
NUUSBRIEF NO 2
02/2025
20 Mei 2025
Kontakbesonderhede
Voorsitter: +27 82 324 6636
Onder-Voorsitter: +27 83 212 6778
Beskermheer: +27 82 411 7836
Strategies: +27 83 469 7969
Projekte: +27 82 862 1046
Bestuur
Voorsitter: Hein Crocker
Onder-Voorsitter: Philip Schutte
Beskermheer: Andre Olivier
Strategies: Fanie Booysen
Projekte: Chris Botha
Bestuur
Voorsitter: Hein Crocker
Onder-Voorsitter: Philip Schutte
Beskermheer: Andre Olivier
Lid: Fanie Booysen
Kopiereg
Kopiereg van die titel, teks, tabelle, kaarte, foto’s en geskandeerde voorwerpe, bly die eiendom van die Bestuur van die Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag Assosiasie.
Alle regte word voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, in ‘n herwinbare sisteem gestoor, of in enige vorm of op enige wyse, hetsy elektronies, meganies, fotokopieë, opname of andersins, gekommunikeer word sonder die voorafverkreë skriftelike goedkeuring van die kopiereg-eienaar nie.
INHOUDSOPGAWE
| NO | ARTIKEL | SKRYWER | BLADSY |
| 1 | Terugvoer oor die eerste nuusbrief | JF Lotriet | 3 |
| 2 | Daarstelling van die Bevelvoerdersgroep | JF Lotriet | 4 |
| 3 | Die ontstaan van die naam Spesiale Taakmag | R Stander | 6 |
| 4 | Die ontstaan van die Spesiale Taakmag | JF Lotriet | 9 |
| 5 | Die geskiedenis agter die vlerkie | AE Olivier | 23 |
| 6 | Handelsmerk of Brandmerk (Branding) | JF Lotriet | 26 |
| 7 | Verjaarsdae en Sterfgevalle | JF Lotriet | 27 |
| 8 | Naamlys met kontakbesonderhede | JF Lotriet | 27 |
| 9 | Groepsregister | JF Lotriet | 27 |
| 10 | Uitstalling by die museum, Voortrekker Monument | JF Lotriet | 28 |
| 11 | Besprekingspunte vir die volgende uitgawe | JF Lotriet | 28 |
Voorwoord
deur
Johan F Lotriet : OOB

Terugvoer oor die daarstelling van die nuusbrief
Die voorbereiding en verspreiding van die eerste nuusbrief aan die groep, kan na aanleiding van terugvoer, as ‘n reusesukses beskou word.
Dit kan ook bevestig word dat, met die goedkeuring van die bestuur van die assosiasie, Johan Lotriet tot verdere kennisgewing die opsteller en redakteur van die nuusbrief sal bly.
Alle insette vir plasing in die nuusbrief moet dus direk aan hom gestuur word, voor of op die vyftiende van elke maand en wel na die e-posadres jflotriet3@gmail.com.
Die nuusbrief stel dit ten doel om die volgende beginsels te handhaaf:
Kommunikasie: om n gereelde kommunikasie-platform daar te stel ten einde lede ingelig te hou oor die aktiwiteite, gebeurtenisse en verwikkelinge binne die Assosiasie.
Betrokkenheid: om lede te betrek en betrokke te hou deur die deel van belangrike inligting, historiese gebeure en belangrike gebeure.
Eenvormigheid: om n platform daar te skep vir gereelde kommunikasie en beweging, kennisgewings van byeenkomste, verjaarsdae en afsterwes. ‘n Nuusbrief skep n gevoel van deelwees of samehorigheid onder die lede. Niemand moet uitgesluit word nie.
Frekwensie van die nuusbrief : dit word aanbeveel dat die nuusbrief op n gereelde basis aan lede uitgestuur word om sodoende deurlopende kontak onderling tussen lede te behou. Dit sal afhang van die volume van informasie wat gekommunikeer moet word, en kan maandeliks, – maar nooit langer as twee (2) maande uitmekaar nie – wees.
- Daarstelling van die Bevelvoerdersgroep

