Nongqai Vol 17 No 10 – (4) die Grondwet en die Handves van Menseregte

Excerpt
A reflection on whether South Africa’s constitutional ideals have been realised in practice, or whether weak state capacity has undermined a strong constitutional framework.
Abstract
This paper explores the tension between South Africa’s progressive 1996 Constitution and the lived reality of citizens nearly three decades later. While the Constitution was designed to safeguard dignity, equality, freedom, and the rule of law, persistent challenges such as violent crime, slow judicial processes, weak policing, corruption, and institutional decay raise questions about its practical implementation. Drawing on Brigadier Fanie Bouwer’s experience within the criminal justice system, the text argues that the core problem may not lie in the Constitution itself, but rather in the state’s inability to execute its obligations effectively. The central question becomes whether South Africa has failed not in drafting a good Constitution, but in building a capable state to uphold it.
Keywords
South African Constitution, Bill of Rights, rule of law, state capacity, policing, criminal justice, human rights, governance, institutional decay, public safety
INLEIDENDE KORT OPSOMMING
DIE GRONDWET EN DIE HANDVES VAN MENSEREGTE
Ons het in 1996 ’n Grondwet gekry wat moes verseker dat die staat nooit weer onbeperk oor die individu kon beskik nie. Menswaardigheid, gelykheid, vryheid, veiligheid en die oppergesag van die reg is sentraal daarin.
Maar byna dertig jaar later ontstaan daar ’n ongemaklike vraag: Hoe lyk daardie groot grondwetlike ideaal in die daaglikse lewe van gewone Suid-Afrikaners?
Word die regte van die wetsgehoorsame burger steeds met dieselfde erns beskerm as dié van die beskuldigde? Is ons strafregstelsel steeds in balans tussen die regte van die oortreder en dié van die slagoffer? En het ons polisiemag genoeg ruimte en sekerheid om die wet doeltreffend af te dwing?
Of lê die probleem dalk nie by die Grondwet self nie, maar by die swak staatskapasiteit, korrupsie, onbevoegdheid en verval van sommige van die instellings wat dit moet uitvoer?
Hierdie is nie ’n regsgeleerde se ontleding nie. Dit is bloot brigadier Fanie Bouwer se gedagtes as ’n gewone burger en ook as iemand wat ’n groot deel van sy lewe binne die Suid-Afrikaanse strafreg- en polisiestelsel deurgebring het.
Die vraag wat hy uiteindelik vra, is eenvoudig:
Het ons ’n slegte grondwet, of het ons bloot nie daarin geslaag om ’n staat te bou wat ’n goeie grondwet behoorlik kan laat werk nie?
DIE GRONDWET EN DIE HANDVES VAN MENSEREGTE
Brig Fanie Bouwer
Ek wil as ’n leek my eie gedagtes oor die onderwerp hier weergee.
Eers net tussen hakies
’n Grondwet is basies ’n stel fundamentele beginsels waarvolgens ’n staat regeer moet word. Dit bepaal hoe die verskillende dele van die staat georganiseer word, watter magte bestaan, wie daardie magte uitoefen en watter beperkings daar op daardie magte is.
Dit kan ook gesien word as ’n soort kontrak tussen dié wat regeer en dié wat geregeer word.
Dit bepaal nie net die regte van burgers nie, maar ook die pligte van die staat en die meganismes waardeur diegene wat die mag het, binne die perke van die reg gehou behoort te word.
Die Grondwet is immers die hoogste reg van die land.
En dit is presies waar my vrae begin.
Die groot droom
Toe die grondwetmakers in die vroeë 1990’s oor die nuwe Suid-Afrika besin het – en veral oor ’n Handves van Menseregte – was een van die belangrikste dryfvere om te verseker dat die staat nooit weer die soort ernstige menseregteskendings van die verlede sou kon pleeg nie.
Daar is ook na grondwette en regstelsels van ander lande gekyk.
Die doel was om vir Suid-Afrika een van die mees gevorderde grondwette ter wêreld te gee.
Die ideaal was groot.
* Vryheid.
* Gelykheid.
