JÕA GROENEWALD - 'n Kort Biografie, deur Ida Steyn in Nongqai Vol.17 Nr.7.

KORT BIOGRAFIE VAN JÕA GROENEWALD

IDA STEYN

Ek het in 1981 gematrikuleer te Hoërskool Bothaville. In 1982 het ek n Sekratarieël in Regte kursus te Technikon OVS gedoen vir die jaar. Daarna is ek terug Bothaville toe en het my grootmens loopbaan afgeskop as klerk te Volkskasbank (nou ABSA bank).  Klerklike werk  te Lategans Ford en later  Department Landbou het gevolg.

Gedurende my tydperk by Department Landbou het ek ook aangesluit as reservis by die plaaslike Suid Afrikaanse Polisie te Bothaville. Ek kom toe agter dat ek veel eerder by die SAP wil tyd deurbring as by my huidige werk. 1 Julie 1986 begin ek, as n 24 jarige,  toe my Polisie loopbaan te SAP Bothaville. Vertrek feitlik onmiddellik om my basiese opleiding te SAP Opleidingsentrum Pretoria Wes te gaan doen vir 6 maande.

SAP HILLBROW

Ons het begin Desember 1986 uitbasseer en ek was genomineer om by SAP Hillbrow te gaan aanmeld. SAP Hillbrow was daai tyd geag die grootste en besigste Aanklagtekantoor in die RSA te wees. Mannekrag was maar skraal en ons was maar 3 lede in die Aanklagtekantoor en 2 lede op elke voertuig (minimum van 2 voertuie per skofbeurt). Daai tydperk het ek geweldig geniet want dit is die heel beste plek om jou loopbaan mee af te skop want jy kry met elke misdaad in die boek te doen (behalwe daar was nog nie veediestal daai tyd daar aangemeld nie). Die eerste maand was al die nuwe lede verplig om patrollie te gaan stap om sodoende jou omgewing te leer ken. En wild was dit wild, baie keer was daar sommer blompotte, water en  vullis ens op jou gegooi vanuit die hoë woonstelblokke. En jou hoed op jou kop het veroorsaak dat jy soms papnat of stinkendvuil anderkant uit gekom het. Die was ook egter n plek waar jy as vrou nie dit durf waag het om alleen te loop nie.

In 1987 het ek my verplasing ingesit Pretoria toe. Groot was my, en baie ander, se verbasing dat dit wel goedgekeur was.  Sodoende land ek toe te SAP Hercules (ook maar nog  n baie rowwe area om in te werk,  op daai stadium)onder bevel van Kapt Loubscher. Daar was ek belas met Ondersoek, Navrae,  Dagvaardigings en Lasbriewe, SAP13 registers en store asook die staatskluis waar al die vuurwapens en ammunisie en waardevolle items gestoor was. Later het ek ook Ondersoek SAP lede asook Strafbare Manslae en Nadoodse Ondersoek (Uniform tak) gedoen.

Daai tyd het ek ook begin met my verdere studies en het vinnig gevorder tot Adjudant Offisier waarna ek toe getrek is SAP Hoofkantoor Polisie- en Reserwepolisie afdeling toe. Aanvanklik was dit vir my n geweldige groot aanpassing want toe is  my vlerke geknip en was ek streng kantoorgebonde. Ek was werksaam in daai afdeling , onder bevel van Brig Bam, tot na my Kanditaatoffisierskursus te Paarl in 1992 wat daai tyd n 10 weke lange kursus was.

Ek het net my verpligte tydperk van 2 jaar as Luitenant voltooi en my Kapteinsrang ontvang toe word ek  gesekondeer na SAP ABS Hoofkantoor om daar te gaan uithelp in die Nasionale Radio en Insidente Ontvangskamer, onder bevel van Generaal Wandrag. Daarna was ek terug getrek na SAP Hoofkantoor Polisie- en Reserwepolisie afdeling toe want die huidige Bevelvoerder (Brig Bam) was verplaas na die Vuurwapenlisensieafdeling om as Bevelvoerder daar oor te neem. In daai tyd, was die Polisiereserwes se wetgewing ook sodanig gewysig dat die Polisiereserwe gedeelte gekanselleer en in geheel uitgefasseer moes word. Die Reserwepolisie afdeling het in sy normale vorm voortbestaan. Na vele onderhandelinge en beraadslaging met die Generalestaf en buite Departemente was die Polisieresewe afdeling uiteindelik, begin 1995,  gefinaliseer en kon ek die ligte afsit en die  deure finaal sluit.

Ek kon toe soos al die ander persoonlede, my keuse uitvoer waar ek my loopbaan wou voortsit. Ek was gelukkig om my hoof keuse te kry … n keuse wat ek al in my kollegedae wou uitvoer  maar nie toegelaat was daartoe nie … en dit was om by die SAPD Hondeskool/eenhede geplaas te word.

