Nongqai Vol 17 No 6 – SAPS Reserviste

Abstract

This article examines the development, role, and decline of the South African Police Service (SAPS) reservist programme from the 1970s to 2026. Historically, the reservist corps made a significant contribution to visible policing, crime prevention, and community involvement, comprising volunteers from diverse sectors of society. Following the recommendations of the De Witt Commission, community policing was strengthened, further emphasizing the role of reservists, particularly during the early 2000s when the programme reached its peak.

Since around 2010, however, the programme has experienced a sharp decline due to policy changes, administrative obstacles, the suspension of recruitment and training, and uncertainty surrounding the role of reservists. Findings from the Pikoli investigation confirmed this trend, highlighting a drastic reduction in reservist numbers, with negative implications for policing capacity and visibility.

Although the reservist programme still formally exists, it is not optimally utilized in a context of high crime levels and limited police resources. The article argues that this decline can largely be attributed to a lack of strategic leadership and the loss of institutional memory. It concludes that rebuilding the reservist corps should be treated as a strategic priority to strengthen policing capacity and improve the relationship between the SAPS and the communities it serves.

Keywords

SAPS reservists,

South African Police Service,

Community policing,

Crime prevention,

Visible policing,

Reservist programme,

Policing capacity,

Administrative obstacles,

Policy changes,

Pikoli Investigation,

De Witt Commission,

Volunteer Police service,

Police reform,

Institutional memory,

Crime challenges in South Africa,

SAPS/SAPD RESERVISTE

Voorwoord

Die SAPD se reservisteprogram was vir dekades ‘n belangrike hulpmiddel in misdaadbekamping, sigbare polisiëring en gemeenskapsbetrokkenheid. Vanaf die 1970’s het duisende vrywilligers, waaronder voormalige polisiemanne, soldate, professionele persone en gemeenskapsleiers, waardevolle ondersteuning aan die polisiediens gebied.

Die De Witt-kommissie van 1988–1989 het groter gemeenskapsbetrokkenheid in polisiëring aanbeveel, wat die rol van reserviste verder versterk het. Die program het sy hoogtepunt in die vroeë 2000’s bereik en die SAPD gehelp om beperkte hulpbronne doeltreffend aan te vul.

Vanaf ongeveer 2010 het die reservisteprogram egter begin verval as gevolg van beleidsveranderinge, administratiewe struikelblokke, die staking van werwing en opleiding, en onsekerheid oor die rol van reserviste. Die ondersoek van Advokaat Vusi Pikoli het bevestig dat die aantal reserviste drasties afgeneem het, met negatiewe gevolge vir polisiekapasiteit en sigbare polisiëring.

Hoewel die reservisteprogram in 2026 steeds amptelik bestaan, word dit nie ten volle benut nie. In ‘n land met ernstige misdaaduitdagings en personeeltekorte in die SAPD, verteenwoordig reserviste ‘n waardevolle en kostedoeltreffende hulpbron. Die artikel voer aan dat die verval van die program grootliks toegeskryf kan word aan ‘n gebrek aan strategiese leiding en institusionele geheue binne die SAPD.

Die skrywer meen dat die heropbou van die reservistekorps ‘n nasionale prioriteit behoort te wees om polisiëringskapasiteit te versterk en die verhouding tussen die polisie en gemeenskappe te verbeter.

———–

DIE OPKOMS EN VERVAL VAN DIE SAPD-RESERWEMAG: 1970–2026

Deur brigadier Fanie Bouwer

Inleiding en agtergrond.

Min polisiëringsinisiatiewe in Suid-Afrika het oor die jare soveel potensiaal getoon as die reservistemag van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Vir dekades het reserviste ‘n waardevolle bydrae gelewer tot misdaadbekamping, sigbare polisiëring en gemeenskapsbetrokkenheid. Ons ouer geslag sal onthou hoe dat reserviste as vername vennote in veral sigbare polisiëring beskou en aangewend was. U sal ook onthou dat die ‘n generaal in die SAP se hoofkantoor in Pretoria toegewys was om nasionaal na die Reserwemag om te sien.

