Elkarien Fourie

Abstract: Elkarien Fourie writes in Nongqai about South Africa’s forgotten war in Angola, 1975-1988.

HALT! MILITERE EN POLITIEKE GESKIEDENIS IN PERSPEKTIEF

Elkarien Fourie

KEY WORDS: SADF, SAW, ANGOLAN WAR, SOUTH AFRICAN MILITARY HISTORY

Toe ek einde 1974 by die SA Leer in Pretoria aansluit, was Suid-Afrika midde-in die bosoorlog wat toe vir die meeste jong Afrikaner-skoolverlaters en veral hul vaders ’n edel roeping was. Sedert 1994 en daarna word die ervaring op die grens ten beste onthou as ’n inisiasie in die wrede wêreld daarbuite en op sy ergste as ’n bron van post-traumatiese stres waarmee sommiges steeds worstel.

Pas gegradueerde vroue is lukraak as vol luitenante, 2de luitenante en les bes, soos ek, as kandidaat-offisiere (K.O). aangestel. Almal het geweet van die ooreenkoms tussen ’n K.O. en ’n fiets: almal wil hom/haar trap. Ek het nie ’n brandende begeerte gehad om my land op hierdie manier te dien nie, maar moes as ‘n beursverpligting drie jaar vir die SA Weermag werk. Ek was toe reeds weens my sielkunde-opleiding lid van ’n eksperimentele eenheid wat Spesiale Projekte geheet het en gemoeid was met bestuuropleiding.

’n Rukkie nadat ’n basiese rekrutekursus begin het, is ek skielik opgekommandeer om daarvoor aan te meld, wat daartoe gelei het dat ek nie al die inligting gehad het waaroor ’n toets gevolg het nie en deur ’n hoge offisier van die Leërkollege vir my swak punte uitgevreet is. Hy het my ongenadiglik geroskam en verklaar: “Ek ken mense met grade wat niks beter as visgrate is nie!” Elke keer as ek wou verduidelik dat ek van ’n groot deel van die werk onbewus was nie en dat ek dit nie as benede my geag het nie, het hy my afgejak en stil gemaak.

My basiese opleiding was nie ’n deurdagte besluit nie en het tot absurde situasies aanleiding gegee, soos dat offisiere nie saam met rekrute vanaf die menasie na die Leërkollege mag gemarsjeer het nie, maar langsaan die peloton moes stap. Van kursusgangers is vereis om aantekeninge in die klas saans netjies oor te skryf en dit was wel moeilik na vier jaar op universiteit.

Die positiewe keersy van hierdie onprofessionele ontvangs was dat dit ’n opwindende tyd vir vroue in die Weermag was. In 1971 is die eerste vroulike skoolverlaters tot die pas gestigte Vroueleërkollege op George toegelaat. Die kollege het ‘n belangrike rol gespeel in die geleidelike integrasie van vroue in die militêre beroep. Die meisies wat daarna by die Staandemag aangesluit het, is as gedissiplineerd en goed opgelei beskou en het naam gemaak in staffunksies soos personeelbestuur, intelligensie, administrasie, logistiek, skakeling en opleiding. Hulle het nie gevegsopleiding gekry nie, maar vir my jeugvriendin Salomé Jacobsz was dit lewensveranderend en het tot lewenslange vriendskappe gelei.

Vroue wat daarna langs ander weë in die Weermag beland het, soos ek, het gou toegeneem. Jy kon by feitlik enige manlike bastion aanklop, byvoorbeeld as aspirant werktuig-kundige of vlieënieer, al was daar nog geen vroue in jou belangstellingsveld nie.

Na my lukrake basiese opleiding wat ek nie voltooi het nie omdat ’n invloedryke vroue-offisier my kom spreek het en ondanks my besluit om die beste van die saak te maak, my summier aangesê het om my goed te pak omdat kandidaatoffisiere met ’n akademiese agtergrond nie hoef te leer hoeveel motorfietsryers daar in ’n peloton is nie.

Toe Spesiale Projekte aan die einde van daardie jaar ontbind, het ek in 1976 die kans gebruik om my ou belangstelling in die joernalistiek na te jaag en is as verslaggewer by die SA Weermag se tydskrif Paratus aangestel. Die publikasie het gefunksioneer as die amptelike kommunikasie- en interne tydskrif met ’n redaksionele struktuur onder vlootkaptein Kosie Nieuwoudt wat sterk militêr georiënteerd was. Tweede in bevel was kommandant Pierre Coetzee. Ek was die enigste verslaggewer wat op stories uitgegaan het en daar was ’n hele span dienspligtiges wat as fotograwe gewerk en foto’s ontwikkel het. Een van hulle was Tony Leon wat later diep spore in die politiek sou trap.