Vlnr: Dinky Boucher, Johan Lotriet, Philip (Oom) Schutte en Andre (Jock) Olivier
2.1. Op 23 April 2025 om 09h00 het die vorige Bevelvoerders van die SA Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag by Goodies for Gardens, in Kemptonpark byeengekom om terugvoere uit die verskillende streke te bespreek.
2.2. Dit was tydens hierdie byeenkoms waar daar besluit is om die Bevelvoerdersgroep tot stand te bring.
2.3. Die doel van die Bevelvoerdersgroep is:
-
- Om maandeliks te vergader en besluite te dokumenteer in die vorm van ‘n notule.
- Om op Strategiese vlak te bevestig dat historiese inligting akkuraat en volledig aan die bestuur van die assosiasie deurgegee word, waar dit sentraal aangeteken sal word.
- Om probleme binne die groep, op ‘n sentrale punt te bespreek en advies en leiding aan die bestuur van die Assosiasie te verskaf vir implementering.
- Die Bevelvoerdersgroep vervang nie die bestuur van die Assosiasie nie. Die bestuur bly steeds verantwoordelik vir die daaglikse bestuur en implementering van besluite.
- Om ter ondersteuning van die Bestuur van die Assosiasie op te tree.
Waar het die benaming Spesiale Taakmag binne die Suid-Afrikaanse Konsep sy ontstaan gekry?
(deur Riaan Stander)
-
- Die term SPESIALE TAAKMAG was die voorstel van ene Luitenant Cassie Otto, ‘n gewese lid van die voormalige Rhodesiese “SPECIAL AIR SERVICE” (SAS) wat in 1972 in die Suid-Afrikaanse Polisie Mag diens gedoen het by die plofstof-eenheid van Kaptein Apie van Dyk in die SA Polisie-kollege. Cassie Otto is deur Sersant Anton Uys van die SA Polisie Veiligheids Hoofkantoor aan Sersant Riaan Stander voorgestel.
- Laasgenoemde het na 18 maande se SA Weermag-opleiding by die SA Polisie aangesluit as instrukteur in die SA Polisie-Kollege. Hy het onder andere in 1970 die Heidelberg Leergimnasium se Staandemag Kandidaat-offisierskursus gedoen en daarna die Valskerm-Bataljon kursus te Tempe, Bloemfontein tot Junie 1971.
- Beide Uys en Stander was later ook lede van die Veiligheidstak, Wachthuis en die Bliksems, die SAP se voorloper tot die amptelike Spesiale Taakmag en onder nie-amptelike bevel van Kaptein Blackie De Swardt.
- Laasgenoemde het ook Kyokushin Karateklub op die Tweede vloer van Sentraal Polisiestasie bedryf, waar al die lede van die Bliksems ook deelgeneem het. Joe Grant-Grierson het ook daar onkonvensionele gevegskuns vir die lede aangebied. Sersant Stander het ook sy swart gordel in die styl verwerf. Sensei Kenny Uitenbogaardt van die Wes- Kaap het die gradering gedoen.
- Kaptein De Swardt het n baie groot rol gespeel in die stryd om die SA Polisie Spesiale Taakmag tot stand te bring. Hierdie groepie nie-offisiële Taakmag-kandidate het dan ook baie nou saam met die Hunter-groep van Doornkop militêre basis opleiding gedoen.
- Die Hunter-groep was op daardie stadium nie-amptelik die tweede Verkenningskommando. Kommandant Sybie van der Spuy was die stigter van hierdie groep wat later in 1974 offisieël as 2 Verkennings Regiment erkenning gekry het.
- Verskeie lede van hierdie Hunter-groep, Kaptein Willy Ward, Keith Lucy, Mike Tippit, en andere, het gereeld saam met die SA Polisie nie-amptelike groep aan gevegsoefeninge deelgeneem.
- Die Bliksems is egter ook amptelik by die BBP-beskermingsdienste van die SA-Spele in 1973 betrek, veral met die bewaking van die Israeliese Maccabi-span na die 1972 aanval in Munich tydens die Olimpiese Spele daar.
- Weens interne verskille en binne-gevegte, het die naam Spesiale Taakmag NIE op daardie tydstip amptelike erkenning in die SA Polisie gekry nie.
- Riaan Stander is in 1972 met Carin Buitendag, dogter van Brig. Koos Buitendag, beter bekend as die “Veggeneraal”, getroud. Deur hierdie verbintenis het Stander ook vir Generaal JJJ Van Vuuren ontmoet.
- Gedurende 1973 het Riaan Stander teen-insurgensie dienste in die destydse Rhodesië gedoen, soos Operasie Hurricane (Zambesivallei) en Operasie Grapple (Binnelands).