SAP HONDESKOOL

In April 1995 betree ek my droom werksplek te SAPD HONDESKOOL en begin by die  Voorsiening van Honde Roodeplaat waar ek aangestel word as Stafoffisier (sou bitter graag met die honde self wou werk maar omdat ek reeds n Offisier was, was dit nie gemagtig nie) onder bevel van Supt (Dr) Hannes Slabbert. Hoofsaaklik was al die Ondersteuning safdelings, Menasie en Gastehuise onder my bevel. Maar ek was bevoorreg en toegelaat om enige tyd n ogie te gaan gooi by enige van die onderafdelings nl: teling, vorming en vertoongroep ens.

Later was ek deur die Hondeskool Bevelvoerder (Direkteur Berg), versoek om die algehele Menasiebestuur van al drie die Menasies nl: Hondeskool,  Roodeplaat en Appingendam te behartig. In daai tyd was daar ook n beroep deur Direkteur Berg dat ek die Admin/Algemene Registrasie afdelings as Komponentshoof: Bestuurskomponent moet kom behartig vanuit die Hoofgebou (“Glaskas”). In 1999 ontstaan daar n ligte krisus toe die Bevelvoerder van SAPD HONDESKOOL SPOORSNY EN TAKTIESE OPLEIDING APPINGENDAM (Kapt Fanie Beneke), sy 24 uur bedanking/ontslag uit die SAPD aankondig. Na deeglike nood besprekings word ek die eer en voorreg gegee om die eerste en enigste vroulike Bevelvoerder  van SAPD HONDESKOOL SPOORSNY EN TAKTIESE OPLEIDING APPINGENDAM te word. En wat se eer was dit nie vir my nie want ek het vroeer (ongeveer in 1997) ook die geleentheid gehad om as aflos Ondersteunings (“Support”) Offisier daar te kon aflos. En nodeloos om te se het die standplaas my toe alreeds geweldig beindruk en my in n wip gehad.

Einde 1999 word ek genoodsaak om my geliefde loopbaan in die SAPD HONDESKOOL te beëindig omdat ek met n skok agter gekom het dat daar vir my geen bevorderingsmoontlikhede was nie, en dit net omdat ek as reeds n offisier,  nie toegelaat was om enige fisiese hondeopleiding te kon deurloop en die nodige stawende dokumentasie kon voorle saam met my aansoeke vir bevorderings nie.

SAPD POTGIETERSRUS

Begin 2000 doen ek aansoek om verplasing uit die Hondeskool na SAPD POTGIETERSRUS, maar word by SAPD MAHWELERENG wat so 7 kilometer buite Potgietersrus in die swartwoonbuurt (ou Vendastasie), geplaas as Logistiek Offisier.  Daar gekom is ons slegs 2 blankes (ek en nog n mans Kaptein), onder bevel van Kol Munyai.  Hierdie was vir my n geweldige groot aanpassing. Sodoende was ek die enigste blanke vroue vir omtrent 5 jaar op die stasie.

In 2006 deurloop ek n groot rugoperasie na n besering aan diens (motorongeluk) en was vir 13 maande afgeboek. Met my terugkeer moet ek herplaas word en word toe as Ondersteuningshoof (Support Head) aan gewys. In 2011, na 10 jaar diens in MAHWELERENG,  kry ek my lang verwagte verplasing terug Bothaville toe aangesien my ouers baie oud en Pa baie siek begin word het. Ek word toe as Misdaadvoorkoming: CPF aangestel te SAPD BOTHAVILLE onder bevel van Kol Lewis. My sirkel of life was toe volgens my  voltooi.

BEVORDERING, EN MAJOOR

Net om uit die bloute te hoor ek is bevorder tot die rang van Majoor. Wat n blessing, ek het myself al vereenselwig dat ek as die oudste Kaptein in die SAPD, sou aftree. Ek word toe verplaas na CLUSTERCOMMANDER THABONG (Welkom), onder bevel van Generaal Molale en word gepos as MIC Hoof oor 7 stasies. Ongeveer 2016/7 fasseer die Clusters uit en die eerstydse Distrikskantore betree weer die voorgrond maar hierdie keer veel grootter en met meer stasies (+- 13 stasies),  onder hul bevel. Hierdie veroorsaak dat die twee vorige Clusterkantore in Welkom nl: Welkom en Thabong nou een Distrikskantoor raak.

In 2020 beeindig ek my SAPD loopbaan met die rang van Luit Kolonel met +- 35 jaar diens. Tans hou ek myself besig met alles waarvoor ek nie  in die verlede voor tyd gehad nie. Ek is darm nog betrokke in die plaaslike CPF/BUURTWAG waar ek my pligte, en meer,  met n dankbare hart verrig.

MET ALLE DANK AAN ONS HEMELSE VADER VIR HIERDIE INVLOEDRYKE LOOPBAAN.

Baie dankie, Ida Steyn en Nongqai  vir die voorreg om my loopbaangeskiedenis met jul te mag deel.

  • Ida Steyn