Nongqai Vol 17 No 8 – “Commando” – Deneys Reitz: Gamkaskloof
ABSTRACT
This article examines the discrepancies between Deneys Reitz’s famous war memoir Commando (1929) and his earlier, detailed handwritten journal Herinneringen van den Engelschen Oorlog 1899–1902. By comparing Reitz’s descriptions of events in the Klein Karoo and Gamkaskloof, the author highlights significant factual differences, omissions, and later embellishments. These inconsistencies raise questions about the absolute reliability of Commando, while still acknowledging its enduring literary and historical value. “Teen hierdie agtergrond mag dit aan heiligskennis grens om die waarheid van Reitz se vertellings… enigsins te betwyfel.”
SOE – SHORT EXTRACT
A comparison of Commando with Reitz’s original 1903 journal reveals notable contradictions in his accounts of Armoed and Gamkaskloof, suggesting later alterations for political, social, or personal reasons. “Die teenstrydige feitebewerings… blyk dan ook duidelik uit die opsommings hierbo gegee.”
KEYWORDS
Anglo Boer War, Deneys Reitz, Commando, Herinneringen, Gamkaskloof, Die Hel, Anglo‑Boereoorlog, Klein Karoo, Armoed incident, Cordier, Mostert, JC Smuts, historical accuracy, memoir discrepancies, Brenthurst Library, Pieter le Roux
REDAKSIE
Die Anglo Boere-oorlog is deel van ons nasionale veiligheidsgeskiedenis en as sulks word hierdie uitstekende artikel in Nongqai opgeneem om so vir die nageslag te bewaar op ons Nongqai webjoernaal.
Met toestemming van menere Greef & Pretorius word die artikel in Nongqai opgeneem:
![]() |
WES-KAAP TAK
HELIOGRAAF – 39 – HELIOGRAPH APR – JUN 2026 WESTERN CAPE BRANCH |
Ere- / Hon. President: Dr Arnold van Dyk
‘COMMANDO’ – DENEYS REITZ IN GAMKASKLOOF
Deur Pieter le Roux
Deneys Reitz se wedervaringe tydens die Anglo Boere-oorlog (1899-1902) is in 1929 in Engels onder die titel ‘Commando’ gepubliseer. ‘Commando’ het sedertdien talle vertalings en herdrukke beleef en het mettertyd besondere roem verwerf as ‘n persoonlike, eerstehandse oorlogsrelaas. In ‘n voorwoord tot die oorspronklike uitgawe het Genl. JC Smuts dit beskryf as “A wonderful book — wonderful in its simplicity and realism.” Smuts het ook uit sy pad gegaan om die geloofwaardigheid van die beskrywings in die boek te beklemtoon. Hy het die boek selfs as ‘n “romance of truth” beskryf.
In ‘n inleiding tot die 1983 herdruk van die boek het Thomas Pakenham dit “one of the minor classics of the war” genoem. In dieselfde trant as Smuts het hy bygevoeg dat “there’s no reason to doubt the accuracy of Reitz’s account, apart from minor slips of dating or geography.”
Teen hierdie agtergrond mag dit aan heiligskennis grens om die waarheid van Reitz se vertellings in ‘Commando’ enigsins te betwyfel. Byna 100 jaar na die eerste verskyning van die boek mag dit egter gepas wees om tog wel onbevange na ‘Commando’ se teks te kyk teen die agtergrond van wat Reitz elders self oor dieselfde feite-materiaal opgeteken het. Meer spesifiek hier ter sprake is Reitz se weergawe van sy besoek aan die Klein Karoo en aan Gamkaskloof, die afgesonderde vallei in die Swartberge wat vandag allerweë as ‘Die Hel’ bekend staan (eertydse bewoners van die kloof het hierdie beskrywing van hul tuiste glo nie verwelkom nie.)
