Nongqai Vol 17 No 8 – Studente en radikalisme

Inleiding tot mnr Johan Mostert se Artikel

Onlangs het mnr Johan Mostert en ek saam ontbyt geniet — ’n rustige oggend, maar met gesprekke wat diep in die geskiedenis van ons land ingesny het. Ons het gesels oor die rol van studente in die politieke opset van die 1960’s en 1970’s, ’n tyd toe die universiteitskampusse onverwags die broeiplekke van ideologiese fermentasie geword het. Dit was die era waarin die eerste minister, mnr BJ Vorster, openlik onthuts was oor die invloed wat studente en hul organisasies op die rewolusionêre klimaat begin uitoefen het.

Mnr Mostert het in daardie jare eerstehandse insae gehad in die dinamika van radikalisme onder wit studente — ’n wêreld wat ek self ook as veiligheidspolisieman leer ken het, veral in my werk met NUSAS, Wages Commission en die radikale elemente wat destyds op kampusse gewerk het. Ons het saam gelag oor herinneringe, maar ook ernstig besin oor die patrone wat ons albei raakgesien het: die intense persoonlikhede, die ideologiese soeke, die meelopers, en die klein maar invloedryke groepie wat links of regs radikaliseer.

Dit is juis tydens hierdie gesprek dat ek mnr Mostert aangemoedig het om sy insigte, wat hy tien jaar gelede neergepen het, met ons te deel. Sy artikel is nie net ’n historiese terugblik nie — dit is ’n waardevolle psigologiese en sosiale ontleding van ’n tydperk wat die land diep beïnvloed het. Mnr Mostert het ingestem, en dit is vir my ’n eer om sy stuk aan ons lesers voor te lê.

XXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXX

Hennie,

Ek het tien jaar gelede hierdie neergepen. Jy sal ‘n belangrike kommentaar daarop kan lewer. Laat my weet asseblief.

J. Mostert

Xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx

Abstract

Mr Johan Mostert’s reflective essay examines the roots of student radicalism among white South African university students during the 1960s and 1970s. Drawing on his firsthand experience monitoring campus activism after the Schlebusch Commission, he explores the psychological and social factors that led certain individuals toward revolutionary engagement. Mostert argues that radical activists often shared a wounded or unsettled past combined with extraordinary emotional intensity—a temperament that sought a “cause” through which to express frustration and idealism. He contrasts this personality‑driven radicalisation with the broader, non‑violent student opposition to apartheid, noting that only a small minority embraced extremist ideology. The article provides a rare insider’s perspective on the intersection of personality, ideology, and political unrest in South Africa’s university environment.

Keywords

student radicalism, South Africa, 1960s, 1970s, NUSAS, Wages Commission, Schlebusch Commission, campus activism, political psychology, emotional intensity, personality types, ideological extremism, left‑wing activism, right‑wing extremism, apartheid era, university politics, social movements, historical analysis, Johan Mostert

STUDENTE EN RADIKALISME

J. Mostert

In 1975 was ek hoofsaaklik verantwoordelik vir die monitering van radikalisme onder blanke studente in Suid-Afrika. Dit was in die nadraai van die Schlebusch Kommissie se ondersoek na NUSAS en ander organisasies. Dit was veral die organisasie se Free Political Prisoner’s Campaign wat in 1974 geloods is wat veiligheidsaandag getrek het. Die ander en miskien meer belangrike aktiwiteit was die werk wat sy Wages Commissions op die onderskeie NUSAS geaffilieerde kampusse gedoen het. Die primêre oogmerk van hierdie kommissies was die radikalisering van die vakbondwese.

Die Buro was goed geplaas om op die spoor te bly van hierdie soort aktiwiteite. Op hoofkantoor moes al die verslae van streekkantore verwerk en op ‘n gereelde basis verslag oor gedoen word. Dit het onder andere meegebring dat noukeurig na die aktiwiteite van individuele aktiviste gekyk moes word. Met die deurwerk van die lêers het die vraag by my opgekom: Watter soort student raak betrokke by radikale aktiwiteite? Van al die studente aan ‘n universiteit, hoekom is daar net sekeres wat hulle tot radikalisme aangetrokke voel? Dit het daartoe gelei dat ek met meer aandag begin kyk het na die agtergrond van die betrokke studente.

My besinning hieroor is verder aangevul deur gesprekke met mense vanuit die radikale dampkring. Ek was lid van ‘n ondervragingspan wat deel was van ‘n opspraakwekkende politieke verhoor. Gedurende die ondervragings het ek die geleentheid gebruik om te vra na die hoekom van die radikales se optrede. Uit hulle antwoorde en dit wat ek in die lêers gesien het, het ‘n patroon vir my sigbaar begin geword. Ek beklemtoon: dit is nie ‘n wetenskaplike waarneming nie. Dit is iets wat ek vir myself wou uitmaak.

Uit my waarneming het dit geblyk dat verreweg die meeste radikales ‘n negatiewe belewing van een of ander aard in hulle verlede gehad het. Iets wat my opgeval het, is hoeveel van hulle byvoorbeeld uit gebroke of disfunksionele huisgesinne gekom het. ‘n Prominente aktivis (vandag ‘n gesiene kommentator) se betrokkenheid is deur een van sy kollegas toegeskryf aan ‘n poging om wraak te neem op die establishment omdat hy so kwaai op skool gespot is omdat hy weens ‘n gebrek nie aan gewone speelgrond aktiwiteite kon deelneem nie. My voorlopige gevolgtrekking was dat al die radikaliste met wie ek te doen gehad het en wat ek in die lêers opgespoor het, een of ander “issue” oor die verlede gehad het.