* Menswaardigheid.
* Geregtigheid.
* Die oppergesag van die reg.
* ’n Nuwe Suid-Afrika waarin die staat nie meer bo die wet staan nie en waarin die individu teen die mag van die staat beskerm word.
Op 10 Desember 1996 het president Nelson Mandela die nuwe Grondwet in Sharpeville onderteken. Dit het op 4 Februarie 1997 in werking getree.
Alle wetgewing moes voortaan met die Grondwet versoenbaar wees. Wette wat daarmee bots, kon deur die howe ongeldig verklaar of deur die wetgewer gewysig word.
Dit was ’n enorme breuk met die verlede.
Maar nou, byna dertig jaar later, is dit dalk tyd om die vraag te vra: Hoe lyk daardie groot droom vandag?
Nie net op papier nie. Nie net in die howe nie. Maar in die daaglikse lewe van gewone Suid-Afrikaners.
Het die Grondwet die samelewing gebring waarvoor daar gehoop is?
Die onwillekeurig vraag wat partykeer by my opkom is: Is die buitengewone en eskalerende ernstige misdaadvlakke in SA nie dalk net die gevolg van ons liberale grondwet wat meegebring het dat die kriminele se menseregte miskien tydens en ná die pleging van misdrywe, onbedoeld oorbeklemtoon word?
Ek wil nie probeer om al die komplekse grondwetlike kwessies hier te bespreek nie. Ek wil bloot na ’n paar ironiese aspekte wys. Ook nie noodwendig in volgorde van belangrikheid nie.
“My grondwetlike regte”
Elke Jan Rap en sy maat wat hom aan die wet vergryp, beroep hom deesdae maklik op sy “grondwetlike regte”. Dit het amper ’n cliché geword.
Die ironie is natuurlik dat baie van dié mense waarskynlik nog nooit die Grondwet gelees het nie.
Die vraag wat by ’n mens opkom, is egter of ons in die toepassing van die Grondwet nie soms so ver gegaan het dat die regte van die persoon wat die wet oortree, meer sigbaar en hoorbaar geword het as die regte van die wetsgehoorsame burger nie?
Die gewone burger het ook regte.
* Hy het die reg op lewe.
* Die reg op veiligheid.
* Die reg op menswaardigheid.
* Die reg op eiendom.
* En hy het die reg om te verwag dat die staat hom teen misdaad sal beskerm.
Die Grondwet erken inderdaad die reg op lewe en veiligheid, en artikel 7 plaas ’n uitdruklike plig op die staat om die regte in die Handves te respekteer, te beskerm, te bevorder en te verwesenlik.
Die regsproses word soms ‘n doel op sigself
Dan is daar die strafregstelsel. ‘n Mens hoor dikwels van sake wat jare sloer voordat daar uiteindelik ’n finale uitslag is. En die Grondwethof moes al seker kennis geneem het van kritiek juis hieroor op sosiale media-platforms
Ek wil nie beweer dat elke vertraging deur die Grondwet of deur advokate veroorsaak word nie. Dit sou onregverdig wees.
Maar ons het ’n regstelsel ontwikkel waarin grondwetlike kwessies, appèlle, hersienings en prosedurele dispute ’n enorme rol kan speel.
Artikel 35 gee beskuldigdes belangrike regte, onder meer ’n reg op ’n billike verhoor, die vermoede van onskuld, toegang tot regsverteenwoordiging en ’n verhoor sonder onredelike vertraging. Dit is belangrike beskermingsmaatreëls.
Maar hier lê die ironie: ’n Regstelsel kan die regte van die beskuldigde so noukeurig beskerm dat die slagoffer uiteindelik vergeet word..
Dit beteken die slagoffer wag. Die familie wag. Die gemeenskap wag.
En soms wag almal só lank dat niemand meer behoorlik onthou waarvoor die saak aanvanklik gegaan het nie.
Het menseregte werklik verbeter?
Hier raak die saak nog moeiliker. Die Grondwet beskerm die reg op lewe en veiligheid. Tog leef Suid-Afrikaners in ’n samelewing waarin geweldsmisdaad steeds op ’n buitengewoon hoë vlak is.
