fAK teken beswaar aan teen revisionistiese geskiedskrywing, en onderrig

Abstract: FAK, Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, Federation of Afrikaans Culture Organisations.

FAK TEKEN BESWAAR AAN TEEN REVISIONISTIESE GESKIEDSKRYWING, EN ONDERRIG

MEDIAVERKLARING: 9 April 2026

https://www.facebook.com/FAK01/

“Gekarring aan geskiedenis ’n aanval op historiese waarheid” – FAK

“Die geskiedenis kan nie verskraal, verdraai of verwyder word om ’n politieke ideologie ten koste van akademiese balans en kennisoordrag te dryf nie. Dit plaas nie net die integriteit van geskiedenisonderrig in Suid-Afrika onder verdenking nie, maar trek ’n doelbewuste streep deur ’n deel van die Afrikaner se historiese geheue.”

Só sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, in ’n sterk bewoorde verklaring oor die voorgestelde wysigings aan die Geskiedeniskurrikulum wat deur Siviwe Gwarube, minister van onderwys, in die Staatskoerant gepubliseer is.

Volgens Langner sal die wysigings juis die land se ryk geskiedenisverhaal verarm en ’n nuwe geslag van die voorreg ontneem om te ontdek hoe grootse gebeure die land gevorm het, asook hoe en waar hulle in die groter narratief pas.

“Die Groot Trek, byvoorbeeld, was nie ’n mooi mite of uitvloeisel van magsug nie, maar ’n komplekse reaksie op Britse imperialisme, onveilige grensgebiede en ’n stryd om selfbeskikking. Om hierdie gebeurtenis tot ’n eensydige morele oordeel te reduseer, ontneem leerders van ’n begrip van 19de-eeuse wêreldpolitiek, koloniale dinamika en die ontstaan van vroeë republikeinse tradisies in Suider-Afrika.

“Net so kan die Anglo-Boereoorlog nie sommerso uit geskiedenisboeke geskryf word nie. Dit impliseer ’n ontkenning van die meer as 48 000 hoofsaaklik vroue en kinders wat in konsentrasiekampe gesterf het; meer as 30 000 verwoeste, verbrande plase en huise; die lyding wat ’n blywende invloed op die Afrikaner se kollektiewe geheue gehad het nie. Meer belangrik nog is die verhaal van opstaan en opbou uit die as wat hieruit voortgevloei het.

“Dit is gedokumenteerde feite, nie politieke menings nie. Om dit te verswyg of tot naamlose grafte in die gras te verskraal, is ’n aanval op historiese waarheid,” sê Langner.

Volgens Barry Müller, die FAK se hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, is sleutelgebeure juis krities om die ontwikkeling van tale, kulture, gebruike, tradisies, geloof, gemeenskappe en staatsvorming op ons vasteland én wêreldwyd te verstaan. Geskiedenis is nie ’n politieke “of”-speletjie nie, maar ’n “en”-verhaal.

“’n Kurrikulum waarin een stuk geskiedenis bo ’n ander gestel word, skep nie ingeligte burgers nie. Dit kweek ’n verlore generasie wat nie hul eie land se komplekse verhaal kan verstaan óf hul identiteit hierin kan ontdek nie. ’n Ideologies gedrewe, gesaniteerde geskiedenis is nie opvoeding nie. Dit is voorgeskrewe vervlakking.

“Geskiedenis behoort nie ’n lat te wees nie; dit is ’n kompas. ’n Wetenskaplike dissipline wat vereis dat uiteenlopende bronne, sienings en ervarings sonder omhaal gedeel word. In die beplande gekarring aan die kurrikulum is daar geen wenners nie, net verloorders, want selektiwiteit stroop jongmense van die vermoë om krities te dink, self te beoordeel en die verweefdheid van die verlede te verstaan.

“Deur die truspieëltjie uit die motor te haal, of ’n gedeelte daarvan toe te plak, gaan jou nie vinniger óf by ’n ander bestemming uitbring nie. Ons moet onbelemmerd kan terugkyk om hoopvol vorentoe te kan bou. Dalk moet die minister net die tapisserie omdraai en nie probeer om die los drade aan die agterkant te ontknoop of herrangskik nie. Die voorkant vertel ’n veelkleurige, veelstemmige verhaal wat in sy volheid in handboeke hoort. Die lig- én skadukante,” sê Müller.

Langer voeg by dat transformasie nie die selektiewe uitlating van dele van die geskiedenis beteken nie. “Dit vra debat, konteks, verdieping en uiteindelik verstaan. As ons kinders leer dat sekere verhale minder werd is, sê ons in wese dat sekere mense minder werd is. Dit is gevaarlike dryfsand waarin geen toekomshoop kan groei nie. Daar is ’n fyn lyn tussen geskiedenis en propaganda,” sê Langner.

Müller doen ’n dringende beroep op ouers, onderwysers, akademici en organisasies om hul stemme te laat hoor teen die regering se voortdurende pogings om bladsye uit die Afrikaners se verhaal te ruk. “Die FAK werk kliphard om ons geskiedenis te beskerm en aan die volgende geslag oor te dra deur projekte soos die Internasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade. Ons kan ons egter nie blind en doof hou vir dít wat in ons skole gebeur nie.

“Openbare deelname is nie ’n formaliteit nie – dit is die fondasie van demokrasie. Stilte vandag beteken dat ons môre geen seggenskap het oor wat ons kinders op skool leer nie. Ons durf nie swyg nie. Ons móét druk uitoefen, insette lewer en die gesprek oor geskiedenis terugbring na ’n plek van integriteit en respek,” sê Müller.

*

___________________________________________________________________

Vir meer inligting, kontak dupreez@kultuurtuiste.org.za