Tog het die program, wat eens uit duisende toegewyde vrywilligers bestaan het, geleidelik verval tot ‘n skaduwee van sy voormalige self.

In ‘n land wat gebuk gaan onder hoë vlakke van geweldsmisdaad, moord, roof en gesinsgeweld, bly die vraag bestaan: Waarom is een van die SAPD se belangrikste hulpmiddels nie ten volle benut nie?

Dit is juis om hierdie redes dat ek besluit het om meer breedvoerig oor hierdie aangeleentheid te skryf – en veral ook omdat misdaad ons almal raak.

Mediadekking

AfriForum het onlangs deur middel van ‘n mediaverklaring wat op Politicsweb verskyn het, die kwessie van die swak bestuur van SAPD-reserviste opnuut onder die publiek se aandag gebring. Die skakel daarna is elders beskikbaar. Hierdie artikel is ‘n reaksie op die kwessies wat daarin geopper word.

Interessant genoeg, Afriforum se mediaverkaring is gepubliseer 8 jaar nadat die Wes-Kaapse Polisie-ombudsman ‘n verslag oor presies dieselfde kwessie ingedien het. Meer hieroor ondertoe.

Die Ontstaan van die Reservistekorps

Die gebruik van reserviste in polisiëring is nie uniek aan Suid-Afrika nie. In talle lande word vrywillige polisiëringsdienste gebruik om professionele polisielede by te staan.

In Suid-Afrika het die reservisteprogram veral gedurende die 1970’s to 1990’s sterk gegroei. Die korps het bestaan uit gemeenskapslede, voormalige polisiemanne, professionele persone en ander burgers wat bereid was om hul tyd en kundigheid tot voordeel van die gemeenskap beskikbaar te stel.

Reserviste het opleiding ontvang en is onder toesig van permanente polisielede aangewend.

Die Rol van Reserviste

Reserviste het oor die jare verskeie belangrike funksies verrig, naamlik:

* Sigbare polisiëring.

* Voet- en voertuigpatrollies.

* Ondersteuning tydens groot openbare geleenthede.

* Landelike veiligheidsoperasies.

* Hulp tydens rampe en noodgevalle.

* Administratiewe ondersteuning.

* Gemeenskaps- en sektorpolisiëring.

In baie landelike gebiede was reserviste dikwels die verskil tussen voldoende polisiëring en feitlike afwesigheid van polisiëring.

Die De Witt-kommissie en Gemeenskapspolisiëring

Gedurende 1988 en 1989 het die De Witt-kommissie onder leiding van generaal Hennie De Witt van die SAP ondersoek ingestel na die toekomstige rol van die Suid-Afrikaanse Polisie.

Dié kommissie het groter gemeenskapsbetrokkenheid aanbeveel en die grondslag gelê vir wat later as gemeenskapspolisiëring bekend sou staan.

Die reservistekorps was ‘n natuurlike uitvloeisel van hierdie benadering, omdat dit die gemeenskap direk by misdaadvoorkoming betrek het.

Ná 1994 is gemeenskapspolisiëring amptelik deel van die nuwe SAPD se strategie gemaak en reserviste het aanvanklik ‘n belangrike rol gespeel.

Die Goue Jare

Teen die vroeë 2000’s het die reservisteprogram sy hoogtepunt bereik. Duisende Suid-Afrikaners het vrywillig diens gedoen. Onder hulle was:

* Afgetrede polisielede.

* Voormalige soldate.

* Sakelui.

* Professionele persone.

* Gemeenskapsleiers.

Die program het die SAPD in staat gestel om sy beperkte hulpbronne aansienlik uit te brei sonder groot bykomende koste vir die belastingbetaler.

Die Keerpunt

Teen ongeveer 2010 het die situasie begin verander. Interessant genoeg: dit was binne die tydperk van die sg. “Nege verlore jare” toe Jacob Zuma president van Suid-Afrika was.

Nuwe beleidsrigtings, administratiewe struikelblokke en onsekerheid oor die rol van reserviste het daartoe gelei dat die program geleidelik begin kwyn het.

Werwing is op baie plekke gestaak.

Opleiding het afgeneem.

