Nongqai Vol 17 No 7 – Heleen Swart
ABSTRACT (English)
This biographical profile traces the life and distinguished career of Heleen Swart, a pioneering South African policewoman whose service spanned from 1974 to 1999. Rising from early administrative duties to specialised investigative work, she played a central role in establishing the first Child Protection Unit (CPU) in Durban following the landmark Addington Hospital baby abduction case. Her career included extensive work in crime investigation, police training, station command, and election management during South Africa’s transitional period. After retiring medically, she built a successful hospitality business and remains actively involved in community safety and veteran police organisations. Her story reflects resilience, dedication, and lifelong service to the SAPD, her community, and her family.
KEYWORDS
Heleen Swart,
South African Police,
Child Protection Unit (CPU),
Addington Hospital baby abduction,
Women in policing,
SAP History,
SAPS history,
Crime investigation,
Police training,
Station commander,
Waterberg policing,
Durban detective branch,
Gender-based violence investigations,
Police biography,
Nylstroom Police Station
South African policing heritage,
KORT BIOGRAFIE – LT-KOL HELEEN SWART
Ek het in 1973 gematrikuleer aan die Hoër Handelskool Pretoria. In Desember 1973 het ek begin werk as tikster by die destydse Mielieraad, maar ek het die werk uiters oninteressant gevind. Ek het my vader, toe ’n Majoor in die SAP, genader omdat ek graag by die Polisie wou aansluit. Hy het aanvanklik geweier, maar uiteindelik ingestem nadat ek ’n getuigskrif van my predikant verkry het.
Op ’n Saterdagoggend is ek by die Polisie-museum in Pretoriusstraat ingesweer as Polisiedame en te Radiobeheer, Marabastad geplaas as student. Dit was op 4 April 1974. In Julie 1974 is ek na die Polisiekollege waar ek deel was van Peloton 34, 3de vloer Rosehof. Ons het in Desember 1974 uitpasseer en ek is terug na Radiobeheer. In dieselfde maand is ek getroud (later geskei op 4 April 1980 na ses jaar van ernstige mishandeling).
Daarna is ek na Pretoria Sentraal verplaas waar ek by die Ongelukstak, Dagvaardigings, Lasbriewe, Ondersoek en Navrae gewerk het. In 1976 is ek na Witbank verplaas. Daar het ek die Ongelukstak behartig, die SAP 13-stoor, SAP 6, asook die ROM- en RAA-liasseerkamers. Ek het afgelos in die lykshuis en ook aanklagtekantoordienste verrig, veral tydens die onluste. Wanneer mans vir onluste uitgeroep is, moes ek dikwels die stasie oorneem.
In 1982 is ek na Durban verplaas om weg te kom van my gewese eggenoot. Daar het ek my huidige man, Blacky Swart, ontmoet. Ek is van die uniformtak na die speurtak oorgeplaas en het by die Bedrogtak beland waar ek saam met A/O Mossie Mostert gewerk het.
Die Addington-baba-saak: Die ontstaan van die Kinderbeskermingseenheid
Einde 1982/begin 1983 is ’n baba uit Addington Hospitaal se kraamafdeling gesteel. Mossie Mostert is aangestel om die saak te ondersoek en ek is by die ondersoek betrek. Ons het vir weke die spoor van die verdagte gevolg totdat ons ’n Indiërvrou opgespoor het wat met ’n wit baba by haar huis aangekom het. Die baba is terug geneem na die moeder, DNS-toetse is gedoen, en die kind is positief geïdentifiseer.