- Na sy terugkeer vanaf Rhodesië was daar ‘n naweek-geselligheid by Brigadier Buitendag se huis te Selbornelaan 141, Lyttelton. Generaal JJJ Van Vuuren en sy familie het dit ook as ou huisvriende bygewoon. In die loop van normale gesprekke het Generaal Van Vuuren met Stander in gesprek getree oor die bosoorlog en opleiding.
- Aangesien Stander alreeds die konsep van die SA Polisie se Bliksem- groepie aan Brigadier Buitendag verduidelik het en hy bewus was van die naweke se opleiding saam met die Hunters, het die gesprek in daardie rigting beweeg.
- Daar het Stander toe aan beide Generaal Van Vuuren en Brigadier Buitendag die naam “SPESIALE TAAKMAG” genoem en ook gemeld dat die SA Polisie nog binnegevegte gehad het oor die totstandkoming van so ‘n eenheid in hul midde. Beide senior offisiere in die SA Spoorwegpolisie was baie beiindruk met die naam, sowel as die moontlike aanwending van so ‘n eenheid.
- Van daardie oomblik af het Brigadier Buitendag per geleentheid met Stander oor die moontlike stigting van ‘n Spesiale Taakmag in die SA Spoorwegpolisie gepraat.
- Tydens ‘n latere geleentheid was Generaal Van Vuuren weer by Brigadier Buitendag se huis teenwoordig. En so het die gesprek gedraai oor die SASP se instrukteurs wat alreeds Oudtshoorn Infanterie Skool- opleiding ondergaan het en wat sonder twyfel uitstekend in so ‘n Spesiale Taakmag aangewend sou kon word.
- Die naam van Joe Grant-Grierson is toe deur Stander as instrukteur voorgestel omrede hy op daardie stadium reeds by die Hunters en die SA-Polisie se Bliksems betrokke was.
- Generaal Van Vuuren het ook met Brigadier Buitendag die name van Sersant Johan Lotriet en Luitenant Flip Delport as moontlike instrukteurs vir so ‘n eenheid bespreek.
- Stander is in 1974 tot speurder-sersant bevorder en in die Kaap gestasioneer. Gedurende Meimaand 1974, het Brigadier Buitendag, Majoor Hans Visagie en ene majoor De Klerk (wat later ontslag geneem en stadsbestuurder van Roodepoort geword het) in ‘n spesiale spoorwegwa in die Kaap aangekom. Die doel was om onderhoude met verskillende persone te kom voer.
- Majoor Visagie en De Klerk het 2 dae met Stander onderhoude gevoer oor opleidings modules, teen-insurgensie operasies en strukture van bevels – elemente en die kwalifikasies van instrukteurs vir die Spesiale Taakmag.
- Moontlike opleidingsterreine is bespreek. Die name van Luitenant Delport, Joe Grant-Grierson, Adjudant-Offisier Ronnie Beyl en Sersante Johan Lotriet en Stander is toe op die lys van instrukteurs aangebring.
- Sersant Stander het in September 1974 sy ontslag by die SA Polisie geneem en teruggekeer Pretoria toe.
- In Oktober 1974 het Stander by die SA Spoorwegpolisie aangesluit en is hy as instrukteur in Oorlewings-gevegkuns te Esselenpark Kollege aangestel.
- Die vyf aangestelde instrukteurs het gedurende Januarie 1975 lesings begin skryf om ‘n Handleiding met sekerheidsklassifikasie van GEHEIM daar te stel. Slegs ‘n beperkte aantal handleidings is gedruk, en na afhandeling van die opleiding van die Bevelselement en SPECTA 1 EN 2 is die handleidings weer aan die Kommissaris se kantoor teruggehandig.
- Die ontstaan van die Spesiale Taakmag gedurende 1975
(deur Johan F Lotriet : OOB)
-
- Benaming – Waar het die benaming Spesiale Taakmag binne die Suid-Afrikaanse Konsep sy ontstaan gehad?
Die term, Spesiale Taakmag, het sy oorsprong in Suid-Afrika in die 1970’s. Dit is gestig as ‘n elite-eenheid van die Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie vir die hantering van hoë-risiko operasies wat buite die omvang van gewone polisiëring val.
-
- Die ontstaan van die SA Spoorwegpolisie se Spesiale Taakmag.
Gedurende 1974 het die destydse Kommissaris, Generaal-majoor JJJ. Van Vuuren, opdrag gegee dat die Assistent-kommissaris, brigadier J.P. Buitendag, die moontlikheid moes ondersoek om ‘n Spesiale Taakmag tot stand te bring.
Op 7 Maart 1975 het brigadier J.P. Buitendag ‘n konsepvoorstel aan Generaal-majoor JJJ. Van Vuuren voorgelê, wat goedgekeur is, dat ‘n groep bestaande uit n bevelselement en twee (2) gevegseenhede by die Infanterieskool, te Oudtshoorn, opgelei moes word.

