Huldeblyk aan my vriend Daan van der Watt.

HULDEBLYK AAN MY VRIEND DAAN VAN DER WATT.

Brig Theo Kleynhans

Vir wie gaan Peanut nou blaf? Peanut is my klein hondjie en die het altyd geblaf as Daan met sy rooi Suzuki by my hek gestop en die toeter gedruk het, sodat ek die hek elektronies kan oopmaak.

Dan het Peanut na Daan gehardloop nadat hy ingetrek en gestop het. Al stertswaaiende. In die huis spring hy op Daan se skoot en soentjie hom.

Ek het Daan nooit in sy hoedanigheid as speurder geken nie. Net van hom gehoor en geweet hy werk op Fairlands.

So het my amptelike ontmoeting met Daan in Desember 1995 plaasgevind.

Ek was nog in die Kaap en pas ‘n Brigadierspos in Johannesburg losgeslaan en moes huiskoop.

En wie is die agent niemand anders as Daan nie.

Huis word gekoop en ek bly vandag nog in dieselfde plek. Byna 30 jaar. Baie dankie Daan.

Ek het Daan ook verskeie keer by die jaarlikse Kerkbasaar van NG Kerk Skeerpoort raakgeloop as ek jaarliks my wildsbiltong voorraad gaan aanvul het. Dan het ons die lekkerste brekfis daar geëet en veral die lewerkoekies swaar gestraf.

Maar dit was so die laaste 8 jaar dat ek en Daan letterlik en figuurlik dik vriende geword het.

Dadelik het ek besef hier is n diep seun.

Two men standing next to each other

AI-generated content may be incorrect.

Nooit geskroom om sy sê te sê nie. En jy kon maar luister as hy praat. Groot en wye algemene kennis en sy kennis oor sport gebeure was altyd op datum en korrek.

Laas Donderdag toe ek hom huis toe geneem het na ons maandelikse besoek aan Rus en Vrede het ons gepraat oor die nege of meer lewens wat hy al gegun was. Maar uit sy gesprek kon jy duidelik hoor hy weet en is baie dankbaar dat die Goeie Vader hom ekstra tyd gegee het nadat hy vroeg die jaar met die “groot K” gediagnoseer is.

Ek kan onthou hoe bly hy was vir elke keer as sy seun en sy skoon dogter met die 2 klein kinders kom kuier het.

Daan het nooit by ‘n padstal verby gery nie. En as jy hom vra is die ou se boerewors-rol darem ‘ok’, sal hy sê ek weet nie maar ons gee hom ‘’n go’. Hy het ‘n geldjie nodig om ‘n gesin te onderhou. Anders sou hy nie hier gewees het nie.

Daan was altyd daar as jy n ietsie gedoen moes kry met sy bystand en raad. Wie gaan nou n los battery vir my bring as die vrou se kar se battery pap geword het van te lank staan, om die ding te ‘jump start’.

Wie sal ooit die kuiertjies saam met Daan en vriende te Leeupoort vergeet.

Wie gaan sy ‘mince lasagne’ pot vergeet.

Wie gaan sy lus vir ‘n Milky Bar vergeet.

Wie gaan sy liefde om te kamp en te kampeer ooit vergeet. Laas week sê hy vir my hy gaan hierdie week weer saam sy kampeervriende kamp. Hulle het aangebied om sy dinge op te staan weer af te breek en alles waar nodig te help hy moet net kom kamp.

Nou is my vriend nie meer daar nie.

Rus in Vrede Daan daar bo in die mooiste kampeerterrein wat daar ooit sal wees.

Ek en Peanut sal maar sit en wag vir n toeter om te blaas.

Jou vriend Theo Kleynhans