Ons het die verdagte vier dae en nagte lank ondervra totdat sy uiteindelik erken het. Hierdie saak het gelei tot die stigting van die eerste Kinderbeskermingseenheid in die SAP, aangesien die behoefte in Durban en omgewing groot was. Van daardie dag af het ek en Mossie alle verkragtings-, kindermishandeling- en aanrandingsake ondersoek.
Ek het ’n album saamgestel met al my sake, wat later vir ’n uitstalling gebruik is deur Genl Bushie Engelbrecht. Ongelukkig het die album verlore gegaan nadat ek in 1985 verplaas is na Opleidingskollege Hammanskraal.
Familietrots
My dogter, A/O Ciska Kruger van Modimolle FCS, volg sedert 2021 in haar ma se voetspore. Sy behaal uitstekende suksesse, veral in reeksverkragtingsake waar sy DNA-skakels vasstel en swaar vonnisse verkry.
Loopbaan in Opleiding en Bestuur
In 1985 is ek en Blacky te Hammanskraal getroud. Ek het as finansiële hoof begin en later, na kursusvoltooiing, ’n instrukteur in Wette geword. Ek het Afrikaans, Strafreg, Wettereg, Strafproses en Ondersoek van Misdaad aangebied.
In 1990 is ons na Rooiberg verplaas waar my man Stasiekommissaris was en ek tweede in bevel. ’n Jaar later is ek Offisier en na Nylstroom verplaas. Ek was Finansiële Offisier, hoof van Menslike Hulpbronne en later Misdaadvoorkomingsbeampte by die Area Kantoor.
In Januarie 1994 is ek tydelik na Nylstroom Polisiestasie verplaas as waarnemende Stasiekommissaris en het die hele Waterberg-verkiesing onder my bevel gedien. In Maart 1994 is ek permanent aangestel as Stasiekommissaris. Ek het op 31 Januarie 1999 medies ongeskik uit die diens getree.
My Provinsiale Kommissaris het my bevordering na Direkteur (Brigadier) aangebied, maar dit sou vereis dat ek sonder my man en kind moes verhuis — ’n opsie wat ek nie kon oorweeg nie.
Na die SAPD
Na aftrede het ek ’n spysenieringsbesigheid begin en later ’n gastehuis wat van een kamer tot 14 kamers en selfsorg-eenhede gegroei het. Ek het 18 jaar lank die gastehuis bedryf en alles self gedoen — van ontvangs tot kosmaak.
In Julie 2024 het ons die gastehuis verkoop en in Kokanje-aftreeoord gevestig. Ek dien tans as Voorsitter van die Bond van Oudpolisielede in die Waterberg en is betrokke by die Kokanje KE. Ek doen gereeld veiligheidspraatjies by verskeie instansies.
Ek dank my Hemelse Vader vir ’n vol lewe, goeie gesondheid en die genade om gespaar te wees.
Kursusse bygewoon
- Verkorte Teeninsurgensiekursus
- Instrukteurskursus
- Ondersoek van Misdaadkursus
- Middelvlak Bestuurskursus
- Offisierskursus
- SWAT-kursus
- Gevorderde SWAT-kursus
- Rekenaaropleiding
- Stasiebevelvoerderskursus
Dankie vir die geleentheid om my lewensgeskiedenis te deel.
FOTOALBUM

My Kollege foto 1974

Ek sweer my seun in as lid van die mag.

Ek ontvang my medalje vir die bekamping van terrorisme te Ellisras deur genl Johann Coetzee, kommissaris van polisie.

Heleen Swart

Bosveld spog met 5 vroue bevelvoerders. [Beeld 96-06-13]




Ek en my man Blackie tydens ‘n gala-aand.

Bond van Oudpolisielede Waterberg
HULDEBLYK
ONS BRING HULDE AAN ’N VROU IN BLOU
Heleen Swart, jy het die blou met trots gedra. Jy het ’n moeilike pad gestap en talle uitdagings met geloof, deursettingsvermoë en waardigheid oorkom. Jy het nooit moed opgegee nie en altyd jou beste gegee. Jy het jou merk gelaat.
Jy is ’n inspirasie vir ons almal — gaan en geniet jou pensioen. Mag jy elke dag sprankel.
Groete, Ida Steyn
That’s an incredible story. It’s amazing to see how one person can have such a lasting impact on their community and law enforcement.
CrimsonBadge thank you for your kind comments!