waar gaan ons mielies vandaan kry om vir Oom Geronkie te gee wanneer ons daar op sy plaas aankom?’

‘Dit is haas tyd om te gaan, manne. Kom ons vat die hasepad.’

‘Reg so, Mossieman,’ beaam Bertus en Brutus, skielik opgewonde om hulle beroemde Oom Geronkie te ontmoet.

‘Wel manne, julle sal ʼn haas uit ʼn hoed moet uittrek, en bietjie kreatief moet dink. Ons kan langs die pad vir julle Oom Geronkie ʼn paar mielies pluk, dan kan julle ʼn blommerangskikking van die mielies maak. Dan is die mielierangskikking sy geskenkie.’

‘Ons hoef nie haastig te wees nie, Mossieman. Kom ons gaan soek eers na mielies vir Oom Geronkie se mielierangskikking.’

‘Wat van blaarslaai?’ waag Brutus sy beskeie mening. ‘Moet ons nie vir Oom Geronkie bietjie blaarslaai ook saamneem nie.’

‘Nee, ek dink nie so nie,’ lag Mossieman te lekker. ‘Blaarslaai is haaskos, en hy is ‘n donkie. En ons wil nie laat wees nie.’

Langs die gronpad na Geronkie die Donkie se plaas toe, pluk Bertus en Brutus die sappigste Vrystaat-mielies vir hul mielierangskikking. Die Vrystaatse mielielande is wêreldberoemd – so beroemd dat selfs mense oorkant die Garieprivier daarvan weet.

‘Versigtig pluk, Bertus en Brutus,’ maan Mossieman. ‘Onthou, haastige werk is halwe werk.’

Uiteindelik is die mielierangskikking gereed, kompleet met ‘n oranje strikkie. Ook maar net betyds, want toe hulle by die plasie aankom, staan Geronkie die Donkie reeds vir hulle by die plaashek en wag. Brutus is skoon oorstelp van opgewondenheid; hy hop-hop vooruit om eerste vir Oom Geronkie te groet.

‘Versigtig nou,’ roep Mossieman verniet. ‘Onthou, haastige hond verbrand sy mond! ’n Haastige haas is altyd verbaas.’

‘Vanwaar, Gehasie!’ balk Geronkie toe hy sy twee nefies by die plasie se hek gewaar. ‘Het julle sowaar al met die hasepad langs gekom, al die pad van Drieriviere af, net om vir my te kom kuier?’

‘Ja, Oom Geronkie!’ sê Bertus en Brutus toe hulle die groot mielierangskikking-geskenk aan die verbaasde Geronkie oorhandig. Ons Liewe suster Ester, en Haasbekkie en Haaslippie en almal stuur vir jou baie groete, met ‘n stewige handdruk daarby.’

‘Maar kom dan binne, manne! balk Geronkie opgewonde, terwyl hy versigtig aan sy pikante mielierangskikking ruik. ‘Kom, ons het alreeds lekker middag-ete vir julle en my groot vriend Mossieman voorberei.’

‘Die middag-ete ruik heerlik, Oom Geronkie’ sê Brutus terwyl hy sy haaslippies aflek. ‘Wat eet ons? Die aroma is asemrowend.’

‘Haaspastei, manne! Wat anders? balk Geronkie guitig van die lag.

‘Nee, o wee! skree Bertus en Brutus benoud. ‘Nie haaspastei nie, Oom Geronkie, asseblief! Nie haaspastei nie! Netnou eet ons van ons familie!’

‘Toemaar, julle twee, ontspan,’ lag Mossieman. ‘Julle kry blaarslaai vir middagete. Met ʼn knertsie olyfolie by. En nou weet julle sommer waarom ek en Geronkie so beroemd en berug is, manne.’

‘Waarom, Mossieman? Waarom is jy en Oom Geronkie so beroemd en berug?’

‘Omdat ons die beste poetsbakers in die hele Vrystaat is. En sommer oorkant die Garieprivier ook.’

‘Bon appétit, Bertus en Brutus. Bon appétit!’

  • Henning van Aswegen