Nongqai Vol 17 No 6: SAPD – Lui-lui … Telefoon

OPSOMMING: 56% van SAPD‑stasies antwoord nie hul telefone nie

’n Demokratiese Alliansie‑oudit van 1 025 polisiekantore landwyd toon dat meer as die helfte (56%) nie hul telefone antwoord nie. Slegs 44% van stasies het een of albei hul kontaknommers beantwoord.

Die oudit is tussen 2 en 12 Junie 2026 gedoen, met alle stasies in al nege provinsies wat gedurende kantoorure geskakel is.

Sleutelbevindinge

  • 571 stasies het glad nie geantwoord nie.
  • 454 stasies het wel geantwoord.
  • Limpopo was die swakste: 78 van 87 stasies het nie geantwoord nie (slegs 10,3% bereikbaarheid).
  • Vrystaat was tweede swakste (30,9% bereikbaarheid).
  • Wes‑Kaap het die beste gevaar met 75,2% bereikbaarheid.
  • Gauteng het net-net meer oproepe beantwoord as nie (51,3%).

Selfs prioriteitstasies in hoëmisdaadgebiede was onbereikbaar, insluitend:

  • Hillbrow, Johannesburg Central, Kagiso, Moroka, Umlazi, Inanda, Phoenix, Khayelitsha, Nyanga, en ander.

Redes waarom oproepe misluk het

Uit 1 493 unieke nommers wat geskakel is:

  • 510 oproepe het gedrop (tegniese probleme).
  • 226 lyne was besig.
  • 203 het net oorgegaan sonder antwoord.

Tegniese probleme was dus die grootste oorsaak van mislukte oproepe.

Reaksietyd

Waar stasies wel geantwoord het, was die reaksietyd vinnig:

  • Gemiddeld 11,74 sekondes landwyd.
  • KZN het die vinnigste geantwoord (5,2 sekondes).
  • Mpumalanga die stadigste (18,2 sekondes).

Gevolgtrekking

Die DA gaan die verslag aan die Minister van Polisie en die Nasionale Kommissaris voorlê. Die oudit wys op ’n ernstige probleem:

’n Polisiediens wat nie bereikbaar is nie, kan nie sy grondwetlike mandaat nakom nie.

Elke onbeantwoorde oproep kan ’n lewensgevaarlike noodgeval wees.

Bostaande opgesom deur HBH en nou Brig Fanie Bouwer se inset en kommentaar:

SAPD – LUI-LUI … TELEFOON

Brig Fanie Bouwer

Die liedjie “Lui-Lui Telefoon” is deur die Suid-Afrikaanse sangeres Karin Hougaard gesing. Dit was een van haar gewilde treffers uit die 1980’s.

Sy – inteendeel, ons almal – sou destyds nie kon dink dat hierdie liedjie byna veertig jaar later ook vir die SAPD gesing sou kon word nie.

Wat bedoel ek presies?

Die DA het in ‘n landswye opname bevind dat 56% van SAPD-polisiestasies nie hul telefone antwoord nie.

Die voorsitter van die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Polisie het hierdie bevindings ook in ‘n artikel op Politicsweb gepubliseer.

‘n Memorandum daaroor sal aan die waarnemende minister van polisie en die waarnemende nasionale polisiekommissaris voorgelê word met die oog daarop dat regstellende stappe geneem word. (Iemand het nou die dag na hierdie twee individue verwys as “the actor and the actress”).

Lede van die ouer geslag sal weet dat hierdie soort nalatigheid selde, indien ooit, in die voormalige SAP voorgekom het.

Die logiese vraag wat hieruit voortspruit, is waarom dit nou gebeur? Net so kan die vraag gevra word waarom soveel van die hedendaagse polisiegeneraals by korrupsie betrokke raak?

Voordat hierdie vrae beantwoord kan word, kom die spreekwoord: “’n Vis vrot van sy kop af” ter sprake. Anders gestel, kan ‘n mens tereg sê dat dit wat bo in die hiërargie gebeur, soos suurdeeg na onder deurwerk.

Luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi, die provinsiale kommissaris van KwaZulu-Natal, het onlangs voor die Parlementêre ad hoc-komitee getuig oor hoe lede uit die geledere van Umkhonto we Sizwe ná 1994 lateraal in die SAPD opgeneem is.

Hy het verder getuig dat hierdie sogenaamde vryheidsvegters mekaar, ongeag rang, as “comrade” aangespreek het. Dit, het hy gesê, het daartoe aanleiding gegee dat dissipline binne die SAPD ernstige skade gely het.

Die kultuur binne die polisie het dus sedert 1994 drasties verander. Dit is nie net vir almal sigbaar nie; die media rapporteer byna daagliks oor die ongedissiplineerde optrede, korrupsie en selfs kriminele kaperjolle van SAPD-lede. Dit beteken dat die algemene vlak van dissipline binne die SAPD op baie plekke kommerwekkend laag is.

Diens in die SAPD is vir baie nie meer ‘n roeping of beroep wat met trots nagestreef word nie. Soos talle ander staatsinstellings, het die organisasie in baie opsigte ontaard in ‘n werkverskaffingsmeganisme vir werksoekers — bloot “just a job”.

Al hierdie faktore het tot ‘n algemene verval van dissipline op alle vlakke van die SAPD aanleiding gegee- van heel bo tot heel onder. Dit het verder daartoe gelei dat die beginsels van toesig, beheer en aanspreeklikheid grootliks in die slag gebly het. Met ander woorde, ‘n “kan-nie-worry-nie”-houding het deel van die organisasiekultuur geword.

Daarby moet onthou word dat die telefoon by ‘n polisiestasie dikwels die eerste kontakpunt tussen die publiek en die polisie is. Wanneer oproepe onbeantwoord bly, word nie net swak dissipline geopenbaar nie, maar word die publiek se vertroue in die polisie verder ondermyn. Vir iemand wat ‘n misdaad wil aanmeld, hulp benodig of in ‘n noodsituasie verkeer, kan só ‘n versuim ernstige gevolge inhou.

Die feite wat ná die DA se landwye oudit na vore gekom het oor telefone wat nie beantwoord word nie, behoort dus na my mening niemand te verras nie. Dit is nie ‘n geïsoleerde probleem nie, maar bloot nog ‘n sigbare simptoom van die veel dieper dissipline- en bestuurskrisis wat die SAPD reeds jare lank teister.

Die ‘lui telefoon’ is daarom nie die probleem nie — dit is bloot die waarskuwingslig wat aandui hoe ernstig die probleem werklik is.

Bron:

56% of SAPS stations do not answer their phones – 18 June 2026

Ian Cameron – 19 June 2026

https://www.politicsweb.co.za/news/56-of-saps-stations-do-not-answer-their-phones-ian-cameron?newsletter=true&utm_source=Politicsweb+Daily+Headlines&utm_campaign=5dfa1a67ee-EMAIL_CAMPAIGN_2026_06_19_10_40&utm_medium=email&utm_term=0_-5dfa1a67ee-130042309