Vlnr: Generaal JJJ van Vuuren en Brigadier Buitendag
Luitenant J. Grant-Grierson en waarnemende sersant A.B Stander, is spesiaal vir die doel in diens geneem. Luitenante P Delport en J Grant-Grierson, Adjudant-o{fisier J.R Beyl, Sersant J.F. Lotriet en waarnemende sersant A.B. Stander het toe twee groepe oor die tydperke I Julie tot 20 September en 30 September tot 1l Desember 1975 te Oudtshoorn opgelei.
Na die opleiding is die Spesiale Taakmag op die grens by Oshivello in Ovamboland ontplooi om busse en voertuie wat deur die grenspos beweeg het, te deursoek vir moontlike vuurwapens, bomtoestelle en onwettige immigrante.
Hierdie gevegspanne, SPECTA 1 en SPECTA 2, was regoor die Republiek verspreid en is periodiek aangewend vir grensdiens en BBP- beskerming. Hulle het ook gedurende die 1976-onluste ‘n prominente rol ten opsigte van BBP-beskerming gespeel.
Van die lede was ook ingedeel by Lugdiensveiligheid waar hulle anti-kapersdienste (Sky Marshalls) op SA Lugdiens vliegtuie op die buitelandse vlugte, diens gedoen het.
Baie van die lede is later in die Streeks-Taakmagte opgeneem en het daar betrokke gebly.
Met tyd is baie van die lede bevorder na senior offisiere, en het ‘n natuurlike onttrekking uit die Spesiale Taakmag plaasgevind.
Amptelik het die Spesiale Taakmag, bestaande uit Specta 1 en 2, nooit opgehou om te bestaan nie. Die verandering in die bedreiging en die Kommissariaat, Generaal JH Visagie, het die nut daarin gesien om n stedelike vermoë daar te stel. Dit het die weg gebaan vir lede soos Kolonel A F Horak en Luitenant P Schutte, om opleiding by die GSG9 in Duitsland, en Majoor A Jooste en Luitenant AE Olivier om opleiding by die Yamam in Israel te deurloop.
Kaptein JF Lotriet en Sersant L Botha het ook gedurende 1983, gespesialiseerde opleiding by die GSG9, te St Augustin in Bonn, Duitsland, ondergaan.
-
- Die Opleidingspan
Die opleidingspan het bestaan uit Luitenant P Delport (Instruksie- Offisier), Luitenant J Grant-Grierson (Instrukteur), Adjudant-offisier JR Beyl (Sersant-majoor) en Sersante JF Lotriet en Riaan Stander (Instrukteurs).
Luitenant P Delport, Adjudant-Offisier JR Beyl en Sersant JF Lotriet, is almal deur die SA Weermag as instrukteurs in Teeninsurgensie (TEIN OPS), by die Infanterieskool, Oudtshoorn opgelei.
Luitenant J Grant-Grierson was ook verantwoordelik vir die opleiding van die Hunters, die SA Weermag en die SA Polisie.
Sersant R Stander was ook betrokke in die destydse Rhodesië tydens die oorlog daar.