Baie ervare reserviste het die diens verlaat.

Voormalige polisielede wat graag hul kundigheid wou beskikbaar stel, is nie meer aktief gewerf nie.

Die Pikoli-ondersoek

Die drastiese afname in reserviste het uiteindelik die aandag van die Wes-Kaapse Polisie-ombudsman, Advokaat Vusi Pikoli, getrek.

Die Wes-Kaap is die enigste provinsies wat oor ‘n polisie-ombudsman beskik.

Pikoli se ondersoek het bevind dat die aantal reserviste in die Wes-Kaap oor enkele jare van ongeveer 4 400 tot sowat 660 afgeneem het. Dit is bekend dat soortgelyke syfers ook in ander provinsies ter sprake was.

Die ondersoek het, onder andere, aangedui dat:

* Die moratorium op werwing en opleiding ernstige skade berokken het.

* Polisiekapasiteit afgeneem het.

* Sigbare polisiëring benadeel is.

* Waardevolle kundigheid verlore gegaan het.

Die Pikoli- aanbevelings

Pikoli se kernaanbeveling was dat werwing en opleiding hervat word en dat die SAPD die potensiaal van reserviste beter benut.

Die Huidige Situasie

Teen 2026 bestaan die reservisteprogram tegnies steeds. Die SAPD se beleid maak steeds voorsiening vir:

* Werwing van nuwe reserviste.

* Opleiding.

* Aanstelling van voormalige polisielede.

* Gebruik van reserviste in misdaadvoorkoming.

Nietemin dui verskeie verslae daarop dat die aantal aktiewe reserviste steeds baie laag is in vergelyking met vorige dekades.

Burgerlike organisasies soos AfriForum het reeds kommer uitgespreek oor die gebrek aan deursigtigheid rakende die ware omvang van die program.

Die Gevolge vir Misdaadbekamping

Suid-Afrika ervaar tans van die hoogste vlakke van geweldsmisdaad ter wêreld.

Terselfdertyd verkeer die SAPD onder druk weens:

* Personeeltekorte.

* Begrotingsbeperkings.

* Toenemende misdaad.

* Uitgebreide geografiese verantwoordelikhede.

Onder hierdie omstandighede is dit moeilik om te verstaan waarom ‘n beproefde, relatief goedkoop en gemeenskapsgebaseerde hulpbron nie ten volle benut word nie?

Elke opgeleide reservis verteenwoordig bykomende oë, ore en ondersteuning vir die polisiediens.

Ek het die laaste vraag hierbo deeglik oorweeg en tot die slotsom gekom dat die SAPD se topbestuur nie meer oor voldoende strategiese denkvermoë beskik nie. Daarbenewens speel die verlies aan institusionele geheue ‘n beduidende rol in die verval van die reservisteprogram.

Hoe kan hierdie situasie reggestel word? Na my oordeel sal die reservisteprogram nie herstel word voordat die Minister van Polisie persoonlik leiding neem en die heropbou daarvan as ‘n strategiese nasionale prioriteit verklaar en afdwing nie.

Slotgedagtes

Die geskiedenis van die SAPD-reservistekorps is dus in baie opsigte die verhaal van ‘n gemiste geleentheid.

Waar die program eens ‘n belangrike vermenigvuldiger van polisiëringskapasiteit was, het dit oor tyd verval deur beleidsveranderinge, administratiewe struikelblokke en ‘n gebrek aan politieke wil.

In ‘n tyd waarin Suid-Afrika ernstige misdaaduitdagings ervaar, behoort die vraag nie te wees of reserviste nodig is nie, maar eerder waarom die land nie alles moontlik doen om hierdie waardevolle bron weer ten volle te benut nie.

Die heropbou van ‘n sterk, goed opgeleide reservistekorps sal nie alle misdaadprobleme oplos nie. Dit kan egter ‘n belangrike stap wees om die gaping tussen die polisiediens en die gemeenskappe wat dit dien, te verklein en om broodnodige kapasiteit terug te plaas waar dit die meeste benodig word – op straat, tussen die mense, in diens van veiligheid en geregtigheid.