Nongqai Vol 17 No 7 – Helena M. Jacobs
ABSTRACT
Helena M. Jacobs recounts a distinguished career in the South African Police Service marked by dedication, resilience, and unwavering integrity. Beginning her service in 1990 as a clerk in Ogies, she went on to support several specialised units, including SANAB, Serious Violent Crime, Legal Services, and Organised Crime. Her journey reflects both professional challenges and profound personal loss, notably the tragic passing of her daughter in 1999, during which her SAPS colleagues offered exceptional compassion and support. Jacobs played a vital administrative role in complex investigations, high‑pressure environments, and sensitive case preparations, earning recognition as Gauteng’s second‑best Support Employee of the Year in 2014. Her career stands as a testament to the indispensable contribution of administrative personnel within policing, and she retires with a legacy of loyalty, discipline, and meaningful service to her country.
KEYWORDS
Helena M. Jacobs, South African Police Service, SAPS, administrative clerk, SANAB, Serious Violent Crime, Organised Crime, Legal Services, police career, professional resilience, integrity, support personnel, case administration, Brooklyn Detective Branch, Gauteng, retirement, policing legacy
MY PAD IN DIE SAPS
Senior Admin Klerk Helena M Jacobs

Ek en my man Kapt Jakes Jacobs.
“My loopbaan by die Suid-Afrikaanse Polisiediens het in 1990 begin toe ek my pos by die Eerste Nasionale Bank in Ogies verruil het vir ’n betrekking as klerk by die SAP in Ogies.
Dit was ’n besluit wat die rigting van my lewe sou verander en wat uiteindelik sou lei tot ’n loopbaan waarop ek met groot dankbaarheid en trots terugkyk.
●In 1992 is my man tot die rang van kaptein bevorder en na Provinsiale Hoofkantoor Regsdienste in Middelburg verplaas. Ek het ’n oorplasing na SANAB in Middelburg ontvang, waar ek een van die interessantste tye van my loopbaan beleef het. Die werk was uitdagend en afwisselend. Wanneer die lede vir lang tydperke met dagga-operasies in Swaziland besig was, het ek dikwels vir weke alleen die kantoor beman.
Ek is altyd met respek en waardering behandel, en die manne het my werklik op die hande gedra.

Tydens n spanbou geleentheid
●In Junie 1999 het ons gesin egter ’n onbeskryflike tragedie beleef toe ons geliefde dogter in ’n motorongeluk oorlede is. Dit was die donkerste tyd van my lewe. Weereens was dit my kollegas in die polisie wat my met ongelooflike deernis en ondersteuning deur daardie moeilike dae gedra het. Hulle omgee en medelye sal ek nooit vergeet nie.
Ek het by SANAB gebly totdat die eenheid in 2003 ontbind is. Daarna het ek suksesvol aansoek gedoen vir ’n pos by die nuutgestigte Ernstige Geweldsmisdaad-eenheid.
Dit was intense en emosioneel uitputtende werk. Ons moes onder andere dossiere van plaasmoorde oortik en hofgereed voorberei. Die aard van die sake het ’n groot emosionele tol geëis, en ek het selfs nagmerries begin kry.
●●Een insident sal my altyd bybly. Tydens ’n uitwysing het ’n jong man wat van moord aangekla is, in ons teenwoordigheid probeer selfmoord pleeg deur hom op ’n briewemes te laat val. Dit was ’n skokkende ervaring wat die emosionele uitdagings van die werk verder beklemtoon het.
Ek het versoek om na ’n ander afdeling oorgeplaas te word. Ek is na Regsdienste by Provinsiale Hoofkantoor oorgeplaas, waar ek met siviele eise gewerk het totdat die Provinsiale Hoofkantoor na Nelspruit verskuif is.
Daarna het ek by Georganiseerde Misdaad se Provinsiale Hoofkantoor aangesluit, waar ek verantwoordelik was vir die provinsie se 205- en 252A-aansoeke.
Dit was ’n voorreg om saam met spesiale aanklaer Ansie Venter en Kolonel Brits te werk, van wie ek baie geleer het.
●In 2010 het my man vervroegde pensioen geneem en sy loopbaan as advokaat in Pretoria begin. Ek het toe vir ’n oorplasing na Pretoria aansoek gedoen en op 1 April 2010 by Brooklyn Speurtak begin werk.

’n Hoogtepunt van my loopbaan was toe ek in 2014 as die tweede beste “Support Employee of the Year” in Gauteng aangewys is. [ foto aangeheg] Hierdie erkenning was vir my ’n besondere eer en ’n bevestiging dat harde werk, toewyding en lojaliteit raakgesien word.

Ons toekennings is op ‘n glansgeleentheid oorhandig.
●Op 60-jarige ouderdom het ek afgetree. Ek het my hele hart in my werk gesit en elke geleentheid aangegryp om ’n verskil te maak. Ek kyk met dankbaarheid terug op die jare wat ek in die Suid-Afrikaanse Polisiediens deurgebring het – jare vol uitdagings, hartseer, oorwinnings, waardevolle vriendskappe en onvergeetlike herinneringe.

Op 70 jarige ouderdom leef ons steeds voluit en is geseënd.
Ek is trots daarop dat ek die geleentheid gehad het om my land en sy mense te dien. My loopbaan was nie altyd maklik nie, maar dit was betekenisvol. Die mense saam met wie ek gewerk het, die ervarings wat ek opgedoen het en die lesse wat ek geleer het, sal vir altyd deel van my bly.
Groete Helena. ”
KOMMENTAAR
***Nog ‘n administratiewe klerk op wie ons trots kan wees. Wat gewys het dat haar lojaliteit, integriteit, dissipline haar so spesiaal gemaak het.
Uit ondervinding besef ons dat sonder die administratiewe personeel geen eenheid normaal kan funksioneer nie.
Mag jy altyd met trots terugkyk op die diep spore wat jy in baie kollegas se harte getrap het.
Ons is trots op jou!
Geniet jou welverdiende pensioen..
Voorspoed : Ida Steyn