Gelukkig was ek reeds gewoond aan uniform dra. My latere rol as vroueredakteur op ’n eenvrouredaksie was soos eenoog-koning in die land van die blindes omdat ek geen opleiding daarin gehad het nie. Maar ek het langer aangebly as wat my beursverpligting vereis het. Paratus was nie net ’n tydskrif nie; dit was ’n stem — georganiseerd, doelgerig, soms streng, soms verrassend menslik. En ek het my stem daarbinne probeer vind. As ‘n spesifieke eenheid onder kritiek deurgeloop het oor ’n misdryf, moes ek tot my verbasing ’n storie skryf om die eenheid in onguns se beeld te poets.

Toe ek die eerste keer as eerste verslaggewer met ’n kontingent troepe grens toe vlieg, was dit op ’n Dakota met die bynaam Vomit Comet met ’n ry sitplekke aan elke sy van die vragvliegtuig en ’n groot ruimte in die middel wat amper leeg was, maar ’n groot vrag sou kon vervoer. Ek het niksvermoedend aanwysings na die toilet gevra en tot my intense verleentheid is van die troepe opgekommandeer om ’n soort tent in die middel op te slaan ten aanskoue van al die passasiers wat sekerlik presies geweet het waarvoor dit was. Aan my protestasies dat my behoefte nie so dringend was om al die moeite te noodsaak nie, het niemand hulle gesteur nie.

Maar dit was ’n interessante werk met baie onverwagse geleenthede: ’n leērdag in ’n uithoek van die land waar ek nog nooit was nie, toegerus met ’n werkskameria omdat daar net een sitplek op die helikopter beskikbaar was; ’n besoek aan die Kasteel in Kaapstad waar Weermagkantore was en ‘n kans om met Kubaanse krygsgevangenes te gesels. Ek het in my artikel oor die ontmoeting verwys na die Bybels op hul bedkassies wat later in die pers gekritiseer is as dat dit die wanindruk skep dat hulle daarin belang gestel het. Daar was ’n onvergeetlike besoek aan die Weermag se perdeteëlplaas op De Aar toe ek agterop die bakkie kon staan waarop perdevoer gestapel was en die toeter in die veld was die perde se eteklok wat hulle uit alle rigtings volspoed na die bakkie laat galop het.

’n Hoogtepunt pas nadat ek by Paratus begin het, was ’n ronde op die grens per helikopter saam met die hoof van die destydse Suid-Wes-Afrika kommandement toe ek saam met ’n paar offisiere ’n plaashuis besoek het wat pas na ’n terroriste-aanval net so gelaat is met die ontbyttafel nog onaangeraak. Daarna het ons ook die Etosha-wildreservaat besoek en oor plate wildsbokke gevlieg waarna die insittendes, die generaal inkluis, van die nabygeleë vliegveld na die Okaukuejo-ruskamp gedraf het. Dit was te danke aan kol Paal Pretorius se fiksheidsprogram vir Staandemaglede dat ek kon byhou.

Een van my eerste bydraes wat in Paratus verskyn het, was ’n artikel met die opskrif Geweer in die hand … maar vrou bly sy! (Mei 1976-uitgawe), wat die toenemende rol van vroue binne die militêre konteks weerspieël het. By die terugdink aan die dag toe ek per helikopter by my tuisdorp, Ermelo, se kommandokantore geland het, was ek oortuig my pa was minstens een keer trots op sy middelste dogter.

Dan was daar die media-besoek aan Walvisbaai se weermagkamp waar my manlike koerantkollegas besluit het om liewer in die dorpshotel naby die kroeg te bly en ek opgewonde was om by die oorspronklike plan te bly om by die kamp oor te slaap. Ek het my eie tent met badkamergeriewe gekry en saam met die troepe aan ’n patrollie deelgeneem, gevolg deur ’n kampvuurkuier op die woestynsand.

Later het ek my man, majoor Tienie Fourie, ook by Paratus ontmoet. Hy was reeds ’n gesoute joernalis by die dagbladpers en het redakteur van Paratus geword. Na ons troue het my naam eensklaps verander van luitenant Lötter na kaptein Fourie. Dit was ’n dubbele gedaanteverwisseling. Nooit het ek (soos my dogters se geslag) kon droom om my nooiensvan te behou nie.

Ek en Tienie het kort daarna, deels op onbetaalse verlof, ’n rugsakreis van byna drie maande na Europa onderneem en ek het as oningeligte plattelander ’n ongeneeslike byt van die reismier opgedoen.

Elkarien Fourie

 

Elkarien Fourie het Afrikaans, Engels en Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en daarna as joernalis by die ou SAW se tydskrif Paratus, Beeld en die Burger en later by die Staatsdienstydskrif Publico, gewerk en sedertdien dra sy as vryskut by tot ‘n verskeidenheid  publikasies soos Rooi Rose en Tukkietydskrifte. Sy en haar man het in Londen, New York, Wene en dwarsoor China gewerk en gewoon. Sy het twee boeke geskryf: ‘n jeugverhaal Dans op die Rand van ‘n Krans en Vat jou hele Hart, ‘n memoir oor haar verblyf van amper nege jaar in China.