Voorste ry vlnr: AO JR Beyl (RSM), Luitenant P Delport (Instruksie Offisier en Luitenant J Grant-Gierson (instrukteur)Tweede ry vlnr: Sersante R Stander en JF Lotriet (Instrukteurs)

Elke instrukteur het so ‘n brief van die Kommissaris ontvang.
-
- Bevelvoerders van SPECTA 1 en 2
Beide SPECTA 1 en 2 het oor hulle eie Bevelvoerders beskik, wat vir die Bevel en Beheer van hul gevegseenhede verantwoordelik was .

Vlnr: Luitenant P Delport (Instruksie Offisier), Majoor D Malan (Bevelvoerder van SPECTA 1), Kaptein R Kemp (Bevelvoerder van SPECTA 2) en Luitenant J Grant-Grierson (Instrukteur)
-
- Leierselement van beide SPECTA 1 en 2

Vlnr : voorste ry: J Piek, AG Louw, TDJ Victor, JJ Neethling
Tweede ry: D Malan, R Stander, JR Beyl, P Delport, Brigadier JP Buitendag, J Grant-Grierson, J Lotriet, R Kemp
Derde ry: J Lourens, H Buckingham, L Roelofse, D Keyter, C Du Toit,
Die leierselement, het na hulle keuring, ‘n twee (2) weke kursus in plattelandse oorlogsvoering (TEIN-Ops) by die Opleidingskollege te Esselenpark deurloop. Die logika agter dit was om die leierselement van kennis te voorsien voordat SPECTA 1 en 2 se opleiding aan die Infanterieskool te Oudtshoorn ‘n aanvang sou neem.
-
- SPECTA 1

Specta 1 se kursus het vanaf 7 Julie tot 20 September 1975 geduur
-
- SPECTA 2

Specta 2 se kursus het vanaf 30 September tot 11 Desember 1975 geduur.
-
- Opleidingsprogram
Die instrukteurs het voortydig ‘n formele opleidingsprogram, gemik op plattelandse oorlogvoering insluitende onluste formasies en beskerming van sleutelpunte, voorberei.
Handleidings was voorberei, gedruk, geklassifiseer as Geheim, en genommer. Die beheerde handleidings was per handtekening aan lede oorhandig.

Die volgende teoretiese en praktiese vakke is aangebied:
- Wapenleer en gevegsdril, insluitende boslaan skietoefeninge en vuurbaan.
- Wapenleer
- Pelotonwapens (9mm Star, Model 10 haelgeweer, T782 gaspistole, FN LMG, 60 mm patrollie-mortier, R1,
- Patrollies en gevegsformasies
- Tydelike basisse, beveiliging en skildwagte
- Patrollie basisse
- Hinderlae en teen-hinderlaag drills, insluitende verskillende tipes hinderlae
- Oorsteek van hindernisse, insluitende water
- Voorbereiding van en gee van orders (waarskuwings en monderlikse)
- Nagoperasies (spooktrap, katjietrap, katjiekruip, gesigsvermoë)
- Kaartlees en oriëntering, metodes om rigting te hou en ‘n roetemars. Kaarte en Kompas-meting
- Beskerming teen direkte en indirekte aanvalle
- Sekerheid
- Veldkuns, vermomming en verberging
- Voorwerp identifisering en metodes van aanduiding
- Vuurleidingsbevele
- Hand- en stilteseine
- Inleiding tot spioenasie, terreinintelligensie
- Sabotasie
- Versameling en verwerking van inligting
- Identifisering en hantering van kommersiële, militêre en geïmproviseerde toestelle
- Eerstehulp (bloeding, brandwonde, breuke, skietwonde, slangbyte en behandeling, alspinnekopbyte, skerpioensteke, bysteke, hitte- en sonsteek,)
- Gesondheidsleer en sanitasie en versorging in die veld
- Spoorsny, samestelling van ‘n spoorsnyspan, gebeurlikheidsdril wanneer spoor gevind of verloor word en onmiddelike handelingsdril tydens ‘n kontak
- Kommunikasie, fonetiese alfabet, stigting van ‘n radionet, bewerkstelliging van kontak, voorbereiding van seine en die stuur daarvan
- Helikopter-aanwending en operasies, insluitende voorbereiding van landingspunte
- Noue lugsteun insluitende teikenaanduiding vir vliegtuie
- Stedelike oorlogsvoering gemik op onluste in beboude gebiede. Statutêre bepalings vir die uiteendrywing van oproerige byeenkomste en die gebruik van geweld
- Beskerming van sleutelpunte geboue
- Aanvalle op beboude gebiede
- Stedelike patrollies en padblokkades
- Aandklokreëlings
- Touwerk
- Kommunisme en terrorisme
- Operasionele aanwending
Na hul opleiding in Oudtshoorn gedurende 1975, is die eenhede aan die grens by Oshivelohek, Owamboland, ontplooi waar hulle verantwoordelik was vir die deursoeking van busse, voertuie en passasiers om sodoende die verspreiding van onwettige wapens en bomtoestelle te voorkom. Van die lede het ook BBP- dienste verrig aan die Generale Staf tydens beweging en in die onlusgeteisterde gebiede.
Van die lede was ook ingedeel by Lugdiensveiligheid waar hulle anti-kapersdienste (Sky Marshalls) op SA Lugdiens vliegtuie op die buitelandse vlugte, diens gedoen het.
Van die lede was ingedeel by die Streeks-Taakmagte om te help met hoë risiko insidente.
Luitenant J Grant-Grierson is dan ook tydens een so ‘n ontplooiing beseer toe sy kakebeen gebreek was as gevolg van ‘n baksteen wat deur een van die opstokers gegooi is.
Ander lede is in Suidwes ontplooi deur die spoorlyne met Kobus, die pantservoertuig, te patrolleer. Die pantservoertuig, wat ontwerp en gebou is deur Koedoespoort, kon op sowel die spoor as op paaie aangewend word.
Die pantservoertuig, KOBUS, wat op beide die pad en treinspore kon ry, wat gebruik is in Soweto en op die grens. |
Luitenant J Grant-Grierson, nadat hy n gebreekte kakebeen opgedoen het, nadat hy deur n baksteen getref was tydens die onluste in 1976. Luitenant P Delport staan langs Luitenant J Grant-Grierson. |
Skade tydens die onluste by Oakmorestasie.
DD Keyter ren N O’Kelly besig met touwerk by die treinbrug te Oudtshoorn
Riaan Stander by die vuurdoopbaan, te Luiperdskloof, tydens lewendige vuur en bewegingoefeninge.
Lede besig met vuur en beweging |
Die beroemde swart motor, Pontiac, van Brigadier (Veggeneraal) Buitendag, by Oakmore stasie. Die Spesiale Taakmag het deurentyd beskerming vir die BBP’s verskaf.
Joe Grant-Grierson besig met skiet-opleiding op die skiet-baan
Riaan Stander besig om die resultate van die boslaan met N Kemp te bespreek.
Riaan Stander en Nic O’Kelly met die Model 10 hael-geweer.
Tente akkommodasie by Kansasvlakte, Infanterieskool, Oudtshoorn.
Riaan Stander en sy transport |