Volgens die jongste beskikbare SAPS-syfers het Suid-Afrika in die derde kwartaal van 2025/26 gemiddeld ongeveer 69 moorde per dag aangeteken.
Dit plaas die mooi woorde van “die reg op lewe” teenoor ’n harde werklikheid.
En dan is daar plaasaanvalle en plaasmoorde.
Ek sou nie beweer dat dit vandag noodwendig hoër is as in elke vorige tydperk nie – die statistiek daarvoor is te omstrede en die historiese data is nie konsekwent genoeg nie.
Maar niemand kan ernstig beweer dat geweld op plase en kleinhoewes nie ’n ernstige veiligheidsprobleem is nie.
AfriForum het vir 2025 minstens 184 plaasaanvalle en 29 plaasmoorde aangeteken.
Die groter vraag is: Wat beteken die grondwetlike reg op lewe vir iemand wie se lewe nie effektief deur die staat beskerm word nie?
Die regte van die oortreder teenoor die regte van die slagoffer
Hier kom ons by een van die grootste paradokse.
Die Grondwet is ontwerp om die individu teen die mag van die staat te beskerm. Dít is ’n goeie beginsel.
Maar wat gebeur wanneer die “individu” nie die wetsgehoorsame burger is nie, maar iemand wat besig is om ’n ander persoon se lewe, eiendom of veiligheid aan te tas?
* Wanneer mag die polisie geweld gebruik?
* Wanneer mag ’n huiseienaar homself verdedig?
* Wanneer word redelike selfverdediging buitensporige geweld?
* Wanneer mag ’n polisieman ’n verdagte skiet?
Dit is nie eenvoudige vrae nie. Die Grondwet sê nie dat ’n misdadiger geen regte het nie. Dit beteken egter ook nie dat ’n wetsgehoorsame burger geen regte het nie.
Die uitdaging behoort te wees om albei stelle regte in balans te bring.
Artikel 36 maak juis voorsiening daarvoor dat grondwetlike regte onder sekere streng omstandighede beperk kan word wanneer dit redelik en regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese samelewing.
Dan is daar die polisie
As oud-polisieman (beide in die SAP en die SAPD) pla hierdie aspek my miskien die meeste.
Die moderne polisieman word tereg geleer dat hy die wet moet respekteer. Hy mag nie sommer ’n verdagte mishandel nie. Hy mag nie sonder behoorlike grond iemand arresteer of deursoek nie.
Hy moet die regte van aangehoudenes respekteer. Hy moet geweld binne die wet gebruik.
Alles daarvan is belangrik. Maar daar is ’n ander kant.
Die polisieman het ook ’n verantwoordelikheid teenoor die slagoffer en die gemeenskap.
As ’n polisieman só bang word vir die moontlikheid dat sy optrede later as ’n menseregteskending aangevoer kan word, dat hy huiwer om op te tree, verloor die Grondwet uiteindelik sy balans. Dan beskerm die stelsel die regte van die oortreder op papier, terwyl die wetsgehoorsame burger in die praktyk met sy eie veiligheid opgeskeep sit.
Dit is nie noodwendig ’n probleem met die Grondwet self nie.
Dit kan ’n probleem wees met hoe ons die Grondwet interpreteer, toepas en in die praktyk laat funksioneer.
Dalk lê die probleem êrens anders
En hier kom ek by ’n vraag wat ek dink nog belangriker is as al die voorafgaande.
Is die probleem werklik die Handves van Menseregte?
Of het Suid-Afrika se swak staatskapasiteit veroorsaak dat ’n goeie stel beginsels in die praktyk soms skeefgetrek word?
Dit is twee heeltemal verskillende dinge.
’n Grondwet kan immers uitstekende beginsels neerlê.
Maar ’n grondwet kan nie vanself ’n goeie regering skep nie.