Dit is bekend dat ‘Commando’ eintlik ‘n verkorte Engelse weergawe is van ‘n handgeskrewe Hollandse joernaal wat Deneys Reitz reeds in 1903, dus kort na die oorlog, oor sy oorlogswedervaringe neergeskryf het terwyl hy vry van Britse oorheersing in Madagaskar probeer oorleef het. Die joernaal beslaan sowat 1167 handgeskrewe bladsye onder die titel ‘Herinneringen van den Engelschen Oorlog 1899-1902.’ Die oorspronklike manuskrip van die dokument is deur wyle Mnr. H.F. Oppenheimer bekom en word in die Brenthurst-biblioteek in Johannesburg bewaar. Reitz se kleinseun, Michael Reitz, het jare gelede ‘n Engelse vertaling daarvan voltooi, maar om ‘n onbekende rede of redes het die reghebbendes die ‘Herinneringe’ tot dusver nog in geen vorm of taal laat publiseer nie.

Michael Reitz, kleinseun van Deneys, met sy Oupa se persoonlike kopie van die heel eerste uitgawe van ‘Commando’.
Die 19-jarige Reitz het die Oranjerivier in Sept.1901 saam met Genl. Smuts se kommando oorgesteek om die Engelse in die Kaapkolonie lastig te val. Naby Aberdeen het Reitz en sewe kamerade tydens ‘n skermutseling met die vyand egter afgesonder geraak van die hoofkommando. In ‘n poging om weer by Smuts aan te sluit, is die groepie toe onder leiding van Willie Conradie naby Klaarstroom met hul perde oor die Swartberge na die Klein Karoo.
Na verskeie avonture het die agt-stuks die dorpie Armoed (hedendaags bekend as Volmoed) naby Oudtshoorn bereik. Hier het hulle hul byna teen ‘n berede geselskap Engelse soldate vasgeloop. In ‘Commando’ beweer Reitz onomwonde dat “only the falling dusk and our brisk reply to their firing enabled us to escape through the river, into the bush on the other side.” Daar is dus beslis oor en weer geskiet.
In sy ‘Herinneringen’ van 1903 was Reitz se relaas oor die insident by Armoed egter gans anders. Hy vertel daar hoe die burgers hulle langs die pad vir die vyand versteek. Hy vervolg dan: “Gelukkig was het stik donker zoodat zij ons niet zagen en stonden wij doodstil totdat zij allen voorbij waren.” Toe dit mettertyd veilig was “zwaaiden wij Noordwaarts uit en trokken stilzwijgend door het veld” in die rigting van die Olifantsrivier.
Blykens Reitz se ‘Herinneringen’ het die burgers klaarblyklik ‘n noue ontkoming by Armoed gehad waartydens die Engelse hulle gelukkig glad nie gewaar het nie en daar duidelik geen sprake van ‘n heen en weer skietery tussen die groepe was soos later deur Reitz in ‘Commando’ beweer is nie.
Waarom hierdie radikaal verskillende weergawes van die gebeure by Armoed? Het Reitz die beweerde skietery maar later net vir dramatiese effek bygevoeg? Dit is moeilik om hieroor uitsluitsel te gee. ‘n Sterk saak kan nietemin uitgemaak word dat voorkeur gegee moet word aan die meer gedetailleerde weergawe wat Reitz kort na die oorlog in sy joernaal neergepen het toe die gebeure nog vars in sy geheue was. Noodwendig kom die geloofwaardigheid van die latere weergawe in ‘Commando’ dan ernstig in gedrang.
Enkele dae na die besoek aan Armoed is Reitz se groepie nog eens teen die Swartberge se steiltes uit in ‘n poging om uit die Klein Karoo terug te keer na die veiliger ruimtes van die Groot Karoo. In ‘Commando’ vertel Reitz dat hulle van die berg se kruin af ‘n verskuilde vallei (ongetwyfeld die huidige Gamkaskloof) benede hulle opgemerk het. Doer onder was ‘n paar hutjies sigbaar wat vermoedelik deur inboorlinge bewoon is.

‘n Blik op Gamkaskloof hedendaags, gesien vanaf die minder bekende (Kleinberg) kant.
Volgens ‘Commando’ is die burgers toe ‘in a body’ (dus in ‘n groep) na onder om ondersoek in te stel “leaving the horses in a ravine to look after themselves.” By die hutjies aangekom “a shaggy giant in goatskins appeared and spoke to us in strange outlandish Dutch. He was a white man named Cordier, who lived here with his wife and a brood of half-wild children, in complete isolation from the outside world.” Een van Cordier se seuns het vroeër reeds vir Reitz-hulle gewaar en die seun het hul teenwoordigheid aan Cordier gerapporteer.