-
Die geskiedenis agter die SA Spoorwegpolisie Spesiale Taakmag-vlerkie
deur André Olivier – beskermheer van die SASP Spesiale Taakmag Vereniging

Die oorsprong van die Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie (SASP) strek baie dekades terug en vorm deel van Suid-Afrika se ryk en komplekse veiligheidsgeskiedenis.
Soos enige ontwikkelende organisasie, het die SASP oor die jare beduidende veranderinge ondergaan. Hierdie ontwikkelings – wat strek oor groei, opleiding, toerusting, uniforms en leerstellings – is grootliks gedryf deur veranderinge in nasionale wetgewing. Sulke wetgewing het dikwels gedien om sleutelfunksies wat aan die land se gewapende magte, insluitende die Spoorwegpolisie, toegeken is, te formaliseer.
In die 1970’s het Suid-Afrika toenemende bedreigings vir interne stabiliteit in die gesig gestaar, van binne en buite sy grense. Destyds het die Suid-Afrikaanse Spoorweë die ruggraat van die nasionale ekonomie gevorm en spoor-, pad-, lug- en maritieme vervoerstelsels ingesluit.
Met die erkenning van die strategiese belangrikheid en kwesbaarheid van die vervoersektor, het die Staatsveiligheidsraad opkomende bedreigings beoordeel, wat teen daardie tyd van landelike opstand na stedelike konflik verskuif het. Hierdie neiging weerspieël wêreldwye ontwikkelings, met baie lande wat worstel met stedelike-gebaseerde veiligheidsuitdagings soos vliegtuigkapings, passasierskepoorname, seerowery en die kaping van busse.
In reaksie hierop het die Staatsveiligheidsraad die SASP opdrag gegee om die kapasiteit te ontwikkel om sulke vervoerverwante bedreigings teë te werk. In 1980, onder die opdrag van die Kommissaris van die SASP – wat ‘n ondertekenaar van hierdie mandaat was – is nuwe verantwoordelikhede op die gebied van terrorismebestryding geformaliseer.
Dieselfde jaar is kaptein Ali Jooste, luitenant André Olivier en ‘n peloton SASP-lede gekies vir ‘n ses weke lange landelike Teeninsurgensie (TIN)-opleidingsprogram by die SA Polisiefasiliteit in Maleoskop. Onmiddellik daarna het kaptein Jooste en luitenant Olivier na Israel gereis, waar hulle gevorderde stedelike oorlogvoering en teen-terrorisme-opleiding saam met die elite Yamam-eenheid voltooi het.
Na suksesvolle voltooiing van hierdie opleiding is albei offisiere bekroon met die gesogte Yamam-vlerke. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het luitenant Olivier die taak gekry om ‘n elite spesiale taakspan vir SASP te werf en op te lei. Een van sy eerste inisiatiewe was om ‘n unieke stel vlerke vir die eenheid te ontwerp – vlerke wat hul rol, opleiding en nuwe mandaat sou beliggaam.
Geïnspireer deur die Yamam-ontwerp, het Olivier ‘n aanvanklike weergawe van die SASP Spesiale Taakmag-vlerke opgestel. Soos die Yamam-vlerke, het sy ontwerp ‘n sentrale sirkelvormige embleem omring deur vlerke. Die oorspronklike konsep het egter in een detail verskil: die sentrale embleem het ‘n vorentoe gebuigde geslote vuis (‘n karate-styl hand) met ‘n weerligstraal wat daaruit kom. Die SASP-kommissaris het later die ontwerp gewysig, wat gelei het tot die finale weergawe wat vandag gebruik word.