‘n Gekweste verlede is egter nie voldoende verklaringsgrond vir ‘n geneigdheid tot radikalisme nie. Daar is immers baie mense wat die verlede negatief ervaar het en hulle nie tot radikalisme gewend het nie. Daar moes dus iets meer wees as bloot net dit. Wat was die gemeenskaplikheid? Intensiteit. Buitengewone intensiteit. Almal van hulle was emosioneel intense mense. Hulle negatiewe belewing van die verlede het hulle aan die kant van die “underdog” geplaas en hulle ‘n legitieme “saak” gegee om uiting te gee aan hulle, dikwels onbewuste, frustrasies. Dit was nie, volgens wat ek kon waarneem, in die eerste plek ‘n sterk identifisering met onreg wat hulle gedryf het nie, maar wel die intensiteit waarmee hulle na ‘n saak gesoek het.

‘n Kantaantekening: ‘n Joodse aktivis het die volgende teorie met my gedeel. Hy vertel dat Joodse kinders opgroei in ‘n gemeenskap waarin gemeenskapswaardes ‘n groot rol speel. Kom hulle op universiteit waar alles bevraagteken word, is dit vir hulle ontstellend om van hulle sekerhede ontneem te word. Van hulle begin dan dobber. Die vastigheid van ‘n goed omlynde waardestelsel is ondermyn. Die Marxisme waaraan hulle nou blootgestel word lyk baie aantreklik. Dit bied nuwe vastigheid en ‘n klinkklare antwoord oor hoekom daar so baie onreg op aarde is (klas analise) en gee duidelike riglyne (rewolusionêre omverwerping van die kapitalistiese status quo) oor hoe om dit te beveg. Dit klink opwindend.

Volgens my waarneming was dit wat vorm gegee het aan die ontwikkeling van ‘n aktivis, ‘n verlede met ‘n “issue” oor verontregting aangevuur deur ‘n buitengewoon intense emosioneel gedrewe soeke na ‘n “saak”. Ek en my personeel het tot die gevolgtrekking gekom dat as dit moontlik was om insae te kon gehad het in studente se vroeë geskiedenis en hulle persoonlikheidsprofiele, ons met ‘n hoë mate van akkuraatheid sou kon bepaal wie die mees vatbare sou wees om as radikale aktivis gewerf te word. Persoonlikheidstipe was vir ons deurslaggewend vir ‘n persoon se uiteindelike omarming van radikalisme of nie. Emosioneel ewewigtige, rasionele studente was daar min onder die radikales wat ons onder oë gehad het. Dit was die intense persoonlikheidstipe wat daardie koers ingeslaan het.

Ter illustrasie die volgende geval. ‘n Student met ‘n konserwatiewe Afrikaner agtergrond doen aansoek om by die Universiteit van Pretoria te studeer. Daardie tyd was Tukkies as ‘n bastion van konserwatisme gereken. Sy aansoek slaag nie by Tukkies nie en hy doen aansoek by ‘n Engelstalige universiteit waar hy toelating kry. Blootgestel aan “nuwe” waardes, kom hy in opstand teen sy konserwatiewe opvoeding. Hy woeker in NUSAS se Wages Commissions tot so ‘n mate dat hy later deur die regering ingeperk is.

Die gevolgtrekking: sou een en dieselfde persoon toelating tot Tukkies verkry het, is die waarskynlikheid groot dat hy hom tot regse ekstremisme sou wend. Deurslaggewend was sy persoonlikheidstipe: buitengewoon intens emosioneel.

Wat is die persoonlikheidseienskappe van radikale ekstremiste? Onder andere die volgende: ‘n gedrewe oortuiging dat hulle saak reg is, nie die geringste mate van twyfel word geduld nie. Net hulle is reg. En hulle is onoortuigbaar. Die waarheid is absoluut en die waarheid is net aan hulle kant – ‘n swart-wit benadering, geen nuanse word geduld nie. Emosie klop rede. Skerp onverdraagsaamheid teenoor opponerende standpunte. Samesweringsteorieë oor wat in die wêreld gebeur (rassistiese-, imperialistiese-, koloniale-, kapitalistiese komplotte). Simplistiese denke – daar is eenvoudige antwoorde vir die waarom die status quo is wat hy is en eenvoudige oplossings vir wat daaromtrent gedoen kan word. Verafgoding van leiersfigure – Lenin, Stalin, Mao, Ho Chi Minh, Giap,Trotsky, Marigella, Bakunin, Ché Gueverra, ens. Fundamentalistiese navolging gebaseer op “heilige” geskrifte – byvoorbeeld Marx en sy vele verwerkingsvorme.

Die radikaliste en aktiviste waarna hierbo verwys word, moet gesien word binne die konteks van die Suid-Afrikaanse situasie van die sestiger-, sewentiger- en tagtigerjare en spesifiek in die geledere van wit studente. Steun aan die destydse regering was gering op Engelssprekende universiteite. Die oorgrote meerderheid het hulle stemme luid laat hoor teen apartheid en baie het deel geneem aan protesoptredes. Dit was egter net ‘n baie klein groepie wat hulle tot radikale aktivisme gewend het.

Wat is ‘n radikalis? Binne die konteks van destyds het dit verwys na iemand wat op onkonstitusionele wyse verandering in Suid-Afrika bevorder. Dit het ingesluit mense wat onwettig opgetree het (bv deur die prediking van gewelddadige rewolusie) of deur hulle aksies wat onwettige of gewelddadige optrede tot gevolg kon hê. Dit sluit in subtiele aanhitsing tot massa-optrede wat kan uitloop op geweld.

Bogenoemde is ‘n oorvereenvoudiging maar gee in breë trekke weer die gevolgtrekkings gegrond op praktiese waarnemings.

Johan Mostert

2015