Reitz beskryf in sy boek hoe die groep daarna gasvry deur Cordier op melk en wilde heuning onthaal is, dat Cordier te kenne gegee het dat hy slegs vaagweg van die oorlog gehoor het en dat Reitz-hulle die eerste Boere was wat die vallei binnegedring het. Daardie nag asook die volgende dag het die geselskap by hierdie ‘curious Swiss Family Robinson’ deurgebring en teen die volgende aand is hulle weer die berg uit, hierdie keer saam met Cordier en sommige van sy seuns. Cordier-hulle het die nag daar bo by hulle deurgebring en die volgende dag het hy hulle oor die berge na die noordelike Karoovlaktes gelei, aldus Reitz se vertelling in ‘Commando.’
In sy ‘Herinneringen’ van 1903 het Deneys Reitz ‘n veel omvattender weergawe van sy besoek aan Gamkaskloof gegee waarvan die besonderhede egter in verskeie opsigte feitelik verskil van die voorgaande relaas in ‘Commando.’ Nie alleen is daar verskille nie, maar ‘Herinneringen’ bevat ook materiële gegewens wat later met die teboekstelling heeltemal verswyg is.
Volgens ‘Herinneringen’ is Reitz-hulle beslis nie aanvanklik as ‘n groep bo van die berg af na benede nie want eers was dit slegs Reitz en Willie Conradie wat afgeklouter het na die hutjies in die vallei. Die kosbare perde sou waarskynlik steeds onder die ander ses manne se toesig gebly het. Onder in die kloof aangekom was daar geen onmiddellike ontmoeting met Cordier soos in ‘Commando’ beweer word nie. Dit het geblyk dat die huisies deur twee blanke families, tewete Cordier en Mostert, bewoon word. “Wij vonden slechts twee vrouwen thuis die ons eerst niet wilden zeggen waar of hunne echtgenooten waren maar toen zij later zagen dat wij werkelijk Boeren waren zonden zij een knaapje naar een diepe spelonk onder de krans met een boodschap en kwamen de twee familie hoofden Mostert en Cordier te voorschijn.” (In ‘Commando’ word die Mosterts se teenwoordigheid heeltemal verswyg.) Die genoemde twee mans het nadat hulle vroeër deur Cordier se seun gewaarsku is in die grot gaan skuil aangesien hulle op hul hoede was vir Engelse patrollies wat hulle wou vang omdat hulle ‘rebellen’ was. Reitz-hulle het ook by die mans verneem dat hulle tevore hul gewere aan lede van Scheepers se kommando afgestaan het en ‘n swaargewonde burger genaamd Moore versteek en verpleeg het, totdat hy weer in staat was om na die Scheepers-kommando terug te keer.
Cordier se self-erkende kontak met Scheepers se kommando en sy erkenning teenoor Reitz van rebelse optrede teen die Britte impliseer dat Cordier volgens Reitz se eie wete waarskynlik meer kennis van die verloop van die oorlog gedra het as wat later deur Reitz in ‘Commando’ gesuggereer word. Rekords van die ABO bevestig ook dat sommige bewoners van Gamkaskloof, onder hulle ‘n paar Cordiers, hulle in daardie tyd aan anti-koloniale optredes skuldig gemaak het wat tot kriminele vervolgings gelei het.
Die ‘Herinneringen’ vertel verder dat Reitz en Conradie daarna op heuningbier, bokvleis en dies meer getrakteer is en dat hulle toe deur Cordier berg-op vergesel is na hul makkers. Cordier was begerig dat hulle ‘n week of langer by hom moes oorbly want sy vrou was op daardie stadium “in een interessante toestand” en hy wou na haar swangerskap fisies by die burgers aansluit “daar hij ook zijn slag wou slaan voor land en volk.”
Bo op die berg het Cordier volgens die ‘Herinneringen’ saam met die burgers om hul vuur verkeer en die nag daar by hulle deurgebring. Cordier se seun het die nag ook by hulle aangesluit en die seun was trots om die volgende dag die burgers se perde op te pas (weereens was die perde dus nie aan hul eie lot oorgelaat nie) toe die manne vir die eerste keer as ‘n groep na benede is waar hulle saam met Cordier “een paar vrolijke uuren deurbrachtten en twee emmers honing-bier uitdronken.”

