Ou Grootwiel- Alexanderbaai – Nongqai Vol 17 No 6
OU GROOTWIEL
Via Mev Margie Spaumer en genl Johan Ferreira
-
Ek bring ook hulde aan my ou vriend wyle genl Hennie Westraat
Inleiding:
“Ou Grootwiel” – Die Stem van die destydse Diamantveld‑Polisieman
Hennie Heymans

Elke polisiemag het sy eie subkultuur, maar min eenhede in Suid‑Afrika het ’n wêreld geken soos die manne van Alexanderbaai se staatsdiamantveld. Daar, waar die wind die sand soos glas oor die klippe skuur en die Oranjerivier sy laaste asem uitblaas voor hy die see ontmoet, het die SAP ’n heel ander soort wag gehou: nie oor strate en stasies nie, maar oor diamantvelde, smokkelaars, “IDB’s” en die eindelose nagte van patrollie.
Uit hierdie harde, eensame landskap het ’n eie soort letterkunde ontstaan — liedjies, grappies, bygelowe, en die soort humor wat net gebore word wanneer manne ure lank stap, wag en waak.
Soos die bos sy eie poësie gehad het, het Alexanderbaai sy eie ritme gehad: die klap van stewels op klip, die fluit van die wind, die tjank van ’n jakkals by Punt C, en die stem van die sersant wat altyd “net daar voor” lê.
“Ou Grootwiel” is deel van daardie tradisie — ’n lied wat die moegheid, die kameraadskap, die spanning en die klein vreugdes van die diamantveld‑polisieman vasvang. Dit is die stem van manne wat nagte lank gestap het, wat geweet het hoe lyk honger, dors en koue, maar ook hoe klink lag, lojaliteit en die belofte van ’n warm bed en boeliebief ná ’n lang skof.
Hierdie lied is nie net ’n stukkie folklore nie; dit is ’n venster op ’n wêreld wat vandag verdwyn het — die wêreld van die Ou Poliesman van die Baai, waar elke nagstap ’n storie was, en elke storie ’n lied kon word.
OU GROOTWIEL
Ou Grootwiel, ons stap jou al die nagte
Ou Grootwiel, deur trane bloed en smarte,
Wanneer jou stapdag oor is, Sal jou ou lyf weer lekker rus,
Jy ou Poliesman van die baai.
Stap maar aan ou maat,
want die “sergeant” die lê jou voor.
Stap maar aan, ou maat,
want die luitenant is op jou spoor.
Hoor hoe tjank die jakkals daar onder by punt C.
Dubble up, ou maat,
dis die IDB
Jy, ou Poliesman van die baai.
KOOR:
Jippie Jippie Jip, Jippie Jippie Jip, ou maat
Daar’s boeliebief en vis en ‘n bed om op te rus, ou maat
Ons wag net vir die regte tyd
Dan gaan ons weer die lekker land uit
Jy, ou Poliesman van die baai.
Polisieposte in Namakwaland




Foto’s via Jan-Jas van Wyk




Voor links die destydse befaamde genl (adv) Daantjie Bester en brig IPS Terblanche in uniform.

Wolfberg

Met erkenning aan Servamus:

Die lied kan hier gehoor word:

Memories, ek is sommer trots op daardie manne
Het daar gewerk jare na die gelopery, maar gery waar hulle geloop het
Ek was 2 jaar in die Land, 1963/4 en 1965/6, saam met Jan-Jas van Wyk en nog vele ander. Ek was as ‘n sersant op die volgende poste geplaas:- Wolfberg, Kleinsee, Eenhek, Tweehek,
Binnekamp en Buitekamp
waar ek die manne op die Groot en Kleinwiel besoek het. Ek het ook die bynaam van ‘Jack Practice’ heard asgevolg van my vaaardigheid met ‘n .22 pistool in
Dankie Marius!
Gedurende Augustus1992, as DK van Namakwaland, het ons op Alexanderbaai ‘n reünie vir al die lewende wielstappers gereël. Die oudste daar was lt,- genl. DA Bester. Genl. Hennie De Witt was ook daar. Foto’s is beskibaar.
Brig Fanie Bouwer – kom ons plaas ‘n nuwe artikel en dan koppel ons die twee artikels
Dagsê almal, Hier is ‘n paar lede van die SAP Generaalsklub se respons op die Grootwiel-storie:
Ai, die nostalgie ! Wie onthou nog ? Miskien Bernie Mostert ? Wie nog ? Groete, Mulder van Eyk
Ek glo lt.genl. Johan Deyzel van Kimberley??
Johan Ferreira
Johan, ek het in 1967 diep grootwiel spore daar getrap. Was baie stout. Het net goeie herinneringe
Johan Deyzel:
Self die Wield Gestapo 63/64. Gelukkig onthou mens meer die lekker dinge.
Isak Pretorius
Ek was laaste jaar toe SAP onttrek was van wielstap in 1970 in Alexanderbaai.Goeie dae. Hennie Vermeulen
My pappie, oud lt.Gel. Frikkie Engels, het as jong konstabel in ongeveer 1945-1946 die Grootwiel gestap, en my mammie ontmoet in Port Nolloth. Hulle is in 1947 getroud in die Grootkerk Pretoria, en direk verplaas na Sowoti, Natal. Toe ek die SAP Mannekoor (Pretoria) van 1986-1992 gehad het, het ek die woorde by my ma en pa gekry. Die koor het dit dwarsdeur die land gesing by al ons optredes(selfs oorsee) Genl Hennie de Witt het ook die wiel gestap, en het altyd versoek dat ons die lied by funksies sing. Daar is selfs ñ radio-onderhoud daaroor gedoen met my. Groete, Margie Spaumer🎵🌻
Die Polisiemannekoor was n stukkie kultuur wat vir baie lank nog onthou sal word. Ons sê steeds Bravo !!!!
Wouter Grové
Baie dankie vir die deel Margie, pragtige herinneringe 🌻🌻🌻
Sharon Schutte
Terloops … dit is op die melodie van “Ou Ryperd”
Johan Ferreira
Margie nou skoon aangedaan! Verlang nou na Christa en haar oorlede Moeder Lena Colyn! Ons het altyd so lekker saamgekuier by Constantia Klub 😥
Nettie Ferreira
Goeie more Almal. Ek wonder net wie weet dat genl Johan Booysen lid van die Durbanse Mannekoor was wat ook ‘n langspeel-vinielplaat die lig laat sien het. Hy mag maar sing! Groetnis 😎
Bushie Engelbrecht
Hallo Bushie, hy het nie in my tyd gesing nie, miskien in Esme Solms se tyd voor ek die koor gelei het. Ons het die betrokke plaat met Grootwiel in 1988 met die Feesjaar gemaak, en ook nog 2 kasette in 1991 en 1992. Margie Spaumer🎵🌻
Ek het 1955/1956 die groot wiel gestap. Ek het daar 21 geword. Ek het dit geheim hou want anders moes ek vir almal bier koop. My ma is al wat my geluk gewens het met ‘n telegram. Hennie Westraat was dieselfde tyd daar.
Groete. Le Roux Stemmet
Dr. Johan Burger: Ou ysters! Deur swaarkry blink geskaaf en roes nie maklik nie😇
Johan Burger