Dit kan nie korrupte amptenare eerlik maak nie. Dit kan nie onbekwame bestuurders bekwaam maak nie. Dit kan nie ’n polisieman laat ondersoek instel as sy bevelstruktuur nie funksioneer nie. Dit kan nie ’n aanklaer dwing om ’n saak behoorlik te voer nie. Dit kan nie ’n munisipaliteit keer om homself onbevoeg te bestuur nie.
En dit kan ook nie ’n regering dwing om goeie beleid bloot omdat dit in die Grondwet staan, behoorlik uit te voer nie.
Die Grondwet skep die raamwerk. Mense en instellings moet dit laat werk.
En dáár lê dalk Suid-Afrika se grootste probleem.
Ons het moontlik een van die mees indrukwekkende grondwetlike raamwerke ter wêreld geskep, maar ’n grondwetlike demokrasie is uiteindelik net so sterk soos die mense en instellings wat dit moet uitvoer.
Dit bring ons by ’n ongemaklike moontlikheid:
Miskien is die probleem nie dat ons in 1996 die verkeerde Grondwet gekry het nie. Miskien is die probleem dat ons nie daarin geslaag het om ’n staat te bou wat die Grondwet behoorlik kan uitvoer nie.
Dit is ’n belangrike onderskeid, want indien dit die geval is, gaan die oplossing nie noodwendig wees om die Grondwet af te takel nie.
Die vraag moet eerder wees waarom die instellings wat die Grondwet moet uitvoer – die polisie, vervolgingsgesag, howe, munisipaliteite en staatsdepartemente – nie altyd daarin slaag om die beginsels daarvan in die werklikheid te laat werk nie
Die groter ironie
En hier kom ek by die punt wat my eintlik pla.
Ons het in die 1990’s ’n nuwe Suid-Afrika probeer bou waarin die staat aan die wet onderworpe sou wees. Die individu moes teen die mag van die staat beskerm word.
Maar die staat moes terselfdertyd die individu beskerm.
Dít is die balans.
Die Grondwet moet nie bloot die burger teen die staat beskerm nie.
Die staat moet ook die burger teen die misdadiger beskerm.
Die regte van ’n beskuldigde moet beskerm word.
Maar die regte van die slagoffer moet net so ernstig opgeneem word.
Die polisieman moet aan die wet gebonde wees.
Maar hy moet ook toegerus en bemagtig wees om die wet effektief af te dwing.
Die uitdaging is dus nie om menseregte teenoor veiligheid te plaas asof een noodwendig die ander moet vernietig nie.
Die uitdaging is om beide te laat werk.
Enkele Slotgedagtes
Lees weer die eenvoudige omskrywing waarmee ek begin het: “Basiese beginsels waarvolgens ’n staat regeer moet word.”
Dan moet ’n mens ná byna dertig jaar vra: Hoe goed word Suid-Afrika werklik volgens daardie beginsels regeer?
Die antwoord lê nie bloot in wat die Grondwet sê nie.
Dit lê in wat elke dag in ons polisiestasies, howe, gevangenisse, munisipaliteite, staatsdepartemente en gemeenskappe gebeur.
Miskien is die probleem dus nie dat ons in 1996 die verkeerde Grondwet gekry het nie.
Miskien is die veel ongemakliker vraag: Het ons die vermoë, die integriteit en die staatsinstellings ontwikkel om die Grondwet wat ons geskep het, behoorlik uit te voer? Want ’n uitstekende grondwet op papier kan nog steeds saamleef met ’n swak staat in die praktyk.
En dit, meer as enigiets anders, is dalk die ironie van die nuwe Suid-Afrika.

Brigadier Bouwer se artikel is ’n nugtere en eerlike poging om die spanning tussen Suid-Afrika se uitstekende grondwetlike raamwerk en die swak praktiese uitvoering daarvan te verwoord. Sy insigte is nie dié van ’n akademikus nie, maar van iemand wat dekades lank binne die strafregstelsel gewerk het — en juis daarom dra sy vrae gewig.
1. Die kern van sy argument is nie anti-Grondwet nie, maar anti-staatsverval
Bouwer stel nie dat die Grondwet self die probleem is nie. Inteendeel, hy erken dat die 1996-Grondwet een van die mees gevorderde ter wêreld is. Die probleem, sê hy, is dat die staat nie die kapasiteit het om die Grondwet se beginsels te laat werk nie.