Dolk en skede in die Fransie Pienaar-museum (Prins Albert0, na bewering agtergelaat deur die Reitz-groep in die ‘Hel’ (dalk vergete na die inname van die ‘Honingbier’?)
Daarna is die groepie weer saam met Cordier boontoe. Terwyl Cordier en sy een knaap (dus nie meerdere ‘colts’ nie) die burgers na die noordelike vlaktes gelei het, het Cordier die burgers herhaaldelik om ‘n geweer gesmeek waarmee hy as rebel die Engelse se lewens kon versuur. Cordier het prontuit verklaar : “Ons kolonialers het al vir ou koningin Vittorie (Victoria) dood gerebelleer en nou gaat ons vir ou Erdvark (Edward) ook dood rebelleer.” Die manne het Cordier toe van 60 patrone voorsien wat hy sou kon gebruik indien hy die geweer wat een van die manskappe in die berg verloor het kon opspoor.
Reitz vertel in sy ‘Herinneringen’ dat hy “een mooie silveren ornament in de vorm van een ‘top-boot’ ” aan Cordier gegee het vir oorhandiging aan sy vrou as ‘n aandenking van hul besoek. Dit was ‘n item wat Reitz vroeër naby Aberdeen in die huis van ene Kaptein Reid gevind het. Die ornament, ‘n silwer snuifhouer, is steeds as erfstuk in die besit van Mev. Annetjie Joubert, ‘n nooi Mostert en ‘boorling van Gamkaskloof. Dit dien as fisiese bewys dat Reitz die kloof wel destyds besoek het.

Die ornamentjie (glo van Russiese silwer) wat Reitz aan Cordier gegee het as ‘n geskenk aan sy vrou.
‘n Verdere interessantheid in die ‘Herinneringen’ opgeteken, is Cordier se indertydse mededeling aan Reitz dat die kloof toe reeds weens sy ontoeganklikheid as “de Hel” bekend gestaan het. Wat die herkoms van daardie naam betref, was daar onlangs nog ‘n teorie dat ‘n sekere vee-inspekteur genaamd Botha die plek eers in die 1920’s so begin noem het omdat dit dikwels vir hom pure ‘hel’ was om die vallei te voet te bereik. Ook word beweer dat die naam daarmee te doen het dat Reitz glo in sy ‘Herinneringen’ sou vertel het dat hy en sy makkers die vallei met ‘n ‘helling’ bereik het. Geeneen van hierdie teorieë het enige meriete nie. Cordier het die naam ‘de Hel’ reeds in 1901 teenoor Reitz gebruik en hy het ‘n eerstehandse verduideliking daarvoor aan hom gegee.
Danksy Cordier se hulp kon die Reitz-groepie hul weg verder oor die oop vlaktes vind en het hulle uiteindelik weer by Genl. Smuts se kommando aangesluit vir verdere aksie in die Kaapkolonie.
Die inhoud van Reitz se ‘Herinneringen’, wat die besoek aan die Klein Karoo en Gamkaskloof betref, is geen geheim nie. Die navorsers Taffy en David Shearing het in ‘General Smuts and his long ride’ (2000) saam met die inhoud van Reitz se ‘Commando’ in besonderhede daarop gesteun. Ook Sue van Waart het in haar boekie ‘Die Hel — vallei van die Leeus’ (2000) daarna verwys maar tog opgemerk dat baie van die gegewe in ‘Commando’ drasties van die aanvanklike joernaal verskil. Die teenstrydige feitebewerings (sommiges weliswaar van mindere belang) blyk dan ook duidelik uit die opsommings hierbo gegee.
Waar die inhoud van ‘Commando’ met die inhoud van Reitz se vroeëre ‘Herinneringen’ bots, moet daar (soos met die Armoed-insident) ten gunste van die aanvaarding van die laasgenoemde bron betoog word. Reitz het weliswaar van tyd tot tyd op Madagaskar onder malaria deurgeloop toe hy sy ‘Herinneringen’ neergepen het, maar soos reeds genoem was die gebeure daarin beskryf toe nog baie vars in die jong skrywer se geheue. Die beskrywings in die ‘Herinneringen’ was duidelik en gedetailleerd en met redelike orde uiteengesit. Dit skep oor die algemeen die indruk van noukeurige waarneming en openhartige rapportering deur die skrywer daarvan.