Die ontwerpproses:
Na goedkeuring van die Kommissaris, is die finale ontwerp aan die Suid-Afrikaanse Spoorweë se hoofkantoor in die Paul Krugergebou oorhandig. Daar het die ontwerper, Marie Haarhoff, die professionele weergawe van die nou amptelike SASP Spesiale Taakmag-vlerke voltooi.
Simboliek van die vlerke:
- Die sirkel: Verteenwoordig die vervoersektor – SASP se primêre verantwoordelikheidsgebied.
- Die vlerke: Simboliseer die beskerming van die vervoerbedryf.
- Die hand: Verteenwoordig die krag wat gebruik kan word, indien nodig, om personeel en passasiers te beskerm.
- Die weerligstraal: Dui op presisie, krag en die vermoë om bedreigings vinnig en effektief te neutraliseer.
Slotopmerkings:
Na die eerste landelike SASP Spesiale Taakmag-opleiding in Oudtshoorn – bekend as SPECTA 1 en 2 – is aanvanklik geen formele eenheidsembleem toegeken nie. Dit het verander tydens ‘n nasionale SASP-reünie wat by Masselspoort in Bloemfontein gehou is, waar die SASP-vleuels en erekode amptelik aan die bywonende SPECTA-lede oorhandig is.
Datum van uitgawe:
23 April 2025
- Handelsmerk of Brandmerk (Branding)
Die kenteken van ‘n spesiale mag is gewoonlik ‘n unieke simbool, embleem of insigne wat die identiteit en doel van die eenheid weerspieël. Dit kan elemente insluit soos spesifieke kleure, vorms, tekens, en soms ‘n leuse wat die waardes of missie van die eenheid uitbeeld. Hierdie kentekens word gebruik om die eenheid te onderskei en kan ook ‘n gevoel van trots en samehorigheid onder die lede bevorder.
6.1. Belangrike elemente moet ingesluit word om dit effektief en herkenbaar te maak. Hier is ‘n paar kernkomponente:
- Logo: ‘n Visuele simbool wat die identiteit van die handelsmerk vasvang.
- Kleurpalet: Kleure wat emosies en assosiasies met die handelsmerk versterk.
- Tipografie: Unieke lettertipes wat konsekwent gebruik word.
- Leuse of Slogan: ‘n Kort en kragtige frase wat die handelsmerk se boodskap oordra.
- Unieke Identiteit: ‘n Onderskeidende kenmerk wat die handelsmerk uniek maak in die mark.
- Beeldmateriaal: Foto’s of grafika wat die handelsmerk se styl en boodskap ondersteun.
Hierdie elemente werk saam om ‘n sterk en herkenbare handelsmerk te skep.
-
- Handelsmerk van die SA Spoorwegpolisie, Spesiale Taakmag.
- Dit bring mee dat daar ongemagtigde Handelsmerke vir die Spesiale Taakmag die rondte doen. Dit skep verwarring en doen die reputasie van die Spesiale Taakmag nie goed nie.
- Johan Lotriet het aangebied om n Handelsmerk Handleiding, in samewerking met lede van die Bestuur, daar te stel.
- Terugvoer oor die vordering van die Handelsmerk Handleiding sal in elke nuusbrief gegee word.
- Riaan Stander is tans besig om met Wit Willem, ‘n verskaffer aan al die Magte, te onderhandel om ontwerpe en kostes vir goedkeuring voor te lê.
- Andre Olivier het dan ook die ontstaan van die vlerkie en die simbole rondom dit in hierdie uitgawe uiteengesit.
- Handelsmerk van die SA Spoorwegpolisie, Spesiale Taakmag.
- Verjaarsdae en Sterfgevalle.
Verjaarsdaglyste en kennisgewings van afsterwe, oor die afgelope rapporteringstydperk:
-
- Verjaarsdae
- AE Olivier – 13 Mei 2025
- Kennisgewing van afsterwe:
- Geen
- Naamlys met kontakbesonderhede
Vordering is gemaak met die verkryging van kontakbesonderhede van lede.
- Nic O’Kelly is besig om lede van SPECTA 1 en 2 na te spoor.
- Groepsregister

