Nongqai Vol 17 No 8 – Wollie word 80
Wollie Wolmarans word 80
Hennie Heymans
Op Donderdag 30 Julie 2026 het Wollie Wolmarans van die polisie se Forensiese Wetenskap Laboratorium, Afdeling Ballistiek, sy 80ste verjaarsdag gevier by die IPA Nongqai‑tak in Kilnerpark, Pretoria. (Hoewel Wollie eers op 3 Augustus 2026 amptelik 80 word, het hy besluit om sy vriende vroegtydig te mobiliseer — en natuurlik teen 12:00, die ideale uur vir “ou manne” wat nie meer saans rondskarrel nie.)


Wollie aan die woord – twee ou knape luister aandagtig – links Christo Davidson en Hennie Heymans.
Met my aankoms het ek tot my groot verleentheid doodnugter voor almal neergeslaan. Geen dramatiese Hollywood‑val nie — net ’n klassieke “ons-ou-mense-moet-dalk-die-kierie-nader-pluk”-oomblik. Gelukkig is die gehoor gehard en het niemand ’n SAP‑14-vorm kom invul nie.
Toesprake is gelewer deur genl Bushie Engelbrecht, brig du Bruyn, en natuurlik die man van die uur, Wollie self. Die vreugde om mekaar weer te sien was tasbaar; die hegtheid van oud‑SAP‑lede en die kameraderie tussen ons bly iets wat min ander groepe kan ewenaar.
Genl Bushie het, met sy kenmerkende droë humor, opgemerk dat as hy ooit as nasionale kommissaris aangestel sou word, sou hy ons almal weer aanstel. Die hele geselskap het die aanbod laggend aanvaar — waarskynlik die eerste keer in die geskiedenis dat ’n hele groep pensionarisse spontaan bereid was om weer diens te doen.
Ons almal het Wollie se verjaarsdag terdeë geniet. Dankie aan almal.
- Kapt TFH “Wollie” Wolmarans is ‘n wêreldbekende ballistiese deskundige en deskundige getuie. Hy is ook ‘n skrywer van boeke oor suksesvolle oplossing van misdade

Heil die Leser: U kan gerus vir ons die name van die mense op die foto’s hieronder plaas. Dankie,
Hoof foto: ou Ballistiek mense: van links na regs: Johan Botes, Piet Steyl, Lucas Visser, “Wollie” Wolmarans, Maureen Venter, Gert Jacobs, Niel Van Niekerk & “Nody” Janse Van Rensburg.