Indien Reitz se teenstrydige weergawes van gebeure in ‘Commando’ (minstens wat sy besoek aan die Klein Karoo en Gamkaskloof betref) dan as onwaar verwerp word, plaas dit noodwendig ‘n demper op Smuts en Pakenham se lofgesange oor die algehele geloofwaardigheid van ‘Commando’ as historiese kennisbron. Dit beteken egter geensins dat ‘Commando’ in geheel as ‘n ongeloofwaardige stuk fiksie verwerp moet word nie. Inteendeel, die boek sal waarskynlik altyd sy waarde en trefkrag behou, met die duidelike caveat egter dat sommige gebeure wat Reitz in 1929 daarin opgeteken het, eintlik anders verloop het en dat sekere materiële gegewens in die boek verswyg is.
Die doel van hierdie artikel is nie slegs om op die waarskynlike ongeloofwaardigheid van aspekte van ‘Commando’ se teks te wys nie, maar ook om moontlike verduidelikings vir sommige van Reitz se ergste verdraaiings en verswygings in die boek aan die hand te doen.
Eerstens moet deeglik begryp word dat Reitz se aanvanklike na-oorlogse anti-Britse sentimente mettertyd getemper is deurdat hy tot Generaals Botha en Smuts se versoeningsfilosofie ten opsigte van die Afrikaanse en Engelssprekende ‘rasse-groepe’ oorgehaal is. As volwasse politikus en openbare figuur in Suid-Afrika het hy daardie filosofie ook werklik uitgeleef. Dit is dus te verstane dat Cordier se uitgesproke bitterheid teenoor die Engelse, soos Reitz dit persoonlik waargeneem het, deur Reitz in sy boek van 1929 verbloem sou word, eerder as dat Reitz dit aan die groot klok sou hang. Thomas Pakenham het in sy 1984-inleiding so ver gegaan as om te suggereer dat Genl. Smuts persoonlik vir Reitz bygestaan het om die aanvanklike beskrywings in sy joernaal te verwerk, “purging it of all bitterness.” In die’ proses is sekere feite dan seker verdraai en ander ooglopend verswyg.
Tweedens is dit te verstane dat Reitz sy eertydse koloniale weldoeners en hul familielede wat ten tyde van die publikasie van ‘Commando’ nog kon geleef het, sou wou beskerm teen moontlike owerheidsoptrede weens hul hulp aan die Boere tydens die ABO. Soos gemeld word die Mosterts glad nie eens in ‘Commando’ se teks genoem nie. Cordier se erkende bystand aan Scheepers word ook heeltemal verswyg en sy uitgesproke rebelse sentimente en sy begeerte om fisies by die Boere aan te sluit word ook nie genoem nie. Die detail van die eerste ontmoeting met Cordier en Mostert in die kloof word heeltemal verdraai om die wegkruipery in die grot en die rede daarvoor te verswyg.
‘Commando’ bevat wel name van sommige kolonialers wat aan die Boere hulp verleen het en hulself daardeur aan vervolging blootgestel het, maar blykens Reitz se ‘Herinneringe’ was Cordier se pro-Boerse betrokkenheid en sentimente van ‘n veel erger graad. Teen 1929 was vervolging van pro-Boerse kolonialers weens hoogverraad gedurende die ABO dalk nie meer ‘n realistiese verwagting nie, maar viktimisering van die Cordiers en Mosterts deur sommige landsgenote was seker steeds ‘n moontlikheid. Vandaar dus dat Reitz in sy boek die omstandighede van sy aanvanklike kennismaking met Cordier, wat vir die Engelse in ‘n grot geskuil het, heeltemal verdraai het en ook in ander opsigte van die werklike feite afgewyk het.
Met die naderende eeufees van die eerste publikasie van die ikoniese ‘Commando’ sou die publikasie van Reitz se ‘Herinneringen’ van 1903 ‘n belangrike aanvullende bate vir geskiedskrywing oor die ABO wees. Dit sou verdere vergelyking van die gehele inhoud van die twee tekste vergemaklik en moontlik selfs verdere teenstrydighede aan die lig bring waarvoor daar hopelik rasionele verklarings mag wees.

Links na regs: Joubert (Broer), FW (Pa) en Deneys Reitz net voor ABO 1899.