Die groeps- en besoekersregisters is beide opgespoor en in die besit van Manie Fourie, wie dit aan Johan Lotriet sal oorhandig.
- Uitstalling by die museum, Voortrekker Monument
- Die bestuur van die museum het vir al die Magte, insluitende die gewese SA Spoorwegpolisie, ruimte geskep, waar hulle uitstallings kan voorberei en vir die nageslag kan bewaar.
- Fanie Booysen het Johan Lotriet versoek om hom na die museum te vergesel, en met voorstelle te kom oor die voorgenome uitstalling.
- Johan Lotriet se voorstel was dat al die dele van die Mag, insluitende die Spesiale Taakmag, deur middel van foto’s en geskrifte, mooi uitgebeeld sal word.
- Johan Lotriet is versoek om die voorstel met die Bevelvoerdersgroep en die bestuur van die Assosiasie uit te klaar.
- Besprekingspunte vir die volgende uitgawe
11.1 Alle lede word uitgenooi om maandeliks insette te lewer met die deel van stories, gebeurtenisse en idees.
11.2. Daar word versoek dat insette vroegtydig gestuur word aan Johan Lotriet by e-posadres: jflotriet3@gmail.com of WhatsApp: +27 82 769 1505, maar nie later as op die 15de van elke maand nie.
11.3. David Proter-geval
11.4. Permanentwording
11.5. Opleiding by die GSG9 in Duitsland
11.6. Durban Taptoo


R Stander besig met touwerk. J Grant-Grierson het n tegniek ontwerp waar die tou dubbel gevou en met n knoop aan die hegtingspunt geheg was, wat die operateur kon ontknoop aan die onderkant, deur aan die een kant te trek.





DD Keyter en Lourens besig met 60 mm mortier, teikenbestoking te Kansasvlakte.
Johan Lotriet wat ‘n interessante nuusbrief! Baie dankie vir al die lekker geskiedenis om te lees van mense wat ek vir jare ken! Groete Hennie Heymans
Brigadier Hennie, baie dankie vir die plasing en bewaring van ons geskiedenis.
Johan Lotriet – die voorreg is Nongqai sin! Baie dankie dat ons SAS-POL se STM se geskiedenis kan help bewaar — Saluut – HBH
Johan, baie dankie vir nog ‘n uitstekende nuusbrief. Dit is deeglik saamgestel en lewer ‘n waardevolle bydrae tot die bewaring van die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie en veral die Spesiale Taakmag.
Die kombinasie van historiese agtergrond, persoonlike bydraes, foto’s en dokumentasie maak dit nie net interessant om te lees nie, maar skep ook ‘n blywende rekord vir toekomstige geslagte. Baie geluk met die uitstekende werk. Ek sien reeds uit na die volgende uitgawe.
Johan Lotriet, baie dankie vir nog ‘n uitstekende nuusbrief. Dit is deeglik saamgestel en lewer ‘n waardevolle bydrae tot die bewaring van die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie en veral die Spesiale Taakmag.
Die kombinasie van historiese agtergrond, persoonlike bydraes, foto’s en dokumentasie maak dit nie net interessant om te lees nie, maar skep ook ‘n blywende rekord vir toekomstige geslagte. Baie geluk met die uitstekende werk. Ek sien reeds uit na die volgende uitgawe.