Hy verwoord dit duidelik:
“’n Grondwet kan nie korrupte amptenare eerlik maak nie… Mense en instellings moet dit laat werk.”
Hiermee raak hy aan ’n internasionaal erkende beginsel: ’n sterk Grondwet kan nie ’n swak staat red nie.
2. Die hof se noukeurigheid oor beskuldigde-regte is grondwetlik korrek — maar die teenwig ontbreek
Jou eie waarneming is geldig: die howe is uiters noukeurig oor die beskuldigde se regte. Dit is nie toevallig nie — dit is ’n direkte gevolg van die geskiedenis wat die 1996-Grondwet wou regstel. Artikel 35 is doelbewus sterk.
Maar Bouwer wys op die ironie:
“Die regte van die beskuldigde kan so noukeurig beskerm word dat die slagoffer uiteindelik vergeet word.”
Die teenwig behoort te wees:
’n Polisie wat professioneel, vinnig en binne die wet optree
’n Vervolgingsgesag wat sake betyds bring
Howe wat nie jare lank vertragings toelaat nie
’n Staat wat sy positiewe plig nakom om burgers te beskerm (artikel 7)
’n Regstelsel wat slagoffer-regte aktief verreken
Met ander woorde: die balans word nie deur die Grondwet self geskep nie, maar deur die kwaliteit van die instellings wat dit moet uitvoer.
Bouwer se punt is dus nie dat beskuldigde-regte te sterk is nie — maar dat die teenwig-instellings te swak is.
3. Die artikel identifiseer ’n werklike probleem: die slagoffer verdwyn uit die prentjie
Bouwer se beskrywing van vertragings, prosedurele dispuute en eindelose appèlle is nie oordrewe nie. Dit is ’n bekende probleem in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel. Die gevolg is dat die slagoffer se reg op:
veiligheid,
menswaardigheid,
en ’n effektiewe strafregproses
in die praktyk ondermyn word.
Die dokument sê dit treffend:
“Die slagoffer wag. Die familie wag. Die gemeenskap wag.”
Hier raak Bouwer aan ’n internasionale debat: Hoe beskerm ’n regstelsel beide die beskuldigde én die slagoffer?
Suid-Afrika se stelsel is sterk aan die beskuldigde-kant, maar die staat het nie die kapasiteit om die ander kant van die balans te dra nie.
4. Die artikel is realisties oor die polisie se dilemma
Bouwer se beskrywing van die moderne polisieman is akkuraat en belangrik:
“As ’n polisieman só bang word… dat hy huiwer om op te tree, verloor die Grondwet uiteindelik sy balans.”
Hier raak hy aan ’n werklike probleem:
onvoldoende opleiding,
swak bevelstrukture,
politieke inmenging,
en die vrees vir menseregtesake, selfs wanneer optrede regverdigbaar is.
Die gevolg is dat die staat se beskermingsplig (artikel 7) nie uitgevoer word nie.
5. Die artikel se grootste waarde lê in sy finale vraag
Bouwer se slotgedagte is die hart van die stuk:
“Het ons die vermoë, die integriteit en die staatsinstellings ontwikkel om die Grondwet wat ons geskep het, behoorlik uit te voer?”
Dit is ’n vraag wat nie ideologies is nie — dit is prakties, staatskundig en dringend.
Samevatting
Bouwer se artikel is nie ’n aanval op die Grondwet nie. Dit is ’n waarskuwing dat ’n uitstekende grondwetlike raamwerk nie kan funksioneer binne ’n staat wat administratief, polities en institusioneel verswak het.
Die hof se noukeurigheid oor beskuldigde-regte is grondwetlik korrek.
Die probleem is dat die teenwig — die staat se kapasiteit om slagoffers te beskerm — nie meer bestaan soos dit behoort nie.
Bouwer se verslag is dus ’n belangrike en gebalanseerde bydrae tot die debat oor staatsverval, misdaad en die praktiese werking van die Grondwet.